Die baie godsdienste

Peace is the smile of God reflected in the soul of the believer. —William Hendricksen

 

Die baie godsdienste

‘n Leser vra vir Lee Strobel, bekende skrywer: “Ðaar is so baie godsdienste – hoe kan ons seker wees dat die Christelike geloof die regte een is?”

 

Hy antwoord: Geen twyfel nie. Mense glo allerhande godsdienstige idees. Meeste mense is opreg in wat hulle glo. Ons moet hulle met respek hanteer: Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God (1 Petrus 3:15 – 16). Ons moet hulle reg om hulle godsdiens vryelik te beoefen beskerm – ook ons eie reg om dit te doen.

 

Mense kan opreg wees, maar steeds verkeerd wees. Alle godsdienste kan onmoontlik nie reg wees nie, want op basiese punte weerspreek hulle hulleself. As voorbeeld kyk net wat leer hulle oor God:

  • Boeddhisme ontken die bestaan van God
  • Hindoïsme leer dat alles deel is van ‘n onpersoonlike god (panteïsme)
  • Die Christendom leer dat daar een persoonlike God is wat alles gemaak het.

 

Ons word dus gedwing om tussen die verskillende geloofsisteme te kies. Moet ons hierdie besluit neem op grond van ons tradisies of op grond van wat ‘n gesagsfiguur vir ons sê of  wat ons in ons harte voel. Hierdie is baie gevaarlik maniere om besluite te neem.

 

Strobel se benadering is dat ons ‘n keuse moet maak op grond waarheen logika en die bewyse wys terwyl ons God vir leiding vra. Dit het hom laat besluit op die Christelike geloof.

 

 Kom ondervind en sien self dat die Here goed is. Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil (Psalm 34:9). Die psalmis is reg; kom en ondervind daardie seëninge. Dan sal ons kan getuig dat die psalmis reg was – die Here is werklik en Hy is goed.

 

Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan (Jesaja 48:17).

 




Niemand besoek die gemeente nie

 

We belong to Jesus because He has purchased us by His blood. He will not return or exchange what He has bought. —Anthony Carter

 

Niemand besoek die gemeente nie

Dit is interessant dat sekere gemeentes gereeld besoekers kry terwyl ander (waarskynlik die meerderheid van gemeentes)  feitlik nooit besoekers kry nie. Hoekom? Bill Tenny-Brittian noem vier redes waarom sekere gemeentes gereeld besoekers kry.

  • Lewens word verander en mense weet dit

Die bestaansrede vir die gemeente is om dissipels van Jesus Christus te maak. As iemand besluit om Jesus te volg, verander sy lewe – radikaal. Sy gedrag verander; verslawings word oorwin; verhoudings word herstel – sy hele lewe word aangeraak. As ‘n lewe verander, hoor mense daarvan en as mense daarvan hoor, kom kyk hulle. Gemeentes waar lewens verander word, sien nuwe besoekers … gereeld.

 

  • Lidmate is opgewonde

Lewensverandering maak mense opgewonde. Dit is nie die enigste ding wat lidmate opgewonde maak nie. ‘n Spesifieke gebeurtenis of preekreeks kan die vlak van opgewondenheid in die gemeente laat styg. Gemeentes wat opgewondenheid skep en vertroetel, maak lidmate opgewonde. Opgewonde lidmate nooi besoekers.

 

  • Die gemeente het iets wat die moeite werd is om mense na uit te nooi.

Gemeentes met geteikende eredienste en met uitmuntenheid uitgevoer, sien gereeld besoekers. As ‘n lidmaat of besoeker ‘n erediens bywoon wat by hom aanklank vind en vir hom relevant is, sal hy ander uitnooi om ook die eredienste by te woon. Hy weet dat die erediens ook by hulle aanklank sal vind. Gemeentes baat van ‘n gereelde stroom besoekers as dit geteikende gebeure aanbied – gebeure waarvan lidmate oortuig is hulle vriende ook sal waardeer.

