Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Regering en Samelewing (2) – JP Louw

Bondgenootskappe

Voor die koms van die koningskap was een van die bekendste bondgenootskappe die van n groep stamme wat saamgestaan het om ‘n gemeenskap­like heiligdom te beskerm. In Josua 24 (veral verse 1 en 25-27) laat Josua by Sigem die stamme besluit om saam die Here te dien. Hy het ook voorskrifte daartoe opgestel en ‘n gedenksteen opgerig om die ooreenkoms te beseël.

Die verskillende rigters wat na Josua opgetree het om die yolk te lei, was deel van ‘n proses van saamgroepering om deur onderlinge ooreenkoms meer struktuur aan die maatskappy te gee. Tog was die regeringsvorm nie heg georganiseer nie en was werklike volkseenheid nie op ‘n hoë vlak nie. Met voortdurende druk van ander volke op Israel het die volk mettertyd gevoel dat om gedurig te wag op besondere leiers wat met die Gees van God vervul was en deur God gegee is in tye van nood, dit beter sou wees as hulle ‘n koning sou hê wat die hele yolk kon verenig en vir hulle kon sorg. Die opvatting onder die volk is aangeblaas deur Samuel se seuns wat hy, toe hy al baie oud geword het, aangestel het om Israel te regeer. In 1 Samuel 8:3 word egter gesê dat hulle verwarde leiers was wat geknoei het. Samuel het toe die Here gevra om maar vir die volk ‘n koning te gee en die Here het gesê: gee toe aan hulle wil, hulle het My verwerp, hulle sal die gevolge moet dra” (1 Samuel 8:7-18). Saul is aangewys as eerste koning oor die volk. Tog het die Here sy groot genade getoon en die volk nogtans deur Saul uit die hand van die Filistyne gered (1 Samuel 9:16). Die Here het immers self vir Saul gekies en Samuel beveel om hom as koning te salf (1 Samuel 10:1). So het die Here ook vir Dawid uitgekies (2 Samuel 5:2) al het Saul gedink sy seun Jonatan moes hom opvolg (1 Samuel 20:30-31).

 

Dawid en Salomo

Die koningskap van Dawid en Salomo was uniek. Dawid was eers net koning oor Juda (2 Samuel 2:4) terwyl Isboset, seun van Saul, koning oor die res van Israel was (2 Samuel 2:9). Na Isboset vermoor is, het Dawid koning oor die hele Israel geword (2 Samuel 5:1-5). Tog moet ons nie dink dat die hele Israel ‘n hegte verenigde koninkryk was nie. Die twee ryke, Noord en Suid van ouds, het nog in die hart van die yolk geleef. Ons lees in 1 Konings 1:35 dat toe Dawid vir Salomo as koning laat salf het om hom op to volg, Salomo as koning oor beide Israel en Juda gesalf is. Al was dit een koninkryk het die dubbele naam tog die tweeslag daarvan bevestig. Na Salomo se dood het die verdeling dadelik opgevlam en het die ryk weer geskeur (1 Konings 12:16). Die hele ryk onder Dawid, en net so ook onder Salomo, het ‘n groot administrasie vereis. In 2 Samuel 20:23-26 lees ons van Dawid se amptenare wat hy aangestel het vir die administrasie, en in 1 Konings 4:1-19 is die lys van Salomo se amptenare nog veel langer. Die regering van Dawid en Salomo moes inderdaad meer geëis het, want om die twaalf stamme van die hele volk to behartig, wat tradisioneel elk hulle eie identiteit op die voorgrond gestel het, was geen eenvoudige taak nie. Dit het die Jode egter as volk laat gedy en hulle invloed en mag ver laat uitbrei (2 Samuel 8). Na Salomo se dood het die skeuring van die ryk meegebring dat die Jode baie invloed verloor het. Verder het daar ook ‘n verskillende tipe koningskap by elk ontwikkel. By Israel se tien stamme was dit nie erflik nie, maar ‘n saak van individuele keuse, in opdrag van die Here (1 Ko­nings 11:31, 19:16). In Juda-(waartoe die klein stam van Benjamin ook behoort het) was dit beperk tot die huis van Dawid soos die Here aan Dawid beloof het (2 Samuel 7:11).

