Ek staan by die deur en Ek klop

On this side of the cross misery persists, but the scales are tipped in favor of joy. —Ed Welch

 

Ek staan by die deur en Ek klop

Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemnd my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My (Openbaring 3:20).

Hierdie vers word meestal op onbekeerdes toegepas – hulle moet net hoor dat Jesus klop en dan hulle harte vir Hom oopmaak. Is dit korrek? Jesus praat hier met die kerk. Om Jesus te soek is nie iets wat die onbekeerde op sy eie doen nie. – ongelowiges soek nie en hulle klop ook nie. Gelowiges is mense wat soek. Jonathan Edwards het gesê: The seeking of the Kingdom of God is the chief business of the Christian life. Volgens R. C. Sproul is om te soek die gevolg en nie die oorsaak van geloof nie.

 

As ons tot bekering kom gebruik ons die taal van ontdekking. On praat daarvan dat ons Christus gevind het. Hierdie stelling is inderdaad korrek. Die ironie is dat as ons vir Jesus gevind het dit nie die einde van ons soeke beteken nie, maar die begin. As ons Christus gevind het, begin ons soeke. Die Christelike lewe begin by bekering, maar dit eindig nie waar dit begin nie. Dit is ‘n beweging van groei wat die gevolg is van ‘n voortdurende soeke na God.

 

In jou geestelike lewe is jy gedurig besig om vir God te soek?

 

 

 




Ek aanvaar die boodskap van die kruis

 

If God were not my friend, Satan would not be so much my enemy. —Thomas Brooks

 

Ek aanvaar die boodskap van die kruis

Paulus het baie geskryf oor die kruis wat mense verdeel. Hy het veral op diegene wat daardie boodskap verwerp, gefokus. Nou fokus hy op diegene wat die boodskap van die kruis aanvaar.

 

Paulus se punt (1:26)

Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. Kyk mooi na Paulus se argument: nie baie … nie. Die vroeë Christene was baie heterogeen. Daar was dus geleerdes, invloedrykes en mense van aansien onder hulle, maar ook baie arm en ongeletterde mense. Wat Paulus hier sê, is dat om wys, invloedryk en van aansien te wees, nie kriteria vir ‘n Christen is nie. God se genade kan enigeen bereik. God is nie beïndruk met politieke mag, rykdom en filosofieë – dit wat die wêreld so bewonder – nie.

 

Ons kan hierdie punt wat Paulus hier maak die ignoreer nie. Ons is so geneig om Christen sportsterre, mediapersoonlikhede en pop sangers voor te hou as voorbeelde. Hoekom dink ons hulle menings en ondervindings van God se genade is meer betekenisvol as dié van enige ander gelowige? Hierdie siening in ons gemeentes vernietig nederigheid, minimaliseer genade en gee te veel eer aan geld, invloed en die wysheid van ons dag.

 

Paulus se teologiese regverdiging (1:27 – 30)

Meeste van die gelowiges in Korinte kon nie spog met hulle agtergrond nie. Hoekom is dit so? God self. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitverkies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is tot niet te maak (1:27 – 29).

 

Paulus se veronderstelling is dat mense nie na God sou kom tensy God hulle kies nie. God het dus voorkeur aan die mense sonder aansien gegee. God kies die onsinnige dinge om die geleerdes te beskaam. God het dus ‘n behae daarin om al die aansit van hierdie opstandige wêreld te prik. Terwyl selfgesentreerde leiers hunker na mag, kies God diegene sonder aansien. Alles wat iets is – dinge van belang in die wêreld – maak God tot niet. Hulle word afgeskrywe; hulle het geen ewigheidsbetekenis nie.

 

Hoekom doen God dit? Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie (1:29). Menslike trots word afgebreek. God skuld aan niemand vergifnis of die ewige lewe nie – dit is alles genade. As mense deur hulle wysheid of krag of status verlos is, sou hulle met reg trots daarop kon wees. Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee Ek aan geen gesnede beelde nie (Jesaja 42:8). Paulus waarsku die Korintiërs gedurig oor hulle trots. Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit (Romeine 3:27).

 

God se kategorieë van wysheid en sterkte verskil radikaal van dié van die wêreld. Verlossing is God se vry gawe verseker deur sy kruisdood. Dit word deur diegene wat Hom vertrou verkry – nie deur die ryk en sterk mense nie

 

 ‘n Christelike visie van roem (1:30 – 31)

Het Christene dan niks om op te roem nie? Nee, hy sê as Christene roem op die dinge waarop die wêreld roem, roem hulle oor die verkeerde dinge. Dié wat wil roem, moet in die Here roem (1:31). Dit beteken nou nie selfgesentreerde godsdienstige fanatici kan rondhardloop en daarop aanspraak maak dat hulle menings oor alles altyd reg is nie. Menslike roem is verkeerd, want dit verhef die mens tot die toppunt van belangrikheid. Doen ons dit fokus ons op dit wat verbygaande is. – van geen ewigheidsbetekenis is nie.

