Hoekom het die engele gesing?

 

A false religion fears the progress of all truth; a true religion seeks and recognizes truth wherever it can be found – Lord Acton

 

Hoekom het die engele gesing?

Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het.” (Lukas 2:13 – 14).

Reeds in vers 10 het ons gelees dat die engel gesê het dat hy ‘n goeie tyding van groot blydskap bring. Moes die engele ‘n lied van blydskap of eerder ‘n treursang gesing het?

 

Dit moes eerder ‘n treursang gewees het:

  • ‘n Swanger vrou na ‘n lang reis op ‘n donkie is op die punt om in kraam te gaan. Sy en haar man soek ‘n privaat plekkie om te kraam. Hulle kry niks nie … net ‘n stal. Maria en Josef was vreemdelinge in Betlehem en word soos vreemdelinge behandel. Gewoonlik as babas kom, word hulle in mooi babakamers verwelkom met die hele familie wat om hulle saamkloek. Maria word uitgedruk en moet so onsigbaar as moontlik wees – weggesteek tussen die diere. Ons kan tog nie ‘n lied van blydskap vir haar sing nie.
  • Jesus mag die Koning van die heelal wees, maar Hy word nie so behandel nie. Sy gesin was arm en sonder invloed. God kom besoek die wêreld, maar sy ontvangs is nie juis gasvry nie. Ons kan tog nie ‘n lied van blydskap daaroor sing nie.
  • Toe Jesus se ouers Hom na die tempel geneem het, kry ons die wyse Simeon daar. Hy besef onmiddellik dat hierdie kindjie die Messias is. Hy sê vir Maria: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel … En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.” Sou jy ‘n lied van blydskap gesing het as jy hierdie woorde gehoor het?
  • Die koning van destyds, Herodes, hoor van die kind wat gebore is en bestem is om die Koning van die Jode te wees. Die kind is skaars gebore of Herodes probeer Hom doodmaak. Jesus en sy ouers moes na Egipte vlug waar hulle as vlugtelinge moes bly tot na Herodes se dood. Dit is tog nie ‘n rede om van blydskap te sing nie.
  • Jesus het Herodes se poging om Hom dood te maak, ontvlug, maar baie seuntjies twee jaar en jonger word doodgemaak. Ons lees van die gekerm en gehuil van die moeders. Dit is tog nie ‘n rede om ‘n lied van blydskap te sing nie.

 

Maar hoekom het die engele  ‘n lied van groot blydskap gesing? Wat het Jesus op aarde teengekom? Vyandigheid en onverskilligheid. Dit is hoekom die engele ‘n lied van blydskap gesing het: God was gewillig om na so ‘n wêreld te kom. Geen rooi tapyt nie; geen luisterryke ontvangs nie; geen indrukwekkende gastelys nie. Die wonder van Kersfees is dat Christus gekom het. Daarom sing die engele hulle lied van blydskap. Ja, die wêreld is nie altyd ‘n aangename plek nie. Mense gee nie meer om vir ander nie. Jesus en sy familie moes as vlugtelinge in Egipte gaan leef. Vandag is daar miljoene mense dwarsoor die wêreld wat as vlugtelinge moet leef. ‘n Biljoen mense gaan elke aand honger slaap. Ons harte is steeds traag en koud. Ons maak steeds nie plek vir ander nie – ons selfbeheptheid neem al die plek op.

 

Die Kersverhaal vertel vir ons dat God na so ‘n wêreld gekom het, want Hy het hierdie wêreld lief en wil dit herstel. Jesus het nie gewag tot die wêreld 100% skoon en reg was voor Hy gekom het nie. Hy kom aan te midde van vyandigheid en wreedheid en nooi ons uit om dit te vier.

 

Daar is baie om oor hartseer te wees oor die geboorte van Jesus. Die herbergiere en Herodesse van hierdie wêreld rig groot skade aan. Die goeie nuus: Dit het nie vir Jesus afgeskrik nie; Hy het steeds gekom. Ons moet nooit vergeet van diegene wat positief op Jesus se geboorte gereageer het nie: skaapwagters, die sterrekykers uit die Ooste, Anna en Simeon, Elisabet, Maria, Josef … Dit is hoekom die engele ‘n lied van blydskap gesing het – God het deurgebreek en diegene wat Hom soek, sal Hom vind.

 

 

 




Dag 4: Berugte vroue in Jesus se voorgeslagte

 

Dag 4: Berugte vroue in Jesus se voorgeslagte

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

In Matteus 1 Kry ons Jesus se geslagsregister. Tussen al die manlike voorsate is daar ook vyf vroue. Hoekom?

