Die Plaaslike Gemeente

 

No one ever told me that grief felt so like fear – C. S. Lewis

 

Die Plaaslike Gemeente

As jy weet dit is jou laaste gebed, waarvoor sal jy bid? In Johannes 17 kry ons Jesus se laaste opgetekende gebed – die nag voor Hy gesterf het. Hy bid eerstens vir Homself en dan vir sy dissipels. Dan doen Hy iets wat ons verbaas:

Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is.  Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet (vers 20 – 23).

Jesus bid hier, nie vir die hele wêreld nie, maar vir die gelowiges. Is Jesus nie selfsugtig nie? Gee Jesus nie om vir die wêreld nie? Tog weet ons dat Jesus mens geword het om die wêreld te red. Hoekom bid Hy dan net vir die gelowiges? Omdat die hoop vir enige gemeenskap juis die gelowiges in daardie gemeenskap is.

 

As jy vir ‘n groep wil bid, is die beste strategie om te bid dat God die gelowiges in daardie groep sal versterk. Die plaaslike gemeente is God se Plan A vir werk in hierdie wêreld. As ons vir die wêreld wil bid, moet ons vir die lewenskragtigheid van die gelowiges bid. Bid dat die gemeente gesond, vol moed en op die evangelie fokus. Jesus bid hier ook dat gelowiges God se liefde sal internaliseer. Hy bid dat ons Jesus sal liefhê soos Hy God liefhet en dat ons ander sal liefhê soos Hy ons liefhet. As ons dit doen sal mense weet dat Hy ‘n werklikheid is.

 

Die liefde in die plaaslike gemeente maak die onsigbare Christus sigbaar vir die gemeenskap. Hierdie liefde sien ons veral in:

  • Ons maak Christus sigbaar op die manier waarop ons ons gemeenskap dien. Ons praat hier van ‘n liefde wat mense wat ons nie kan terugbetaal steeds liefhet Dit wys dat Christus onder ons aan die werk is.
  • Sy liefde in ons is sigbaar in die eenheid wat ons saambind. As ons ons eenheid in die gemeente verloor, is daar iets wat vir ons belangriker as Jesus is. As ons ons perspektief stel, moet ons dit met ‘n gees van liefde en eenheid doen. Dit wys dat wat ons in Jesus het, is belangriker as ander dinge.

 

As ons so leef, sal ons nie mense na ons gemeente hoef uit te nooi nie – hulle sal vanself kom om te sien wat aangaan. Dan moet ons hulle van Jesus vertel.

As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes 13:35).

 




Belydenis van sonde

 

The task of the modern educator is not to cut down jungles but to irrigate deserts – C. S. Lewis

 

Belydenis van sonde

Ons plig as Christene is om die sonde te haat, ons sonde te bely en om dan van sonde weg te vlug en geregtigheid na te jaag. Daar is ‘n paar beginsels as ons ons sonde bely:

  1. Geen sonde is te klein om te bely nie

Elke sonde, maak nie saak hoe groot of klein, vervreem ons van God. Elke sonde vereis niks minder as die bloed van Jesus Christus as versoening nie. Daarom moet ons vinnig ons sondes bely, sodat ons nie van daardie “klein” sondes vergeet nie. Daarom het ons gewetes om te keer dat ons ons nie verhard teenoor klein sondes nie, want mettertyd word hulle groot sondes.

 

  1. Geen sonde is te groot om ons te verdoem nie

Wat ‘n wonderlike vertroosting. Die grootste sondaars kan genade ontvang. Ons kan ons sondes met vertroue bely, wetende dat ons sonde nie ‘n onbeweeglike wig tussen ons en God ingedryf het nie.

 

  1. Ons moet sonde spesifiek en nie net in die algemeen bely nie

Natuurlik kan ons nie al ons sondes onthou nie; soms weet ons nie eers dat wat ons gedoen (of nie gedoen het nie) sonde is nie. Maar ons kan nie net vaagweg bely dat ons sondaars is nie. Ons moet spesifieke sondes erken. As ons spesifieke sondes bely, kan ons daarvoor vergifnis vra en begin om ‘n nuwe pad van gehoorsaamheid te loop.

 

  1. Ons moet voor God en voor enigeen wat ons te na gekom het, bely

As ons ons sondes voor God bely erken ons sy heerskappy oor ons. As ons in die openbaar gesondig het, moet ons belydenis in die openbaar wees. As ons teenoor ‘n individu gesondig het, moet ons teenoor hom bely. So eer ons mense gemaak na die beeld van God.