 

Wat vir die mens belangrik is, is die kennis van God. Mense wat op hulleself fokus, kry nie hierdie kennis nie. Diegene wat God werklik ken se vreugde is in Hom – Hy word die middelpunt van hulle lewens. Hulle roem in Hom. Hulle kry hulle leidrade oor hoe om te lewe by Hom. Sy karakter is hulle model. Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, is God se plan en wysheid. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing (1:30). Die wysheid van Christus is die kruis. Hierdie wysheid lei tot ewigheidsveranderinge en bring mense in ‘n dieper verhouding met God.

 

Hierdie wysheid, hierdie plan, beteken ons vryspraak, heiliging en  verlossing. Hierdie wysheid van God is nie maar net ‘n beter uitgawe van die wêreld se wysheid nie. Daarom beskryf Paulus die gevolge van God se wysheid in Bybelse terme: vryspraak, heiliging en verlossing. Net nadat hy dit gesê het, haal Paulus vir Jeremia aan: Dié wat wil roem, moet in die Here roem.

 

Ons is net so dwaas soos die Korintiërs as ons dinge wat net tydelik is, opblaas; as ons die waardes, planne en programme van die wêreld bevorder. Hulle gaan verby. Hoe beter ons God ken, hoe meer wil ons hê dat ons hele bestaan om Hom sal wentel. Dan sien ons dat die enigste doelwitte en planne wat die moeite werd is, is die wat aan God verbind is. Jesus het immers self gesê dat sy volgelinge vir hulle skatte in die hemel bymekaar moet maak (Matteus 6:19 – 21).

 

Die boodskap van die kruis moet ons bediening vorm (1:18 – 25); Die uitreik van die kruis bevestig daardie boodskap en dryf ons terug na wat fundamenteel is (1:26 – 31). Daar is nog ‘n element om in gedagte te hou: die prediker en die kruis.

 

 




Mense wat verdeeldheid in die gemeente saai

 

When I see Thee as Thou art, I’ll praise Thee as I ought. —John Newton

 

Mense wat verdeeldheid in die gemeente saai

Mense wat verdeeldheid saai ignoreer twee belangrike waarhede oor Christelike leiers (1 Korintiërs 3:5 – 17). Wat is hierdie twee waarhede?

  • Christelike leiers is dienaars van God – ons moenie aan hulle dieselfde mate van trou bewys as wat ons aan God bewys nie.
  • God gee om vir sy kerk en Hy hou sy leiers verantwoordelik vir hoe hulle sy kerk bou.

Baie belangrik is hoe Paulus hierdie twee waarhede oordra. Hy gebruik twee analogieë (een uit die landbou en een argitektonies) wat hy dan met ‘n kragtige retoriese vraag en gevolgtrekking opvolg.

 

Die analogie uit die landbou (3:5 – 9a)

Paulus het hulle reeds daarop gewys dat hulle verdeeldheid saai deur sekere leiers aan te hang. Hoe moet ons hierdie leiers sien? Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Die antwoord is eenvoudig: Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. Christenleiers is in die eerste plek net dienaars aan wie die Here sekere take toevertrou het.

 

Paulus verduidelik die analogie nou verder. Sommige plant, sommige gooi nat, maar dit is God wat laat groei het. Die dienaars het verskillende take, maar die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet. Die een is nie belangriker as die ander nie. God sal elkeen beloon volgens sy werk. Dit is egter belangrik dat ons die groter prentjie verstaan: Ons is medewerkers in diens van God – hulle is mededienaars wat aan God behoort en deur God gebruik word. Die saailand van God is die Korintiërs; die werkers is mense soos Paulus en Apollos en hulle is God se medewerkers; Hy gee aan die werkers hulle take; Hy alleen laat die saad groei.

 

Die analogie uit die argitektuur (3:9b – 15)

Julle is ook die gebou van God. Nou is die gelowiges God se gebou en die leiers is die bouers. Ons moet onthou dat bouwerk destyds ‘n stadige proses was. Dit het soms dekades geneem om ‘n tempel te voltooi. Daarom mag die een bouer die fondament gelê het en ander bouers ander fases van die projek. Die les is duidelik: Paulus het die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Dit is die hele projek wat belangrik is en dit sou dwaas wees om op net een van die bouers te fokus. Die bouers het ‘n gemeenskaplike doel gedeel.

 

Daar is twee aspekte waar hierdie analogie van die vorige een verskil:

  • God vervul ‘n ander rol. Hier is niks wat groei nie. Niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Die gebou behoort aan God en Hy beoordeel die gehalte van elke bouer se werk.
  • Hier word baie klem gelê op die aanpreeklikheid van die bouers. Sommer vroeg-vroeg waarsku Paulus: Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou. Paulus self het die fondament soos ‘n goeie bouer gelê. Hy waarsku ook dat niemand ‘n ander fondament kan lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Al is die fondament Jesus Christus is daar steeds die gevaar van slegte vakmanskap en minderwaardige materiaal later. Bouers mag goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi Die materiaal wat gebruik word, is nie vir Paulus belangrik nie. Hy ken net twee soorte boumateriaal: die wat die toets van die vuur weerstaan en dié wat dit nie kan weerstaan nie. Die vuur skei die goeie van die slegte. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word.

