Dag 17: Leef met die besef dat Christus mens geword het

 

 

Dag 17: Leef met die besef dat Christus mens geword het

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Ons aanbid ‘n God wat mens geword het – ‘n God wat na ons in die vlees gekom het. Hy doen dit gewillig – Hy het self besluit om in Jesus Christus mens te word. Dit is nie net die boodskap wat ons Kersfees verkondig nie, maar dit is die model waardeur ons ons geloof moet uitleef en aan ander verkondig die hele jaar lank.

 

Om Jesus te volg beteken dat ons die wêrelde van ander betree – ons medewerkers, vriende, bure en vreemdelinge wat ons pad kruis. Ons moet die lewens van ander betree soos Jesus ons lewens betree het. Doen ons dit verander dit die manier waarop ons ons geloof met ander deel. Ons deel met ander kry nou ‘n ander ritme – ‘n ritme van woord en daad. Of ons dit nou besef of nie ons verkondig elke dag die goeie nuus – formeel en informeel –  in ons gesprekke en optrede. Dit is die ritme van die wêreld. Of ons nou leef of werk of speel, hoor almal om ons ons woorde. As ons swaarkry, hoor hulle ons swaarkry; as ons feesvier, hoor hulle ons feesvier. As ons hulle stryd betree, hoor hulle ook ons woorde. As ons saam met hulle feesvier, neem hulle vreugde toe. Vir elke verdelende woord van ander wag hulle vir ‘n woord van ons. Wat sal dit wees? ‘n Woord van bevestiging? ‘n Woord van die evangelie?

 

Of ons dit nou weet of nie, maar ons verkondig elke dag die evangelie – soos ons optree, soos ons uitleef wat ons verkondig. Woord en daad is intiem vervleg soos in- en uitasem. Of ons dit besef of nie, maar ons leef elke dag ons geloof uit by diegene met wie ons werk, leef, speel en woon. Hulle kyk hoe ons ander behandel – of mishandel; hoe ons uitreik na diegene wat ly – of hulle ignoreer; hoe ons saam met dié wat verdruk word, staan – of teen hulle staan; hoe ons vir of teen vertroue en liefde staan. Wat sal hulle sien? Sal daar ritme in ons dade en woorde wees?

 Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14).

 




Is dit redelik om in God te glo?

 

Did I offer peace today? Did I bring a smile to someone’s face? Did I say words of healing? Did I let go of my anger and resentment? Did I forgive? Did I love? These are the real questions – Henri Nouwen

 

Is dit redelik om in God te glo?

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Ons kan nie sekularisme en godsdiens bewys nie. Hulle is denksisteme wat teenoor mekaar gestel moet word om te bepaal watter sisteem maak die meste sin – emosioneel, kultureel en rasioneel. Gelowiges sê dat God se bestaan nie empiries bewys kan word asof Hy ‘n fisiese voorwerp is nie. Geloof in God maak egter meer rasionele sin van die wêreld as ongeloof.

 

Keller gee dan vir ons ses argumente ten gunste van die bestaan van God.

  1. Die kosmiese wonder

Niks kan nie iets produseer nie. Daar moet dus ‘n unieke wese wees wat sonder oorsaak bestaan. Hy is dan die bron van alles. Alle natuurlike wesens het ‘n oorsaak en daarom moet daar een of ander bonatuurlike wese wees wat bestaan sonder dat dit gemaak is. Die wetenskap weet van geen reeks gebeure sonder ‘n begin nie. Die moderne wetenskap kan nie die bestaan van die wêreld verduidelik nie. Is dit afdoende bewys vir die bestaan van God? Nee, want dit bewys nie dat die persoonlike, heilige God van die Bybel bestaan nie. Dit is wel ‘n sterk saak dat iets buite die natuurlike wêreld bestaan wat alles gemaak het.

 

  1. Waarneembare ontwerp

Ons kry die indruk dat die wêreld noukeurig ingestel is – fine tuning.  Dink maar aan al die konstantes in fisika – die spoed van lig, swaartekrag, ens. Hulle het presies die waardes wat hulle het vir die mens om te oorleef. Hierdie noukeurige instelling van fisika maak meer sin in ‘n heelal waar daar ‘n skepper of ontwerper is. Dit is onwaarskynlik dat al hierdie fisiese konstantes sommer toevallig gebeur het. Hierdie bewys nie die bestaan van God nie, maar is ‘n sterk getuienis dat daar ‘n God is.

 

  1. Die morele werklikheid

Meeste mense glo dat morele gevoelens, maar ook morele verpligtings, bestaan. Wat is die basis vir hierdie verpligting? Dit maak meer sin in ‘n heelal wat deur ‘n persoonlike God gemaak is en aan wie ons verantwoordelik is as aan ‘n onpersoonlike heelal sonder ‘n God. Wat van menseregte? Ongelowiges sê dat die mens glo dat die gemeenskap beter werk as daar menseregte is. Historici sê dat menseregte ontstaan het in samelewings wat in die God van die Bybel geglo het. Menseregte maak meer sin in ‘n heelal geskep deur God. Sonder God is dit moeilik om te verduidelik hoekom hulle bestaan.

 

  1. Bewustheid

As ons na die kenmerke van bewustheid kyk, is dit baie moeilik om blote biologiese verduidelikings vir hulle te gee. Hoe verduidelik ons aspekte soos die vorming van idees en selfbewustheid? Sekulêre mense sê dit is van die gevolge van die evolusie van die brein. Hoe kan ingewikkelde wiskunde en abstrakte filosofie nou ons voorsate in staat gestel het om te oorleef? Ons weet nie hoe elektro-chemiese gebeure gedagtes kan produseer nie. Wetenskaplikes sê dit is net ‘n kwessie van tyd voor ons sal weet. Met ons huidige kennis kan ons net sê dat menselike bewustheid na iets buite hierdie natuurlike wêreld wys. Meeste mense sukkel om te aanvaar dat ons hoop, idees en liefdes slegs chemiese reaksies is. Bewustheid en die maak van idees maak meer sin in ‘n heelal geskep deur ‘n God wat bewus is en wat idees kan maak.

