Dag7: Verwag die goeie nuus van Jesus

 

Dag7: Verwag die goeie nuus van Jesus

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Baie mense geniet die uitsien en verwagting van ‘n gebeurtenis net so baie as wat hulle die gebeurtenis self geniet. Die verwagting – ‘n gevoel van opgewondenheid en vreugde – is waaroor Avent gaan. Ons merk elke dag af soos ons wag vir Kersfees om te kom – die viering van Christus se geboorte.

 

Dink jou in hoe die Joodse mense moes gevoel het. Vanaf hulle geboorte het hulle geleer van die Messias wat sou kom. In Sagaria 9:9 lees ons:

Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.

 

Nader ons Advent met vrees en bewing? Verstaan ons die betekenis van wat gebeur het daardie dag toe Jesus gebore is? Vul ons hierdie dae met danksegging en lof vir die wonderwerk van “God met ons?”  Loop ons harte oor met verwagting van die goeie nuus van Jesus se geboorte sodat ons nie anders kan om ander daarvan te vertel nie? Sê ons soos Petrus en Johannes:

Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie (Handelinge 4:20).

 

Lei ons verwagting na verkondiging? Advent is ‘n tyd wat anders is as die res van die jaar. Harte is oop vir die goeie nuus – meer as enige ander tyd van die jaar. Mag ons verwagting van wat ons weet, lei tot ‘n begeerte om aan ander die goeie nuus wat die wêreld verander het, te vertel: ‘n Verlosser is gebore; Hy is Christus die Here.

Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here (Lukas 2:11).

 




Vryheid (1)

 

If Christ is risen – then nothing else matters. And if Christ is not risen – then nothing else matters – Jaroslav Peilkan

 

Vryheid (1)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Mense wat vooruitgang in ons samelewing meet, sal dikwels vryheid as maatstaf gebruik. Die mens het nog altyd baie waarde aan vryheid geheg. Vandag glo die wêreld dat die mens die reg het om te kan kies. Volgens hulle is die grootste sonde onverdraagsaamheid. Die postmoderne mens sê dat ons vry is, want daar is geen kosmiese orde, geen waarheid en geen absolutes is waarvoor ons moet buig nie. In baie samelewings word die Christendom vandag as die aartsvyand gesien.

 

Is dit waar? Moet ons tussen vryheid en geloof in God kies? Die antwoord is ja, maar nee. Sit ons nie nou op die draad nie? Nee. Waar – die ideaal van individuele vryheid het oneindig goed gedoen in ons samelewings. Dit het tot ‘n meer regverdige samelewing vir minderhede en vroue gelei. Maar ook vals: vryheid word vandag gedefinieer as die afwesigheid van enige beperkings op ons. Hoe minder grense vir ons keuses en optrede, hoe vryer is ons. Hierdie siening is verkeerd en rig skade aan.

 

Moderne vryheid is die vryheid om jou te alle tye self te handhaaf – ek is vry om te doen net wat ek wil. Dit is onmoontlik. Wat gebeur as wat jy wil hê in konflik met mekaar is? Daar is ontelbare vryhede in die lewe, maar niemand kan hulle almal hê nie. Soms moet ons sekere vryhede opoffer vir ander vryhede. ‘n Diabeet moet sy vryheid om soetgoed te eet, prysgee vir sy gesondheid. Die vraag wat ons moet vra, is: Watter vryheid is die belangrikste?

 

Ware vryheid behels die strategiese verlies aan sekere vryhede om ander vryhede te verkry. Vryheid beteken nie die afwesigheid van beperkings nie, maar dit is die keuse van die regte beperkings – ek verloor die regte vryhede. Jy kies nie hierdie “regte” beperkings nie – jy onderwerp jou aan hulle. Mense floreer in sekere omgewings, maar nie in ander nie. As jy nie die beperkings van jou liggaam aanvaar nie, sal jy nooit die vryheid van gesondheid ervaar nie.

 

Absolute individuele outonomie is onregverdig, want dit ontken dit wat ons aan ander skuld. As ons ander mense nodig het – en ons het – dan het ons sekere gedeelde verantwoordelikhede. Ons behoort nie net aan onsself nie. Ons behoort onvermydelik tot ‘n mate aan mekaar – geen mens is ‘n eiland op homself nie.

