Psalm 35(1)

 

Our greatest fulfillment lies in giving ourselves to others – Henri Nouwen

 

Psalm 35(1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Hoe reageer ek op aanvalle

Hierdie is ’n lang individuele gebed wat verband hou met die gevoel dat die psalmis aangeval word. Drie maal kla die psalmis oor aanvalle. Hy pleit by die Here om op te tree en sien vooruit daarna om die Here as verlosser te loof. Hierdie psalm kan in drie dele verdeel word. Die drie dele spreek van aanvalle in verskillende vorms:

  • 35:1 – 10 verwys na fisiese aanvalle – beide militêr en op die jagveld.
  • 35:11 – 18 vertel van ’n persoonlike aanval wat volg na ‘n persoonlike ramp.
  • 35:19 – 28 vertel van ‘n doelbewuste vals aantyging.

Die beeld van oorlog suggereer aggressie en gevaar. Die beeld van jag suggereer geheimhouding en slimheid.

Diegene van ons wat ‘n rustige, vreedsame lewe lei, mag hierdie psalm vreemd vind – selfs verontrustend. Ek mag geneig wees om te sê dat hierdie psalm nie is soos Christus van ons verwag nie. Wat is die antwoord?

  1. In my lees van die Bybel lees ek dikwels daarin wat ek dink daar behoort te staan. Is daar nie baie van Jesus se teregwysings wat ek maar goedsmoeds ignoreer nie?
  2. Die meeste mense leef nie in ‘n stil, vreedsame wêreld nie. As ek dit nie besef nie, bewys dit my selfgesentreerdheid. Dink maar aan die krotbuurtes en die swaarkry van miljoene vlugtelinge. Baie mense word van alle kante af gedruk, terwyl ek rustig by die huis sit.

 

Opskrif:

Van Dawid.

Hierdie verwysing na Dawid mag verwys na die tyd toe hy deur Saul aangeval en agtervolg is. Hier dink ons veral aan 1 Samuel 24.

 




God: Verlosser en Regter

 

If Jesus, the Lord of Love and Author of Grace spoke about hell more often, and in a more vivid, blood-curdling manner than anyone else, it must be a crucial truth – Tim Keller

 

God: Verlosser en Regter

God is die Regter oor ons sondes, maar Hy is ook die Verlosser van sondaars. God is die Regter wat sonde haat; God het die sondaars lief.

 

  1. God vergewe volledig

Want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons af (Psalm 103:11 – 12). Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie (Jesaja 43:25). Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe al ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Johannes 1:9). Dit is die goeie nuus van die evangelie: as ek my rug op die sonde keer en op Christus vertrou, vind ons uit dat Hy die prys betaal het vir ons sondes. As gevolg van die kruis is ons volledig vergewe.

 

  1. Hy genees volkome

God vergeef nie net volledig nie, maar Hy genees ook volkome. Natuurlik moet ons die sonde in ons verlede haat, maar ons hoef nie ons hele lewe lank met die pyn van berou te leef nie. Ons mag nie toelaat dat die sondes in ons verlede ons van die vrede wat God vir ons voorberei het, beroof nie. Lees weer die verhaal van die sondige vrou wat agter Jesus gaan staan het, haar trane van sy voete met haar hare afgedroog het en Hom met kosbare reukolie gesalf het. Jesus sê vir haar: Jou sondes is vergewe … Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede (Lukas 7:48 – 50).

 

  1. Hy herstel volledig

Hy vergewe al ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Johannes 1:9). Jy loop nie rond met ‘n bordjie om jou nel waarop geskrywe staan: Sondaar, nie. God kyk nie na jou en sien jou sondes raak nie. God kyk na jou en sien die geregtigheid van Christus. God verlos en Hy herstel. Hy kan selfs slegte dinge gebruik en iets goed daaruit voortbring. Dink net aan Josef se woorde aan sy broers wat hom as slaaf verkoop het: Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen (Genesis 50:20).

 

 

 

 




Dawid en sy familie

 

Alas if our children lose the crown of life, it will be small consolation that they have won laurels of literature or art. —C.H. Spurgeon

 

Dawid en sy familie

Dit gaan alles oor die troonopvolger. As jy die eersgeborene was, was jy die volgende koning. Dit is nou nie as die koning jou as ‘n bedreiging sien en jou laat vermoor nie – Herodes het baie van sy seuns vermoor. Maar jy moes jou ook oor jou ander broers bekommer. Hulle kan jou ook dood maak om die pad na die troon vir hulle oop te maak. Ons mag dink dat koning Dawid se familie nie sulke spanning sou ondervind nie. Verkeerd. In Dawid se familie kry ons dieselfde spanning en risiko’s.