Uit hierdie analogie is dit duidelik dat God vir sy kerk omgee en dat hy die leiers verantwoordelik hou.

 

Paulus se retoriese vraag en sy ontstellende gevolgtrekking (3:16 – 17)

Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? Die gebou word nou God se tempel. Hier verwys God se tempel na die kerk. Dit is die tempel waaraan al die bouers gewerk het. As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle. Hierdie waarskuwing word gerig teen bouers wat minderwaardige werk gedoen het – werk wat nie die vuur kan weerstaan op die dag wat Christus weer kom nie. Maar die waarskuwing geld ook vir ander: as iemand die tempel van God beskadig.

 

Daar is baie maniere om die kerk te beskadig: verdeeldheid, dwaalleer, as ons ons oë van die kruis afwend, skinder, bitterheid, Bybelse ongeletterdheid, selfbevordering, materialisme, ens. Hierdie waarhede het die persone verantwoordelik vir die verdeeldheid in Korinte geïgnoreer. Hierdie waarhede word vandag steeds geïgnoreer. Dit is tyd vir selfondersoek.

 




Die kruis van Jesus Christus (2)

 

The Great Commission means telling Christ’s story, not yours – Trevin Wax

 

Die kruis van Jesus Christus (2)

Ons het in die vorige blog gesien dat Paulus met die gemeente oor niks anders praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die Gekruisigde (1 Korintiërs 2:2). In die boodskap van die kruis kry ons twee kritiese eienskappe:

 

  • Die boodskap van die kruis verdeel mense absoluut (1:18 – 21)

Dit verdeel mense in mense wat verlore gaan en mense wat gered word. 1:18 maak die verdelingslyn tussen die twee groepe duidelik. Deur die kruis vernietig God die mens se aansprake op wysheid en geleerdheid. Hier kry ons ‘n sentrale tema van die Skrif: God trek mense na Hom toe, sodat hulle met vreugde en gehoorsaamheid erken dat Hy die middelpunt van alles is – Hy alleen is God.

 

Ons wil almal Nommer 1 wees; ons maak graag onsself die middelpunt van ons gedagtes en hoop. Ons is selfgesentreerd en tree op asof God aan ons verduidelikings verskuldig is. Maar ons is heeltemal onmagtig om ons sonde en versoening met God self te hanteer – God is egter magtig genoeg om dit te doen.

 

Die evangelie is nie goeie raad nie – dit is God se krag vir diegene wat glo. Om dit te beklemtoon, vra Paulus ‘n paar retoriese vrae (1:20):

  • Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Geen wysheid het blywende krag as die middelpunt daarvan nie die kruis is nie – as dit nie die mens met die lewende God versoen nie. Geen wysheid is belangriker as dit nie.
  • Waar die slim woordvoerder? Dit is die uitblinkers in retoriek. Vir hulle is die vorm net so belangrik as die inhoud. Maar die gewaande wysheid van die wêreld is dwaasheid/onsin.
  • Waar is die skrifgeleerde? Dit is die kundiges oor die wet van God – hulle ken die Bybel en al die tradisies. Vir die moderne geslag gaan godsdiens oor selfvervulling en persoonlike behoeftes.

 

Hoe doen God dit? Deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo (1:21). Dit verstaan die mens nie – hoe kan God besluit dat die wêreld nie deur geleerdheid tot Hom sou kom nie? Dit is nie iets wat die wêreld self sou kon uitdink nie. Die boodskap van die kruis verdeel mense absoluut.

 

  • God se swakheid oorskry mense se krag (1:22 – 25)

Paulus verdeel diegene wat verlore gaan in twee groepe. Hulle verteenwoordig die twee fundamentele vorme van afgodery van sy tyd – en eintlik van ons tyd ook.

  • Die Jode vra wondertekens

Sommige verwag ‘n teken sodat hulle Hom kan evalueer – hulle wil sy aansprake toets. Ek sal my aan die Here wy as Hy my kind gesond maak. Met ander woorde: ek stel voorwaardes; ek kom nie onvoorwaardelik na Hom nie.

  • Die Grieke soek wysheid

Hulle glo hulle kan alles verduidelik en in beheer van alles is.

 

Albei benaderings is baie selfgesentreerd. Daarom sê Paulus: Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin (1:23). Vir die Jode is ‘n kruisdood ‘n skandaal; vir Grieke is rede/denke en nie geloof nie belangrik. ‘n Gekruisigde held was vir hulle dwaasheid. Maar vir gelowiges is Christus die krag van God en die wysheid van God (1:24). Let op hoe hierdie vers begin: Maar vir dié wat deur God geroep is. Daarom is hulle anders as ander mense.

Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense (1:25).

 

Maar Paulus skryf nie net oor die mense wat die boodskap van die kruis verwerp nie. Hy skryf ook oor diegene wat die Boodskap van die kruis aanvaar. Daarna kyk ons volgende keer.