Die appel van my oog
The truth is, of course, that what one regards as interruptions are precisely one’s life – C.S.Lewis
Die appel van my oog
Daar is baie maniere waarop ek my liefde vir ander kan uitspreek. Sommige uitdrukkings is duidelik; ander is minder duidelik, want hulle is idiomaties. Een van die hierdie uitdrukkings is: Jy is die appel van my oog. Hierdie uitdrukking het diep wortels in ons taal, want dit het sy oorsprong in die Bybel. Die appel van my oog is my gunsteling persoon.
In die Bybel verwys dit na God se besondere liefde vir sy volk. Hy het sy volk in die woestyn gevind, in ‘n onbewoonde land waar woestyndiere skreeu. Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog (Deuteronomium 32:10); Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels (Psalm 17:8); Maak wat ek jou leer jou eie, so eie soos die appel van jou oog (Spreuke 7:2); So sê die Here die Almagtige wat my met volmag gestuur het na die nasies toe wat oorlogsbuit van julle gemaak het: Wie aan hulle vat, vat aan my oogappel (Sagaria 2:8).
Hoekom sou hierdie uitdrukking van God se teer versorging nou juis na die oog verwys? Daar is geen plek wat ons outomaties so beskerm as juis ons oë nie. Wat is kosbaarder vir ons as ons sig? As God sê dat sy volk die appel van sy oog is, sê Hy daar is niks kosbaarder vir Hom nie.
Ons gebruik die frase vir iemand wat ons liefhet. Ons moet egter altyd onthou dat ons liefde maar ‘n dowwe skaduwee van die groter liefde van God vir ons is.