Die gewete

 

As the cuture around us shifts away from the gospel, our response should not be outrage but outreach. —Phillip Bethancourt

 

Die gewete

In ons individualistiese en sekulêre kultuur is daar verwarring oor die betekenis van “gewete.” Sommige mense glo dit is ‘n subjektiewe gevoel: “Ek voel nie sleg oor wat ek doen nie.” Ander gee gesag en oppermag aan die individuele gewete – meer as aan morele beginsels. Die gevolg is ‘n konsep van wat reg en wat verkeerd is wat toelaat dat mense kan doen net wat hulle wil, en nie wat hulle behoort te doen nie. Mense glo vandag dat hulle begeertes die norm vir reg en verkeerd is.

 

Die oorsprong van die Engelse conscience is die Latynse conscientia. [Con = met en scire = ken, weet. Dit beteken dus met kennis.] Die kennis waarna hier verwys word, is spesifiek die kennis van objektiewe morele waarhede. Dit is meer as net intellektuele kennis – dit is die stem van die Heilige Gees in ons hart. My gewete is nie my menings, gevoelens of persoonlike wil nie.

 

My morele gewete is ‘n oordeel wat my in staat stel om die goeie en nie die goddelose te doen nie. Dit beoordeel ook sekere keuses: dit bevestig die wat goed is en verwerp die wat goddeloos is. Dit getuig van die gesag van God se waarheid. Die gewete is die oriëntasie van die menslike hart en denke, ons menslike natuur na dit wat goed en reg is.

 

As ons ons persoonlike vooroordele wat ons hart vir die waarheid mag sluit opsy kan sit, dan maak ons die regte keuses. Dan is ons gewete reg. Dan kan die persoon bereik wat hy veronderstel is om te bereik: die kennis van God se ontwerp en sy wil.

 

Dit is goed en wel om in ons ‘n sterk stem te hê wat ons aanspoor om die goeie te doen en die goddelose te vermy, maar as dit by spesifieke optredes kom, het ons ook inligting nodig. In ‘n gevalle wêreld word mense maklik mislei deur stemme anders as dié van God. Daarom het ons gewete vorming nodig as dit waarlik God se plan vir ons gaan weerspieël – ons moet geleer word wat is goed en  wat is sleg, wat is verkeerd en wat is reg. Waar kry ons hierdie leiding?

 

In ons soeke na objektiewe norme om ons gewete in te lig, gaan ons na God se woord. Jesus het mens geword en onder ons kom woon en ons onderrig. Toe Hy na die hemel opgevaar het, laat Hy die Heilige Gees wat ons in die waarheid lei. In die lewende kerk kan ons die onderrig van Jesus hoor soos dit op ons situasie, omstandighede en behoeftes van toepassing is.

 

 

 




Psalm 31 (5)

 

Worry, like a rocking chair, will give you something to do, but it won’t get you anywhere. —Vance Havner

 

Psalm 31 (5)

 

31:15 – 20: Maar ek vertrou op U, Here

Na die klaaglied volg ‘n verklaring van vertroue (vers 15 – 16a).

 

15Maar ek, ek vertrou net op U, Here! Ek sê: “U is my God

 ek sê: U is my God.

16My tye is in u hand.” 

Ek is baie prominent in hierdie beginstelling van vertroue. Sy duidelike uitspreek van sy vertroue in die Here weerlê die aanklag dat hy by ander gode hulp gesoek het. Hierdie verklaring van vertroue in die Here en in niemand anders nie word verder ontwikkel. Die psalmis bevestig dat tye van druk steeds onder die beheer van die Here is.

 

Red my van my vyande, van hulle wat my agtervolg.

17Laat die lig van u teenwoordigheid oor u dienskneg skyn; verlos my in u troue liefde.

Die psalmis verklaar sy vertroue en volg dit op met ‘n pleidooi dat die Here hom sal verlos van sy agtervolgers.

 

18Here, moenie dat ek beskaamd staan nie, want ek roep na U; laat die goddelose mense beskaamd staan, laat hulle die doderyk treurend binnegaan.

Skaamte mag hier na die vyand se optrede verwys. Hulle beskuldig die psalmis van skaamtelose dade – soos om ‘n ander god te aanbid. Die psalmis vra verlossing van daardie skaamte wat dreig. Om na die Here te roep en as die Here reageer, sal dit die teenstanders se aanklagte verwerp – die Here sal tog nie reageer as die psalmis werklik afgode aanbid het nie. Iemand gaan beskaamd staan.

