The hunger for love is much more difficult to remove than the hunger for bread. – Moeder Teresa
Moet die man die vrou lei?
Ten opsigte van hulle vrouens maak mans veral twee foute: hulle is te passief of hulle probeer domineer en oorheers. In Efesiërs 5 hanteer Paulus beide hierdie uiterstes. Vir die passiewe mans sê hy: lei jou vrou; vir die domomerende man sê hy: jy moet jou vrou liefhê.
Man en vrou is twee gelykes as ons van verlossing praat: Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een (Galasiërs 3:28). Mans en vrouens is essensieel gelyk, maar God het ons verskillend gemaak – nie om met mekaar te wedywer nie, maar om mekaar aan te vul. Hierdie verskille beteken geensins meerderwaardigheid of minderwaardigheid nie. In sekere opsigte is mans sterker as vrouens – byvoorbeeld fisiese sterkte; in ander gebiede is vroue sterker as mans – hulle lewe langer en hulle intuïsie is beter.
Maar nou sê Paulus die man is die hoof van die vrou. Wat beteken dit? Lei soos ‘n hoof. As ons dink aan hoofskap dink ons aan slegte ondervindings – ‘n baas wat kort van humeur en aggressief is. Maar hier dink Paulus nie aan sulke negatiewe voorbeelde nie, maar aan die hoof-liggaam beeld. Daar is ‘n baie groot verskil tussen ‘n heerser en’n hoof. Die hoof is deel van die liggaam; die hoof kan nie sonder die liggaam bestaan nie en voorsien aan die liggaam. Dit is ‘n beeld van beskerming en nie van mag nie, van verlossing nie oorheersing nie. Paulus se volgende woorde beklemtoon dit: Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk.
Christus is die Verlosser van die liggaam. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy liggaam as losprys vir baie te gee. Die man moet hierdie onselfsugtige hoofskap in sy verhouding met sy vrou bewys.
Een manier waarop ‘n man sy vrou lei, is deur na haar te luister. Hy moenie aanvaar dat hy alles weet nie – dat alle wysheid by hom begin en eindig nie. Hy moet sy vrou as ‘n wonderlike hulpbron sien – sy hoofadviseur; ‘n skatkis van insig en kennis. Hy vra haar raad … en luister daarna. Hy luister ook na haar bekommernisse, vrese, ens.
Die man plaas sy vrou eerste, hy luister na haar, hy oorweeg haar sienings volledig en weeg hulle. Maar uiteindelik moet hy die besluit neem en alle verantwoordelikheid vir haar aanvaar. Hy kan nie sy verantwoordelikhede ontduik nie.
Die man moenie alles self doen nie. Delegeer op so ‘n manier dat dit die beste in ander mense uitbring – hulle moet groei. Jay Adams stel dit so:
A good manager will look at his helper and say, “She has certain abilities. If I am going to manage my household well, I must see that every last one of those gifts is developed and put to use as fully as possible.” Moenie jou vrou se unieke persoonlikheid dooddruk nie – laat dit groei en ontwikkel.