Die erediens

 

It is easier to change the nature of plutonium than man’s evil spirit –  Albert Einstein

 

Die erediens

Min van ons het nog ‘n sin van wonder oor wat besig is om te gebeur as ons ‘n erediens bywoon. God het hulpelose, geharde sondaars in uitgesproke aanbidders verander. In die boek Sefanja kry ons ‘n stel voorskriflense om na die heerlikheid van korporatiewe aanbidding te kyk. Hy stel die donkerte en boosheid van die mens se opstand teen God bloot. Hy skryf egter ook oor hoe God harde harte verander. God neem monde wat eers met Hom gespot het en vul hulle met verwondering en lof.

 

  1. Wat vergiftig ons lof aan God?

Ek gaan ‘n einde maak aan alles op aarde, sê die Here … Ek gaan my hand uitsteek teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem … dié wat die rug vir die Here draai, na sy wil nie vra nie en Hom nie raadpleeg nie (Sefanja 1:2, 4, 6). Hoekom is God so kwaad? Sefanja gee vir ons drie antwoorde:

  • Trots: Hy is ongehoorsaam en wil hom nie laat teregwys nie, hy vertrou nie die Here nie en dien nie sy God nie (3:2).
  • Selftevredenheid: Daardie tyd sal Ek Jerusalem met lampe deursoek en die mense straf wat in hulle selftevredenheid dink: die Here doen nie goed of kwaad nie (1:12).
  • ‘n Obsessie met en afhanklikheid van die dinge van die wêreld: Nog hulle silwer nog hulle goud sal hulle kan red op die dag wanneer die toorn van die Here losbreek (1:18).

Geld dit nie nog steeds vir die kerk van vandag nie.

 

  1. God se spraakles

God sien die wêreld vol sonde: trots, selftevrede en ‘n obsessie met materiële dinge. Hulle is doodtevrede sonder Hom. Maar Hy het sy oog op ‘n paar mense. Hy gaan hulle verlos, die opstand uit hulle hande ruk en vir hulle ‘n nuwe boodskap gee:

Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien (3:9).

Wanneer God se kinders met vol harte hulle stemme in afhanklikheid, vreugde en aanbidding verhef, ondervind ons iets besonders. Ons wat God gehaat het, wat geld en onsself bo Hom verkies het – leef nou vir Hom en verheerlik ons in sy teenwoordigheid.

 

  1. Vreugde in God; vreugde vir God

Aanbidding is ‘n wonder – ‘n nuwe hart met ‘n ewige en heerlike doel.

Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem! Die Here het ‘n einde gemaak aan jou straf, Hy het jou vyande laat padgee. Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie (3:14 – 15).

 

Die vreugde om God as die Een wat altyd liefhet en teenwoordig is, te ken, bevredig die diepste verlange van ons siel. As jy hierdie God ontmoet en Hom beter en beter leer ken, sal jou hart van vreugde sing. Verbasend is dat die Een wat voor jou, bo jou en agter jou gaan, gaan in vreugde:

Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou (3:17).

 

As jy in die erediens instap hierdie naweek – veral as jy God se goedheid besing – weet dat Hy ook vol vreugde oor jou is. In aanbidding beleef ons ‘n droom wat waar geword het.

 




Wat doen ek as mense die gemeente verlaat?

 

Let us humbly sit at our Lord’s feet to receive rebuke or instruction as he sees fit. —C.H. Spurgeon

 

Wat doen ek as mense die gemeente verlaat?

Dit gebeur in elke gemeente; dit is nie iets wat voorkom kan word nie. Mense verlaat die gemeente. Maak nie saak wie jy is nie, jy kry seer as leier as mense die gemeente verlaat.

 

Hoe moet jy hierdie pynlike emosies hanteer?

  • Ek kraak hulle nie teenoor ander af nie.
  • Moet nooit die brûe tussen julle afbrand nie. Wens hulle voorspoed toe en bid vir hulle persoonlik.
  • Moenie die feit dat mense die gemeente verlaat probeer wegsteek nie.
  • Probeer met hulle praat om agter te kom wat die probleem is.
  • As jy hulle weer sien, reik uit na hulle en stel opreg belang in hoe dit met hulle gaan.
  • Moenie bitter word nie – sy genade verlig die seerkry.
  • Daar is mense wat Jesus ook verlaat het: Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie (Johannes 6:66).

