Psalm 33 (5)

 

“Believers in Christ are great offenders when reformed religion and unreformed life are joined together, as they often are.” — William Perkins

 

Psalm 33 (5)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese Implikasies

Hierdie is ‘n loflied wat lof van begin tot einde dek. Die fundamentele gedagte is dat al die Here se woorde en dade reg, waar, betroubaar en beslissend is (vers 4 – 5). Dit kan in verskillende rigtings ontwikkel word.  Die Here se skepping van die heelal bevestig dit. Hy is oppermagtig en beheer alle gevaarlike magte. Hiermee dien Hy as versekering vir die mensdom. Ons sien ook die Here se betrokkenheid by internasionale gebeure. Ons sien sy oppermag en beheer oor ander volke. Hy stel Israel gerus.

 

Die Here se vermoë om te verlos illustreer dit. Dit bewys ook die onkunde van mense om op ander hulpbronne te vertrou. Daarom is daar ‘n verwagting dat eerbied teenoor Hom betoon sal word. Die Here se betrokkenheid  is nie tot sekere kontekste beperk nie – dit is ‘n vasstaande waarheid van Hom.

 

Die raamwerk van die psalm praat ook van die omvattendheid van ons reaksie teenoor God. Aanbidding vereis dat ons van onsself af wegkyk. Dit behels ook die maak van musiek. Maar as jy eers gesien het wie die Here is, vereis dit ‘n uitdrukking van eerbied, hoop, vreugde en vertroue.

 

Hoe raak hierdie psalm vir my? Ek wat in Christus glo, is net soos die regverdiges van ouds ook deur God gekies as sy volk. Onverdiend. Ek is op grond van Christus se dood van die sonde verlos. Op grond van sy opstanding, is ek regverdig verklaar. Daarom is die opdragte in hierdie psalm ook opdragte aan my: Kom prys die Here. Kom doen dit so goed as wat jy kan.

 

As ek, soos die digter, gaan kyk na God se verhouding met die mensdom, sal ek baie redes hê om Hom te prys. As ek gaan kyk na die verhouding met my as sy kind, sal ek nog meer redes kry om Hom te loof. Doen dit. Dan sal ek bly lag as ander wil treur; bly hoop as ander moed verloor. Dan sal almal kan sien ek bedoel dit opreg as ek sê: Ek vertrou op die Here alleen.

 

Die Woord van die Here is liefde. Dit werk stil, aanhoudend en onsigbaar in mense se lewens. Dit kan selde in oomblikke of datums vasgevang word. Hierdie liefde:

  • Is nuut elke oggend;
  • Is absoluut betroubaar; en
  • Kan dwarsdeur die wêreld gekry word.

 

Die Woord is skeppend. Sedert die skepping het God getoon dat Hy deur sy woord regeer en wonders doen. Die mag van die woord van die Here blyk veral uit die skeppingsgebeure – en dit is nou nog so. Hy werk egter nie na willekeur met die woord nie, maar gebruik dit in diens van en ter bevordering van geregtigheid en reg. Oor die hele aarde laat Hy sy sorg en sy troue liefde vir die volk blyk deur elke plan wat teen Hom en die volk gerig is, te verydel. Dit doen Hy, soos by die skepping, nou nog deur sy woord. Soos wat Hy die seewater met sy woord beheer, beheer Hy die nasies – selfs al is hulle net so onstuimig soos die see.

 

 

 




‘n Nuwe dag

 

Your words are so foolishly and ignorantly composed that I cannot believe you understand them. – Martin Luther

 

‘n Nuwe dag

‘n Rabbi vra sy studente: “Hoe weet ons die nag is verby en ‘n nuwe dag het begin?”

Een student antwoord: “As dit lig genoeg is om tussen die skaaphond en die skape te onderskei.”

Rabbi: “Nee.”

‘n Ander student: “As daar genoeg lig is om tussen ‘n olyfboom en ‘n wingerdstok te onderskei.”

Rabbi: “Nee.”

Studente: “Maar wat is dit dan?

Rabbi: “ As jy in die gesig van ‘n ander mens kyk en daar die gesig van ‘n broer of suster sien. Eers dan is die nag verby; eers dan het die dag gebreek.”

 

 

 




Eredienste op ‘n Sondag

 

It is a sweet mercy to have to go through the floods, if some filthiness may thereby be removed. —C.H. Spurgeon

 

Eredienste op ‘n Sondag

Die week eis sy tol. Daarom is Sondae belangrik vir gelowiges. Ons het ‘n veilige plek teen die gevare van die wêreld nodig. Soms kan ons onsself oortuig dat Sondae se byeenkomste net ‘n roetine is – iets wat van Christene verwag word. Die chaos en besigwees van die week sê vir ons dat Sondae daar is om te slaap. Die korporatiewe byeenkomste van die gelowiges, daarenteen, sê dat ons ware rus in Jesus Christus is.

 

Sondae moet gebruik word om ‘n Bybelse wêreldsiening in gelowiges te vestig. Dit moet op drie maniere bekelmtoon word.

 

  1. Ons roep Christus se werk in herinnering

Tydens die erediens verklaar ons individueel en gesamentlik die werklikheid van die evangelie – ons roep Christus se werk vir ons in herinnering. Ons is mense van die verlede – ons kyk terug om vorentoe te kan kyk. Ons verklaar aan mekaar dat Christus ons deur sy dood gekoop het en ons verlossing verseker het deur sy opstanding. Ons verklaar midde in ‘n wêreld vol slegte nuus dat daar inderdaad goeie nuus is. Deur Christus se werk in herinnering te roep, help ons gelowiges om te besef dat alles in hulle lewens van Christus afhang.

