Wat is goeie werke?

 

C.S. Lewis beskryf die kerk as “the only organization that exists primarily for the benefit of non-members.”

 

Wat is goeie werke?

As ons gevra word om een woord te kies om die Christelike lewe te beskryf, watter een sal jy kies? Geloof, want geloof is die fondament van die Christelike geloof. Maar die Christen se lewe moet ook deur goeie werke gekenmerk word. Ons word nie gered deur iets goeds wat ons gedoen het nie, maar opregte verlossing gaan altyd gepaard met ‘n veranderde lewe – nuwe denke, gesindhede en gedrag.

 

Toe Paulus vir die Tessalonisense skryf loof hy hulle vir die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus (1 Tessalonisense 1:3). Alles wat ons doen moet deur geloof, liefde en hoop wat in Jesus Christus gefundeer is, gemotiveer word.

 

Wat kwalifiseer as goeie werke in die lewe van ‘n Christen? Die Bybel is vol voorbeelde: die versorging van ander, die hantering van behoeftes, die gee van ons tyd en geld en ons betrokkenheid by aktiwiteite soos aanbidding, gebed en Bybelstudie,

 

Charles Stanley sê dat as ons die onderwerp van goeie werke oorweeg daar vier waarhede is wat ons in gedagte moet hou. Anders aanvaar ons dat ons definieer wat goed is, wat gedoen moet word en hoe dit gedoen moet word.

 

  1. God bepaal wat Hy wil hê dat elkeen van ons moet doen

God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:10). Omdat ons aan Jesus Christus behoort – Hy het ons met sy bloed gekoop – het Hy volle gesag oor ons lewens. As ons volgens sy wil lewe is daar spesifieke take wat ons moet doen. As ons dink dat bywoning van eredienste op ‘n Sondag genoeg is, maak ons ‘n groot fout. Christene is die mense deur wie die Heilige Gees God se werk op aarde doen. Hy het Homself as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sondes te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen (Titus 2:14).

 

  1. God rus ons toe vir dit wat ons moet doen

Aan Hom wat deur sy krag in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink (Efesiërs 3:20).In elke geleentheid wat God aan ons gee, het Hy reeds alles voorsien wat ons nodig sal hê vir die taak. Hy het oneindige hulpbronne beskikbaar om ons in staat te stel om die goeie werke te doen. Sy inwonende Heilige Gees gee aan ons rigting en krag om te gehoorsaam, as ook gawes wat ons in staat stel om te dien. Hy gebruik die Skrif om ons in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg e stel en ‘n regte lewenswyse te kweek (2 Timoteus 3:16). Hy gebruik ook ons medegelowiges om ons te motiveer.

 

  1. Ons goeie werke moet God en nie onsself nie, verheerlik

In sy bergrede  sê Jesus dat sy volgelinge die lig vir die wêreld is. Hulle moet hulle lig so voor die mense laat skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matteus 5:14 – 16). Kort daarna sê Hy: Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie (Matteus 6:1). Die verskil is motivering. Ons moet nooit die goedkeuring en lof van ander mense soek deur dit wat ons doen nie, maar ons lewe moet deur goeie werke gekenmerk word. Ons moet egter altyd onthou dat sonder Christus is ons niks nie.

 

  1. God sal eendag ons goeie werke oordeel

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontbang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad (2 Korintiërs 5:10). Ons sal vergoed word vir die goeie werke wat ons in gehoorsaamheid aan God, in sy krag en vir sy heerlikheid gedoen het.

 

Ons weet nie presies wat daardie beloning gaan wees nie, maar een ding is seker: Niks is waardevoller as lof van ons geliefde Verlosser nie. Laat ons dan vir Hom leef.

 

 

 




Ananias en Saffira

 

No man is even capable of administering an elected office properly unless he is a Christian. — Huldrych Zwingli

 

Ananias en Saffira

Ons lees die verhaal van Ananias en Saffira in Handelinge 5. Ten spyte van die vinnige groei, het die vroeë kerk ook oomblikke van swakheid en sonde beleef. Die dood van hierdie twee persone dien steeds as waarkuwing vir die kerk van vandag.