Silo

Gedurende die tyd van die Rigters was Silo die plek waar die Ark van die Verbond gehou is.

Toe die koningskap eindelik verdwyn het en Israel en Juda na die ballingskappe blote provinsies van ander moondhede geword het, moes Joodse eenheid elders as op politieke terrein gesoek word. ‘n Religieuse eenheid het die volk deur sy hele geskiedenis byeengehou. Die Here was hulle ko­ning (Jesaja 41:21, 43:15) en die hoëpriester was sy verteenwoordiger. Daarom was Kajafas en Annas ten tye van Jesus se verhoor die finale Joodse gesag binne die Romeinse ryk.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Regering en Samelewing (1) – JP Louw

Regeringsvorme verskil van tyd tot tyd en van land tot land. In dieselfde land is dit ook aan verandering onderhewig. Dit mag n wisseling wees van demo­krasie na ‘n diktatorskap of andersom. Net soos vandag was dit ook die geval in Bybeltye. In Abraham se tyd het die patriargale familie die regering gevorm, in Moses se tyd was dit die groepering van stamme wat later tot ‘n koningskap onder Saul gelei het, met priester-konings in die tyd tussen die Ou en Nuwe Testament. Terselfder­tyd het Israel hom tussen ander groot magsgebiede bevind: ,Egipte, Assirië, Babilonië, Persië, Grieke­land, Rome. Om almal te behandel sal ons ver buite die doel van hierdie boek neem, maar kennis van veral twee wyses van regering is belangrik om die Bybel te verstaan-die tyd van die monargie, d. w. s. van die konings van Israel, en die tyd toe die Jode onder Romeinse heerskappy was.

 

Verdelinge in die maatskappy

In die tyd van die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob was daar geen maatskaplike groepe nie. Almal was lid van n familie wat as ‘n nomadiese groep op sy eie gefunksioneer het. As van groepe in hierdie tyd gepraat moet word, sou dit bloot die familiegroepe kon wees, maar dan ook moet ont­hou word dat sodanige groepe nie saam ‘n groter eenheid gevorm het nie. Elk was ‘n groep op sy eie.

In ‘n familie het almal gedeel. Selfs slawe het ook gedeel. In Genesis 15:2-3 se Abraham dat sy slaaf Eliëser sy besittings sal erf as by kinderloos sterf. Selfs toe stamme begin vorm het, was dit moeilik om van politieke groepe te praat, want ‘n stam was maar net, ‘n uitgebreide familie wat in ‘n dorp gevestig het. In so ‘n samelewing het die oudstes regeer en besluite vir die hele groep geneem. Toe die koningskap later ontwikkel het, is die naam oudstes soms behou, maar het dit eerder die leiers aangedui as noodwendig ‘n letterlike groep van ou mense. Dikwels is hulle vorste of net amptenare genoem.

Ander maatskaplike groepe was die rykes en die armes. In die Ou Testament, veral in latere boeke, word dikwels gewaarsku teen verdrukking van die armes (Levitikus 19:13, Spreuke 22:22-23, Amos 2:6-7). Grond en besittings is van ander afgeneem weens skuld, of in oorlog. Mense is gewoonlik as slawe weggevoer as hulle dorpe oorwin is en so het daar mense met regte en ander sonder regte ont­staan (Esegiël 22:29). In Levitikus 4 word selfs verskillende voorskrifte gegee vir oortredings (vers 22) van gesagsdraers-en die gewone volk (vers 27). Hier het ons al die begin van ‘n klassevorming.

Dan was daar ook vreemdelinge-mense sonder grond wat gevlug het en verblyf by ander gekry het in ruil vir arbeid. In Levitikus 19:10 en 23:22 word gesê wat die armes en die vreemdelinge kon neem nadat geoes is. In Eksodus 22:21 word gewaarsku teen verdrukking van vreemdelinge. Levitikus 25:47-55 gee voorskrifte waaruit blyk dat vreem­delinge ook ryk kon word en slawe hulleself kon vrykoop.

