Dag 20: Berei ‘n teken van aanbidding voor

 

Dag 20: Berei ‘n teken van aanbidding voor

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Daar is ‘n bekende Kerslied van John Henry Hopkins Jr : We Three Kings.” Die koor vat die hoop en gees van Advent vas:

Oh, star of wonder, star of might

Star with royal beauty bright.

Westward leading still proceeding

Guide us to thy perfect light

Uit die Matteus-evangelie weet ons dat drie sterrekykers/wyse manne na Jesus se geboorteplek in Betlehem gelei is. Lees ons verder sien ons dat hulle nie so wys was nie. Hulle doen eers aan by Herodes se paleis om uit te vind waar hierdie nuutgebore koning gevind kan word. Reeds in Numeri 14:17 gee Bileam hierdie uitspraak: Ek sien hom, maar hy kom nie nou al nie, ek kyk na hom, maar hy is nie naby nie, daar kom ‘n ster uit Jakob, daar staan ‘n heerser in Israel op. Dit is geen wonder dat Herodes hewig ontsteld was nie en onmiddellik ‘n kindermoord afkondig.

 

Die wyse manne het aanvaar dat Herodes reeds die verband tussen die ster en Bileam se uitspraak gemaak het. Ons moet altyd onthou dat voor die wyse manne daar aangekom het, God reeds letterlik die sterre in lyn gebring het. God het hemel en aarde beweeg om Immanuel na ons toe te bring. Terwyl die wêreld voortdurend vir ‘n teken in die hemel kyk, moet ons onthou dat God reeds die sterre oor Betlehem belyn het om ons te herinner dat Hy met ons is.  Hy het reeds die moeilike deel gedoen. Ons moet nou die maklike deel doen: ons moet ander vertel hoe God die sterrehemel fisies verander het vir die koms van Jesus.

 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys (Matteus 2:1 – 2).

 

 

 




Wat glo wetenskaplikes?

 

“One cannot be prepared for something while secretly believing it will not happen.” – Nelson Mandela

 

Wat glo wetenskaplikes?

Daar is ‘n algemene siening dat die wetenskap en godsdiens in konflik met mekaar is. Wetenskap sou dan die finale arbiter wees oor wat waar in hierdie wêreld is. ‘n Onlangse studie gelei deur Howard Ecklund het data van wetenskaplikes in agt streke van die wêreld bymekaar gemaak. Hulle het die wetenskaplikes se persoonlike godsdienstige oriëntasie en hulle persepsie van die verhouding tussen die wetensap en godsdiens geëvalueer.

 

Wat het hulle bevind?

  1. Meeste wetenskaplike wêreldwyd glo nie dat daar ‘n konflik tussen wetenskap en godsdiens is nie

Ons glo dikwels wetenskaplikes is voorstanders van sekularisasie en anti-godsdienstige gesindhede. Hierdie siening is grootliks sonder basis. Hulle bevind dat hierdie konflik-narratief meer algemeen in die Verenigde Koninkryk is waar 35% van wetenskaplikes bevestig dat wetenskap die wettigheid van godsdiens ondermyn. 65% steun egter nie hierdie siening nie. Meeste wetenskaplikes vra nie dat godsdiens verwerp moet word as gevolg van wetenskaplike kennis nie.

 

  1. Meeste wetenskaplikes bevestig ‘n model van onafhanklikheid tussen wetenskap en godsdiens

Hulle glo die wetenskap en godsdiens hanteer verskillende aspekte van die werklikheid. Biede beklee ‘n outonome gesagsterrein – een hanteer empiriese waarnemings van die natuurlike wêreld en godsdiens hanteer betekenis. Die grense oorvleuel nie. Baie wetenskaplikes erken die onafhanklikheid en gesag van godsdiens op hulle terrein, terwyl hulle die gesag oor hulle eie terrein behou. Hierdie siening is meer algemeen as die konflik-siening. Dit geld selfs vir wetenskaplikes wat nie godsdienstig is nie.

 

  1. In sommige streke is wetenskaplikes selfs meer godsdienstig as die algemene bevolking

Net 30% van wetenskaplikes in die VSA beskou hulleself as godsdienstig teenoor 60% in die algemene bevolking. Wetenskaplikes in Hong Kong en Taiwan, daarenteen, is meer geneig om hulle as godsdienstig te beskou as die algemene bevolking. Die meerderheid wetenskaplikes in die Weste sien hulleself nie as godsdienstig nie, maar dit geld nie vir alle geografiese gebiede nie.

 

  1. Wetenskaplikes in die algemeen glo nie dat wetenskap hulle minder godsdienstig gemaak het nie

Die hoogste persentasie wetenskaplikes wat glo dat wetenskap hulle minder godsdienstig gemaak het, kry ons in die VSA – 22%. Wetenskaplikes is minder godsdienstig in sommige gebiede, maar dit is nie as gevolg van die wetenskap nie. Die feit dat wetenskaplike nie persoonlik glo nie, wys nie noodwendig daarop dat hulle vyandig teenoor godsdiens is nie of godsdiens verwerp nie.

