Plan B

 

But let us not set our sights too high. We do not have to be saviours of the world! We are simply human beings, enfolded in weakness and in hope, called together to change our world one heart at a time – Jean Vanier

Plan B

Een van die wonderlike stories vertel hoe Jesus in die hemel aankom. Die merke van sy kruisdood is nog duidelik sigbaar. Een van die engele sê vir Hom: “U moes darem verskriklik gely het op aarde.” Jesus antwoord: “Ja, Ek het.” Die engel vra: “Weet almal wat U vir hulle gedoen het?” Jesus antwoord: “Nee, nog nie.” Die engel: “Wat het U gedoen om seker te maak almal weet?” Jesus: “Ek het vir Petrus en Jakobus en Johannes gevra om vir ander te vertel wat op hulle beurt weer vir nog ander moet vertel totdat almal die verhaal gehoor het.” Die engel lyk maar skepties, want hy is goed bewus van die mens se swakhede: “Ja, maar wat daarvan as Petrus en Jakobus en Johannes vergeet? Wat as hulle sou moegword van die vertellery? Wat daarvan as mense 2 000 jaar later nie meer die storie van God se liefde vertel nie? Het U nie ook ‘n ander plan nie?” Jesus antwoord: “Ek het geen ander plan nie. Ek vertrou op hulle.” Jesus het gesterf om die evangelie aan ons te gee. Hy vertrou op ons om die boodskap aan alle mense oor te dra.

 




Van gesag na voorkeur

 

It is only when we stand up, with all our failings and sufferings, and try to support others rather than withdraw into ourselves, that we can fully live the life of community – Jean Vanier

 

Van gesag na voorkeur

Ons moderne  wêreld het verskuif van ‘n standpunt van gesag na een van voorkeur. Anders gestel: ons moderne wêreld ondermyn alle vorms van gesag en verplaas dit met die siening dat alle reaksies slegs ‘n saak van voorkeur is.

 

Gesag is belangrik vir die Christelike geloof. Wat God sê, is die waarheid, want Hy het die gesag. Om hierdie gesag af te water is om die Here af te skryf. Vir Christene is “Jesus is die Here” ‘n sentrale oortuiging en belydenis van ons geloof. Soos Tomas is ons volgelinge van Christus, want ons is ook oortuig: My Here en my God (Johannes 20:28). Christene glo dat Jesus Christus volkome God is wat volkome mens geword het. Die volgelinge van Jesus staan onder gesag. Wat God sê, vertrou ons; wat God sê dat ons moet doen, gehoorsaam ons. Ons erken ons is nie selfgesentreerd of selfonderhoudend en nie outonoom is nie. Maar tog het ons ‘n soliede siening van vryheid.

 

Dit gaan oor vryheid en nie outonomie nie. Hierdie vryheid het ‘n drievoudige raamwerk:

  • Dit is ‘n gawe van God en nie iets wat ons bereik het nie.
  • Dit het altyd te doen met verhoudings: ons ondervind dit in ons verhouding met God, ons medegelowiges en ons medeburgers.
  • Dit word altyd uitgeleef in die raamwerk van die onderrig van Jesus en van die Skrif. Dit is vryheid in die vorm van die waarheid van God se manier van lewe.

Jesus se seël van gesag is die finale woord vir Christene wat Hom getrou volg. Jesus se onderrig en sy gesindheid teenoor die totale betroubaarheid en oppergesag van die Bybel beteken dat die Bybel ons finale standaard en gesag is. Wat die Skrif sê, sê God en wat God sê, gehoorsaam ons.

 

Kritici verwerp hierdie siening as rigied in die moderne wêreld. Wat vandag van belang is, is eindelose keuses en gedurige verandering op alle vlakke van die lewe. Vandag is daar baie keuses en môre sal nog meer bring. Hierdie verskeidenheid van keuses sien ons in die supermark, maar dit het reeds ver buite die mure van die supermark versprei. Van ontbytgrane tot seksuele identiteite tot allerhande selfhelp tegnieke tot allerhande lewensfilosofieë – altyd ‘n hele reeks keuses. Die fokus val op kies eerder as op die inhoud van dit wat gekies word. Daar is altyd ander; daar is altyd iets meer. As jy hulle nie probeer nie, hoe sal jy weet dat jy nie dalk iets nie probeer het wat vir jou die boerpot kan bring nie.

