Vraag: Johannes – Johann Voges

‘n Leser vra:

Is Johannes die dooper, dieselfde persoon as, Johannes wat Openbaring geskryf het ?

Antwoord

Dr Johann Voges antwoord:

In veral Lukas lees ʼn mens hoedat Johannes die Doper (Lukas 1), Elizabeth se kind (sy was Maria, Jesus se ma se tannie) mense moes kom voorberei het op Jesus se koms en ook vir Jesus gedoop het (Lukas 3).  In Lukas  9 word vertel waar Herodes wonder wie Jesus is, hoe Johannes aan sy einde gekom het (lees ook Matteus 14 hieroor) …

7Herodes Antipas, die heerser oor Galilea, het intussen te hore gekom van al die groot dinge wat Jesus doen. Hy was bekommerd daaroor, want party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper wat weer lewend geword het.” 8Ander het gesê: “Nee, ons dink hy is die profeet Elia wat weer na ons toe gekom het.” Nog ander het gesê: “Hy is een van die ander profete wat weer lewendig geword het.” 9Herodes het toe vir sy raadgewers gesê: “Vergeet nou maar die storie dat hierdie man Johannes die Doper is. Kyk, ek het Johannes se kop laat afkap. Hy is morsdood. Maar wie is hierdie man dan? Ek moet hom eenvoudig te sien kry!”

 

Oor wie Openbaring geskryf het , is daar twee opinies. Sommige kenners aanvaar dat die boek deur die apostel Johannes, die seun van Sebedeus, geskryf is. Hy word dan ook as die skrywer van die Johannes-Evangelie en die drie Johannes-briewe beskou. Ander kenners is egter van mening dat Openbaring nie deur die apostel Johannes geskryf is nie, maar deur ’n onbekende rondreisende apokaliptiese profeet in Klein-Asië wie se naam Johannes was. In Openbaring self word slegs gesê dat die skrywer se naam Johannes is en dat hy na die eiland Patmos verban is vanweë sy Christenskap (Opb 1:4, 9). Die meeste kenners is van mening dat Openbaring teen ongeveer 95 nC geskryf is en oorspronklik gerig is aan Christene* wat in Klein-Asië* gewoon het. As Openbaring in ongeveer 95 n.C. geskryf is kan dit nie deur Johannes die Doper geskryf gewees het nie, want hy is amper 60 jaar voor die skryf van Openbaring reeds onthoof.

As jy wil kan jy ook na ons webtuiste gaan (bybelkennis.co.za) en by die soekfunksie intik “Johannes die Doper” daar is ‘n paar interessante artikels daarin oor hom geskrywe. ‘n Interessante artikel om ook te lees oor die skrywer van Openbaring sal jy kry by https://en.wikipedia.org/wiki/Book_of_Revelation

Skrywer: Dr Johann Voges




Vraag: Humor in die Bybel – Johann Voges

‘n Leser vra:

Waar in die bybel is daar humor wat plaasvind en beskryf word?

Antwoord:

Dr Johan Voges antwoord:

Oor wat humor as sodanig rêrig is, is nie altyd ‘n ewe maklike vraag om ge-antwoord te kry nie … want humor is verskillend vir verskillende mense en verskillende kultuurgroepe en ook in die verskillende kontekste waarin dit plaasvind.

Hier is ‘n paar interessante artikels oor die humor in die Bybel ….

https://indieskriflig.org.za/index.php/skriflig/article/view/712/2634

https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/stiltetyd/gedagte-vir-die-dag-om-te-lag/

https://diebestelewe.co.za/afrikaanse-blogs/die-blymoedige-spelerigheid-van-jesus/

https://en.wikipedia.org/wiki/The_Bible_and_humor

https://en.wikipedia.org/wiki/Jewish_humor

https://en.wikipedia.org/wiki/Humour

https://en.wikipedia.org/wiki/Theories_of_humor

https://www.reddit.com/r/Reformed/comments/ikk8oc/does_the_bible_have_humour/?rdt=33028

Ek dink hierdie artikels maak ʼn mens bewus dat humor in die Bybel meer is as net waar word dalk watter grappe vertel of wat wie ookal voor gelag het … ʼn mens moet ook humor in die Bybel verstaan binne die Bybelse konteks waarin dit vertel word, wat ook verskil van ons hedendaagse konteks … netsoos wat humor vir geen twee mense dieselfde is nie. As jy al hierdie artikels gelees het sal jy verstaan wat ek bedoel en ek dink jou vraag oor waar en wat humor in die Bybel is sal ook beantwoord word.

