Die Bybel en tradisie

 

There is no death of sin without the death of Christ. —John Owen

 

Die Bybel en tradisie

Most American evangelicals hold views condemned as heretical by some of the most important councils of the early church.” So begin ‘n artikel in Christianity Today. Hierdie opname wys dat daar verwarring is oor kernleerstellings onder gelowiges. Dit sluit in Jesus se goddelikheid, die Heilige Gees as Persoon, ens. 51% van gelowiges glo die Heilige Gees ‘n krag is en nie ‘n Persoon nie.

 

Hierdie sienings is deur die vroeë kerk verwerp. Hoe gebeur dit dat hierdie leerstellings weer terugkeer na 1500 jaar? Die artikel sê dat dit deels aan ‘n gebrek aan Christelike opvoeding toegeskryf kan word. ‘n Ander rede volgens Timothy George is dat ons die leer van sola scriptura verkeerd verstaan. Baie gelowiges glo dat “die Skrif alleen” beteken dat hulle alleen kan gaan sit en die Bybel lees – al wat ek nodig het, is ek en my Bybel. Maar dit is nie wat hierdie leer beteken nie. Dit beteken dat net die Skrif gesagvol is … nie dat jou persoonlike interpretasie van die Skrif gesagvol is nie.

 

Die Skrif is duidelik oor verlossing, maar mense interpreteer dit dikwels verkeerd. Die duiwel het Jesus versoek deur die Woord van God verkeerd voor te stel (Matteus 4:5 – 6). Jesus het nie hiervoor geval nie, maar ons bluf onsself as ons dink ons is vrygestel van hierdie gevaar. Persoonlike vroomheid en die begeerte vir die waarheid is nie waarborge dat ons altyd die Skrif reg lees nie. Ons moet op ons medegelowiges vertrou om ons reg te help as ons afdwaal. Dit geld nie net vir gelowiges wat nog leef nie, maar ons kan ook leer by gelowiges wat reeds dood is.

 

Natuurlik is leer nie ‘n saak van demokrasie per se nie – ons stem nie oor die leer van die kerk en die meerderheid wen nie. Dogma is ‘n saak van die waarheid en nie die populêre mening nie. Onthou dat dit wat ons voorvaders ons geleer het dikwels die toets van die tyd deurstaan het. Die geskiedenis van die kerk is belangrik. Maar die Skrif is nie tot my en jou voordeel alleen gegee nie, maar tot voordeel van die hele kerk dwarsdeur die wêreld. Daarom moet ons as kerk saam die Skrif lees. Die kerk het eeue se ondervinding om die Skrif te lees. Ons moet dit dus ernstig opneem as die kerk sê dat ons individuele lees van die Bybel van die merk afdwaal.

 

As ons kyk na die geloofsbelydenisse en bevindings van die ekumeniese sinodes, het ons nie hier met nuwe leerstellings te doen nie – dit kan alles na die Skrif teruggevoer word. Hierdie is nie tradisie in die plek van die Skrif nie, maar tradisie in diens van die Skrif.

 

Baie gelowiges het die regte verband tussen Skrif en tradisie vergeet. Natuurlik is ons reg om net op die Skrif te vertrou, maar ons is dwaas om die Skrif net by onsself te lees.

 

 

 

 




God se spesiale mense

 

In appearance and words you simulate modesty, but you are so swollen with haughtiness, arrogance, pride, malice, villainy, rashness, superciliousness, ignorance, and stupidity that there is nothing to surpass you.  — Martin Luther

 

God se spesiale mense

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het toe geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys (1 Petrus 2:9 – 10).

Soms het mense, ook gelowiges, ‘n probleem om hulle lewensdoel te onthou. Ons is almal so besig – ons hardloop heen en weer. Dan vergeet ons hoe wonderlik en doelgerig ons in die oë van ons Skepper ontwerp is. 1 Petrus 2:9 – 10 bring ons fokus terug na God en wys vir ons waarvoor Hy ons gemaak het – wat ons is.

  • ‘n Uitverkore volk. Ons hoef nie te baklei vir ‘n plekkie in die huis van die Here nie. Nee, Hy het ons uitgekies. Die Skepper van die heelal het ons aktief uitgesoek, want Hy wou ‘n verhouding met ons aanknoop. Ons is deur God self uitgesoek!
  • ‘n Koninklike priesterdom. In die dae van die Ou Testament kon ‘n koning nie ‘n priester gewees het nie en ‘n priester kon nie ‘n koning gewees het nie – die twee ampte was los van mekaar. In Christus het God elke gelowige geroep in ‘n nuwe kategorie. Ons is nou kinders van die Koning. As sy kinders het ons onbeperkte toegang tot die almagtige God – ons is koninklike priesters.
  • ‘n Nasie wat vir God afgesonder is. In Efesiërs 4:30 lees ons: En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. Daarom kan niks hierdie verhouding met die Vader ontbind nie.
  • Die eiendomsvolk van God. Ons is kosbaar vir ons hemelse Vader – so kosbaar dat Hy ons ewige verlossing teen ‘n baie duur prys gekoop het – die lewe van sy enigste Seun.