Naas die vrye persone was daar verskeie soorte slawe. Persoonlike slawe was deel van ‘n familie. Dikwels is hulle gevange geneem tydens oorloë (Deuteronomium 21:10-11, Rigters 5:30, 2 Ko­nings 5:2, Joel 3:6). Soms is van jou eie mense, waar stamme teen mekaar geveg het, mense gebuit (2 Kronieke 28:8, 10-11). Slawehandel was in die vroegste tye reeds algemeen (Levitikus 25:44-45). Dan was daar ook staatslawe wat deur die vorste na afloop van ‘n oorlog weggevoer is vir werk (2.Samuel 12:31, 1 Konings 9:15-16, Esra 8:20). In Esegiël 44:7-8 word verwys na slawe wat vir tempeldiens gebruik is. Reeds Josua het hiermee begin om die Gibeoniete to red sodat hulle nie doodgemaak sou word nie (Josua 9:23, 26-27).

Skrywer:  Prof JP Louw




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Sosiale en Politieke Groepe(5) – JP Louw

Die Selote

In Lukas 6:15 en Handelinge 1:13 lees ons van ‘n sekere Simon met die bynaam Yweraar (ou ver­taling) of Fanatikus (nuwe vertaling). Die Griekse woord is zelotes waaruit sommige afgelei het dat die Joodse party van die Selote reeds toe al bestaan het. So word selfs gesê dat Judas die Galileër (Handelinge 5:37) die stigter van die Selote in 6 n.C. was. Die Joodse geskiedskrywer Josefus sê ook dat hierdie Judas ‘n Joodse party gestig het, maar Josefus is bekend vir sy onbe­troubare geskiedskrywing sodat dit nie sonder meer aanvaar kan word nie. Ons ken die Selote egter eers as groep met hierdie naam in die jaar 66 n.C. toe die Romeine ‘n rebellie van die Jode onderdruk het. In die Nuwe Testament kom die woord zelotes meermale voor en word vertaal met woorde soos stiptelik, streng, met toewy­ding optree, ywerig wees, fanatiek wees. In hierdie gevalle dui dit op iemand wat uiters toegewy is aan ‘n saak. Dan word dit as bynaam van Simon genoem in Lukas 6:15 en Handelinge 1:13. Maar in Matteus 10:4 word by Simon Kananites (ou vertaling) genoem.

Onder die Jode was daar fanatieke groepe wat geweier het om aan die Romeine belasting te betaal. Die Romeine het hulle die sicarii, dolk­draers, genoem omdat hulle dikwels met dolke moorde gepleeg het, want hulle het geglo dat slegs die wapen die Romeine sal verdryf. Dit is moontlik dat Simon iemand van hierdie gesind­heid was, maar of by ooit die dolk ingelê het, is te betwyfel. Judas die Galileër was waarskynlik wel meer gewelddadig. Sy opstand is onderdruk en sy volgelinge verstrooi. Hierdie gesindhede het egter onder die Jode gebroei en dit is meer waarskynlik om te sê dat in die tyd van die Nuwe Testament die spore van fanatieke Jode gesien word wat later meegebring het dat ‘n party gevorm is wat hulleself die Selote genoem het. Wat ons dus in die Nuwe Testament vind is moontlik net voorlopers daarvan.

Die Jode wat die Messias as ‘n aardse verlosser van die juk van Rome gesien het, sou by Jesus se intog in Jerusalem seker by die ideale van hierdie fanatieke Jode aanklank gevind het. Miskien het Judas Iskariot ook dieselfde idees gedeel en toe Jesus nie aan hierdie verwagtings voldoen het nie, het by teen hom gedraai en hom verloën.

In die opstand wat in Palestina gelei het tot die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. was die Selote as party nou betrokke. In die proses het ‘n groep van hulle teruggetrek tot in die vesting Masada waar hulle baie lank teen die Romeine uitgehou het. Maar eindelik in 74nC het die Romeine met behulp van ‘’n ontsaglike grondhoop wat hulle teen die berg opgebou het die vesting binnegedring om net lyke te vind, want almal het die nag toe hulle besef het dat dit finaal is, selfmoord gepleeg.

masada

MASADA

Die Selote was ook aktief in die rebellie van Bar Kogba in 135 n.C. toe Jerusalem weer verwoes is en die Jode uit die stad verban is.