 

  1. Rede

Baie mense aanvaar dat  ons vermoë om ons rede te gebruik die produk van natuurlike seleksie is. Dit beteken dat ons rede net een funksie het – oorlewing. Hoekom moet ons ons vermoë om ons rede gebruik om ons te vertel wat die waarheid is? Ons materialistiese wêreld glo dat ons die werklikheid deur ons rede kan verstaan. Hierdie sienings weerspeek mekaar.

 

  1. Skoonheid

Almal van ons ervaar sekere kunsvorme en sekere idees as mooi. Skooonheid het ‘n fisiese effek op ons. Hoekom hou ons van skoonheid? Is dit bloot omdat ons voorouers van sekere dinge gehou het? Dit is nie ‘n goeie verklaring van hoe ons estetiese sin werk nie. Christene verduidelik skoonheid as ‘n erkenning dat die wêreld om ons goed is, maar bedorwe is. Hierdie lelikheid is nie inherent nie – dit is nie deel van God se oorspronklike ontwerp nie.

 

Hierdie argumente is nie so sterk dat dit ons dwing om om te glo nie. Dit maak dit wel rasioneel om te glo. Om in God te glo, is minder van ‘n geloofsprong as om nie te glo nie.

 




Dag 16: Lesse oor opofferende gee

 

Dag 16: Lesse oor opofferende gee

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Wat doen ons vir vlugtelinge in ons land? So dikwels gee ons ‘n klein bedraggie en voel dat ons daarmee ons plig gedoen het. Gee is eers waarlik gee as ons van onsself gee. Philip Yancey, bekende skrywer, praat van ‘Ander na Hart” evangelisasie. Dit is hierdie soort opofferende liefde wat die gees van Advent beliggaam.

 

As ons kyk na die Evangelie volgens Matteus 2:1 – 14 leer ons van ‘n ander vlugteling wat in Betlehem gebore is en wat die hoogste offer – sy lewe- betaal het. Sy Naam was Jesus. Mag ons in hierdie Kersseisoen leer om opofferend te gee – om op so ‘n manier te gee dat dit lewe aan ons geloof gee. Is ons geloof ‘n werklikheid in hierdie lewe wat so ‘n dringende behoefte aan hoop het? Dank ons God genoeg vir die ongelooflike offer wat Jesus Christus vir ons gebring het? Mag ander deur my voorbeeld van gee Jesus Christus se liefde, genade en barmhartigheid hierdie Advent ervaar.

Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê (Johannes 15:13)

 

 

 




Die Probleem van Morele Waardes – Sedes

 

My whole life I have been complaining that my work was constantly interrupted, until I discovered that the interruptions were my work – Henri Nouwen

 

Die Probleem van Morele Waardes – Sedes

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Die moderne kultuur het ‘n probleem met die vestiging van ‘n morele kompas. Fyodor Dostoyevsky skryf: Without God and the future life … everything is permitted, one can do anything. Dit beteken nie dat ateïste minder sedelik as gelowiges is nie. Paulus sê dat alle mense deur God gemaak is, gemaak is met ‘n morele kompas (Romeine 2:14 – 15). Hy sê ook dat alle mense, insluitend gelowiges, afgedwaal het (Romeine 3:9 – 12). Wat wel verskil is die bron van morele waardes. In die geval van ongelowiges is dit gevoelens. Daar is morele gevoelens en oortuigings sonder God, maar nie morele verpligtings nie. Sedelikheid kan nooit gebruik word om ander uit te sluit nie. Kom ons kyk eers na die probleem van sedes vir sekulêre mense.

 

In vergelyking met die verlede word elke menselewe vandag waardeer. Groot klem word daarop gelê dat mense gelyk is. As daar egter gevra word: “Hoekom moet daar so geleef word?” kan ons moderne kultuurinstellings geen antwoord gee nie. Die moderne mens glo dat hy as individu of die gemeenskap gesamentlik alle morele waardes moet kies. Die probleem is dat as elke persoon individueel sy sedelike waardes kies, watter reg het hy om te verwag dat ander mense ook sy waardes moet aanvaar?

 

Die sosiale wetenskappe kon nie daarin slaag om ‘n teorie vir ‘n etiese leefwyse te ontwikkel nie. Daarom is mense voortdurend besig om te oordeel en te evalueer. Sosiale wetenskaplikes het veral twee teorieë om ‘n sedelike lewe te verduidelik.

  • Ons sedelike oortuigings is die gevolg van evolusie. Diegene wat geglo het dat selfopoffering reg was, het in groter getalle oorleef. Min mense aanvaar vandag nog hierdie teorie.
  • Alle morele wette is arbitrêr. Hulle is die produk van mag en nie rede nie.

Beide teorieë ontken dat daar iets soos ‘n absolute morele waarde of verpligting is. Daar is geen rede om nie te doen waarvoor ons lus is nie.

 

Die werklikheid van morele verpligtings is nie ‘n bewys vir die bestaan van God nie,  maar is ‘n sterk getuienis vir die bestaan van God. As jy oortuig is van morele feite en verpligtings maak dit net eenvoudig meer sin om te glo aan ‘n wêreld met ‘n God. As daar ‘n God van goedheid en waarheid is en ons leef in ‘n verhouding met Hom, moet daardie goedheid en waarheid nie ook in ons lewens manifesteer nie?