 

Die oudste seun, Amnon, word deur Absalom vermoor omdat hy sy halwe suster, Tamar, onteer het (2 Samuel 13). Absalom was derde in die ry. Ons lees dat Dawid woedend vir Amnon was, maar hy doen niks nie. Absalom moes vir drie jaar vlug, maar na drie jaar keer hy terug en word verwelkom aan Dawid se hof. Absalom is nou eerste in lyn, want sy broer net ouer as hy het vroeg gesterf. Absalom raak ongeduldig om die troon te bestyg en kom in opstand teen Dawid. Uiteindelik word hy deur Joab dood gesteek met drie spiese.

 

Dawid se persoonlike lewe was chaoties. Ons onthou hom as Israel se suksesvolste koning en vergeet van sy hartseer – sy kinders sterf en sy hele familielewe stort in duie. Hoe sou hy gevoel het as hy besef het dat hy deel van die skuld moes dra. Hy het baie vroue gehad; hy het owerspel gepleeg; hy kon aanvanklik nie die spanning in sy huishouding hanteer nie.

 

Was Dawid ‘n model vader? Beslis nie. Ons kom soms in ‘n soortgelyke posisie en wil weet wat ons verkeerd gedoen het. Ons beskuldig onsself. Hierdie verhaal van Dawid herinner ons daaraan dat God ons nie verlaat al is ons deel van die probleem nie.

 

Het Dawid nie omgegee vir sy familie nie? Nee. In 2 Samuel 18:33 sien ons dat hy oor die dood van Absalom gehuil het – hy was ontroerd. Om ‘n ouer te wees wat omgee, beteken nog nie dat jy ‘n doeltreffende ouer is nie. Gegewe dat Dawid se familielie ‘n mislukking was, hoe het hy dit hanteer? Watter lesse hou sy storie vir ons in?

 

Om te verstaan wat in Dawid aangaan, kan ons Psalm 3 as sleutel gebruik. Die opskrif: ‘n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. Hier is ‘n gevoel van verraad.  Die gevaar vir Dawid is ‘n werklikheid. Hier is Dawid op sy laagtepunt. Hy skryf hier midde in ‘n krisis. Wat sê hy?

 

  1. U, Here, is ‘n skild rondom my

Dit beteken nie dat slegte dinge nie gebeur nie, maar dat dit nie groot skade aanrig nie, want ons word beskerm. In 2 Samuel 16:5 – 14 lees ons van Dawid wat vir sy lewe moes vlug. Simeï het Dawid gevloek en steek sy manne onder die klippe. Hy noem Dawid ‘n moordenaar en skurk. Sy manskappe wou hom doodmaak, maar Dawid sê: Hy vloek so omdat die Here hom beveel het om vir Dawid te vloek.  Ons sien dat Dawid glo dat, maak nie saak wat gebeur nie, God is daarby betrokke. Hy is vir hom ‘n skild en beskerm hom. As ons lewe in duie stort, wie is ons skild?

 

  1. Maar U, Here, … my eer, en die een wat my kop hoog hou

Dawid staan hier midde in swaarkry. Simeï het hom gevloek en met klippe gegooi, maar Dawid het sy lewe gespaar. Dawid kan sy kop hoog hou, want hy het die regte ding in ‘n onmoontlike situasie gedoen. Probleme is nie vir Dawid ‘n teken dat God nie in beheer is nie.. Hy sien dit as ‘n geleentheid vir diep vertroue … en dit werk.

 

  1. Ek het gaan lê, aan die slaap geraak en wakker geword, want die Here ondersteun my

Dawid dank God vir die gawe van slaap. In krisistye is die laaste ding wat ons kan doen, is om te slaap. Dawid raak aan die slaap en hy sien dit as ‘n gawe van God. Omdat hy in God vertrou het, kon hy soos gewoonlik geslaap het. In Handelinge lees ons van Petrus in die tronk. Hy sou waarskynlik die volgende dag tereggestel word. Jakobus is immers pas onthoof. Skielik staan daar ‘n engel by hom. Hy moes aan Petrus vat om hom wakker te maak. As jy werklik vir God vertrou, is daar niks waaroor jy slaap moet verloor nie. God is wakker; slaap rustig. Dit is genoeg

 

  1. God gee vertroue

Ek is nie bang vir tienduisende manskappe wat reg rondom my stelling inneem nie (Psalm 3:7). Toe Dawid al die magte wat om hom saamgetrek is, sien, vlam sy hoop op – net God kan hom red. Dit is die veiligste plek: daar waar jy nie op jouself vertrou nie, maar op God alleen vertrou.

 

  1. God is daar waar alles verkeerd loop

Dawid se koningskap word herstel, maar Absalom is dood. Sy naam (Ab = vader; shalom = vrede) beteken vader van vrede.`Tog is dit nie wat met sy lewe gebeur nie.