 

  1. Ons onthou ons identiteit

In die week is die versoeking groot om ons identiteit in ons prestasies te vind. Ons moet gereeld daaraan herinner word dat ons in Christus is. Ons het ‘n nuwe bestaan in Hom. Ons is saam met Hom gekruisig; ons het saam met Hom opgestaan. Ons verklaar nie net die evangelie nie, maar neem daaraan deel deur ons nuwe identiteit in Christus. Sondae onthou ons dat ons werklik in Christus is. Christus se werk vir ons in die verlede het sekere implikasies vir ons. As ons onthou wie ons is, kan ons weer op ons doel vir die huidige fokus.

 

  1. Ons oefen vir die nuwe skepping

Na ons terug gekyk het na Christus se werk vir ons en as ons ons nuwe identiteit onthou, kyk ons vooruit na die nuwe skepping. In Christus is ons reeds deel van hierdie nuwe skepping maar die erediens is ‘n oefening vir die finale voltooiing vir God se verlossingsplan. Ons oefen en leef die nuwe skeppingswerklikheid van God se koninkryk nou. Dit rig ons visie op die werklikheid van die toekoms.

 

Die eredienste op Sondae is noodsaaklik vir ons voortbestaan. Ons word aangemoedig om terug te kyk, ons oordink die huidige en ons verlang na die toekoms. Sondae is uniek. Sondae is God se dag

 




Psalm 33(4)

 

The measure of our love for others can largely be determined by the frequency and earnestness of our prayers for them. —A.W. Pink

 

Psalm 33(4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

33:13 – 19:

Die res van die stellings oor die Here brei uit op die punt van vers 9 – 11. Dit begin met ‘n veralgemening van die Here se verhouding met die wêreld (vers 13 – 15). Hierdie punt word dan op politieke sake toegepas (vers 16 – 17). Daarna kyk die psalmis na die betekenis van hierdie veralgemening vir die Here se mense.

 

13 Uit die hemel kyk die Here, Hy sien alle mense.

 14Uit die plek waar Hy woon beskou Hy al die bewoners van die aarde,

Die Here se woonplek is die Hemel. Hy sien alle mense – dit beskryf die volledigheid van die Here se sien. Kyk … sien … beskou, beklemtoon die intensiteit van die Here se kyk. God kan alles ontdek wat Hy wil ontdek.

 

15Hy wat elkeen van hulle se denke vorm, insig het in alles wat hulle doen.

In die vorige verse het ons gelees dat die Een wat kyk die Here is. Dit het egter niks van sy wese gesê nie. Hier sien ons dat die Een wat kyk die oorspronklike Skepper is. Die Here vorm mense se denke.

 

16Geen koning word deur ‘n groot leër gered nie; ‘n krygsman red homself nie deur groot krag nie.

17’n Perd bied vals hoop vir oorwinning, deur sy groot krag kan hy nie red nie

Hier gaan dit oor ‘n koning in sy kapasiteit as opperbevelvoerder, ‘n krygsman. Die perd was die indrukwekkendste militêre toerusting in Israel se wêreld. Vers 16 praat van die mens se onvermoë om homself te red; die tweede reël sê dat selfs die perd nie die mens kan red nie. Oneffektiewe middels om mee te ontsnap is ‘n leër, krag en mag. Groot leër … groot krag … groot krag beteken niks nie – hulle help nie. Hulle bied almal vals hoop.

 

18Kyk, die Here hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het,

op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde,

19om hulle lewens van die dood te red en hulle aan die lewe te hou tydens hongersnood.

Die rede waarom die Here kyk (vers 13 – 15), is nie uit nuuskierigheid of om mense uit te vang nie. Die Here hou ‘n oog oor Israel om seker te maak hulle word verlos as hulle dit nodig het (vers 16 – 17). Mense wat op ‘n leër, krag en mag vertrou, word nie gered nie. Redding berus nie op die bymekaarmaak van hierdie hulpbronne nie, maar op ‘n gesindheid van eerbied vir die Here (vers 8) en wag. Eerbied vir die Here behels nederige onderwerping aan die Here, om alles wat Hy stuur, te aanvaar en om te doen wat die Here sê. Verwag dat die Here iets nuut gaan doen – spesifiek dat Hy ons nie gaan los waar ons met al ons behoeftes sit nie. Dit impliseer dat ons die Here moet druk om vir ons in te tree.

 

33:20 – 22: Die verklaring van vertroue en ‘n gebed

Die lied eindig met ‘n verklaring van ons huidige hoop en toekomstige lof en en vertroue. Daar is ook ‘n gebed dat hierdie hoop nie tevergeefs sal wees nie.

 

20Met ons hele wese wag ons op die Here; Hy is ons hulp en ons skild.

Die mens/wese wat die Here red, kan in hoop lewe, want die Here is sy hulp en skild. Die Here help deurdat Hy vir ons ‘n skild is.

 

21Want oor Hom is ons harte verheug, ja, op sy heilige Naam vertrou ons.

Hier kry ons ‘n beweging van die huidige werklikheid na vertroue in die toekoms. Die psalmis verwag dat mense rede sal hê om aan te gaan om die Here te loof, want Hy wys dat Hy ‘n betroubare skild is. Hulle het dus rede om Hom te vertrou.

 

22Mag u troue liefde oor ons wees, Here, terwyl ons op U wag!

Die aanbidders aanvaar die stelling van mense wat hulle hoop op die Here vestig en wag (vers 18b). Hier word dit nou ‘n gebed. Om te vra dat die Here se troue liefde oor ons moet wees, herinner aan die beeld van ‘n skild.