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Sosiale en Politieke Groepe(4) – JP Louw

Die Fariseërs

Die Fariseërs was direkte opvolgers van die Chassidim. Hulle naam beteken “die afgeskeidenes” wat in gees aansluit by die van die Chassidim. Ten tye van, die Nuwe Testament was hulle omtrent 6000 in getal. Hulle was besonder nougesette Jode wat hulle geloof ten strengste probeer uitleef het en geglo het dat die ballingskap van weleer die gevolg was van afval en vervlakking. In hulle strewe na wetsgetrouheid wou hulle moreel rein wees, want die nakoming van die Wet was vir hulle die metode om godsdienstig reg te lewe.

Die Fariseërs se opvatting oor wetsgetrouheid het egter probleme vir hulle gebied, want al was daar oor die seshonderd bevele in die Wet was almal nie altyd spesifiek genoeg om alle situasies te hanteer nie. As die Wet sê die Sabbat moet geheilig word, wat het dit presies beteken? Wat kon gedoen word op ‘n Sabbat, en wat nie? Die skrifgeleerdes was mense (merendeels Fariseërs, maar ook van die ander groepe) wat hulle in besonder daarop toegelê het om die Wet, die Torah, tot in die fynste besonderhede uit te pluis. Hulle het bepalings uitgewerk hoe ver ‘n mens op ‘n Sabbat mag loop, of jy iets mag dra, ens. Baie van hulle debatte lyk vandag vreemd, byvoorbeeld, of dit reg was om ‘n eier wat op die Sabbat gelê is, te eet.

Die Fariseërs se doel met al hulle regulasies was om mense te help om die Wet getrou na te kom. Vir elke nuwe situasie moes hulle nuwe reëls formuleer en hierdie reëls het hulle die mense ingeprent, ja selfs op skrif gestel. Onder die skrifgeleerdes was daar egter ook verskillende skole van denke en interpretasie. Bekend is Rabbi Shammai van ‘n ryk aristokratiese familie wie se leerstellings baie streng was. Rabbi Hillel weer, was ietwat meer gematig. Hy het uit die middellae van die volk gekom en meer begrip vir die praktiese probleme van die armer bevolking gehad. Die verskille in interpretasie het dikwels lewensbelangrike dispute veroorsaak. In Matteus 19:3-12 lees ons hoe vrae oor egskeiding aan Jesus gestel is om te toets of by die Wet goed kon uitlê. So ook in Matteus 22:36 lees ons dat hulle Jesus op die proef gestel het oor wat die grootste gebod is. In Matteus 15:3 kla die Fariseërs by Jesus dat sy dissipels as hulle eet nie die hande was nie en so die oorgelewerde gebruike verontagsaam. Hier moet ons nie dink dat die dissipels slordig was nie. Die skrifgeleerdes het voorskrifte gehad oor die presiese wyse waarop hande gewas moes word. As dit nie soos hulle voorskryf gedoen is nie, het hulle dit nie as handewas erken nie. In Matteus 22:24 stel diegene onder die Sadduseërs weer ‘n vraag aan Jesus om ‘n wet van Moses uit te lê wat in die praktyk vir hulle probleme opgelewer het omdat hulle nie in die opstanding geglo het nie. So lees ons oral in die Evangelies van gesprekke wat Jesus met skrifgeleerdes en hulle interpretasies gevoer het.

Die strengheid waarmee baie Fariseërs die volk vermaan het, was deels daarvoor verantwoordelik dat hulle nie altyd geliefd was nie. Hulle het volgens Matteus 22:4 soms swaar eise aan mense gestel, maar dit tog self nie nagekom nie behalwe (vers 5) as hulle daarmee kon vertoon hoe vroom hulle was. Hierdie houding het gemaak dat die term Fariseër ongelukkig ‘n negatiewe klank gekry het van skynheiligheid. Tog moet ons daarteen waak om die Fariseërs nie so eensydig te beoordeel nie. Al was hulle opinies dikwels vergesog; het hulle oor die algemeen die toegewyde deel van die volk uitgemaak en was die Fariseërs die groep in Israel wat deur die eeue heen die Joodse geloof in stand gehou het en as die grondleggers van die moderne Jodedom gesien kan word. In moderne taal gesê was die Fariseërs die getroue kerkmense van hulle tyd.