 

  1. Die debatte oor evolusie vertel nie die hele storie nie

Hierdie bevindings is verbasend veral in kontekste waar die openbare debat tussen godsdiens en wetenskap fokus op moeilike onderwerpe soos evolusie en genetiese navorsing. As die openbare debat tussen godsdienstige en wetenskaplikes grotendeels fokus op wetenskaplikes wat evolusie steun en godsdienstiges wat evolusie teenstaan, is die persepsie van die publiek skeefgetrek. Wetenskaplikes wat evolusie voorstaan is nie ‘n bewys dat hulle godsdiens verwerp nie.

 

Hierdie navorsing verwerp beide die konflik narratief tussen wetenskap en godsdiens en die aanname dat wetenskaplikes nie godsdienstig is nie.

 




Die aansprake van Jesus

 

There is more mercy in Christ as sin in us (Richard Sibbes).

 

Die aansprake van Jesus

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Teenoor Jesus se nederigheid en deernis staan die omvang van sy aansprake. Hy was selfs vir die swakstes toeganklik. Jesus sê dat Hy die God, die Skepper van die heelal is. Daar was natuurlik baie ander mense wat ook hierdie aanspraak gemaak het. Meeste van hulle was leiers van klein sektes. Jesus kombineer aansprake op goddelikheid met ‘n lewe as mens. Hoe verklaar ons dit?

  1. Ons hoef dit nie uit te werk nie, want ons gee nie om nie. Hierdie is ‘n gesindheid en nie ‘n rede nie, maar is algemeen in ons moderne wêreld. Dit is tog dwaas om nie navraag te doen nie.
  2. Jesus was ‘n groot leermeester van wysheid en dit is soos ons Hom moet sien. Hiermee waardeer ons sy buitengewone impak op mense, sonder om aan Hom ‘n plek bo ander leermeesters toe te ken. Maar Jesus het doelbewus gesê dat Hy sondes kan vergewe en dat Hy die gesag het om die wêreld te oordeel. Hy sê dat as ons Hom ken, ken ons vir God; as ons Hom sien, sien ons vir God; as ons Hom ontvang, ontvang ons vir God. Hy moes dus meer as net ‘n groot leermeester gewees het.
  3. Jesus het nooit daarop aanspraak gemaak dat Hy God is nie. Hy het ‘n gewone lewe gelei en ‘n gewone dood gesterf. Al hierdie sogenaamde aansprake is woorde wat in sy mond gelê is. Paulus se briewe, die vroegste geskrifte in die Nuwe Testament, wys dat die vroeë Christene Hom reeds kort na sy dood aanbid het.
  4. Jesus moes geestesongesteld gewees het om sulke megalomaniese aansprake te maak. Min mense vind dit ‘n oortuigende verduideliking.
  5. Jesus is waarlik God. Hoe is die ondenkbare moontlik? Die opstanding.

 

Ons het hier ‘n groot raaisel. Hier is ‘n mens wat daarop aanspraak maak dat Hy God is. Sy lewe was van so ‘n aard dat Hy baie mense oortuig het dat Hy God is. Die enigste verklaring is dat Hy was wie Hy gesê het Hy is. Jesus was volledig mens; Jesus is ook God.

 

 

 




Dag 19: Uit die duisternis lig

 

Dag 19: Uit die duisternis lig

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Ons leef in ‘n wêreld waar die groen van die lente en somer moet plek maak vir die helder kleure van herfs. Herfs moet op sy beurt weer plek maak vir die slaap van die winter totdat lente weer kom. Tydens die koue, lang nagte verlang ons na die wonderlike dae van die somer wat ons in warmte toevou en lewe laat uitspruit. In die seisoene van donkerte lei enige lig tot nederige dankbaarheid, want dit herinner ons aan die krag van die kleinste ligstraaltjie het om die duisternis te breek.

 

Jesaja 9 praat van ‘n tyd toe God se mense na so ‘n ligstraal verlang het – ‘n klein bietjie hoop wat in hulle lewens van wanhoop sou inbreek. God se mense het nie ‘n toekoms vol hoop gesien nie; hulle kon nie lewe en bly wees nie – hulle sit in ballingskap. Maar daar sou ‘n dag kom wanneer die Lig van die wêreld, die ewige Woord, gebore word. In Johannes 8:12 verklaar Jesus: Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee. Wonderlike nuus vir ‘n wêreld wat juis lig nodig het. Jesus kom as mens om ons van sonde te verlos en ‘n lig te wees op ons pad na die ewige lewe. Inderdaad ‘n seisoen om ons oor te verheug.

Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn (Jesaja 9:1).