 

Mense wat die gemeente verlaat is onvermydelik. Hanteer hulle met waardigheid.

 

 




Die een sin wat kerkleiers haat om te hoor

 

I keep six honest serving men (They taught me all I knew);

Their names are What and Why and When

And How and Where and Who

Rudyard Kipling

 

Die een sin wat kerkleiers haat om te hoor

Die begin gewoonlik met hierdie woorde: “Die mense sê dat …” Soms word ‘n groep gespesifiseer: “Mense sê dat van die ouderlinge ongelukkig is.” Die mense word nooit gedefinieer nie. Die klaer  word nooit geïdentifiseer nie. Frustrerend. Hoekom is dit so frustrerend:

  • Die klaer het nie die moed om vir homself te praat nie – hy skuil agter die sluier van die mense wat sê. Leiers besef onmiddellik hier is moeilikheid aan die broei.
  • Die leier kan nie optree nie. Die klaers identifiseer nooit hulle bronne nie Die leier kan nie opvolg en direk met dié wat ontevrede is, praat nie. Die leier sit met ‘n klagte wat nie opgelos kan word nie.
  • Die leier bevraagteken onmiddellik die motiewe van die klaer. Hy betwyfel die geloofwaardigheid van die klaer. Dit lei altyd tot twyfel en frustrasie.
  • Die woorde lei tot dubbele frustrasie. Die leier hoor die kritiek. Meeste leiers moet alreeds te veel kritiek hanteer. Tweedens hoor die leier die vaagheid van die kritiek, maar die bron daarvan is onbekend. Hy begin nou wonder hoe groot die probleem nou werklik is. Hy kan baie emosionele energie mors op iets wat nie so belangrik is nie.
  • Indirekte kritiek is dikwels die pynlikste. Leiers hanteer direkte kritiek makliker as hierdie indirekte kritiek. Indirekte kritiek maak seerder, want die optrede is lafhartig en die gedrag is onopreg.

 

Wat moet die leier onder sulke omstandighede doen? Baie leiers verwerp hierdie kritiek totdat die bron van die kritiek aan hulle bekend gemaak word. Werk dit? Baie min mense is gelukkig met so ‘n antwoord, maar ons moet aanvaar dat in meeste gemeentes is daar mense wat die gawe ontvang het om te kla en te kritiseer – en die gawe mildelik gebruik.

 

Leiers moet aanbeweeg na diegene met oplossings. Die lewe is te kort om hierdie soort klaers te hanteer.

 

 

 




Die Koninkryk van God

A good story leaves things where it did not find them –  C. S Lewis

 

Die Koninkryk van God

Scot McKnight (Kingdom Conspiracy) skryf dat toe Jesus gesê het dat die koninkryk van die hemel het naby gekom (Matteus 4:17), sou sy tydgenote ‘n spesifieke soort koninkryk in gedagte gehad het. Watter soort koninkryk was dit? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons kyk na hoe die Ou Testament die woord gebruik.

 

In die Ou Testament word die woord koninkryk ongeveer 200 keer gebruik en in alle gevalle verwys dit na ‘n nasie/volk of ‘n geo-politiese werklikheid – dit verwys na mense wat deur ‘n koning regeer word. Hulle grootste hoop was dan ook dat hierdie mense deur God regeer sou word. As die Jode dus gehoor het dat Jesus verwys na koninkryk sou dit vir hulle beteken het mense regeer deur ‘n koning.

 

Reeds in Genesis 10:10 lees ons van ‘n koninkryk: Nimrod se koninkryk het begin by Babel, Erek, Akkad en Kalne, almal in Sinar. Toe die Israeliete by Sinai aankom, sê God vir hulle: As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat my as priesters dien, en ‘n gewyde nasie wees (Eksodus 19:5 – 6).

 

So kan ons al die verwysings nagaan en elke keer verwys dit na mense wat deur ‘n koning regeer word. Ons kan dus nie Jesus se tydgenote kwalik neem as hulle gedink het dat Jesus verwys na ‘n koning wat mense regeer nie. In hierdie geval het hulle geglo dat God die koning was, maar Hy sou steeds regeer oor ‘n gebied. Daarom dat Jesus so baie tyd spandeer om die begrip koninkryk aan sy luisteraars te verduidelik.