Wat verwag God van ons – sukses of trou?


Prayer is not asking. Prayer is putting oneself in the hands of God, at His disposition, and listening to His voice in the depth of our hearts –
Moeder Teresa

 

Wat verwag God van ons – sukses of trou?

Lees net weer die boek Handelinge. Wat staan uit? Trou. Die apostels het wondertekens gesien; hulle bediening was suksesvol – kyk net na die groei in die vroeë kerk.

 

Paulus staan aan die einde van sy bediening. Hy spreek die ouderlinge van Efese toe (Handelinge 20:17ev). Wat is sy groot bekommernis? Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak (20:24). Sy groot bekommernis is dat hy getrou aan sy roeping sal bly.

 

Van ‘n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees (1 Korintiërs 4:2). [Bestuurders hier is mense aan wie die geheimenisse van God toevertrou is = rentmeesters.] Rentmeesters is dienaars. – hulle enigste verantwoordelikheid is om te doen wat hulle meesters vir hulle sê.

 

Wat God van ons verwag is nie sukses nie, maar trou in wat Hy aan ons toevertrou het. Vra jouself: Waarvoor het Christus my geroep? Ek is nie verantwoordelik om die wêreld te red nie, maar ek is verantwoordelik om Christus in my situasie te volg. Vir ‘n dienaar is sukses in die lewe om te identifiseer waarvoor God my geroep het en om volkome betroubaar daarin te wees. Elke behoefte om my is nie my saak nie – ek kan nie alles doen nie. Dit is ‘n les wat elkeen van ons persoonlik moet leer. Ons vra: Waar kan ek die grootste impak maak? Wat ons eerder moet vra, is: Waar wil God my gebruik?

 

Meeste van hierdie geleenthede is reeds reg voor my. Ek mag dit dalk nie raaksien nie, maar eendag sal ek geskok wees as ek sien hoe God al hierdie klein optredes van trou kragtig in die lewens van ander gebruik het. Wat is die een ding wat almal van ons begeer om te hoor? Dat Christus, wat ons liefgehad het en vir ons sonde gesterf het, sê: Mooi so, jou goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, ek sal jou oor baie aanstel. Kom deel in jou heer se vreugde (Matteus 25:23 – Direkte Vertaling in Interliniêre Bybel).

 

 

 




Evangelisasie in ‘n post-Christendom kultuur (2)

 

Before you speak, it is necessary for you to listen, for God speaks in the silence of the heart – Moeder Teresa

 

Evangelisasie in ‘n post-Christendom kultuur (2)

Ons moet weer ‘n evangelie wat mense glo, ontdek. Wat maak die evangelie geloofwaardig? Nie een-grootte-pas-almal nie. As ons lank genoeg na mense luister, sal ons ‘n diepgesetelde verlange ontdek. Ons moet mense roep om om te draai en hulle geloof te plaas in die Een wat hierdie verlange kan vervul. Hier is ‘n paar voorbeelde.

  • Mense soek na aanvaarding

Een van die grootste behoeftes van mense vandag is om aanvaar te word – om te weet hulle is welkom en sal nie verwerp word nie Hierdie mense is dikwels bang dat hulle te lig bevind, geoordeel en verwerp sal word. Vir mense wat soek na aanvaarding beloof versoening absolute aanvaarding voor ‘n heilige God, deur sy unieke Seun. Versoening kan mense wat aanvaarding soek vertroos – vir hulle is dit ‘n verligting.

 

  • Mense soek na hoop

Die beeld van die nuwe skepping kan mense wat graag ‘n nuwe begin met hulle lewens wil maak, bemoedig. Mense wie se lewens vol mislukkings is, wat die littekens van mishandeling dra, wat deur lyding verneder is, wat deur dwelms vernietig is, soek hoop – die hoop van ‘n nuwe skepping. Dit raak ontslae van die ou lewe en verwelkom ‘n nuwe lewe van geloof in Christus. ‘n Straal van hoop in die hart van die hopeloses.

 

  • Mense soek intimiteit

Ons soeke na intimiteit in verhoudings hou nooit op nie. Mense wil raakgesien en versorg word – hulle soek liefde. Ons soek ‘n plek waar ons onsself kan wees en aanvaar word; ons soek vriendskappe wat eg is – waar ons veilig ons diepste gevoelens en donker stryd kan deel. Dit geld byvoorbeeld vir mense wat in ‘n gebroke huwelik vasgevang is. Vir hierdie mense belowe eenheid met Christus die toegang toe die mees intieme, liefdevolle, onbreekbare verhouding. Dit is ‘n verhouding wat genesing en vreugde bring.

 

  • Mense soek verdraagsaamheid

Verdraagsaamheid bevorder wedersydse respek tussen mense. Sommige sal nie van die eksklusiewe aansprake wat Christene maak hou nie. In plaas daarvan om hulle perspektief summier af te skiet, vra vrae om hulle perspektief te verstaan. Dikwels het hulle goeie redes of moeilike stories verbind aan hulle besware. Dialoog kan help om negatiewe indrukke van die Christendom om te keer.

 

Hierdie beelde van die evangelie bied verskillende perspektiewe op die evangelie. As ons dit toepas op die diep soeke van mense lei dit tot geloof, hoop en liefde. Dit help ons nie net om die “wat” van die evangelie te antwoord nie, maar ook die “hoe.” Maar die evangelie is slegs geloofwaardig as dit Bybels is. As ons die evangelie van genade verkondig, moet dit op Bybelse waarhede, stories en beelde gebou word. Om goed te kan kommunikeer, moet ons eers goed luister anders sal ons nie hulle unieke lewensverhaal hanteer nie.

