Verlos om gestuur te word

 

The best thing about ministry is the people.  The worst thing about the ministry is the people.” – Anoniem

 

Verlos om gestuur te word

Ons word nie verlos om verlos te word nie, maar om gestuur te word. Ons word verlos om in hierdie wêreld uitgestuur te word om God te verheerlik. Ons moet Jesus Christus aan die wêreld as ons Here en Verlosser bekend stel. Watter plan het Jesus ontwikkel om dit reg te kry? Hy begin met ‘n kleingroepie wat die pad saam met Hom geloop het. Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur (Markus 6:7). Wat leer ons uit hierdie episode waar Jesus die twaalf uitstuur?

  1. Gestuur deur Jesus vir Jesus

Hulle gaan uit en verkondig dat die mense hulle moet bekeer (6:12). Hulle word uitgestuur met ‘n spesifieke boodskap wat hier in een woord opgesom word: bekering, draai jou rug op sonde en ander gode. Hulle boodskap was dat daar ‘n Naam was wat die onwaardiges liefhet, die hopeloses verlos, die siekes genees en die bose oorwin. Hierdie Naam is Jesus.

 

  1. Gestuur met niks, maar tog alles

Jesus beveel hulle om niks met hulle saam te neem nie – net ‘n kierie. Geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. Hulle mag nie eers nog ‘n kledingstuk saamgevat het nie. Wat het hulle dan? Jesus het aan hulle mag oor onrein geeste gegee en die vermoë om siekes te genees. Hoekom moes hulle niks saamvat nie? Om hulle nederig en afhanklik van God te hou.

 

  1. Gestuur om te bly

Waar julle in ‘n plek kom en in ‘n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan. En as ‘n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle (6:10 – 11). Hulle sal twee soorte mense ontmoet:

  • Mense wat luister – moenie hulle te gou verlaat nie; bly en belê in hulle. Ons moet ook tyd maak om by mense wat God se woord wil hoor te sit. Wees geduldig en belê in hulle.
  • Mense wat nie bereid is om te luister nie.

 

  1. Gestuur om te praat, nie om te verlos nie.

Party mense sal net nie luister nie. Ons moet dit verwag. Dit beteken nie noodwendig dat jy ‘n slegte tyd gekies het nie of dat jy die gesprek verkeerd benader het nie. Jesus het nie gesê hulle moet bly totdat hulle gehoor oorgegee het nie. Hy stuur sy dissipels om te praat; Hy alleen kan mense verlos.

 

  1. Gestuur om die wêreld te verander

Hulle was net twaalf – ses groepe. Ons weet nie hoe lank hulle weg was nie. Wat kon hierdie groepie nou vermag? Toe koning Herodes dit hoor (Markus 6:14 – OAV) – die Naam van Jesus het bekend geword. God sal die Naam van Jesus deur ons verheerlik. Hy stuur ons uit om die goeie nuus te verkondig, maar Hy belowe dat Hy saam met ons sal gaan en alles wat ons nodig het, sal voorsien.

 




Die profete in die Ou Testament

 

“We should not interpret Scripture in the light of our experiences, but rather, interpret our experiences in the penetrating light of Scripture” (D. Martyn Lloyd-Jones).

 

Die profete in die Ou Testament

Mel Lawrenz vra of die geskrifte van die profete nog van enige waarde vir ons is. Tipiese vrae as ons hierdie boeke lees, is:Waarvan praat hulle? Gaan dit oor hulle of oor ons? Gaan profesie oor die verlede of oor die toekoms?

 

As ons die Bybel interpreteer, is die eenvoudigste en mees natuurlike verduideliking gewoonlik die beste. Meeste van die gebeure waarvan die Ou Testamentiese profete praat, is vervul in die tyd waartydens hulle aangekondig is. Wat ons wel kan doen, is om sekere beginsels te identifiseer en hulle op vars maniere in ons lewens toe te pas.

 

In die Ou Testament was ‘n profeet ‘n persoon wat geroep is om God se woord aan die mense oor te dra. Hy was nie ‘n fortuinverteller nie, maar ‘n verkondiger. Hy bring woorde van gerusstelling en belofte, maar ook van konfrontasie en waarskuwing.

 

Daar is 16 boeke genoem “die profete” – vier groot (Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël) en twaalf klein profete (Amos tot by Maleagi). Groot en klein verwys na die lengte van die boeke en nie na hulle belang nie. Hulle is geskryf tussen 760 en 460 vC.