Skrywer: Dr Johann Voges




Vraag: Uitsprake oor siek mense – Johann Voges

‘n Leser Vra

Mense sê dikwels oor iemand wat baie siek is “ek spreek lewe oor so of so” of ek spreek die bloed van Jesus oor so of so” Ek ervaar dan ervaar n hoë mate van ferme uitdaging dat dinge gaan regkom met die siek persoon, so ek waag nie om enigiets tee te praat nie. Die siek persone is toe oorlede maar dan word daar niks gesê nie. Wat is u mening hieroor?

Antwoord

Dr Johann Voges antwoord:

Ek waag dit om vir jou ‘n stukkie aan te haal uit ‘n boek wat ek geskryf het (Anderkant twyfel, my kruikelgedagtes oor lewe en dood. 2022. Barnabas Uitgewers)…

“Iemand het eenkeer gesê: nie almal wat kan kyk, kan noodwendig sien nie. Soos wat die blinde ou hier in Johannes 9 se storie al meer kan insien wat hy met sy oë raak­sien, word die Fariseërs al meer siende blind vir dit waar­na hulle kyk. Hoe meer die blinde ge­dwing word om te loop na­dink oor wat met hom aan die gebeur is, hoe meer groei daar in hom die bewus­wording dat die ver­andering wat besig is om in hom te gebeur, nie net sy oë raak nie, maar sy hele mens­wees (verse 11, 17, 25, 30 en 35-38). Die teen­deel in net so waar; hoe meer die fari­seërs gekonfronteer word met hul onkunde oor wat rêrig hier besig is om te gebeur, hoe kwater en hardkoppiger raak hulle in hul manier van dink hieroor. Dit lyk my om rêrig te kan sien waarna jy kyk, het iets te doen met die bewuswording dat ek weet dat ek nie weet nie … en daarom geloof nodig het vir hierdie insien wat van my gevra word. ‘n Mens kan jouself so maklik vals troos met die gedagte dat as iets onverklaar­baars jou oorkom, “dit die Here se wil of toe­doen is”, terwyl ek eerder die ge­loofs­­insig behoort te hê dat ek gewoon nie weet hoekom dit met my gebeur nie. Al wat ek wel weet, is dat die Here my nie hierin alleen sal los nie”.

Skrywer: Dr Johann Voges




Die geloof wat ek glo … om wat daarmee te sê? – Johann Voges

As ʼn mens deur die Bybelbladsye blaai word die Hebreeuse en Griekse woord wat in Afrikaans met ‘geloof’ vertaal word ook in sekere gedeeltes (konteks) met ‘vertroue’ vertaal. Daarom skep dit die indruk asof geloof en vertroue eintlik sinonieme van mekaar is, terwyl daar ʼn wesenlike verskil in die bedoeling en gebruik van hierdie twee woorde is, afhangende van die sinne of gedeeltes waarin dit gebruik word.

     Wat die skrywer met geloof in Hebreërs 11 bedoel, is byvoor­beeld nie in so ’n verstaanbare Afrikaans as wat dit op die oor af klink nie [1]. In vers 1 sê hy, met sy Griekse woorde, dat geloof die hypostasisis van die dinge wat ons hoop en die elenchosvan die dinge wat ons nie sien nie. Die vertalers van die NAV (1983) het gekies om die Griekse woordesoos volg in Afrikaans te vertaal: “om te glo, is om ‘seker te wees’ van die dinge wat ons hoop, om ‘oortuig’ te wees van die dinge wat ons nie sien nie”. In Die Boodskap vertaling (2008) klink dit effens anders, want hierin is gepoog om die bedoeling van hierdie Griekse woorde vertaal te probeer kry met: geloof of vertroue in God beteken om ‘nie een oomblik te twyfel nie’ dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ‘ons weet vir seker dat dit sal gebeur’. Die Message vertaling (2002) klink so: “The fundamental fact of existence is that this trust in God, this faith, is ‘the firm foundation under everything’ that makes life worth living. It’s ‘our handle’ on what we can’t see”.

