Probleemoplossing

The only real mistake is the one from which we learn nothing.” – Henry Ford

 

Probleemoplossing

Die grootste fout wat mense maak met probleemoplossing is dat hulle nie die probleem oplos voor die probleem daar is nie. Onmoontlik. Die probleem wat jy voor die probleem moet oplos, is jou gesindheid. As jy voor ‘n uitdagende situasie te staan kom, het jy ‘n keuse: Wat gaan jou gesindheid wees? Meeste van ons sien ‘n probleem as iets negatief – ‘n hindernis, ‘n ramp. Dit is die probleem.

 

‘n Negatiewe gesindheid teenoor ‘n probleem maak dit net erger, want negatiewe denke is ‘n versterker. Dit maak klein probleme groot probleme en ons word of oorweldig of verlam. Ons weet nie wat om te doen nie. Dit veroorsaak ‘n afwaartse spiraal: jou gesindheid en probleme word net erger en erger.

 

Die enigste manier om die siklus te breek is om ‘n positiewe gesindheid te kies. Hoe help dit jou?

 

  1. ‘n Positiewe gesindheid temper jou emosionele reaksie

Emosies is kragtig. Deur die probleem reg aan die begin in ‘n positiewe gesindheid te sien, verswak jou emosionele reaksie. As jy die probleem nie as ‘n ramp sien nie, sal jy waarskynlik kalm bly. In plaas daarvan dat jou vrese met jou weghardloop, kan jy jou vrese bemeester. Om kalm te bly is die eerste stap na die oplossing van die probleem.

 

  1. ’n Positiewe gesindheid bevorder kreatiwiteit

Hoe jy jou probleem definieer, maak ‘n groot verskil in jou oplossing daarvan. As jy die probleem as ‘n geleentheid sien, kalmeer dit jou emosies, maar dit maak ook jou oop vir verskillende opsies. Duidelikheid oor opsies lei na groter kreatiwiteit. As jy die probleem as ‘n vurk in die pad sien, sien jy die verskillende paaie wat na ‘n oplossing kan lei. Kreatiwiteit maak jou ‘n beter probleemoplosser.

 

  1. ‘n Positiewe gesindheid bemagtig jou om op te tree

Positiwiteit oor ‘n probleem neem die verlamming om op te tree, weg. Jy beweeg nou verby jou vrese. Dit gee jou energie en jy kry voorwaartse momentum. Hierdie momentum beteken jy kan begin om oplossings te probeer. Jy kan besluite neem en jy kan optree om die probleem op te los.

 

As jy probleme as geleenthede sien voel jy beter oor die situasie en jy sien meer moontlike oplossings. Jy kan dan besluit wat die beste optrede sal wees. Los die probleem voor die probleem op en jy sal die ware probleem beter oplos.

 

 




 

Winners are not afraid of losing. But losers are. Failure is part of the process of success. People who avoid failure also avoid success.” – Robert T. Kiyosaki

 

Geloof en geestelikheid buite die kerk.

Tradisionele instellings soos die kerk het nie meer die gesag in ons kultuur wat dit in die verlede gehad het nie. In die VSA behoort feitlik die helfte van mense nie meer aan die ‘instelling van die kerk nie. Meer mense glo steeds in God, maar beoefen hulle godsdiens buite die mure van die kerk. Barna se navorsing het na hierdie groep wat Jesus maar nie die Kerk lief het nie, verwys. Hulle sê dat hulle geestelik, maar nie godsdienstig is nie.

Hierdie mense verwerp die kerk as instelling, maar sê dat hulle Christene is en dat hulle geloof vir hulle baie belangrik is, maar hulle was die afgelope ses maande nooit in die kerk nie. 8% van hierdie mense het hulle persoonlik aan Jesus Christus toegewy. Hulle sê dat Jesus baie belangrik in hulle lewens is, maar hulle kom nie in die kerk nie.

Barna sê dat hierdie groep 10% van die bevolking uitmaak en groei steeds. 61% is vroue en 80% is tussen die ouderdom van 33 en 70 jaar.

Die ouer geslag is die mense wat nog gereeld eredienste bywoon. Die jonger geslag is die groep wat minder waarskynlik vir hulleself as gelowiges identifiseer.

Ten spyte daarvan dat hulle die kerk verlaat het behou hierdie groep ‘n ortodokse siening van God. Hulle glo daar is net een God en dat Hy almagtig, alwetend is, en wat die wêreld vandag steeds beheer, die Skepper van die heelal.

Geestelik, maar nie godsdienstig nie. Ons hoor dit dikwels. Geestelike praktyke beweeg weg van openbare rituele van instellings na die privaat ondervinding van God binne die persoon. Wie is hierdie mense? Wat glo hulle? Barna verdeel hierdie mense in twee groepe;

  • Diegene wat sê dat hulle geestelik is, maar dat hulle godsdiens nie baie belangrik vir hulle is nie. In baie opsigte is hulle nie godsdienstig nie. 93% het nie ‘n erediens die afgelope ses maande bygewoon nie.
  • Hulle is godsdienstig meer geletterd as die vorige groep. Om aan ‘n godsdiensgroep te behoort verander nie hulle praktyke en geloof nie. Hulle God is wel meer abstrak. Net 50% van hulle glo dat daar net een God is en dat Hy alwetend, almagtig en die Skepper van die heelal is.