 

Die waarheid van die Bybel is dat mense – selfs God se verbondsmense – in sonde verval het. Ons kry nimmereindige siklusse van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid. Daarom praat God deur die profete. Hulle konfronteer, waarsku en vertroos. Hulle wys dikwels op die gevolge van ongehoorsaamheid en ontrou.

 

Sekere gedeeltes word eers eeue later vervul; ander word vervul tydens die leeftyd van die profeet. Hoe moet ons dan hierdie boeke lees? Hier is ‘n paar aanbevelings:

  1. Lees hierdie boeke in segmente en nie vers vir vers nie.

Luister na die geestelike beweging in die profesieë en moenie in fyn besonderhede vasgevang word nie. Kry die groot prentjie van die geestelike dinamika in die gedeelte. Die beste wat ons uit hierdie boeke kry, is nie gebeure en tydskale nie, maar die groot geestelike werklikhede van die lewe – insluitend insigte in ongehoorsaamheid en sonde en oor die oordeel en genade van God.

 

  1. Gebruik hulpmiddels

Gebruik woordeboeke en kommentare.

 

  1. Pas die geestelike lesse van die profete toe op ons lewens vandag

Hierdie boeke is die woord van God aan ons. Ons moet die verskil tussen die ou en nuwe verbond verstaan as ons die lesse bepaal.

 

  1. Word deur die woord van die profete verryk

Moenie deur hulle ingewikkeldheid ontmoedig word nie. Dit is net omdat God die mensdom liefgehad het dat Hy deur die profete gepraat het.

 

Volgende keer gaan ons na die boodskap van die profete kyk.

 




Pornografie

 

When a man truly sees himself, he knows nobody can say anything about him that is too bad. ―D. Martyn Lloyd-Jones

 

Pornografie

Hier het ons ‘n industrie wat biljoene rande werd is. Statistiek wys dat 70% van mans tussen die ouderdomme van 18 – 24 jaar ten minste een maal per week na pornografie kyk. Hoe hanteer ons hierdie verslawing? In 1 Korintiërs 5 – 7 kry ons sekere riglyne.

 

Seksuele sondes was algemeen in die gemeente in Korinte. Ons lees selfs van ‘n man wat met sy stiefma as man en vrou saamgeleef het (5:1) – iets wat veroordeel word in die Ou Testament (Levitikus 18:18 en ander). Skokkend: En dan verbeel julle julle nog julle is beter as ander. Moes julle nie liewer daaroor getreur het nie? (5:2).

 

Paulus hanteer die probleem deur sekere teologiese waarhede wat, indien dit aanvaar word, alle seksuele onsedelikheid uit ons harte sal dryf. Sewe maal skryf hy weet julle nie (5:6; 6:2, 3, 9, 15, 16, 19). Paulus aanvaar hulle behoort dit wat hy nou vir hulle gaan sê reeds te weet. Hy glo ook dat die kennis hulle sal vorm.

 

  • Vlug weg van onsedelikheid. Moenie dit net vermy nie – vlug weg. Onsedelikheid tref die wese van die mens: Elke ander sonde wat ‘n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam (6:18). In Genesis 39 lees ons van Josef wat letterlik van Potifar se vrou weggevlug het toe sy hom probeer verlei het.
  • Verheerlik God met jou liggaam. In die Ou Testament was die tempel die plek waar God verheerlik was en waar sy Naam geheilig is. Gelowiges het nou die tempel verplaas.

 

Paulus se oplossing is tweeledig:

  • Vlug weg van onsedelikheid: Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie (6:18).
  • Julle moet God dus in julle liggame verheerlik (6:20).

 

Paulus gee sewe riglyne wat ons sal bemagtig om hierdie opdragte te gehoorsaam:

  1. Om onsedelikheid in die kerk te verdra is soos suurdeeg: Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie? (5:6 – 8).
  2. Gelowiges weet dat hulle sonde afgewas, hulle geheilig en vrygespreek is in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God (6:11).
  3. ‘n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is (6:12 – 14).
  4. Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou ‘n deel van Christus neem en dit ‘n deel van ‘n ontugtige vrou maak? (6:15).
  5. Maar wie hom met die die Here verenig, is geestelik een met Hom (6:17).
  6. Diegene wat seksueel onsedelik is, sal geen deel aan die koninkryk van God kry nie (6:9 – 10).
  7. Ons liggame is ‘n tempel van die Heilige Gees. Daarom behoort ons nie aan onsself nie en moet ons wegvlug van onsedelikheid (6:19 – 20).