 

Hierdie is basiese waarhede oor die basiese Christelike geloof.

 

 

 




Twyfel oor my twyfel

 

God made us to sleep so that every day he can remind us that he manages things just fine without us. —Kevin DeYoung

 

Twyfel oor my twyfel

In sy artikel “The Critique of Doubt” sê Michael Polanyi dat geloof en twyfel eintlik ekwivalent is. Hoekom? “The doubting of any explicit statement denies [one] belief . . . in favor of other beliefs which are not doubted for the time being.” Daar is dus ‘n sekere mate van geloof onder ons twyfel. As ons na daardie dinge dinge wat ons glo kyk, besef ons gou dat daar dikwels geen rede is om hulle te glo nie.

 

Die rede vir twyfel verskil van persoon. Kom ons kyk na van die redes waarom gelowiges begin twyfel – en hoe ons kan reageer.

  1. Jy ontmoet ‘n ware ateïs wat nie ‘n onsedelike, ongelukkige mensehater is nie

Hierdie twyfel berus op die implisiete geloof dat God mense red as gevolg van hulle goedheid en sedelikheid. As dit die geval is, moet ateïste per definisie sleg en onsedelik wees. As ons egter die Bybelse waarheid leer dat ons deur onverdiende genade gered is, is daar geen rede waarom ‘n ateïs nie ‘n beter persoon as ‘n gelowige kan wees nie. Die onderliggende geloof verkrummel en ons twyfel verdwyn.

 

  1. Jy sien ‘n goeie en getroue gelowige erg ly sonder enige ooglopende rede

Die onderliggende oortuiging hier is dat as ek as mens nie ‘n voldoende rede vir God se optrede kan bepaal nie, dan is daar nie ‘n rede nie. As ons egter besef dat as daar ‘n oneindige God is dit nie beteken dat ons as beperkte mense God se motiewe en planne kan evalueer nie. Sodra ons besef dat dit onredelik is om sulke vertroue in ons eie insigte te hê, verkrummel ons twyfel.

 

  1. Ons sien korrupsie en valsheid in ‘n godsdienstige instelling

Hierdie is ‘n algemene oorsaak vir twyfel in ons geloof. Die morele standaarde waarteen ons vals gelowiges beoordeel se oosprong is die Christelike geloof. Ons kan sê dat hulle nie Christelik genoeg is nie. Maar waarom moet hulle wees as ons aan die Christelike geloof twyfel?

 

  1. Jy besef die basiese onbillikheid van die leer van die hel en verlossing

Ons twyfel aan die hel se basis is ‘n Westerse, demokratiese, individualistiese denkwyse. Om daarop aan te dring dat die heelal soos ‘n Westerse demokrasie bestuur moet word, is ‘n etnosentriese benadering.

 

  1. Jy vind teenstrydighede of foute in die Bybel wat jy nie kan verklaar nie

Alle gelowiges het ‘n naïewe, onkritiese vertroue in die Bybel. Daar is tesisse oor feitlik elke vers in die Bybel geskryf. Vir elke siening dat ‘n vers verkeerd of ‘n ander weerspreek, is daar tien redelike teenargumente. Dit is nie moontlik om ‘n probleem in die Bybel te kry wat geen antwoord het nie.

 

Die huidige sekulariteit is nie die afwesigeid van geloof nie. Dit is gebaseer op ‘n stel onderliggende oortuigings, insluitend ‘n hele aantal betwisbare aannames oor die aard van rasionaliteit.

 




Psalm 33(3)

 

Joy is the serious business of heaven – C. S. Lewis

 

Psalm 33(3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

3.9 – 16: Verdere redes vir lof

Hier volg nou verdere redes om die Here te loof, maar die fokus is nou op die Here se oppermag in politieke sake.

 

9want Hy het gepraat en dit was daar,

Hy het beveel toe staan dit daar.

Hierdie taal verwys na politieke gebeure. Hierdie vers is die begin van ‘n verklaring oor die Here se betrokkenheid by die wêreld. In die politiek, soos in die skepping, praat die Here en dinge gebeur.

 

10Die Here verydel die raadsplanne van nasies, Hy dwarsboom die planne van volke.

11Die raadsplan van die Here bestaan vir ewig, die planne wat Hy bedink, hou stand van geslag tot geslag.

Hier word die punt eers negatief en dan positief gemaak.

 

12Gelukkig is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy as sy eiendom gekies het.

Hierdie formulering kom as ‘n gevolgtrekking Die Here is aan net een nasie toegewyy; daar is net een groep bekend as mense van God.