Die belang van afgode

 

Find your spiritual gift, and remember it is always a key, never a lock –  Doug Jackson

 

Die belang van afgode

Martin Luther (Treatise on Good Works) lê vir ons die tien gebooie uit. Hy sê dat om geen afgode voor God se aangesig te hê (die eerste gebod) dieselfde beteken as vryspraak deur geloof in Jesus Christus alleen. Om te sê dat ons geen ander gode as God het nie en om te sê ons moenie probeer om verlossing sonder Jesus Christus te kry, is dieselfde ding. God sê: “Omdat Ek alleen God is moet jy jou volle geloof en vertroue in My stel – in niemand anders nie.”

 

Luther sê in wese dat enigiets waarna ons meer as na Christus kyk vir ons vreugde, betekenis en hoop is per definisie ‘n god. Dit is iets wat ons aanbid, dien en op vertrou met ons hele lewe en hart. Afgode kan goeie dinge wees – familie, beroep, romanse, talent, ens – wat ons verander in dié dinge wat vir ons die vreugde en betekenis gee wat ons nodig het. ‘n Duidelike teken van afgodery is die buitengewone angs en ontmoediging wat ons ondervind as ons afgode gedwarsboom word.

 

Luther glo ook dat ons geen een van die ander gebode verbreek tensy ons ook die eerste gebod verbreek nie. Die wortel van alle sonde is afgodery; afgodery beteken ons kyk nie na Jesus vir ons vryspraak en verlossing nie. Die grond vir elke sonde is om nie die evangelieboodskap dat Jesus, en Jesus alleen, ons vryspraak, geregtigheid en verlossing is, te glo nie.

 




Psalm 27 (2)

 

The greatest sorrow and burden you can lay on the Father, the greatest unkindness you can do to him, is not to believe that he loves you. —John Owen

 

Psalm 27 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

27:3 – 6:

Hier word die getuienis in meer diepte herhaal.

3Al sou ’n leër teen my laer opslaan, sal my hart nie bang wees nie;

Al sou ‘n oorlog teen my uitbreek, sal ek bly vertrou.

Soos vers 1 is dit nog ‘n verklaring van vertroue Die ondervinding uit die verlede toe hy deur vyande aangeval is, is die basis vir sy vertroue. Nog ‘n aanval deur ‘n leër is geen probleem nie.

 

4Een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek bly nastreef:

Om my lewe lank in die huis van die Here te woon,

om die lieflikhede van die Here te aanskou en daaroor na te dink in sy tempel.

Die psalmis kyk terug na ‘n gebed aangebied midde in gevaar. Hier kry ons ook die tema van woon in die Here se huis. Dit verwys na die Here  se permanente beskermende teenwoordigheid en na die vryheid om die Here se  leiding te soek. Die Here is in die tempel teenwoordig, maar Hy is ook teenwoordig as ons in die alledaagse lewe onder druk verkeer. Sy pleidooi is dat hy te alle tye na die tempel kan gaan.

 

Die derde reël noem dan twee redes vir so ‘n besoek aan die tempel.

  • Om die lieflikhede van die Here te aanskou – in die Ou Testament is die siening dat ‘n mens nie na die Here kan kyk nie. Daarom word sy lieflikhede aanskou.
  •  En daaroor na te dink in sy tempel. Dit gaan hier oor nadenke  oor die Here se wil vir die psalmis en die mense.

 

5Ja, Hy steek my weg in sy skuilplek op die dag van onheil;

Hy verberg my in die beskutting van sy tent;

Hy tel my hoog op ‘n rots.

Hier dink die psalmis na oor wat gebeur het as gevolg van sy gebed. Wat die psalmis gevra het en wat die Here belowe het kom ooreen met die werklikheid waarvan ons in vers 1 – 2 gelees het. Ander beelde word gebruik. Die gebed was dat wanneer die kwaaddoeners aanval, sal die Here hom en sy mense beskerm. Die gebed is dat hy in die tent van die Here veilig sal bly. In die derde reël kry ons ‘n nuwe beeld – die van ‘n rots. Gewoonlik is die Here self die rots. Die psalmis vra dat hy opgetel moet word na die Here. Daar sal hy beslis veilig wees.

 

6Daarom is my kop hoog bo my vyande rondom my.

Ek wil met uitroepe van vreugde offers bring in sy tent,

Ek wil sing, met begeleiding sing, vir die Here.

Die psalmis verbly hom in die antwoord op sy gebed. Beskerming beteken oorwinning en dankbaarheid. Sy kop is hoog, want hy is opgetel op die Here se rots. Die Here beskerm hom; die Here verseker sy oorwinning oor die vyande. Daarop volg die toepaslike dankoffer. As  die Here optree kan ons ons koppe oplig  – iets wat andersins onmoontlik sou wees. Ons kan ook ons offers bring en ons stemme in sang verhef.

 

Hierdie deel word gekenmerk deur die psalmis se vertroue dat God hom teen sy vyand sal beskerm, terwyl hy in die tempel, waarvoor hy lief is, skuil. Omdat God die Skepper is, is vrees onnodig. Toevlug beteken die bron van my krag. By die Here is hy nie bang nie: misdadigers kan maar op hom afstorm en ‘n leër kan teen hom stelling inneem. Waar die psalmis voor sy vyande uit moes vlug na die tempel toe, was sy verlange op die tempel gerig. Daar kan hy veilig skuil by die Here.