  • Tamar is deel van Jesus se bloedlyn deurdat sy haarself as ‘n prostituut vermom het en haar skoonpa, Juda, verlei het. Sy het swanger geword (Genesis 38).
  • Ragab was ‘n prostituut in Kanaän. Sy en haar familie was die enigste oorlewendes na Israel se aanval op Jerigo. Sy het die spioene van Israel gehelp om te ontsnap. Nadat sy in Israel geïntegreer is, trou sy met Salmon en word so deel van Dawid se voorgeslag.
  • Rut was ‘n Moabiet. Die Moabiete het hulle kinders aan hulle god Kemos geoffer. As gevolg van ‘n tragedie en haar lojaliteit eindig sy in Betlehem. Daar trou sy met Boas, die oupagrootjie van Dawid.
  • Batseba, die vrou van Urija. Dawid het haar verlei en haar man laat doodmaak. So word sy ook ‘n voorsaat van Jesus.
  • Maria word swanger voor haar huwelik met Josef. Oor hierdie skandaal sou die mense geskinder het. Sy moes seker allerhande beledigings verduur het.

 

Hierdie vroue het een ding in gemeen: oneer/skande. Maar hulle het almal ook iets anders ondervind: God se verlossende genade. Hierdie genade is vir elkeen van hulle deur die toekomstige werk van Jesus aan die kruis gekoop. Voordat Matteus die Kersverhaal begin wys hy eers vir ons vyf vroue om vir ons te wys waarom Jesus gekom het: om dié wat verlore is te soek; om sondaars te vergewe; om sy vyande te versoen; om vreemdelinge sy kinders te maak.

Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die Seun van Abraham (Matteus 1:1).

 




Tevredenheid nie afhanklik van omstandighede nie (1)

 

Each step of love is like a candle burning in the night. It doesn’t take the darkness away, but it guides us through the darkness – Henri Nouwen

 

Tevredenheid nie afhanklik van omstandighede nie (1)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Die Prediker beskryf ‘n lewe waartydens hy baie bereik het: Ek het groot ondernemings aangepak: ek het vir my huise gebou en wingerde geplant … Ek het vir my silwer en goud opgegaar wat ek gekry het van konings en provinsies. Ek het vir my sangers en sangeresse gewerf, talle mooi meisies met wie ek die lewe kon geniet … Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie (Prediker 2:4, 8, 10). Tog sê hy: Ek het die lewe gehaat … Ek het in vertwyfeling geraak oor alles waarmee ek my met soveel sorg in hierdie wêreld besig gehou het (Prediker 2:17, 20). Die Prediker stry nie net teen die vrees van sinloosheid nie, maar ook met die teleurstelling van sukses. Niks bring vir hom tevredenheid nie.

 

Hierdie is ‘n algemene menslike probleem. Navorsing bevind dat daar ‘n baie swak korrelasie tussen rykdom en tevredenheid is. Hoe meer voorspoedig ons samelewing word, hoe meer algemeen word depressie. Die dinge wat die mens dink vervulling sal bring, doen dit nie. Die eksterne dinge van hierdie wêreld – rykdom, mag, sukses, familie en sekerheid – lei net tot tydelike tevredenheid. Dit vervaag vinnig en laat ‘n mens leër as vantevore.

 

Ons moderne kultuur moedig mense aan om tevredenheid te soek deur aktiewe pogings om hulle lewe te verander – ons moenie die lewe aanvaar soos dit is nie. Geen wonder die Prediker sê: Wat is, was reeds. Wat kom, was ook alreeds. God laat weer gebeur wat vroeër gebeur het (3:15). Ons is maar weer terug waar ons vroeër was. Ons sukkel steeds met vreugde, vervulling en tevredenheid in ons lewens. Daar is altyd iets wat nie daar is nie.

 

Die vraag is: As ons uitvind dat daar iets skort, wat kan ons daaraan doen? Daarna gaan ons in die volgende blog kyk.

 

 




Dag 3: Op elke manier

Dag 3: Op elke manier

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Het jy al vir jouself afgevra watter maniere God gebruik om mense na Hom te trek? Kyk ons na die Skrif sien ons dat Hy feitlike elke manier gebruik. Ons lees van donkies wat praat, van vuur uit die hemel, ‘n see wat oopmaak … In Jesus se geboorteverhaal lees ons: Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys (Matteus 2:1 – 2).

 

Wie was hierdie wyse manne? Was hulle Konings? Ons weet nie, maar wat ons wel weet, is dat hulle nie Jode was nie. Waarskynlik was hulle Perse. Hierdie is mense wat glad nie die Hebreeuse God geken het nie. Watter manier het God gebruik om hulle na Hom te trek? Die lees van die sterre. God trek onwaarskynlike mense op ‘n onwaarskynlike manier na Hom toe.

 

Met Advent baie naby is mense oor die algemeen meer oop vir gesprekke oor geloof. Ons het dus nou die geleentheid om ongelowiges op nuwe en kreatiewe maniere te bereik. Ons moet om ons kyk en vra: “Waar is my nie-Christen vriende? Wat is hulle belangstellings en passie?” Maak nie saak wat hulle passie is nie, God kan dit gebruik as ingangspunte om hulle aandag op Hom te vestig. Hy kan ook ons belangstelling en passie gebruik. Doen wat jy graag doen en doen dit saam met mense wat nog nie vir Jesus ken nie. Vra goeie vrae en vind uit waar God dalk reeds in hulle lewens aan die werk is.

Die ster wat julle sien opkom het, het hulle gelei tot dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde gebring (Matteus 2:9 – 11)