 

  1. In die gemeente is daar twee soorte mense en dit is feitlik onmoontlik om hulle van buite te onderskei.

Ananias en Safirra lyk van buite net soos Barnabas. Barnabas het ook sy eiendom verkoop en die geld na die apostels gebring. Barnabas doen, vir die buitestander, presies dieselfde ding as wat Ananias en Safirra gedoen het. Maar diep in hulle hart was daar by Ananias en Saffira ‘n liefde vir geld. Daarom gee hulle slegs ‘n gedeelte van die geld, maar sê dat dit die volle bedrag is. Dit is radikaal anders as wat Barnabas gedoen het al lyk dit van buite na dieselfde. Ons mag met sulke oneerlikheid vir ‘n tyd lank kan wegkom, maar as iemand van nader kyk, sien hulle die leuens.

 

  1. Jy kan nie van God wegkruip nie

Ons mag sukkel om tussen ware berou en vals berou te onderskei, maar niks is vir God verborge nie. Die Heilige Gees ken selfs ons gedagtes. Geen wonder Ananias en Saffira kon nie hulle geheim wegsteek nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie (Matteus 10:26).

 

  1. Hoe nader ons aan genade is, hoe groter die oortreding van sonde

Nie almal wat jok val onmiddellik dood neer nie. Hoekom het die met Ananias en Saffira gebeur?

  • Hulle dood dien as teken. Ons sien dit veral in Jesus se genesingswonders, maar ook in God se oordeel. Almal wat jok sterf nie onmiddellik nie, maar hierdie verhaal moet ons daaraan herinner dat leuens vir God ‘n ernstige saak is.
  • Ananias en Safirra het die aktiwiteit van die Heilige Gees van naby gesien. Hulle het God se barmhartigheid van naby gesien. Anania se naam beteken “God is barmhartig.”

Moenie heilige dinge ligtelik opneem nie.

 

  1. Vrees is ‘n deel van aanbidding

Hierdie dramatiese sterfte veroorsaak groot vrees (vers 5, 11). Maar net daarna lees ons: Tog is baie mense wat in die Here geglo het … algaande by hulle getal gevoeg (vers 14). Vrees is ‘n integrale deel van aanbidding.  John Newton skryf: This grace has taught my heart to fear. Soos ons vrees vir God toeneem, so neem ons bewustheid van sy liefde ook toe, want ons verstaan beter waarvan Hy ons gered het. Ons word uitgenooi na die intiemste verhouding moontlik met God, maar hierdie intimiteit mag nooit God se majesteit oorskadu nie.

 

  1. Sonde is ‘n baie ernstige saak vir God

Ons moenie vra: “Hoekom het hulle gesterf nie?” Ons moet eerder vra: “Hoekom leef ons nog?” God is geduldig met ons; Hy word nie gou kwaad nie. Ons vergeet egter dat God se geduld veronderstel is om ons na bekering te lei. Hoe sal ons dan ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? Hebreërs 2:3).

 




Hoe kan ons hoflikheid/beleefdheid in die markplein herstel?

 

Of all the doctrines of the Bible none is so offensive to human nature as the doctrine of God’s sovereignty. —J.C. Ryle

 

Hoe kan ons hoflikheid/beleefdheid in die markplein herstel?

Ons was nog nooit ‘n plek waar mense wie se sienings verskil, selfs aanstoot gee, met respek hanteer is nie. Ons sluit dikwels ongewilde stemme uit. Ons respekteer nie juis gemeenskappe wie se sienings drasties van ons sienings verskil nie. Meeste mense voel dat verskillende standpunte vandag met minder respek en bedagsaamheid hanteer word as vantevore. Die agenda is om te marginaliseer en stil te maak.
Tin Keller vra die vraag: Wat is nodig om ‘n ware hoflike samelewing te skep? Ons kan nie by die hof begin nie, alhoewel die howe belangrik is. Ons moet in die gemeenskappe begin – op plaaslike vlak. Maar dan kom ons saam rondom verdraagsaamheid, nederigheid en geduld.

 

Verdraagsaamheid is nie onverskilligheid nie, maar ook nie aanvaarding nie. Dit beteken dat ek die ander persoon met respek behandel al sukkel ek om sy idees te verdra.

Nederigheid beteken nie dat ek die waarheid van my eie oortuigings betwyfel nie, maar om die perke wat ek aan ander kan bewys te erken. Al is jou Christelike siening van die wêreld en moraliteit waar, kan jy dit nie aan rasionele mense bewys nie. Dit moet jou nederig hou.