 

In Bybelse tye het mense in vier posisies aanbid:

  1. Jy kon sit vir nadenkende gebed – soos Jesus gesit het as Hy mense onderrig het.
  2. Jy kon kniel – eintlik gaan jy af op jou knieë met jou voorkop op die grond. Hierdie posisie is later nie meer gebruik nie, want baie kerke het moddervloere en geen banke gehad nie.
  3. Plat op die grond op jou aangesig. Dit was die gewone burger se posisie voor die farao.
  4. Dikwels het mense gestaan as hulle gebid het.

 

Die beeld is dus dié van ‘n man wat God aanbid terwyl hy in die tempel sit. Hy soek, oor ‘n lang tydsperiode, die wil van God. Hierdie houding beskryf sy lewensgesindheid. As gevolg van sy nadenke weet hy wat dit beteken om saam met God te loop – seker in sy geloof al dreig probleme. Hy kyk neer op sy vyande – hy sien verder in die bedoeling van God se liefde en beloftes as wat hulle doen. Daarom gaan hy op sy lewenspad met ‘n lied in sy hart.

In die volgende gedeelte kry ons ‘n ommekeer – van vertroue na dringende gebed.

 

 




Die evangelie moet gekontekstualiseer word

 

God does not ask if we are able, God asks if we are available – ‘n Algemene stelling waarvan die bron onseker is.

 

Die evangelie moet gekontekstualiseer word

Die evangelie is oneindig diep en ryk. Die mens is ook ingewikkeld en verskillend. Die evangelie het die vermoë om die hoop, vrese en ideale van elke kultuur en elke persoon te hanteer. Daar is dus die noodsaaklikheid om die evangelie te kontekstualiseer.

 

In 1 Korintiërs 1:22 – 25 verduidelik Paulus die probleem: Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin. Ons kry hierdie twee benaderings ook in Paulus se preke in Handelinge. Sommige van hierdie preke was vir Jode en ander vir heidene.

 

Lukas gee vir ons drie opsommings van Paulus se prediking.

  1. Handelinge 13: Paulus kommunikeer met Jode en nie-Jode wat Godvresend was.
  2. Handelinge 14: Paulus praat met onopgevoede heidene.
  3. Handelinge 17: Paulus praat met filosowe en opgevoede heidene.

 

Die gehoor se vermoë en oortuigings vorm die manier waarop Paulus die evangelie aanbied. Verskillende kultuurgehore reageer op verskillende benaderings – ons moet dieselfde boodskap vorm. Die evangelie is egter so ryk dat dit in ‘n vorm wat by elke situasie pas, gekommunikeer kan word. Dit is ‘n enkele maar nie ‘n eenvoudige boodskap nie.

 




Die Koninkryk en Jesus se koms

 

The entrance exam for Christianity is admitting you are a failure – J. R. Biggs

 

Die Koninkryk en Jesus se koms

Die tema van God se koninkryk wys dat ons ‘n behoefte het om van slawerny vrygestel te word. Wat ons aanbid, dien ons. Almal moet iets aanbid. Daarom is ons slawe van dit wat ons aanbid. Kyk ons na Israel se geskiedenis moet ons vir onsself afvra: “Hoe kan een koning sterk genoeg wees om ons van ons groot slawerny te verlos?” Markus 1:1 – 3 sê vir ons dat Jesus daardie koning is en dat Hy kom om die heerskappy van sy koninkryk oor te neem. Die krag van sy heerskappy is reeds teenwoordig onder Christene: die koninkryk van God is hier by julle (Lukas 17:20 – 21). Vir die dissipels is die koninkryk ‘n nuwe menslike orde: mag, geld, erkenning en sukses vir burgers van die koninkryk. Hierdie dinge word egter oorheers deur God se nuwe skepping – diens, vrygewigheid en nederigheid.

 

Jesus se koningskap is nie soos dié van aardse konings nie.. Ons gaan sy koninkryk deur swakheid en ‘n nuwe geboorte binne (Johannes 3). Uiteindelik kom die dag wanneer die stad van God neerdaal (Openbaring 22:3). Dan word alle dinge hernuwe (Openbaring 21:3 – 6). Dit is wanneer God terugkeer om te heers. Die vryheid en vreugde van God se koninkryk kom na die aarde.

 

Daar is verskillende maniere om die koninkryk te kommunikeer, maar daar is geen teenstrydigheid tussen hulle nie. Die Bybel se storielyn sê vir ons ten minste vier dinge.

  1. Wat God vir ons wil hê – die skepping.
  2. Wat met ons gebeur het; wat verkeerd geloop het met die wêreld – die sondeval.
  3. Wat God in Jesus Christus gedoen het om dinge weer reg te stel – verlossing.
  4. Hoe die geskiedenis sal eindig – herstel.

 

Hierdie storie kan, en word, op baie verskillende maniere vertel. Dit beteken nie dat die evangelie nie op ‘n eenvoudige wyse oorgedra kan word nie. Al hierdie verskillende maniere moet steeds beklemtoon dat die evangelie nuus is. Dit is ‘n aankondiging van wat God gedoen het en nog gaan doen.