Psalm 31 (3)

Much violence is based on the illusion that life is a property to be defended and not to be shared – Henri Nouwen

 

Psalm 31 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

31:7 – 9

Die krisis is oor. Die Here het gereageer. Later sal dit blyk dat die verlossing nog in die toekoms lê. Die psalmis weet egter dat die Here sy gebed gehoor het en gereageer het. Daarom praat hy asof die verlossing reeds plaasgevind het.

 

U het my gered, Here, troue God.

Hier kry ons die begin van die stelling wat die Here gedoen het – Hy het onderneem om iets te doen.Hy het opgetree volgens die oortuigings wat ons in vers 4 – 5 kry.

 

7Ek het ‘n weersin in mense wat nietige afgode aanhang, maar ek, ek vertrou net op die Here.

Hier word na die gesindheid van die psalmis gekyk. Hy het niks te doen gehad met mense wat afgode aanhang nie – hy het ‘n weersin in hulle. Nietige afgode wys dat hierdie gode verteenwoordig deur beelde, geen substansie of mag het nie. Hulle kan nie met die Here vergelyk word nie. Die antwoord van die Here bevestig die psalmis se stelling dat hy niks met afgode te doen het nie.

 

8Ek wil juig en vreugde vind in u troue liefde; U wat my ellende raakgesien het, wat besorg was oor my bekommernisse,

Hier kyk die psalmis vooruit oor hoe hy hom in die verlossing van die Here sal verheug. Dit is gepas as die Here se belofte ‘n werklikheid word. Verlossing is ‘n bewys van die Here se toewyding. Die Here het nie net bewus geword van sy swaarkry nie, maar reageer daarop.

 

9 my nie oorgelewer het in die hand van my vyand nie, maar my voete op ‘n ruim plek laat staan het.

Hierdie vers sluit die optrede uit die verlede af en beskryf die optrede van die Here – eers negatief en dan positief. Die verwysing na ‘n ruim plek beteken dat die verlossing van die Here die psalmis van ‘n nou paadjie waar jy maklik kan val, beweeg het na ‘n ruim plek waar hy nie langer in gevaar is nie. Die Here het verhoed dat die psalmis in die hande van sy vyande val.

 

Die digter se vertroue was nie tevergeefs nie. God staan nie onverskillig as die mens in opregtheid op Hom vertrou nie. Die digter verag egter mense wat nikswerd afgode aanbid. Hoekom stel die digter sy vertroue in die Here?

  • God se troue liefde het hom rede gegee om te jubel;
  • God was nooit onverskillig teenoor sy ellende nie;
  • God het die bedreiging in sy lewe raakgesien;
  • God het hom nie aan sy vyande oorgelewer nie; en
  • God het hom ‘n veilige staanplek gegee.

In die Here kan ek my vertroue stel.

 

 




Ek twyfel

 

The Bible characters never fell on their weak points but on their strong ones; unguarded strength is double weakness. —Oswald Chambers 

 

Ek twyfel

Tim Keller vertel van ‘n man in die gemeente wat begin twyfel het. Wat is die dinge wat hom laat twyfel het?

  1. Toe hy ‘n ateïs ontmoet wat nie ‘n sedelose, ongelukkige mensehater was nie. Hierdie twyfel berus op die oortuiging dat mense deur God gered word omdat hulle goed en sedelik is. Daarom is ateïste per definisie sleg en onsedelik. Dit is nie waar nie. Ons word deur onverdiende genade gered en nie deur iets wat ons gedoen het nie. Hy besef toe dat ‘n ateïs ‘n beter persoon as ‘n Christen mag wees.
  2. Toe hy ‘n goeie en getroue gelowige ernstig sien ly vir geen goeie rede nie. Hierdie twyfel berus op die oortuiging dat as ons nie ‘n goeie rede vir God se optrede kan onderskei nie, is daar nie ‘n rede nie. Ons aanvaar so maklik dat ons beperkte denke die onbeperkte God se motiewe en planne kan ken.
  3. Hy sien korrupsie en valsheid in ‘n godsdiensinstelling. Hierdie is ‘n algemene oorsaak vir twyfel. Dit is interessant dat die kriteria wat gebruik word om gelowiges mee te oordeel dikwels hulle oorsprong in die Christelike geloof het. Wat hy dus eintlik sê is dat kerkmense nie Christelik genoeg is nie. Maar hoekom moet hulle wees as die Christelike geloof nie waar is nie?
  4. Die onregverdigeid van die leer van verlossing en die hel. Hierdie twyfel berus op die onderliggende oortuigings van ons Westerse kultuur. Om te verwag dat die heelal soos ‘n Westerse kultuur, wat meeste mense in die wêreld nie aanvaar nie, hanteer moet word, is ‘n etnosentriese siening.
  5. ‘n Teenstrydigheid of fout in die Skrif. Meeste gelowiges het ‘n onkritiese vertroue in die Bybel. Daar is al proefskrifte oor ‘n enkele vers in die Bybel geskryf. Vir elke bewering dat een vers ‘n ander weerspreek of foutief is, is daar tien met oortuigende teenargumente.

 

Hierdie is die ondervinding van een man, maar hier is tog ‘n paar baie interessante punte waaraan ons aandag moet gee.

 

 




Sekularisme

 

Pride is a form of cosmic plagiarism-claiming to be the author of something that is actually a gift. —Tim Keller

 

Sekularisme

[Sekularisme = Wêreldlik teenoor geestelik/kerklik. Latyn – saecularis wat verband hou met ‘n tydperk of geslag.]

Hierdie woord word vandag algemeen op ten minste drie versillende maniere in die kerk gebruik.

