Jou ‘WAT’ is nie so belangrik soos jou ‘HOEKOM” NIE

Jou ‘WAT’ is nie so belangrik soos jou ‘HOEKOM” NIE

Andy Stanley sê dat ons altyd bekommerd is oor die “wat” in ons lewens. Ons dink aan ons einddoel en die proses om daar uit te kom. Andy Stanley sê dat ons eers aan die “hoekom” moet dink voor ons aan die “wat’ dink.

 

As ons die “hoekom” moet antwoord moet ons teruggaan na God se roeping vir ons. Jou persoonlike roeping was tot jy die eerste stappie geneem het. Dit het moed vereis. Dit is belangrik, want om ander mense te bedien vereis moed. Jou persoonlike roeping is ook waar jy jou passie gaan kry. Passievolle leiers met passievolle volgelinge vorm die kerk van ‘’n beweging.

 

Jou “wat” en “hoe” jy iewers uitkom, is nooit so belangrik soos jou “hoekom” nie.




Is Christene te eksklusief?

Is Christene te eksklusief?

Die vroeë Christene, voor Konstantyn, was vervolg omdat hulle te eksklusief en vreemd was. Tog, terselfdertyd het die kerk baie vinnig gegroei. Dit is al beskryf as ‘n doeltreffende sending ontmoeting met die Romeinse samelewing. Daar was beide aanstoot en aantrekking, konfrontasie en oorreding, Die Christelike geloof het nie by die kultuur aangepas om meer volgelinge te wen nie. Dit het ook nie ‘n klein, afgesonderde groepie gebly nie. Die gelowiges het die kultuur gekonfronteer en gekritiseer en die gelowiges het daaronder gely. Daarteenoor is baie mense ook aangetrek daagliks is nuwe mense bygevoeg.

 

Wat kan ons hieruit leer?  In die Westerse samelewing word Christen vandag weer as te eksklusief gesien en word toenemend uitgeskakel in akademiese en selfs regeringswerk. Hulle word op verskeie terreine gemarginaliseer.

 

Wat ons by die vroeë kerk kan leer, is dat ons steeds doeltreffende sending ontmoetings kan hê. Dit beteken nie noodwendig vinnige groei of stadige vordering met min of geen vrug op ons arbeid nie. Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening (1 Petrus 2: 11 – 12). Sommige mense buite die kerk sal gelowiges beskuldig en vervolg terwyl ander die goeie dade sal sien en God sal verheerlik.

 

Ons moet assimilasie of rigiditeit vermy. Daar is mense, in ‘n poging om meer mense te trek, die eise van die Christelike geloof  aanpas, afwater, sterk veroordeel. Daar is ook mense wat enige poging om ons evangelistiese pogings aan te pas veroordeel.

 

Gregorius van Nyssa het reeds gesê dat jy nie ‘n heiden en ‘n Jood met dieselfde argumente kan oortuig nie Jy moet jou verduideliking van die evangelie verskillend aanbied in elke geval. Ons moet dit ook doen.

 

Wat mag so ‘n ontmoeting behels

  1. ‘n Openbare Apologetiek.

Die vroeë kerk het doeltreffende openbare apologetiek ontwikkel, Dink aan Tertullianus, Origenes, Augustinus as voorbeelde. Ons moenie ‘n suiwer rasionele apologetiek aanbied nie, maar ook ‘n kulturele een. Augustinus het die oortuigings wat eksklusief lyk soos volg verdedig:

Our beliefs and lives do not in any way weaken the social fabric—rather they strengthen them. Indeed, you will never have the society you want if you maintain your polytheism.” 

Maar ook op straatvlak moet daar apologetiek wees. Ons moet wys hoe die beloftes van sekularisme ten opsigte van bevrediging, betekenis, vryheid en identiteit nooit vervul kan word nie. Ons het deurdagte, toeganklike en diverse stories van mense wat Christus ontmoet het en wie se lewens verander het, nodig. Ons het ook boeke nodig wat die logika van die Christelike geloof op ‘n toeganklike wyse beskryf. Die kerk moet ook in die openbaar verskoning vra vir sy foute van die verlede en die hede.

  1. ‘n Alternatiewe kultuur

Soos die vroeë kerk moet ons ‘n alternatiewe gemeenskap wees met sekere kenmerke.