 

“Love to one is only a barbarity for it is exercised at the expence of all others. Love to God also.” (Nietzsche). God word ook tot ‘n verbruikerskeuse gereduseer. As ons waarheid uit die vergelyking laat, is om aan een keuse vas te hou nie ‘n intellektuele oortuiging nie, maar ‘n teken van swakheid en dwaasheid. Ons vryheid is die vryheid om te kies, maak nie saak of ons keuse reg of verkeerd is nie. Solank as wat ons kan kies, is ons vry. Die waarheid en gesag is nie relevant nie. Wat belangrik is, is dat jy soewerein is om te kan kies en jy kan hierdie reg wanneer en waar  en hoe jy wil, uitoefen.

 

Vryheid van keuse en vryheid van jou gewete verskil hemelsbreed. Vryheid van keuse is vandag outonoom – ek is daarop geregtig. Vryheid van jou gewete  is nooit vry nie – dit is ‘n plig. Jou gewete was op ‘n stadium baie belangrik, want ‘n mens is deur die eise van jou gewete gebind. Die huidige fokus op vryheid van keuse is die hart van ons huidige verbruikersamelewing. Die inhoud van die keuse is nie meer belangrik nie en daarom word dit tot ‘n voorkeur gereduseer. Ons is almal verskillend so hoe kan ons nou iemand anders oordeel? Hierdie is my keuse; daardie is jou keuse. Ons is vry om verskillend te kies – dit is immers net verskillende voorkeure. Daarom kan ons nie sê wie reg of verkeerd is nie. Ons moet ons nie aan ander se keuses steur nie. Ons het geen reg om ander se voorkeure te oordeel nie.

 

Wat is die gevolg van hierdie vrye keuse mentaliteit vir die kerk? Onbeperkte, outonome, subjektiewe keuse is die koning in ons verbruikerskultuur. Gesag en gehoorsaamheid word verban – hulle bederf net dinge. Die eindresultaat is nie verbasend nie: ‘n ernstige gesagskrisis in die kerk. Ons sien standpunte en interpretasies wat neerkom op die verwerping van Jesus en die Skrif. Om te glo, is ‘n keuse – die belangrikste keuse wat iemand ooit kan maak. Maar met die oorweldigende klem op keuses, word keuse alles. Maar keuses vir Jesus kan soos moderne keuses liggewig, veranderlik en nie-bindend wees. Keuse en verandering is metgeselle – mense wat kies vir geloof kan maklik verander. Keuse kan altyd tydelik wees. Die verbondseed van geloof kos iets –  ons wy onsself aan Jesus Christus toe en ons word syne. Ons het gekies en ons is toegewyd. Ons het ons kruise opgeneem. Daar is geen terugdraai nie. Ons is nie meer op ons eie nie.

 

Die moderne versoeking om keuses af te maak, is niks nuut nie. In plaas dat ons begeertes volgens God se waarheid vorm, vorm ons die werklikheid volgens ons begeertes. Ons verwring die Skrif sodat dit ons begeertes pas. Ons verraai Jesus met ‘n interpretasie. Soos een bemarkingsagent vir Christelike kerke sê: “It is also critical that we keep in mind a fundamental problem of Christian communication: the audience, not the message, is sovereign.”  In die kerk is die evangelieboodskap en Jesus die Here van die boodskap soewerein – nooit die gehoor nie.

 

Ons praat baie van die wêreld verander. Wie verander vir wie? Die wêreld sou graag die kerk wou verander, want op baie plekke staan die kerk tussen die wêreld en sake soos seksualiteit. Die vraag is of die kerk nog die wêreld wil verander. Om te glo, kan op die korttermyn duur wees – jy swem immers teen die stroom. Maar die prys is nooit so duur soos die langtermyn prys wat ons gaan betaal as ons Jesus verwerp nie.

 




Godsdiensvryheid vandag

 

If everything comes by chance, Providence is done away with, and if Providence is done away with, the Deity also is done away with. For if anything goes by chance, then everything must go by chance. For if Providence were idle in one single thing, It would not be Providence. It must apply to all things, because the power of the Deity is over all, and if it were not over all, He would not be the Deity. — Huldrych Zwingli

 

Godsdiensvryheid vandag

Ons sien meer en meer regsgedinge teen gelowiges wie se oortuigings nie inpas by die ideologie van die “seksuele revolusie” nie. Watter kultuurneigings gee aanleiding tot ‘n inperking van godsdiensvryheid?

  1. Godsdiens is persoonlik en privaat

Meer en meer mense sien godsdiens as persoonlik en privaat. Dit gaan oor gevoelens wat vir jou waar is; dit gaan nie oor feite wat vir die hele wêreld waar is nie. Die feit dat jou godsdiens iets privaat is, is niks nuut nie, maar vandag is dit die “default” posisie. Gelowiges moet vandag ‘n saak uitmaak waarom godsiens van belang in die openbaar is. Die gevolg is dat mense nie meer geduld het met mense wat glo dat godsdiens ‘n impak op hulle hele lewe het nie. Hoe meer toegewyd jy in die openbaar is, hoe vreemder lyk jy vir die samelewing. Godsdiens word tot die periferie van ons samelewing uitgedruk.