 

 




Onderskeidingsvermoë: Hoe beïnvloed dit ons?

 

Holiness is not the luxury of the few; it is a simple duty, for you and for me – Moeder Teresa

 

Onderskeidingsvermoë: Hoe beïnvloed dit ons?

Sinclair Ferguson (In Christ Alone) het ‘n interessante artikel oor onderskeidingsvermoë geskryf. ‘n Gebrek aan onderskeidingsvermoë is nie seldsaam nie – ook nie in die kerk nie. Ja, ons is baie versigtig vir dwaalleraars, maar onderskeidingsvermoë is meer as net dit. Dit beteken nie net dat ons reg en verkeerd onderskei nie, maar ook dit wat van primêre belang en dit wat van sekondêre belang is, onderskei. Ons moet die permanente van die tydelike onderskei; ons moet tussen goed en beter kan onderskei. Daarom bid die psalmis: Gee my goeie insig en kennis (Psalm 119:66).

 

Maar wat is onderskeidingsvermoë? Dit is die vermoë om te onderskei tussen en ook die morele implikasies van verskillende situasies of optrede raak te sien. Dit sluit in die vermoë om die morele status van individue, groepe en bewegings te beoordeel. Jesus waarsku ons om nie veroordelend te wees nie, maar terselfdertyd sê Hy dat ons moet kan onderskei anders gooi ons ons pêrels voor die varke (Matteus 7: en 6).

 

Jesus het onderskeidingsvermoë gehad. Dit betrek kennis van God se woord en sy optrede. Hierdie vermoë van Hom het gegroei soos Hy konflik en versoekings ondervind het. Hy beoordeel elke situasie in die lig van God se woord. Die enigste onderskeidingsvermoë wat die moeite werd vir ons is, is dit wat ons ontvang in ons eenheid met Christus, deur die Heilige Gees en deur God se woord.

 

Wat is die impak van onderskeidingsvermoë? Hoe beïnvloed dit die manier waarop ons leef?

  • Dit dien as beskerming, want dit verhoed dat ons geestelik mislei word. Dit verhoed dat ons deur dwaalleer weggewaai word – ‘n leer wat perifere dinge sentraal stel en sentrale dinge in die periferie.
  • Dit dien as ‘n instrument van genesing as dit in genade beoefen word. Dit is mense wat in die hart van ander kan sien en die geestelike behoeftes van ander kan sien en hulle help.
  • Dit dien as ‘n sleutel vir Christelike vryheid. Dit help ons om praktyke wat onder sekere omstandighede mag help te onderskei van praktyke wat onder alle omstandighede toegepas moet word.
  • Dit dien as katalis vir geestelike ontwikkeling. Al soek ‘n ligsinnige mens wysheid, hy kry dit nie; ‘n verstandige mens doen maklik kennis op (Spreuke 14:6). Die wyse mens kan onderskei en na die kern van ‘n saak gaan.

 

Hoe kry ons hierdie onderskeidingsvermoë? Deur die Gees en deur ons verstaan van God se woord; deur ons ondervinding van God se genade; deur die progressiewe onthulling van die toestand van ons eie harte.

 

Daarom moet ons bid: Ek is u dienaar: onderrig my tog in u verordeninge (Psalm 119:125).

 

 




Evangelisasie in ‘n post-Christendom kultuur (1)

 

 

Let us love one another as God loves each one of us. And where does this love begin? In our own home. How does it begin? By praying together – Moeder Teresa

 

Evangelisasie in ‘n post-Christendom kultuur (1)

Waaraan dink jy as jy die woord evangelisasie hoor? Vir ons ouer mense is dit aanbiedings wat vooraf geoefen is, deur-na-deur getuienis, traktaatjies, ens. In ons moderne sekulêre kultuur sal so ‘n vorm van evangelisasie eerder die verspreiding van die evangelie belemmer. Mense sien dit as ‘n poging om rekrute te werf – nie liefde vir die naaste nie.

 

Ons moet altyd onthou dat hierdie vorm van evangelisasie gewerk het, want die kultuur destyds was bekend met die Christelike geloof. Dit kan ons nie langer aanvaar nie. Mense verstaan nie meer wat Christene sê nie. Christelike onderrig word as vaag gesien. So word “bekeer julle en glo in Jesus,” beskou as “hou op om slegte dinge te doen; doen goeie dinge soos Jesus gedoen het en God sal jou red.”

 

Daar is vandag ‘n aansienlike gaping tussen die kommunikator van die evangelie en die kultuur van die ontvangers. Hierdie gaping word gevul met allerhande dinge wat doeltreffende evangelisasie verhoed. Hoe kan ons deur hierdie kultuurverwarring sny om ‘n duidelike evangelieboodskap te kommunikeer? Soos sendelinge in die buiteland werk ons nou in ‘n totale nuwe sendingveld. Ons moet weer die taal leer en mense weer bekendstel aan die ware storie van Christus.

 

‘n Fundamentele vraag, wat ons dikwels geen aandag aan gee nie, is: Hoe is die evangelie goeie nuus vir die mense met wie ons praat? Let wel: nie wat die goeie nuus is nie. Christene is dikwels baie goed om die inligting oor die evangelie met ander te deel, maar ons sukkel om dit in verband met die lewens van ander te bring. Ons moet kan verduidelik wat die dood en opstanding van ‘n Joodse Messias 2000 jaar gelede te doen het met mense vandag.

 

Daarna kyk ons volgende keer verder.