What shall be said of us, who have seen so many good hours, yet are not willing to endure evil for a single hour – Martin Luther
Het dit gebeur?
Greg Gilbert het onlangs ‘n belangrike boek geskryf: “Why Trust the Bible?” Hierdie is vandag ‘n algemene probleem: Mense vertrou nie meer die Bybel nie. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.
Mense is dikwels baie seker oor iets en tog is hulle verkeerd. Het die Bybelskrywers iets neergeskryf wat hulle gevoel het werklik gebeur het, maar hulle was verkeerd? Was hulle reg in wat hulle neergeskryf het? Was dit wat hulle gedink het gebeur het en dit wat werklik gebeur het twee dinge? Ons mag dalk nie wiskundige sekerheid bereik nie, maar ons kan darem geskiedkundige betroubaarheid bereik. Geskiedenis werk ongelukkig nie met wiskundige sekerheid nie.
Die probleem van wonderwerke
Sodra ‘n geskiedkundige bron dinge soos mense wat op die water loop of water in wyn verander vertel, word ons skepties. Hoekom? Mense wat skepties is oor wonderwerke is mense wat hulle nog nooit ondervind het nie. Almal van ons sukkel om dinge wat buite ons ondervinding lê, te glo. Ons begin dus met die aanname dat daardie dinge nie gebeur het nie en nie kan gebeur nie. Maar net omdat ons hulle nie ondervind het nie, beteken nie dat hulle nie gebeur het nie. Ons kan nie sê dat die Bybel nie geloofwaardig is net op grond van ons eie ondervinding nie. Ander mense het ander ondervindings gehad. As ons sê dat wonderwerke nie aanvaarbaar is nie, moet ons ‘n rede hê om dit te sê.
Kom ons kyk na ‘n paar argumente teen wonderwerke
- Die wetenskaplike beswaar
Mense het wonderwerke as onwaarskynlik, selfs onmoontlik, beskryf. Hulle gebruik veral hierdie argument. Wetenskaplike vooruitgang bewys dat wonderwerke onmoontlik is. Mense glo net in wonderwerke, sê hulle, omdat hulle nie verstaan hoe die wêreld werk nie en daarom was hulle geneig om die bonatuurlike te glo. Hulle het die gapings in hulle kennis met wonderwerke gevul. Die wetenskap het baie van hierdie gapings oorbrug en daarom is wonderwerke onnodig. Dit is nie so eenvoudig nie. Die antieke mense het geweet jy kan nie op water loop nie – jy sink. Die antieke mense het geweet dooie mense kan nie weer lewe nie. Tog sê die Bybel dat dit gebeur het. Die wetenskap het nie hierdie gebeure minder verbasend gemaak nie. Die wetenskap kan nie die wonderwerke wat in die Bybel beskryf word, verklaar nie. Hoe meer ons ontdek, hoe meer besef ons hoe min ons werklik weet. Die vraag of wonderwerke moontlik is, kom neer op ‘n groter vraag: Is daar ‘n God? Die wetenskap het nie ‘n toets om vas te stel of God bestaan nie.
- Die filosofiese beswaar
Dit sê dat al kan die wetenskap nie die onmoontlikheid van wonderwerke bewys nie, moet ons tog die waarskynlkheid van ‘n wonderwerk as baie klein beskou. Daarom moet ons nie glo dat wonderwerke moontlik is nie. Ons moet onthou dat die dissipels self verbaas was dat Jesus op die water geloop het. Daarom het hulle dit neergeskryf. Die wetenskap het nie aan ons die rede gegee waarom die wonderwerke plaasgevind het nie en het beslis nie bewys dat hierdie wonderwerke onmoontlik is nie.
Is die Bybelse wonderwerke aanvaarbaar? Die Bybelskrywers sê dat hulle buitengewone dinge gesien het en ons het geen rede om te sê dat daardie dinge inherent onmoontlik is nie. Maar ook die Babiloniërs, die Romeine en die Grieke vertel stories van wonderlike dinge wat gebeur het. Hoekom is die Bybelskrywers se stories meer aanvaarbaar? In ander wonderstories gaan dit nie oor ooggetuies wat verslag lewer van historiese gebeure nie. Ons het hier te doen met legendes of mites wat onstaan en oor eeue gegroei het of ons het te doen met gewone historiese gebeure wat met verloop van tyd met bonatuurlike dele aangevul is. Die wonderwerke in hierdie stories is nie noodsaaklik vir die storie self nie. Hierdie wondertekens is net later bygevoeg vir hulle effek. Hulle is beslis nie die stories van ooggetuies nie.
Die wonderwerke in die Bybel is nie mites of legendes nie; hulle is nie oor eeue uitgebou nie. Hulle berus op die verslae van ooggetuies en hulle is noodsaaklik vir die stories om hulle. Hulle is ten nouste verbind met die boodskap wat Jesus verkondig het. Jesus genees mense – Hy laat nie ‘n haas uit ‘n hoed verskyn nie. Hy wys vir ons hoe sy werk geestelike lewe uit geestelike dood kan voortbring.
Die wonderwerke in die Bybel is nie oortollig nie. Hulle is ingeweef in die stories. Hulle is die verslag van oogetuies van werklike mense wat dit met hulle eie oë gesien het. Ons kan hulle nie sommer as logies onmoontlik verwerp nie. Kan ons ‘n punt bereik waar ons kan sê die wonderwerke is histories moontlik?
Ons kan nou elke wonderwerk individueel ontleed of ons kan direk na die een wonderwerk wat onderliggend tot die hele Christelike geloof is, gaan. Dit is die wonderwerk waarop die Christen se oortuiging dat die Bybel die woord van God is, berus. Dit is die opstanding van Jesus. As die opstanding van Jesus plaasgevind het dan val die res van die Christelike geloof in plek. As die Bybelskrywers verkeerd was oor Jesus se opstanding is dit onwaarskynlik dat hulle oor baie ander dinge reg was. As Jesus steeds dood is, is al die ander dinge van geen belang nie.- nie die wonderwerke of Jesus se onderrig of sy aansprake. Al hierdie dinge was om Jesus se identiteit as die Christus te demonstreer. As Hy steeds dood is, is Hy nie Christus nie. Die hele Christelike geloof staan of val by die vraag of Jesus histories uit die dood uit opgestaan het.
Die Bybelskrywers sê hulle het dit gesien, gehoor en aangeraak en ondervind het. Hulle wou gehad het dat hulle lesers dit ook moet glo. Hoekom het hulle geglo dat Jesus uit die dood opgestaan het?