 

Niks wat ons kan doen, verbaas ons hemelse Vader nie. Hy het ons gemaak om sy verteenwoordigers op aarde te wees en daarom ken Hy ons deur en deur. Die vraag: weerspieël ons lewens hierdie God-gegewe posisie van ons?

[Ek het onder andere van ‘n artikel van Dr Charles Stanley gebruik gemaak.]

 




Wag geduldig

 

For the inexperience of youth requires the practical wisdom of age to strengthen and direct it – Cicero

 

 

Wag geduldig

Ons wag in ‘n tou; ons wag in die verkeer; so kan ons aanhou. Maar die moderne kultuur hou nie daarvan om te wag nie. Dit is kitskos en kitskoffie.

 

Ons perspektief op wag is een van die maniere waar ons samelewing van die Bybelse wêreldsiening verskil. Luister na die psalmis: Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor (40:2 – OAV). Luister ook na Jesaja se belofte: Maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vlerke soos die arende; hulle hardloop en word nie mat nie, hulle wandel en word nie moeg nie (40:31 –OAV).

Wag op die Here is ‘n refrein wat dwarsdeur die geloofslewe loop. Na jare se wag op die Messias sou ons kon dink dat die wag nou verby is met Jesus se koms. Nee, ons wag steeds, want ons leef in die skadu van Jesus se wederkoms. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus (1 Korintiërs 1:7).

 

Geduld is ‘n deug. Die eerste ding wat Paulus oor die liefde in 1 Korintiërs besing, is: Die liefde is geduldig. Maar geduld is maar skaars by ons moderne mense. Geduld is die metgesel van nederigheid en die vyand van trots: Geduld is beter as hoogmoed (Prediker 7:8). Dit is ‘n vrug van die Gees.

 

Hoe kan ek geduld kweek?

  • Hernu geloof en hoop

Sodra jy voel dat jy ongeduldig word, is dit ‘n herinnering om jou na God te draai. Moenie op jouself vertrou nie, maar fokus op God. In God se ekonomie is wag nie ‘n vermorsing nie. Deur te wag, maak God ons bewus van ons ongeduld. Dan werk Hy in ons om ons te red van vertroue op onsself – Hy gee weer lewe aan ons hoop en geloof in Hom. Geloof en geduld loop saam – geloof vir nou en hoop vir die toekoms.

 

  • Bid en dank

Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed (Romeine 12:12). Na die oproep om vas te staan in verdrukking – geduldig te wees – volg die oproep om te bid. Gebed maak jou oë oop om die geleenthede te sien in periodes van wag. Maar Paulus koppel ook geduld aan blydskap en dank: Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig (Kolossense 1:11 – 12).

 

  • Onthou die geduld van God

Ons is alles verskuldig aan God se genade en geduld. God was geduldig toe die eerste mense gesondig het; Hy was geduldig met Noag, Abraham en Israel. Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ‘n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry (1 Timoteus 1:16).

 

Wag is nie sleg vir die gelowige nie. Die onwelkome wagtye in ons lewens is geleenthede om God te verwelkom – om weer ons hart in Hom te vernuwe.

 




Die Krag van God

 

“When God wants people to suffer, he sends them too much understanding.” ~ Joodse Spreekwoord

 

Die Krag van God

Maar die wat op die Here wag kry nuwe krag (Jesaja 40:31 – OAV).

Binnekort gaan miljoene mense weer Nuwejaarsvoornemens maak vir 2015 – ek gaan fiks word; ek gaan gewig verloor; ek gaan ophou rook; ek gaan die Bybel deurlees; ens. Teen Februarie het miljoene mense reeds van hulle voornemens vergeet. Volgens Prof Nick Chater (Warwick Business School) is wilskrag selde genoeg om ons voornemens uit te voer. Mense wat op hulle eie wilskrag staatmaak, sal feitlik altyd misluk om hulle voornemens uit te voer.

 

Vertroue op ons eie krag lei dikwels tot teleurstelling. Jesaja 40 verduidelik hoekom ons vertroosting in God se krag kan kry. Hierdie hoofstuk begin met: Troos, troos my volk, sê julle God. Hierdie woorde volg op die aankondiging van die naderende ballingskap en die vernietiging van Jerusalem – een van die donkerste tye in Juda se geskiedenis. Maar God gee steeds om vir sy mense. Hy bring steeds aan hulle die goeie boodskap: Hier is julle God (vers 9).

 

Die ontrou van die mens staan teenoor God se soewereine mag en trou. Mense is soos gras en blomme: hulle staan regop vir ‘n tyd lank, maar kan dit nie volhou nie (vers 7 – 8). Maar God hou die hele wêreld in sy hand en sy trou onderhou die hele skepping. Hy word nie moeg of mat nie (vers 28). Hierdie God gee om vir sy kinders: Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm bymekaarmaak en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei (vers 11).

 

Hierdie God wat as regter oor die nasies sit, het sy kinders baie lief. Dieselfde God wat die eilande soos ‘n stoffie ophef (vers 15) vou jou toe in sy arms. Dieselfde God wat nooit moeg word, kan jou krag vernuwe.