 

  • Die gemeente het besoekers-momentum

Dit word gesê dat ‘n blokkie 2,5 X 2,5 cm ‘n trein kan verhoed om vorentoe te beweeg. As die trein egter aan die gang is, sal ‘n muur dit nie eers keer nie. Gemeentes vind dit moeilik om die eerste klompie besoekers te kry, maar as die besoekers eers kom en uitvind hulle het iets ontdek wat die moeite werd is, nooi hulle ander uit. Nou word dit ‘n stroom besoekers. Besoekers wat terugkeer is die gemeente se doeltreffendste manier om ‘n eksponensiële styging in besoekers te sien. Momentum laat die stroom vinnig toeneem.

 

Daar is redes waarom sommige gemeentes elke week nuwe besoekers kry. Maak nie saak hoe groot die gemeente is nie, as nuwe besoekers opdaag en terugkeer, gaan die gemeente groei in getalle.

 

 

 




Hoekom wil mense nie in die gemeente betrokke raak nie?

 

If a man is drunk on wine, you’ll throw him out. But if he is drunk on money, you’ll make him a deacon – Os Guinness

 

Hoekom wil mense nie in die gemeente betrokke raak nie?

Hoekom sit meeste lidmate in die kerkbanke as toeskouers? Hoekom wil hulle nie êrens betrokke raak nie? Daar is veral vier redes hiervoor:

  • Daar is niks wat ek kan doen nie

Mense fokus dikwels op hulle beperkings. Hulle sien begaafde musikante wat die sang lei; hulle sien uitstaande leermeesters wat die kinderbedining lei; … Ons moet duidelik aan potensiële vrywilligers kommunikeer dat opleiding beskikbaar is en dat hulle slegs geplaas word waar hulle Godgegewe gawes gebruik kan word.

 

  • Ek het ‘n vorm ingevul waarin ek my belangstellings genoem het, maar niks het gebeur nie

Gemeente kollekteer dikwels inligting van lidmate en dan gebeur … niks nie.Ons kan nie net vorms van potensiële vrywilligers liasseer nie. Daar moet ‘n duidelike sisteem wees wat aandui hoe hierdie inligting gebruik moet word.

 

  • Die vorige keer was ek so gefrustreer dat ek nooit weer hulp sal aanbied nie

Mense onttrek nie sommer van iets wat hulle geniet en wat vir hulle waarde het nie. Hulle onttrek omdat hulle rol swak gedefinieer was, of omdat daar geen hulpbronne of opleiding of gesag was nie. Daar moet ‘n beskrywing van rolle wees sowel as opleiding, ondersteuning en evaluering. Vrywilligers moet in staat gestel word om te slaag.

 

  • Ek het nie tyd nie

Almal het dieselfde hoeveelheid tyd. Die probleem is dat die lidmaat nie die belang van die geleentheid insien nie. Daarom glo hy dit is tydmors om tyd daaraan te spandeer. Mense maak tyd vir dit waaraan hulle waarde heg. Help vrywilligers om daardie plekkie wat hulle passie en gawes pas, te kry.

 

 




Churchill en die huwelik

 

Avalanches of evil begin with a single pebble of sin. —John Piper

 

Churchill en die huwelik

Winston Churchill woon by geleentheid ‘n formele banket in Londen by. Al die hoogwaardigheidsbekleërs moes ‘n vraag antwoord. Die vraag was: “As jy nie kan wees wie jy is nie, wie sou jy graag wou wees?” Almal was nuuskierig om te hoor wat Churchill sou sê. Hy het langs sy geliefde Clemmie gesit.

 

Churchill was laaste op die lys. Sy antwoord: “As ek nie kan wees wie ek nou is nie, sou ek graag,” – hy bly stil en neem sy vrou se hand – “Lady Chrurchill se tweede man wou wees.” Ten spyte van sy ander foute was hy absoluut toegewy aan sy vrou.