Meer doeltreffende gebede

 

“We will, as I fear, openly worship the devil as a god; so completely do the spiritual authorities and the learned lack all understanding.”  — Martin Luther

 

Meer doeltreffende gebede

Hiskia was ‘n goeie en getroue koning van Juda. Hy was gedurig die teiken van nasies wat oorlog gemaak het. Die koning van die magtige Assirië maak planne om Hiskia se bewind omver te gooi. Hiskia het altyd dieselfde gevegsplen gebruik: Gaan na die Here in gebed en volg sy opdragte.

 

Wat doen jy as jy in ‘n hoek gedruk word as leier en jy kom voor iets te staan wat te groot is vir jou om te hanteer? Hiskia kry ‘n brief vol dreigemente van die Assiriërs en hy begin bid (2 Konings 19:14 – 19). Ons kan baie uit Hiskia se gebed leer. Hier is ‘n paar gedagtes.

  • Hiskia is alleen met God. Daar is korporatiewe gebede in die kerk, maar seker van die doeltreffendste gebedstye is waar jy alleen met God verkeer.
  • Hiskia gaan onmiddellik na die huis van die Here en bid. Sy gebed was nie ‘n nagedagte nie. Hy bid voordat hy sy planne maak. Ons wil so graag reageer dat ons nie tyd het om eers na God toe te gaan nie. Gewoonlik gaan ons eers na God as ons rug teen die muur is en ons geen ander keuse het nie. Soos Hiskia moet ons heel eerste na God toe gaan.
  • Hiskia se gebed was oop en eerlik. Hy was deursigtig voor God. Lees net: hy neem die brief van die Assiriërs en sprei dit voor die Here oop. Amper asof hy sê: “Here, hier is my probleem. Ek kan niks daaraan doen nie. Wat nou?” Dit is baie goed om jou gebedsversoeke uit te skryf – dit verseker dat jy hulle nie vergeet nie.
  • Hiskia se gebed was nederig – hy het eerbied vir God gehad. Hiskia ken sy plek as koning, maar hy ken ook God se plek in die koninkryk. Hiskia was koning van ‘n nasie – ‘n belangrike werk, maar Hy weet dat voor God hy nederig moet wees.
  • Hiskia se gebed was braaf. Hoor tog, Here, luister, kyk tog, Here, let tog op! Hiskia het ‘n verhouding met God gehad – hulle het dikwels gepraat. Daarom wonder hy nie of God daar sal wees as hy praat nie. Hy het geweet dat hy vir God kon vra om namens hom op te tree. Hoe meer jy in jou verhouding met God groei, hoe meer kom jou hart in lyn met God se hart.
  • Hiskia se gebed was afhanklik. Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande. Hiskia besef die Assiriërs was veel sterker as Juda. Dit pla Hiskia nie, want hy gaan op God vertrou. Elke keer in elke situasie.
  • Hiskia se gebed was seker, want dit was gebou op sy persoonlike geloof en vertroue in God. Red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is. Hiskia se geloof in God het beteken dat hy met sekerheid kon bid.

 

Geloof berus altyd op God se beloftes. Hiskia weet dat God belowe het dat Hy sy nasie sou red. Hy was vol vertroue dat God sal doen dit wat Hy beloof het. Daarom kon hy in geloof optree.

 

Almal van ons beland in situasies wat ons nie alleen kan hanteer nie – ons soek God se antwoord. Volg Hiskia se voorbeeld. Laat dan sy wil geskied soos jy wag op ‘n antwoord.

 

 

 




God se tuin

 

To really hear the gospel is to be shaken to your core. To really hear the gospel is to change. —Mark Dever

 

God se tuin

In Psalm 92:13 – 16 neem God ons op ‘n begeleide toer deur sy tuin – sy kerk. Hy sien sy mense as palmbome en seders op die Libanon (vers 13). Sy spesiale belangstelling is die ouer, meer volwasse dissipels: Selfs in hulle hoë ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees (vers 15).

 

Ons samelewing is baie geneig om seniors te verwaarloos – ook in die kerk. Die fokus is op die jeug. Maar luister wat sê God in hierdie psalm vir seniors – vriendelike en bemoedigende woorde.

  • Hulle groei (vers 13).

Die regverdige sal groei soos ‘n palmboom; hy sal opgroei soos ‘n seder op die Libanon (Vers13 –OAV). Maar as ons van ouderdom praat, gebruik ons woorde soos agteruitgang, swakheid en pyn. Ons kry hierdie woorde in die Bybel – lees net weer Prediker 12:1 – 8. Hier gee die Here aan ons ‘n ander perspektief. Hy vergelyk senior Christene met groeiende palmbome en magtige seders. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe (2 Korintiërs 4:16). Hulle groei in geloof, wysheid, hoop en liefde. Geplant in die huis van die Here sal hulle groei in die voorhowe van onse God ( vers14 – OAV).