 

19Laat die bedrieglike lippe swyg, hulle wat uit die hoogte en met minagting onbeskaamd oor die regverdiges praat.

Die pleidooie teen die vyande word nou verder geneem. Die pleidooi is dat die leuens moet ophou. Die onderwerp is diegene wat uit die hoogte praat. Die vyande se woorde is vals, oordrewe, hooghartig en minagtend. Die woorde gee nie om vir die psalmis of die gemeenskap wat mislei word nie.

 

20Hoe groot is u goedheid wat U bewaar vir dié wat vir U ontsag het, wat U voorberei vir dié wat by U skuil, terwyl die mense toekyk.

Hier kry ons ‘n oorgang na ‘n verdere stelling van vertroue. Aanvanklik skuif die fokus na God se dade in die verlede. In die verlede was die Here nog altyd goed vir diegene wat vir Hom ontsag het. Almal kon die Here se goedheid sien.

 

21U verberg hulle in die beskutting van u teenwoordigheid teen die sameswering van mense; teen twisgierige tonge steek U hulle weg in ‘n skuiling.

Die psalmis gebruik die Here se optrede in die verlede as betroubare leidrade van hoe Hy nou gaan optree. God keer Hom na die mense in nood.

 

 

 




Dag 5: ‘n Toevlug en huis vir pelgrims

 

Dag 5: ‘n Toevlug en huis vir pelgrims

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood (Psalm 46:2).

Wat het dit met Advent te doen? Ons sing mooi Kersliedere, maar toe Jesus in Betlehem gebore is, was koning Herodes aan bewind. Hy was wreed. Hy beveel sy soldate om al die seuntjies van twee jaar en jonger dood te maak (Matteus 2:17). Hy doen dit, want hy het hulle as ‘n potensiële bedreiging van sy bewind gesien. Seuntjies is weggesteek; die mense was vreesbevange – geen blydskap en vrede nie. Bewus van die gevaar neem Josef en Maria vir Jesus Egipte toe. In Egipte kry hulle ‘n veilige plek – ‘n plek van rus en vrede.

 

Suid-Afrika is ‘n plek vol immigrante en vreemdelinge. Reik ons uit na immigrante en vlugetlinge? Stel ons hulle aan Jesus bekend. Mag ons lande, dorpe en huise ‘n toevlugsoord vir ontwortelde pelgrims word.

God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see (Psalm 46:2 – 3).

 




Tevredenheid nie afhanklik van omstandighede nie (2)

 

You don’t think your way into a new kind of living. You live your way into a new kind of thinking – Henri Nouwen

 

Tevredenheid nie afhanklik van omstandighede nie (2)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Die vraag is: As ons uitvind dat daar iets skort, wat kan ons daaraan doen? Daar is twee breë benaderings: jy kan leef asof tevredenheid wel moontlik is of jy kan leef uit die oortuiging dat tevredenheid net nie moontlik is nie.

 

  1. Tevredenheid is wel moontlik

Hier kan ons vier strategieë onderskei:

  • Jongmense reis met die hoop dat hulle tevredenheid sal vind – as ek net die regte werk of vrou kry, sal alles verander. Hulle is rusteloos op soek.
  • Gegriefdheid – ons blameer die hindernisse wat verhoed dat ons die dinge wat ons dink tevredenheid sal bring, verhinder.
  • Gedrewenheid – ons maak net meer en meer bymekaar – geld en prestasies. Ander blameer die dinge wat hulle het: as ek maar net ‘n beter werk of vrou of huis gehad het.
  • Wanhopigheid – nou blameer ons onsself. As ons eerlik na onsself kyk, sal ons altyd iets kry wat tot ons frustrasie bygedra het.

 

  1. Tevredenheid is nie moontlik nie

Hier kan ons drie strategieë onderskei:

  • Altruïsme – naasteliefde. Hierdie mense kyk na die sosiale probleme in ons samelewing en die verbetering van die lot van ander. Hierdie benadering is dikwels selfsugtig: om ander te help omdat jy ontevrede is, sal op die langtermyn nie werk nie.
  • Sinisisme – as jy glo dat vervulling, vreugde en tevredenheid net nie moontlik is nie en jy verhard jou hart teen enige hoop, sal jy baie van jou menslikheid verloor.
  • Onttrekking – om jou liefde vir ander te verminder, sal nie jou tevredenheid vermeerder nie, maar sal dit eerder ondermyn.

 

Hier is sewe strategieë wat mense gebruik om tevredenheid te bou. Nie een van hulle is suksesvol nie. Wat kan ons dan doen met ons ontevredenheid? Daarna kyk ons volgende keer.