 

Vandag glo mense dat ons absolute vryheid het, solank as wat ons nie ander skade aandoen nie. Dit kan net werk as almal saamstem oor wat “skade” is. Hoe kan ons bepaal wat mense seermaak as ons nie definieer wat ‘n goeie lewe is nie. Daarom is waarde-oordele algemeen is ons samelewing.

 

Vryheid van keuse kan nie die enigste gids vir ons gedrag wees nie Ons het sekere morele norme en beperkings nodig as ons met ander wil saamleef.

 

In die volgende blog gaan ons verder na die probleme van absolute vryheid kyk.

 

 

 




Dag 6: Soek verlossing in die skaduwees

 

Dag 6: Soek verlossing in die skaduwees

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

In die storie van Jesus se geboorte staan Jesus, Josef en Maria sentraal. Maar ons moenie die kleiner stories om die gebeurtenis vergeet nie – die skaapwagters, Anna, die wyse manne, Herodes en veral Simeon (Lukas 2:25 – 35). Ons lees van hom: Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon. Die Heilige Gees het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe  voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie.

 

Simeon se hoop was dat hy nie sou sterwe  voordat hy vir Jesus ontmoet het nie. Hy wag … en wag. Uiteindelik breek die dag aan. Die Skrif sê nie vir ons hoe lank hy gewag het nie. Ons kry die indruk dat hy nie net doelloos rondgedwaal het nie. Hy het God gereeld in die tempel aanbid. Soos hy God aanbid het, kom hy in lyn met God se verlossingsplan – iets wat alles wat mense hulle kon indink sou oortref. Simeon se gebed in vers 29 – 32 is is een van die eerste voorlopers in die Nuwe Testament van die omvang van hierdie verlossingsplan.

Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: ‘n lig tot verligting van die nasies, en tot eer van u volk, Israel.

 

Verlossing kom nou vir die nie-Jode – na die hele wêreld. Simeon het gewag en tyd saam met God deurgebring. Gevolglik kondig hy ‘n plan aan wat groter is as wat almal verwag het: Jesus het nie gekom om net die Jode te verlos nie, maar om almal te verlos. Dit geld vandag steeds. Jesus het nie gekom om ‘n uitgesoekte paar mense te verlos nie: Hy is die Verlosser van die hele wêreld. Dit beteken diegene wat in die kalklig is en diegene wat in die skaduwees is. Rykes en armes; oud en jonk. Hy het vir almal gekom.

Omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: ‘n lig tot verligting van die nasies

 




Tevredenheid nie afhanklik van omstandighede nie (3)

 

That demon of pride was born with us, and it will not die one hour before us.—C.H. Spurgeon

 

Tevredenheid nie afhanklik van omstandighede nie (3)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Ons wil iets hê wat niks in hierdie wêreld vir ons kan gee nie. Augustinus bevind dat ontevredenheid ‘n funksionele en ‘n uiteindelike oorsaak het. Augustinus het gesê dat ons fundamenteel gevorm word deur dit wat ons liefhet en nie deur ons oortuigings nie. Wat ons as menslike deugde beskryf, is vir Augustinus  niks meer as vorme van liefde nie. Hy glo dat ons probleem dikwels is dat ons minder belangrike dinge liefhet en nie die belangrikste dinge nie.

 

Die uiteindelike bron van ontevredenheid is dat ons nie die belangrikste ding liefhet nie. Daarom glo hy dat ware vreugde en tevredenheid beperk is tot diegene wat God waarlik liefhet. Jy benadeel jouself as jy iets anders meer as God liefhet. Hoekom? Jy plaas jou betekenis en sekuriteit in dit wat jy die meeste liefhet. As jy leer om God meer as enigiets anders lief te hê, sal jou bron van vreugde, tevredenheid, hoop en waarde nooit van jou af weggeneem kan word nie. Moenie iets minder liefhê nie; leer net om God meer lief te hê.

 

Die hart van die Christelike geloof is die eenvoudige boodskap van die evangelie – die boodskap van sonde en genade. Die kennis van ons sonde versag ons harte; die kennis van sy genade ontvlam ons harte.

Attachment to God amplifies and deepens enjoyment of the world – Miroslav Volf