 

  • Hulle dra nog vrugte

In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra (Vers 15 – OAV). Die psalmis verwys hier spesifiek na die palmbone wat nie alleen voedsel vir die nomadiese groepe voorsien het nie, maar ook aangedui het waar daar ondergrondse water was. Baie bome dra nie meer vrugte as hulle ouer word nie, maar God se seniors hou aan met vrugte dra. Hulle is gesnoei en dra takke vol geestelike vrugte.

 

  • Hulle is vars

hulle sal vet en groen wees (Vers 15 – OAV). Hulle is nog vol innerlike sap – ‘n onsigbare bron van verfrissing diep binne in hulle. Hulle floreer buite, want hulle is vet en groen binne. Hulle word voortdurend hernuwe met die innerlike sap van die Heilige Gees.

 

  • Hulle floreer

Selfs in hulle ouderdom sal hulle toeneem in krag (vers 15). Natuurlik word Christene ook oud, maar die psalmis praat nie hier van die liggaam nie, maar van geestelike vermoëns.

 

  • Hulle getuig

Om te verkondig dat die Here reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie (vers 16 – OAV). Elke bejaarde is ‘n aanbevelingsbrief vir God se onmeetbare trou.

 

Meeste seniors voel nie juis dat hulle groei en vrugte dra nie, maar God sê dat dit waar is. Christene moet God se woord glo – meer as die beeld wat hulle in die spieël sien.

 




Die stilte klink hard

 

No one is more influential in your life than you are, because no one else talks to you more. —Paul Tripp

 

Die stilte klink hard

Dit is verbasend hoe hard die stilte kan klink, veral as ons nie aan stilte gewoond is nie. Ons moet gereeld tyd inruim vir stilte en afsondering – veral in die natuur weg van die gejaag in die stede. Ons het tyd nodig om weg te kom uit die chaos, die mense en die geraas.

 

Ons is mense en nie masjiene nie. Ons is gemaak vir ritmes van stilte en geraas, afsondering en deel van ‘n gemeenskap. Dit is ongesond om altyd mense om jou te hê. Ons is gemaak vir siklusse en seisoene. Ons lees dat Jesus alleen na die berg toe gegaan het om te bid (Matteus 14:23).

 

Een van die probleme is dat as gevolg van tegnologiese vooruitgang ons stilte vermy – ons raak verslaaf aan lawaai. Vandag is die waarde van stilte en afsondering meer as wat dit ooit in die verlede was. Natuurlik is dit goed om net uit in die natuur te kom en die vars lug in te asem. Maar is dit genoeg? Ons wil tog beter terugkom – nie net uitgerus nie.

 

Ons moet stil word en na ons eie stem luister. Dit is belangrik, maar nog belangriker is om God se stem te hoor. Dan kan ons Hom duidelik uit sy woord hoor praat en kan ons in gebed reageer.

 

Stilte en afsondering het ook sy eie gevare. Ons gebruik hulle vir ‘n beperkte tyd vir ons geestelike voordeel. Hulle kan nie ons lewe oorneem nie. Hulle is ritmes wat ons in staat stel om weer na mense en die geraas terug te keer.

 

 




Waarheen gaan jy as jy onder druk is?

 

Most people are brought to faith in Christ, not by argument for it, but by exposure to it. —Samuel Shoemaker

 

Waarheen gaan jy as jy onder druk is?

Elkeen van ons is ‘n leier op sy gebied – of dit nou van ‘n groot organisasie is of as ouers. Elke leier verkeer soms onder druk – druk om te presteer, druk om te slaag en vele ander. Elke leier as hy onder druk verkeer wil iewers gaan – al besef hy dit nie. Die vraag: Is jy bewus waarheen jy wil gaan as jy onder druk is? Party plekke is goed en help jou; ander is afbrekend. Kom ons kyk na Psalm 55.

 

Volgens die opskrif het Dawid die psalm geskryf. Hy verkeer onder groot druk: My sorge gee my geen rus nie … My hart krimp inmekaar in my, doodsangs oorval my (verse 3, 5). Wat was die eerste ding waaraan Dawid gedink het? Ek moet ontsnap: Ag as ek maar vlerke soos ‘n duif gehad het, sou ek wegvlieg en ‘n woonplek soek; ek sou ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly (vers 7, 8). Daar kom ‘n tyd in die lewe van elke leier waar hy net wil wegvlug. Die sleutel is of jy weet waarheen om te vlug. Aanvanklik wou Dawid na die woestyn wegvlug.

 

Elke leier moet absoluut eerlik wees en vasstel waar sy woestyn is. Vir party is dit die woestyn van die sosiale media; vir ander is dit die woestyn van besig wees; vir ander is dit pornografie of dwelms. Dawid se eerste instink was om na die woestyn te vlug, maar hy besin homself. Maar ek roep na God, na die Here wat my sal red … Maar ek, op U vertrou ek (vers17 en 24).

 

Dawid het besef dat die enigste plek waarheen hy kon vlug was na God – hy vertrou op God. Waarheen vlug ons as die druk van leierskap op ons kwaai word?