Geduld beteken nie passiwiteit nie. Dit is ook nie ‘n verskoning om ongeregtigheid of goddeloosheid te steun nie. As daar verdraagsaamheid en nederigheid is, moet ons nie te vinnig motiewe toeskryf nie. Ons moet versigtig en geduldig wees in ons pogings om te verstaan, deernis te bewys en ons moet tyd gebruik om ons siening te kommunikeer.

 

Ons moet verdra eerder as om af te kraak; ons moet nederig eerder as verdedigend wees; ons moet geduldig soek vir soveel ooreenkomste as moontlik eerder as om te probeer om die ander kant te dwing om ons standpunt te aanvaar.

 

Kan hierdie benadering slaag? Die belangrikste kritiek hierteen is dat ons instellings nie langer hierdie deugde produseer nie. Dit lyk asof hulle die teenoorgestelde produseer. Verdraagsaamheid en geduld word nou gesien as minderwaardig teenoor protes en woede. Selfhandhawing word hoër as nederigheid geag. Ons gemeenskap is radikaal individualisties en godsdiens word gesien as een van die belangrikste hindernisse tot menslike vryheid en ontwikkeling.

 

Daar is nog ‘n hindernis. As ons weer hierdie deugde wil herwin is die manier om dit te doen interaksie van aangesig tot aangesig – nie deur videokonferensies of e-posse of die sosiale media nie. Dit is baie moeiliker om iemand te beledig as dwaas as hulle ‘n meter van jou af sit. Maar al minder van ons verhoudings is van aangesig tot aangesig.

 

 

Is daar enige hoop dat ons vorentoe kan beweeg? Ons weet nie, maar ons weet wat Christene kan doen.

  • Christene kan hulle bydrae tot en verantwoordelikheid vir die huidige situasie erken. Baie van die vyandigheid teen godsdiensvryheid is die gevolg van mense wat onthou hoe die kerk, toe hulle nog sosiale mag gehad het, mense wat van hulle verskil het, gemarginaliseer het. Ons moet die probleem erken.
  • Christene moet doelbewus mense wat die vermoë tot verdraagsaamheid, nederigheid en geduld het, vorm. Ons moet dit deur openbare aanbidding doen. Ons moet oorweeg hoe die Christelike praktyk van belydenis nederigheid bevorder. Ons moet onthou hoe gebede vir ons naaste, selfs ons teenstanders, in die lig van die kruis en Jesus se duur vergifnis van ons, beide verdraagsaamheid en geduld kan skep. Daar is baie tekste in die Bybel wat opofferende liefde vir die Christen wys – dink aan die Jode en ballingskap en die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Hierdie wys nie net verdraagsaamheid nie, maar opofferende liefde vir diegene van wie ons verskil.

 

Kan die Christelike kerk die plek word waar goeie burgers vir ‘n pluralistiese samelewing gevorm word? Beslis.

 




Psalm 30 (4).

 

We were like seeds locked up in a dark place, and now we have found the light – ‘n vrou aan Jerry en Monique Sternin, sendelinge in Bangladesj

 

Psalm 30 (4).

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

 

Teologiese Implikasies

Die lewe van die gelowige word tussen twee pole geleef, soos blyk uit sy onervindings: afgedaal –opgetrek; opkom uit die doderyk – afgaan in die put; woede – vreugde;  trane –  gejuig; krag – verskrikking; gerou – dans; rouklere – feesklere; maak musiek – hartseer. Iewers tussen hierdie teenstellings is ons en dit wissel gedurig.

 

Uit hierdie voorbeelde kan ons aflei dat danksegging of getuienis:

  • Persoonlik is
  • ‘n Storie vertel
  • God in vreugde aanspreek.
  • Ander mense in wonder aanspreek
  • Verbind die storie met sake van lewe en dood
  • Herhaal die storie as een maal nie voldoende is nie
  • Trek die gevolgtrekkings van geloof vanuit die individu se ondervindings
  • Nooi die res van die gemeenskap om daarby aan te sluit
  • Verwag dat die ondervindings die persoon se voortgaande getuienis sal vorm.

 

 

En ek? Ek het mos God se verlossing ervaar. Ek is mos ‘n mens met ‘n geskiedenis van verlossing. Hierdie psalm sê vir my: Maak jou lewe ‘n loflied tot eer van die Here, ‘n inspirasie vir die gemeenskap van gelowiges om die Here te loof.