  • Multi-etnisiteit Die Westerse kerk lyk nie multi-etnies vir buitestanders nie. Tog is die Christelike kerk die mees diverse godsdiens in die wêreld
  • Ons moet brûe bou na diegene wat ons teenstaan. Die vroeë kerk is vervolg, maar het vergewe en nie vergeld nie. Ons ondervind nie vandag iets soortgelyk nie, maar die kerk reageer dikwels neerhalend en met aanvalle. Christene moet vredemakers wees.
  • Christene moet bekend wees vir hulle vrygewigheid, versorging van die armes en ons toewyding aan geregtigheid. Die kerk moet dié instelling wees wat bekend is vir werk in arm en gemarginaliseerde gemeenskappe
  • Ons moet ons toewy aan die heiligheid van lewe.

 

  1. Teenwoordigheid in die beroepe

Die kerk moet Christene toerus om hulle geloof en werk te kan integreer.

  1. ‘n Evangelistiese siening en benadering

Die evangelie vervul die kultuur se diepste verwagtings nie net deur die verwronge siening wat die wêreld aanvaar te weerspreek nie. Die basiese element van sonde en verlossing moet op ‘n omvattende manier gekommunikeer word.

Die kerk moet verskeie maniere ontdek om die evangelie te verkondig – nie net deur prediking nie, maar deur onderrig op elke lewensterrein.

  1. Christelike vorming in ‘n digitale tyd.

Die vroeë kerk het mense in lewenskragtige Christene verander in ‘n heidense kultuur. Sy lede het ander prioriteite gehad ten opsigte van seks en geld en baie ander dinge. Hulle het dit verkry deur drie jaar kategese, die krag van hulle gemeenskappe en deur aanbidding. Die kerk staan vandag voor dieselfde uitdagings. Te midde van ‘n sekulêre kultuur met sy narratiewe ‘jy moet waar aan jouself wees, Jy moet doen wat jou gelukkig maak, niemand het die reg om vir ander te sê hoe hulle moet lewe nie,” hoe vorm ons Christene deur die Bybelse narratief.

 

Die kerk staan ook voor ‘n ander probleem; kommunikasie tegnologie. Mense kom voor honderde idees te staan wat ondermyn dit wat in aangesig tot aangesig interaksie gebeur. Hoe vorm ons mense wat onderskeidend Christelik is?

  • Nuwe instrumente vir kategese wat tenoor die verhale van die laat-moderne kultuur staan.
  • Aanbidding wat antieke patrone van liturgie met kulturele vorme kombineer.
  • Opleiding wat leiers in staat stel om hierdie soorte formatiewe praktyke te ondersteun.

 

 




Psalm 37 (6)

Psalm 37 (6)

Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

TEOLOGIESE IMPLIKASIES:

Hier is nie ‘n argument in die formele struktuur van die psalm ingebou nie. Dit keer egter gereeld na ‘n aantal punte terug:

  • Dit het ‘n pastorale bekommernis. Hy wil hê dat die luisteraars/lesers hulle gesindheid moet verander. Hulle tob omdat die goddeloses blykbaar voorspoedig in die lewe is – selfs beter af is as die regverdiges. Die goddeloses is sterk en die regverdiges swak, en daarom bedreig die goddeloses die regverdiges.
  • In hierdie situasie wil die psalmis hê dat die regverdiges nie langer ontsteld moet wees nie, maar dat hulle in die Here moet vertrou – hulle toewy aan Hom en op Hom wag.
  • Gelowiges mag energie vermors deur hulle oor die goddeloses te ontstel. Hulle mag selfs in die versoeking kom om hulle by die goddeloses aan te sluit.
  • Die gelowiges moet tevrede wees met dit wat hulle het – al is dit min –  want die oorvloed van die goddeloses is net tydelik en sal nie lank duur nie.
  • Die voorspoed van die goddeloses tans laat dit lyk asof daar geen morele orde in die wêreld is nie. Daar is ‘n ingeboude morele band tussen optrede en gevolge. Die swaard van die goddeloses vind sy weg na hulle eie hart.
  • Die mens word aangemoedig om op die Here en nie op ‘n morele orde te vertrou nie. Hy sal dinge reg laat uitwerk.