 

Dit is ons ammunisie. Gebruik dit om sonde te beveg. Volg nou die opdragte wat hierdie kennis jou in staat stel om te gehoorsaam




Hoe verskil die moderne kerk van die vroeë kerk?

 

“It is not he who reads most, but he who meditates most, that will prove the choicest, sweetest, wisest, and strong Christian.” – Thomas Brooks

 

Hoe verskil die moderne kerk van die vroeë kerk?

Ons hoor dikwels Christene wat sê dat ons meer soos die vroeë kerk moet wees. Preston Sprinkle sê dat baie van ons ontnugter sal wees, want die vroeë kerk het waardes nagestreef wat radikaal van ons waardes verskil. Kom ons kyk na ‘n paar sulke waardes.

 

  1. Die familie

Een van hierdie waardes is hulle siening van die kerk as ‘n familie. Maar ons moenie na hierdie beeld deur die lens van ons huidige families kyk nie – families waar die grootouers in ouetehuise geplaas word en stout kinders as uitgeworpenes hanteer word.

 

In die eerste eeu het die familie ver buite die kernfamilie gestrek. Hulle is bymekaar gehou deur ‘n onvoorwaardelike band van toewyding en diens. Jy hoef nie van jou familie te hou nie, maar jy moes hulle liefgehad het. Vir Jesus en Paulus sluit familie mense van alle rasse en sosiale strata in.

 

  1. Hoe ons ons geld spandeer

Baie gemeentes spandeer hulle geld op salarisse, geboue, ens. En barmhartigheid? Waarskynlik so ‘n 1 of 2% word gespandeer om mense in nood te help. Nog sowat 5 – 10% word aan behoeftes buite die gemeente gespandeer – wat ook die armes mag help. Nêrens in die Nuwe Testament lees ons van geld gebruik vir ‘n gebou nie en baie selde word geld vir salarisse gebruik. As die Nuwe Testament van gee praat, verwys dit gewoonlik na die herverspreiding van geld na die armes – gewoonlik arm gelowiges.

 

  1. Hoe ons oor mag dink

Militarisme is die begeerte dat ‘n land ‘n sterk militêre vermoë moet besit en bereid moet wees om sy nasionale belange aggressief te beskerm. Wat het dit nou met die kerk te doen? Die militêre geskiedkundige, Andrew Bacevich sê: “Were it not for the support offered by several tens of millions of evangelicals, militarism in this deeply and genuinely religious country becomes inconceivable.” Die vroeë Christene was nooit beïndruk met die mag van die Romeinse weermag nie – hulle hou vas aan die kruis waar die bose deur lyding en liefde en nie deur swaarde en spiese oorwin word. Die vers wat hulle dikwels aangehaal het, was Jesus se opdrag dat ons ons vyande moet liefhê. Vandag het ons hierdie opdrag onder ‘n aantal voorwaardes begrawe – ons kan tog nie al ons vyande liefhê nie. Ons verkies geregtigheid bo genade. Vir die vroeë Christene was trou aan God se koninkryk belangriker as trou aan die Romeinse Ryk.

 

  1. Hoe ons die Bybel bestudeer

Die vroeë kerk het groot waarde aan die korporatiewe bestudering van die Bybel geheg. Vandag besit baie Christene meer as een Bybel. Die vroeë kerk het Jesus se stelling dat ‘n mens nie van brood alleen kan leef nie, maar van elke woord wat uit die Here se mond kom, uitgeleef. Baie Christene vandag is Bybels ongeletterd – ten spyte van al hulle Bybels. Die vroeë Christene het God se woord soos ‘n spons opgeneem. Elke nuwe bekeerling het hulle eerste drie jaar as gelowiges gebruik om die hele Bybel te bestudeer. Dit was nie ‘n opsie nie. Baie van die vroeë Christene kon nie lees nie, maar hulle het die Bybel geken deur na die gesamentlike lees en onderrig van God se woord te luister. Hulle sou ons moderne mense nie kon verstaan nie: ons besit en lees God se woord … en verwaarloos dit.

 

As ons werklik na die vroeë kerk wou terugkeer, sou ons radikale veranderinge in ons geloofslewe moes aanbring.