     Met al hierdie vertaal pogings kom ’n mens agter dat die twee Griekse woorde wat die Hebreërskrywer in hoofstuk 11 gebruik om geloof mee te probeer verduidelik, nogal sukkel om in enige ander taal gesê te raak. Miskien moet ons dalk ’n bietjie verder in Hebreërs rondblaai om eers die bedoeling van hypostasis beterverstaan te kry. Behalwe vir die gebruik daar­van in hoofstuk 11, kom die woord op tweeander plekke in die Hebreërbrief ook voor. Die Hebreërskrywer gebruik hierdie woord in Hebreërs 13, waar daar geskrywe staan: “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die hypostasis van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand”. Die vertalers van die NAV 1983 het gekies om dit soos volg te vertaal: “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is ‘die ewebeeld van die wese’ van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand”. In Die Boodskap (2008) klink vers 3 so: “Wanneer jy na die Seun kyk, sien jy ‘eintlik vir God self’ en hoe wonderlik Hy is. Die Seun ‘lyk net soos’ God. Hy sorg dat alles in die skepping bly soos dit behoort te wees, want Hy hoef net te praat en dan gebeur dit”. In die Message (2002) is hypostasis soos volg vertaal: “By his Son, God created the world in the beginning, and it will all belong to the Son at the end. This Son ‘perfectly mirrors’ God, and ‘is stamped with God’s nature’. He holds everything together by what he says – powerful words”.

     Die ander plek waar die woord in Hebreërs gebruik word, is in Hebreërs 3:14; “Ons behou deel aan Christus as ons enduit volhard in die hypostasis waarmee ons begin het”. Die vertalers van die NAV (1983) vertaal dit met: “Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in ‘die vertroue’ waarmee ons begin het”, en Die Boodskap (2008): “Wat Christus s’n is, is ons s’n as ons enduit ‘vasberade op God bly vertrou’ soos ons dit aan die begin gedoen het”. Die Message(2002) vertaal dit met: “If we can only keep ‘our grip on the sure thing’ we started out with, we’re in this with Christ for the long haul.”

     So, wat sou die Hebreërskywer met die hypostasis van geloof in hoofstuk 11 dan nou eintlik bedoel? Wel, uit die konteks is dit duidelik dat dit iets meer is as net ‘my persoonlike seker wees van iets’. Die woordjie elenchos wat hiermee saam gebruik word, help so ’n bietjie met die bedoeling van die woord. Dis ’n woord wat ’n mens in Afrikaans sou gebruik om te verwys na jou ‘oortuiging van iets’. As ’n mens hiermee saam nou ook die verskillende geloofstories in Hebreërs 11 lees, om te probeer agterkom hoekom hy die stories vir ons vertel, word dit wat hy met geloof as hypostasis bedoel, nog duideliker!

My “oortuigings” en “vertroue”

is wat in my geloof regtig die verskil maak.