 

Die psalmis vermaan my om rustig  my werk in vertroue op die Here te doen. Die Here sorg vir die mense wat hulle lewens aan Hom oorlaat.  Dit help my niks om kwaad of ontsteld te word oor die voorspoed van die goddeloses nie. Ek moet positief bly optree; ek moet volgens die wil van die Here lewe; ek moet die voorbeeld van die opregtes volg, want net hulle het ‘n toekoms. Daarteenoor vergaan die goddelose gou; hulle word uitgeroei; hulle is sonder toekoms. Die Here lag vir hulle. Hy sien die dag waarop Hy met hulle gaan afreken. Die mag waarop hulle staatmaak, sal in hulle hande verkrummel. Hulle is nie net sonder God nie, maar soms teen God. Daarom wag ondergang op hulle. Dwarsdeur die psalms staan die goddelose en sy dwaalweg teenoor die goeie pad van die gelowige waarop hy deur die Here gehelp word.

 

Hierdie versekerings is vir my van onskatbare waarde as ek dag vir dag gekonfronteer word met die gevolge van moord en doodslag, roof en geweld. Dit sê vir my: Moenie aanvaar dat die bose tog sy sin gekry het nie. Ek moenie glo dat ek weerloos staan nie; ek moenie moed verloor, boedel oorgee of op ‘n hopie gaan lê nie. Dieselfde God wat lank gelede al deur die psalmis vir gelowiges gesê het: “Laat julle lewe aan die Here oor”, sê presies dieselfde ding vir my vandag. Ek moet myself in sy hande plaas; ek moet op Hom vertrou. Hy sal, soos Hy nog altyd gedoen het, sy beloftes nakom en vir my uitkoms gee – op sy tyd, op sy manier.

 

 




Psalm 37 (5)

Psalm 37 (5)

Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

37:27 – 40: Vyfde vergelyking.

27Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, dan sal jy die land altyd bewoon,

28want die Here het die reg lief en sy troue dienaars verlaat Hy nie.

Hulle sal altyd behoue bly, maar die nageslag van die goddeloses sal uitgeroei word.

Draai weg van die kwaad en doen wat goed is, Doen hulle dit sal hulle die land vir altyd bewoon. Dit is nie tydelik nie, maar vir altyd. Die Here  wy Hom daaraan toe en tree met gesag op. Hy tree beslissend op in die wêreld en sit nie onaktief. Hoe beoefen Hy daardie gesag? Trou is die woord om dit mee te beskryf. Hy verlaat nie sy troue dienaars nie – hulle leef in sekerheid.

 

Hulle sal altyd behoue bly, maar die nageslag van die goddeloses sal uitgeroei word.

29Die regverdiges sal die land besit en altyd daarin woon.

Die Here se trou kom nooit tot ‘n einde nie. Hy sal hulle nie uitroei nie. Hier is ‘n waarskuwing oor die nageslag van die goddeloses. Omdat hulle ouers hulle plek in die land verloor, verloor hulle dit ook. Die regverdiges behou die land

 

30Wat die regverdige prewel, is wysheid, wat hy sê, stem ooreen met die reg.

[Prewel – die  Hebreeuse woord verwys na die Joodse gebruik om die Tien Gebooie en ander wette van die Ou Testament gedurig saggies vir hulleself op te sê.]

 

34Wag op die Here en hou by sy pad, dan sal Hy jou aansien gee om grond te besit. Jy sal toekyk  wanneer goddelose mense uitgeroei word.

35Ek het ‘n goddelose mens gesien, ‘n gewelddadige wat gedy het soos ‘n lowerryke inheemse boom

36Maar toe iemand weer daar verbygaan, was hy weg, Ja, toe ek hom soek, was hy nêrens te vinde nie.

37Let maar op ‘n onbesproke mens, kyk maar na ‘n opregte – ‘n vredeliewende mens het afstammelinge;

38Maar oortreders word almal saam uitgedelg, die afstammelinge van goddelose mense word uitgeroei.

39Regverdiges se verlossing kom van die Here – hulle toevlug in ‘n tyd van verdrukking

40Die Here help hulle en  bevry hulle,

Hy bevry hulle van goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.

 

Die digter beklemtoon meeste van die gedagtes wat hy reeds in die eerste vier vergelykings uitgespel het.

 

37:27 – 33:

31Die openbaring van sy God is in sy hart, sy koers is nie onseker nie.