 

  1. Godsdiensvryheid woord verskraal tot vryheid van aanbidding

Vryheid van aanbidding pas in onder die groter sambreel van godsdiensvryheid. Ons glo dat solank kerke die vryheid het om te leer en te preek wat hulle wil, is daar godsdiensvryheid. Dit beperk ons vryheid tot ‘n erediens. Om my godsdiensoortuigings in my alledaagse lewe uit te leef, is iets anders. Maar godsdiens is ‘n lewenswyse. Jesus is nie net die Here van my hart nie, maar die Here van alles. Die Romeinse keiser was ontsteld, want die Christene het die wêreld omgekeer deur ‘n ander Koning te verkondig.

 

  1. Minder mense sien hulleself as godsdienstig

Die toename in die sogenaamde “nones” in ons samelewing is bekend. Dit is baie moeilik vir ongelowiges om die diepte van gelowiges se oortuigings te waardeer. Die Christelike godsdiens gaan oor ‘n omvattende wêreldsiening wat ‘n impak op jou hele lewe het – privaat en openbaar.

 

  1. Die seksuele revolusie het sy eie siening van sonde en verlossing

Dit is juis op die gebied van die seksuele revolusie waar baie dispute ontstaan het. Hierdie debatte gaan natuurlik verder as seks. Hulle hanteer basiese vrae aangaande wêreldsienings: “Wat is ‘n mens? Wat is die doel van seks? Wat is die doel van die mensdom?” Hulle glo onderdrukking is sleg en uitlewing is goed.

 

Christene gaan voor baie uitdagings te staan kom in die toekoms. Debatte oor godsdiensvryheid gaan meer intens word. Ons moet altyd getrou bly aan die evangelie wat nooit verander nie.

 

 

 




Psalm 30 (3)

 

The greater perfection a soul aspires after, the more dependent it is on divine grace – Brother Lawrence

 

Psalm 30 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

30:9 – 11:

Wat opvallend is, is  die uitgebreide nadenke oor gebed toe die Here sy gesig met verskriklike gevolge verberg het.

9Na U, Here, roep ek, by my Heer smeek ek om genade

Om God my Heer te identifiseer verwys na God se persoonlike wese. Dit verwys ook na die Heer-dienaar verhouding wat  verpligtings op beide die Heer en dienaar plaas. Waarvoor roep die psalmis? Na genade.

 

10“Watter nut het dit as my bloed gestort word, as ek in die graf afgaan?

Sal stof U loof? Sal dit u trou verkondig?

As ons die Here se trou verkondig, bely ons Hom. Dit doen die psalmis, want die Here het sy gebed beantwoord. Stof verwys na mense wat na die stof waarvan hulle gemaak is, teruggekeer het. Hier word na ‘n gewelddadige dood verwys – na bloed wat gestort word.

 

11Luister, Here, en wees my genadig! Here wees vir my ‘n helper!

Hier volg ‘n bykomstige pleidooi. Hier kry ons die kenmerkende dubbele begeerte – die Here moet luister en optree. Dit is God se genade wat sy luister na optrede laat oorgaan.

 

30:12 – 13:

Hier lees ons die lof wat deur die optrede van die Here moontlik gemaak is.

12”U het my gerou in ‘n koordans verander, my rouklere uitgetrek en my met vreugde omgord,

Hier lees ons van die onmiddellike effek van die Here se optrede – ‘n transformasie van negatief na positief. Die psalmis draai van rou na dans. Rou verwys gewoonlik na iemand se dood. Hier mag dit dalk ‘n verwysing na die psalmis se ondervinding wees – asof hy dood was. ‘n Uiterlike teken van rou, was spesiale klere – sak – in teenstelling met feesklere. Dit is asof die Here self die rouklere uitgetrek het en vir hom feesklere aangetrek het. Dit was die kleredrag van ‘n huwelik eerder as die van ‘n begrafnis. Vreugde vervang rou.

 

13Sodat my hele wese U kan besing en nie stilbly nie.

Here, my God, ek sal U vir altyd loof!”

Stilbly kan hartseer impliseer. Die psalmis het by die ingang van die doderyk gestaan. Daar is geen musiek of getuienis nie – net stilte. Maar as die Here optree, word alles verander. Musiek en lof word natuurlik. Danksegging is  is ‘n getuienis so ontwerp dat dit die Here loof op so ‘n manier dat ander dit kan hoor. Die Here se verlossing is so wonderlik dat dit van die psalmis na ander mense versprei.