     In vers 6 sê die Hebreërskrywer dat die enigste ding waaroor jy seker kan wees, is dat ‘God bestaan’, of nog beter gesê, dat ‘God is’ en dat ‘Hy Hom laat kry deur mense wat Hom soek’. In die woorde van Blaise Pascal 1623-1662, ‘n eertydse wiskundige: “Ek het God gesoek totdat Hy my uiteindelik gekry het”. Verder sê die Hebreërskrywer dat die een ding wat jy kan sê van al die mense wie se geloofstories hier vertel word, is “dat die meeste van hierdie gelowiges gesterf het sonder dat dit wat hulle in hulle geloof na uitgesien het noodwendig in hulle leeftyd waar geword het” Hebreërs 11:13. Dis juis waaroor hulle geloofstories gaan, mense wat God vertrou het met hulle lewe al het alles nie altyd gebeur soos wat hulle gedink of geglo het dit sou nie. Hy sê ook dieselfde in die verse waarmee hy die hoofstuk afsluit Hebreërs 11:39-40. In hoofstuk 12 brei hy dan verder hierop uit as hy sê die lewe is eintlik soos ‘n wedloop wat ons hardloop, waarin dit juis my geloof is wat maak dat ek elke keer weer opstaan as ek geval het, om dan verder te hardloop. Dis ook geloof wat dit moontlik maak dat ek die swaarkry as ’n leer-ervaring in my geloofslewe verwerk kan kry. Dis nogal opvallend dat ons nêrens in enige van die Evangelies lees dat Jesus verstom was oor wat mense alles regkry of te sê het nie, maar Hy was altyd ver­wonderd en uitgesproke oor mense se geloof.

     Wat is dan die hypostasis van my geloof wat getoets raak? Nie die seker wees daarvan nie, maar my ‘vertroue’ en ‘geloofs­oortuiging’ daarin. Om daarmee te sê: ‘geloof’ is die vermoë om nou reeds te kan raaksien wat ek eendag op hoop, al het ek nou geen werklike bewys daarvoor nie. Geloof help my dus om anders na die werklikheid te kyk as bloot net wat ek met my oë kan raaksien. Daarom sê hy: “God is nie skaam om hulle God genoem te word nie”. Hebreërs 11:16 Anders gesê, God is trots op al hierdie mense wat dit gewaag het om Hom te vertrou ten spyte van dit wat hulle nie kon raaksien of verstaan nie.

     Miskien is die dilemma dat ons ‘geloofsekerheid’ met ‘geloofsoortuiging’ verwar. Die Hebreёr skrywer wou sê: in geloof word veral my ‘geloofsoortuiging’ in die lewe getoets. Al die mense in Hebreёrs 11 het hierdie ‘geloofsoortuiging’ gehad, naamlik dat hulle die Here blindelings kan vertrou vir sy sorg en dáárwees – al het dit nie altyd uitgedraai soos wat hulle gedink het dit sou nie. Elke keer was dit juis hulle ‘blindelingse ver­troue’ in die Here wat oral in hulle elke-dag se manier van lewe getoets is. In my ‘geloofsoortuiging’ is daar altyd die paradoks, van seker- en onseker wees, wat my ‘geloofsoortuiging’ ook kwesbaar maak en uitdaag om te groei en selfs te verander as dit moet. Daar is altyd ’n risiko in enige twyfel, dat dit kan jou op die dun ys van ongeloof laat beland. In Johannes 20 is Tomas ’n sprekende voorbeeld hiervan. Daar sal altyd ’n spanning bly bestaan tussen glo en twyfel. Dikwels ervaar ek dat hoe ouer ek raak, hoe meer weet ek dat ek anderkant my twyfel eers rêrig verstaan wat in my geloof aangaan. Soms worstel ek ook met wié ek dan nou dwarsdeur sulke twyfel eintlik is … is ek dit wat die mense van my sê of is ek wie ek eerder self ervaar ek is? So het Dietrich Bonhoeffer 1906-1945 gevra en toe gesê … dat al weet ek nie aldag wie ek is nie, weet ek ten minste wie s’n ek is en dat ek die Here hierin blindelings kan vertrou … dis my geloofs­oortuiging. Geloof is dus daai vermoë om bewus te wees van God se daarwees en hierwees in my lewe, ten spyte van al my twyfel om dit nie altyd raakgesien te kry soos wat ek gedink het dit sou wees nie. Dis hierdie ‘geloofsoortuiging’ wat enige gelowige se geloofstorie laat sin maak.


[1] Anderkant twyfel. Kreukelgedagtes oor lewe en dood. Johann Voges. 2022. CLF. Bl. 72-75

Skrywer: Dr Johann Voges