 

Wat beteken hierdie bevindings? Hierdie mense – geestelik maar nie godsdienstig nie –  is ontnugter deur die kerk en godsdiens. Baie hou vas aan hulle geloof, maar hulle vind geen waarde in die kerk en kerkbywoning nie. Hulle definieer hulle eie grense vir geestelikheid. Dikwels meng hulle praktyke van verskillende godsdienste en tradisies. Volgens alle aanduidings is hierdie groep besig om toe te neem.  Kerkleiers moenie hierdie groep verontagsaam nie, Hierdie mense is geestelik nuuskierig en oop.

 

 




Verbind met ander

Verbind met ander

Toe Henry Mintzberg gevra is wat die algemeenste raad was wat hy aan leiers gegee het, antwoord hy met een woord:”Verbind.” Leierskap beteken fundamenteel “verbind met ander.” Hoe doen ons dit? Hier is vyf strategieë wat ons kan gebruik.

 

  1. Soek die beswil van ander

Leiers wat net hulle eie beswil soek, gebruik dikwels misleiding en manipulasie om hulle doel te bereik – ‘n doel wat hulleself dien. As jy ander se beswil soek, is die kernwoord vertroue. As dit nodig is sal jy selfs jouself benadeel as dit die beswil van ander dien. Vra:

  • Wie ken ek wat kan help?
  • Watter hulpbronne kan ek voorsien?
  • Wat is jou doelwitte? Hoe kan ek jou daarmee help?

Evalueer jouself deur jou gereeld af te vra: Hoe soek ek die beswil van Ander: doen jy dit sal frustrasie afneem en vervulling toeneem.

 

  1. Wees nuuskierig oor ander?

Alles hoef nie net oor jou te gaan nie.

  • Moenie gou oordeel nie.
  • Vra opvolgvrae.
  • Moenie altyd probeer beter doen nie.

 

  1. Gee tweede kanse

Staan langs iemand wat misluk het. Ondersoek wat uit die situasie geleer kan word. Sorg dat die persoon weer op koers kom. Vergeet van wat verkeerd was. Onthou: Vrygewigheid vereis nie wederkerigheid nie.

 

  1. Pas by ander aan

Hoe meer gesag jy het, hoe belangriker is dit om by ander aan te pas. Verwerp die idee dat volgelinge by leiers moet aanpas. Ontmoet mense waar hulle is – nie waar jy wens hulle moet wees nie. Pas jou pas by ander aan – loop langs hulle.

 

  1. Moenie altyd reg wil wees nie

Verhoudings is belangriker as om altyd reg te wil wees. As jy bewys dat jy reg is, beteken dit ander is verkeerd. Dit is negatief vir enige verhouding.

 

Jou taak as leier is om bande/verhoudings te versterk. Doen jy dit?

 

 




Kerkgroei

 

Kerkgroei

85% van gemeentes in die Weste is besig om agteruit te gaan, Bill Easum glo dat die gevolg is van ‘n basiese misverstand oor die kerkgroei beweging. Die kerkgroei beweging onder Donald MaGavran was baies dat die gemeente sou groei deur dissipels wat ander dissipels maak. Al die strategieë het berus op die ondersteuning van die maak van dissipels. Vir MaGavran was evangelisasie en die maak van dissipels van mekaar afhanklik – jy kon nie die een sonder die ander een hê nie. Hy het nooit strategieë vir groei vir strategieë om dissipels te maak verplaas nie.

 

MaGavran het ook die evangelie na diegene wat dit nodig gehad het geneem. Daar was nooit ‘’n element   van aantrekking nie – Christene moes uitgaan na mense wat nog nooit die evangelie gehoor het nie. Die groot kritiek van MaGovren se model was dat dit op homogeniteit berus het.

 

Hierdie model het goed gewerk tot die liberalisering van die Westerse Christendom. Met die liberalisering word evangelisasie ‘n vloekwoord en die maak van dissipels word nou skielik met bywoning van eredienste gelykgestel. Nog erger: God was dood; sonde word met terapie vervang; die ewige lewe word met ‘n goeie lewe vervang’ erediensbywoning word ‘n gewoonte wat min mense geniet het. Die gevolg was ‘n kerk vol nominale Christene – sodra hulle kinders die huis verlaat het, het hulle die kerk verlaat.

 

Met die huidige klem op kerkplanting word die probleem net erger – kerkplanting is nie die oplossing vir die agteruitgang nie. In die VSA het ons nou die situasie dat meer nuwe kerke geplant word as wat daar nuwe Christene is. Ons kry gemeentes by, maar nie juis nuwe Christene nie. Ons verwar weer groeistrategieë met die maak van dissipels.