 

Dawid se familielewe was maar deurmekaar sy kinders was verkragters, moordenaars, verraaiers. Hy het ok ‘n ander seun, Salomo, gehad wat hom opgevolg het. Dawid het baie dinge verkeerd gedoen, maar ook sekere dinge reg gedoen. Uit hierdie storie leer ons dat God weet dat vir meeste van ons verloop dinge nie altyd volgens plan nie. Hy wil egter hê dat ons moet weet: Ek het vir Dawid bygestaan en ek  kan dit ook vir jou doen. Natuurlik is baie van die probleme my fout, maar juis daarom het God vir Jesus gestuur. Nou is daar hoop en vergifnis vir ons.

 




Psalm 34(5)

 

There is nothing little, weak or naive about being a child of God – Henri Nouwen

 

Psalm 34(5)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Dié tydlose stelling in hierdie psalm is: Die Here is goed. Hierdie verwys veral na verhoudings. Die Here is goed in verhouding met ons. Dit word duidelik as ons sien dat die Here se oë en ore na ons gedraai is. As ons behoeftes het, is die Here naby om ons gebede te antwoord: Hy luister na ons gebede en Hy reageer op ons gebede. Hierdie antwoord sluit in redding, beskerming en herstel. Dit bring regstelling en ons gesig skyn – ons word nie beskaam nie. Dit belowe vir ons die goeie dinge van die lewe. Dit belowe ‘n lang en vol lewe – ons ondervind vrede. Dit beteken ook dat die goddeloses die teenoorgestelde sal ondervind.

 

Die psalmis aanvaar dat die lewens va die gelowiges, die dienaars van die Here, baie probleme en swaarkry sal insluit. Dit lei ons daartoe om hulp by die Here te soek – na Hom te kyk, Hom te aanbid, Hom te eer, op Hom te vertrou, na Hom om hulp uit te roep. Maar dan moet ons eerlik wees.

 

In die psalms lees ons dikwels dat die regverdige die Here nie so ondervind nie. Hy is dikwels ver weg en onaktief. Hier sien ons duidelik dat ons ondervindings ons nie moet ooweldig nie.

 

Die Here is goed. Dit is hoe hierdie psalm begin. Mense word selfsugtig en selfgesentreerd gebore. Dit is so maklik op te spog met dit wat ek bereik het. Die digter sê egter: In die Here sal ek roem. Dit beteken dat ek sy Naam sal verheerlik. Die digter is self ‘n verdrukte wat swaar gekry het. Nou roep hy almal wat swaarkry op om saam met hom die Here te loof en te prys, want die Here het sy gebed verhoor en hom verlos. Hy roep sy medegelowiges op om saam met hom die Here te loof en self te ervaar hoe God hulle red.

 

Die digter gebruik twee beelde om God se beskerming van die gelowige te beskryf:

  1. Dit is asof God – die Engel van die Here – ‘n laer trek rondom dié wat Hom dien: Hy beskerm hulle.
  2. Hulle is selfs veiliger as leeus, die magtigste van die diere. Selfs leeus ly gebrek en kry honger, maar wie op God vertrou, ly nie gebrek nie.

Daar is ‘n samehorigheidsgevoel onder die gelowiges wat dikwels juis vanweë hulle vertroue op die Here verdruk word. Selfs al gaan dit sleg met die gelowige, is hy bly as dit met ‘n ander gelowige goed gaan, want hy weet dat sy swaarkry ook sal verbygaan. God beskerm sy volgelinge.  Die Engel van die Here het dikwels aan mense verskyn, en dan word Hy ook die Here genoem. Toe Manoag Hom sy naam gevra het, was sy antwoord: Waarom vra jy my Naam? Dit is te wonderlik om uit te spreek (Rigt 13:18). Dit is ook die naam van die beloofde Kind waarna Jesaja 9:5 verwys. Toe die Israeliete deur die woestyn getrek het, het die Engel van die Here hulle gelei en beskerm. Die psalmdigter ervaar dit ook so.

 

Die bidder het ondervind dat die Here goed is. Hy hou nie hierdie godsdienstige ondervinding vir homself nie – sy medegelowiges moet ook deel daaraan hê. Die gemeente is een al word hulle baie name genoem om die aard en ondervindings van die gelowiges te beskryf: dié wat swaarkry; dié wat die Here dien; dié wat aan die Here behoort; dié wat die Here se hulp vra; die regverdiges; die gebrokenes en moedeloses; die dienaars van die Here; dié wat by die Here skuil. Hierdie gelowiges in die een gemeente word saamgebind, en het deel aan baie voorregte en verantwoordelikhede. Die goeie dinge wat deur God aan sy volk gegee word, sluit ook in die voorsiening vir ‘n mens se daaglikse behoeftes. Wie opreg bid, vra nie tevergeefs nie. Die leeus kan na die goddeloses verwys. My geloofservarings moet ook my medegelowiges aanspoor om God te loof.

 

Hierdie psalm is ‘n beroep op God se beskerming in ‘n krisistyd. In krisistye ontdek ek dat sy nabyheid alle pyn en ellende oortref.