Psalm 30 (1)
A community that is growing rich and seeks only to defend its goods and its reputation is dying. It has ceased to grow in love. A community is alive when it is poor and its members feel they have to work together and remain united, if only to ensure that they can all eat tomorrow! – Jean Vanier
Psalm 30 (1)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
In die vorige psalm is hemelinge opgeroep om God se groot mag te besing. Hier gee ‘n mens sy voorneme te kenne om dieselfde te doen – nie vanweë God se magsopenbaring in die natuur nie (Ps 29), maar omdat God in die lewe van ‘n nietige mens ingryp en hom verlos. Psalm 30 is ‘n danklied na verlossing. Die psalm het ‘n pragtige troosboodskap: God kan ‘n troostelose situasie soos handomkeer verander. Daarom verdien Hy al ons lof.
30:1: Tempelinwyding
’n Psalm. ’n Lied vir die inwyding van die huis. Van Dawid.
[Huis verwys na die tempel.]
Hier spreek ‘n indiwidu sy dank teenoor die Here vir verlossing uit. Die psalm vertel van die vreugde wat volg op verlossing. Die psalm verwys na ‘n spesifieke vreugdevolle situasie. Hierdie soort psalm kon by die inwyding van die tempel gebruik word. Verwys dit na die inwyding van Salomo se temel of die inwyding van die herboude tempel na die ballingskap of na die inwyding na die ontheiliging van die tempel deur Antiogus Epifanes? Ons weet nie.
30:2 – 4: ‘n Oproep tot lof.
Die psalmis begin onmiddellik met danksegging. Die Here word aangeroep en dan word op sy optrede in die verlede gefokus: my vyande nie bly gemaak nie … gesond gemaak … my lewend gehou.
2Ek verheerlik U, Here, want U het my opgetrek en my vyande nie bly gemaak oor my nie.
Die psalm begin en eindig met ‘n onderneming om die Here te prys/verheerlik. Die vers begin met ek. Dit gaan hier oor die persoonlike getuienis van ‘n individu oor wat die Here vir hom/haar gedoen het. Onmiddellik erken die psalmis dat in vergelyking met die Here hy maar onbeduidend is. Verheerliking van die Here gaan gewoonlik gepaard met die mens wat laag buig. As die Here die psalmis in sy lae toestand gelaat het, sou sy vyande hulle maklik oor hom kon blymaak. Maar die Here het dit nie gedoen nie. Die vyande is nie meer belangrik as hulle bedreiging afgeweer is nie.
3Here my God, ek het na U om hulp geroep en U het my gesond gemaak
Hier val baie klem op my God. Die psalmis gaan hom persoonlik daaraan toewy om die Here my God te maak. Die psalmis het om hulp geroep en die Here het hom gesond gemaak. Gesond maak mag aandui dat die psalmis siek of beseer was. Die psalm sê egter nie presies wat dit was nie. Daarom mag dit ook na ander vorms van genesing en herstel verwys.
4Here, U het my lewe uit die doderyk laat opkom;
Tussen dié wat afgaan in die put het U my lewend gehou.
[Doderyk: In die tyd van die Bybel het mense gedink daar is ‘n plek onder die aarde waarheen die mens wat sterf, afdaal.]
Hier kry ons weer ‘n opsomming van wat die Here gedoen het. Ons sien die gevolge van die genesing wat verhoed het dat die vyande bly kon word. Die Here het in die doderyk afgereik en die psalmis uitgetrek. Dit is nooit te laat om die psalmis se lewe te red nie. Hy was so goed as dood; hy staan by die deur van die doderyk saam met ander mense wat dood is; hy moes na die lewe teruggebring word. Hierdie is ‘n belydenis van die psalmis.