Die Here se onderrig is in die hart van die regverdige – nie net op sy lippe nie. Dit is in sy innerlike wese geskrywe. Daarom vorm dit hulle lewe – hulle loop die regte pad,

 

32Die goddelose lê die regverdige voor en soek ’n kans om hom dood te maak,

33maar die Here los hom nie in die mag van die goddelose nie

en laat nie toe dat hy veroordeel word as hy voor die regbank staan nie.

Die goddeloses is ‘n bedreiging vir die regverdiges – hulle soek ‘n geleentheid om die regverdige skade aan te doen. Weereens verklaar die psalm dat die Here nie die regverdige in die steek sal laat nie. Die regverdige mag voor die hof staan op een of ander vals aantyging – soos Nabot kan hy gedreig word met die verlies van sy land. Maar die Here sal toesien dat die hof in hulle guns beslis.

 

Hy spoor weer die gelowige aan om die kwaad te vermy en te doen wat goed is. Die rede wat hy vantevore gegee het, is nog steeds van krag: die Here het die reg lief. Daarom beloon Hy sy troue dienaars deur hulle nie te verlaat nie, die land te laat besit. Hy straf egter die goddelose deur hulle uit te roei. Hierdie keer voeg hy by dat die regverdige wysheid sal bekom as hy sy woorde sal laat ooreenstem met die reg van God en as hy die openbaring van God in sy hart sal bewaar.

 

37:34 – 40:

34Wag op die Here en hou by sy pad, dan sal Hy jou aansien gee om grond te besit. Jy sal toekyk  wanneer goddelose mense uitgeroei word.

Hier is ‘n oproep om op die Here te wag Dit beteken nie jy moet onaktief wees nie, maar die aktiwiteit wat verwag word, is nie om beheer van jou eie bestemming te kry nie. Dit beteken ons moet  die Here se weg probeer volg. Dit word deur ‘n belofte gevolg: besitting van die land en om te sien hoe die goddelose mense uitgeroei word.

 

35Ek het ‘n goddelose mens gesien, ‘n gewelddadige wat gedy het soos ‘n lowerryke inheemse boom

36Maar toe iemand weer daar verbygaan, was hy weg, Ja, toe ek hom soek, was hy nêrens te vinde nie.

Hierdie is ‘n herhaling van die sien wat in vers 34 genoem word wat in die verlede plaasgevind het. Dit wat die psalmis in die verlede gesien het is die basis vir wat die lesers sal sien. Onthou ons het hier met magteloses met armes te doen – skurke en skelms wat genadeloos is. Die een wat skynbaar onaantasbaar was, is weg.

 

37Let maar op ‘n onbesproke mens, kyk maar na ‘n opregte – ‘n vredeliewende mens het afstammelinge;

38Maar oortreders word almal saam uitgedelg, die afstammelinge van goddelose mense word uitgeroei.

Hier sien ons wat met mense met integriteit gebeur – ‘n vredeliewende mens. Hierdie persoon soek nie net vrede nie, maar tree ook in vrede op en kom sy verbondsverpligtings na. Teenoor hom staan die man wat moeilikheid soek en sy verpligtings ignoreer. Die vredeliewende mens het afstammelinge –  dit is net ‘n ander manier om te sê dat hulle die land sal behou en sekuriteit sal geniet.

In vers 36 sien ons die kontras – uitdelging van die oortreders. Hulle het geen afstammelinge nie – geen toekoms nie.

 

39Regverdiges se verlossing kom van die Here – hulle toevlug in ‘n tyd van verdrukking

40Die Here help hulle en bevry hulle,

Hy bevry hulle van goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.

Verlossing word versterk deur hulle toevlug in ‘n tyd van verdrukking. Hulp en redding is ander maniere om van verlossing te praat. Wat moet ons doen om verlos en bevry en gehelp te word? Skuil by die Here.

 

Die digter roep weer die regverdiges op om op die Here te vertrou, eerder as om die goddelose te vrees. Ook in hierdie geval bly die rede wat vroeër gegee is, staan: God red die regverdige uit die mag van die goddelose; Hy laat die regverdige weer opstaan om die land te besit; Hy laat die goddeloses ondergaan; Hy laat hulle verskrompel soos ‘n plant wat geen kos of water kry nie. Daarmee beklemtoon hy: daar is vir die mens wat op God vertrou ‘n toekoms, maar die toekoms van die goddeloses word afgesny.