  • Van toepassing op die sosiale en politieke struktuur. ‘n Sekulêre gemeenskap is een waar daar ‘n skeiding tussen die kerk en die staat is – geen godsdienstige geloof geniet voorrang by die staat nie. Ons wil nie hê dat die kerk of enige godsdienstige instelling die staat moet beheer nie. Net so wil ons nie hê dat die staat die kerk moet beheer nie. State waarin die staat een godsdiens bevorder het, is dikwels onderdrukkend. Sodra ‘n godsdiens op mense afgedruk word en hulle nie meer ‘n vrye keuse het nie, aanvaar hulle dikwels die godsdiens halfhartig.
  • Van toepassing op die individu. ‘n Sekulêre persoon is een wat nie weet of daar ‘n God of enige bonatuurlike gebied of terrein bo en behalwe die natuurlike wêreld is nie.
  • ‘n Besondere soort kultuur. ‘n Sekulêre kultuur is een waar al die klem op die hier en nou is sonder dat hulle enige konsep van die ewige het. Die betekenis van die lewe en geluk word gesoek in hedendaagse ekonomiese voorspoed en materiële gemak.

 

Gelowiges en ongelowiges se standpunte berus op ‘n kombinasie van ondervinding, geloof, rede en intuïsie. Hoekom is dit belangrik om elkeen van hierdie maniere van sekularisme te onderskei? ‘n Gemeenskap kan ‘n sekulêre staat wees alhoewel daar maar min sekulêre mense in die land is. Nog ‘n probleem is dat individue kan sê dat hulle gelowig is, maar in die praktyk het die bestaan van God nie ‘n waarneembare invloed op hulle besluite en gedrag nie. Om persoonlike vrede en voorspoed op te offer vir bosinnelike redes is vandag skaars. [Bosinnelik of transendent is iets wat die grense van die ervaring oorskry; wat bo die sinnelike uitreik.]

 




Psalm 31 (2)

We seldom realise fully that we are sent to fulfil God-given tasks. We act as if we have to choose how, where, and with whom to live. We act as if we were simply plopped down in creation and have to decide how to entertain ourselves until we die. But we were sent into the world by God, just as Jesus was. Once we start living our lives with that conviction, we will soon know what we were sent to do – Henri Nouwen

 

Psalm 31 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

31:2 – 6a

Die psalm hanteer dadelik die kern van die saak met ‘n pleidooi dat die Here sal hoor en verlos. Dit gaan oor die kenmerke van die Here se verhouding met die psalmis.

 

2By U, Here, skuil ek. Ek wil nie vir altyd beskaamd staan nie, bevry my deur u regverdige optrede.

Hierdie verklaring van afhanklikheid is die standaard begin van ‘n gebedspsalm. Die psalmis se probleem is ander mense wat hom aanval wat impliseer dat hy verlossing nodig het. Hierdie aanvalle lei tot die aanspraak dat die Here hom verlaat het. Daarom staan hy beskaamd.

 

Omdat die Here verlos het, volg ‘n danklied. By U, Here, skuil ek. Die woord Here kom eerste, want Hy is alles. Eers daarna kom ek. Hier is ‘n persoon wat regtig glo en vertrou, maar dan uitvind, soos ons almal, dat God se plan vir ons nie twyfel en probleme uitsluit nie. As ek nie die twyfel en probleme aanpak en oorwin nie, sal my geloof nooit so sterk wees soos God dit wil hê nie.

 

3Draai U oor na my, red my gou;

 Wees ‘n rotsvesting vir my, ‘n bergskuiling tot my redding.

Hierdie vers brei op die vorige een uit. Dit begin met ‘n pleidooi dat die Here moet luister. Logies kom luister voor die pleidooi om te red. Die pleidooi vir spoed – gou –  verduidelik vers 2: tans kom mense weg met aanvalle wat die psalmis beskaam. Hy wil nie hê dat dit vir altyd moet voortduur nie. Die pleidooi word uitgebrei met die verwysing na rotsvesting en bergskuiling.

 

4Omdat U my rotsvesting, my bergskuiling is, moet U my ter wille van u Naam lei en begelei.

Lei en begelei lyk nie na dit wat op hierdie stadium nodig is nie. Die psalmis  wys steeds na redes vir die Here om te luister en op te tree. Dit sluit die Here se gewone praktyk van lei en begelei in.

 

5Laat my loskom uit die vangnet wat hulle in die geheim vir my gespan het, U is immers my toevlug.

6In u hand lê ek my lewe,

Die verse verwys na die Here se kenmerkende verhouding met die psalmis. Hy vra dat die Here weer so sal optree.

 

Die digter gebruik beelde wat teruggaan tot Dawid se tyd toe – rots, bergvesting, ens. Sy voete is egter nou vasgevang in die vangnet wat gebruik word om wilde diere mee te vang. Tog, vanweë sy geloof, kan hy drie dinge sê:

  1. Ek is nie bekommerd nie, want ek weet dat U in beheer is. Hy bewaar my veilig.
  2. U het my vrygemaakklaar gedoen. Dit is afgehandel.
  3. U is Here, troue God. Hoekom bekommer ek my dan nog?

 

Die psalmis rig hier ‘n paar versoeke tot God:

  • God moet hom tog nooit in die steek laat nie;
  • God moet hom bevry (2X);
  • God moet hom gou red; en
  • God moet vir hom ‘n rots en bergvesting wees.

 

Hy gee vyf redes waarom hy hierdie dinge van God vra:

  • God is getrou;
  • God is steeds vir hom ‘n rots en bergvesting;
  • God is sy toevlug;
  • God het hom in die verlede al vrygemaak; en
  • God sal hom in die toekoms ook lei.