Dit is ironies dat juis die Fariseërs sterk teen Jesus gekant was. Hulle diepe godsdienstigheid moes hulle tog eerder aangespoor het om na Jesus se leer te luister. Juis hier het die probleem gelê. Hulle wou niks aanvaar wat nie presies met hulle eie idees ooreengestem het nie. Jesus se uitleg van die Wet het hulle vererg gemaak. Verder was Jesus baie populêr onder die gewone volk (Markus 12:37, Johannes 12:19). Dit het die Fariseërs nie aangestaan nie, want hulle was mos die mense na wie die gewone volk moes opsien. Jesus was vir hulle dus n bedreiging. Veral ook as Jesus gesê het dat hy nie gekom het om die Wet ongeldig te maak nie, maar om die voile betekenis van die Wet te leer. Jesus het hulle ook dikwels baie skerp aangespreek, so erg dat in Lukas 11:45 ‘n skrifgeleerde aan Jesus sê dat hy hulle mos beledig as hy so oor hulle praat. Lukas 18:9 verwys na die Fariseërs as hooghartig – mense dus wat vroom wil lewe maar die sin van ware godsdiens nie verstaan het nie. Inderdaad tragiese mense.

 

Die Esseners

Die Esseners was gewis nog strenger as die Fariseërs. Hulle het egter min direkte invloed gehad omdat hulle afgeskei geleef het. Die Esseners was na skatting ongeveer 4 000 in getal en het in eensame plekke weg van die massas gaan leef om hulleself “rein” te hou. Hulle was askete wat in kommunes by En-Gedi in die nabyheid van die Dooie See gewoon het, byna soos die monnike van die Middeleeue.

Die Esseners het handwerk en landbou beoefen vir eie onderhoud en baie tyd bestee aan studie van die Skrif-veral oor morele sake. Hulle was baie gesteld op rituele reinheid en het allerhande voorskrifte hiervoor gehad. Om lid te word moes iemand ‘n periode van een of twee jaar deurgaan om horn van die wêreld te suiwer. Daarop volg ‘n tyd van inlywing met ede en studie. Aan die einde is ‘n nuweling eers toegelaat om aan die gemeenskaplike ete deel te neem. Die Esseners was almal ongetroude mans en het interessant genoeg geen diere as offers gebring nie – dalk om hulle nie met bloed te verontreinig nie. Hulle het geglo dat hulle vrome lewens sal maak dat God die boosheid van die wêreld tot ‘n einde sal bring wanneer ‘n Messias sal kom om die boosheid te oorwin.

Die Esseners het baie gedoen om ou manuskripte van die Ou Testament te bewaar. By Qumran waar die Esseners ‘n klooster gehad het, is baie boekrolle in 1947 gevind wat ouer was as die oudste manuskripte tot op datum van die Ou Testament. Die rolle het ook kommentare op Habbakuk, Nahum en van sommige Psalms bevat, verskeie reëls en voorskrifte, lofliedere, spreuke, ens.

Johannes die Doper se prediking het geklink na wat die Esseners ook verkondig het en die plek waar Johannes gedoop het, word tradisioneel aangewys naby die oorblyfsels van die Qumran klooster sodat sommige vermoed dat hy dalk op een of ander wyse met hulle verbind was. Johannes het ook soos die Esseners geregtigheid (d. w. s. om reg te lewe) gepreek, op bekering klem gelê en mense gedoop as simbool van reiniging en toewyding. Die verwysing in Lukas 1:80 dat Johannes in die woestyn gebly het tot op die dag van sy openbare verskyning word soms aangehaal om Johannes, wat dus ook ‘n askeet was, met die Esseners te verbind. Die gegewens oor sowel die Esseners as Johannes is egter onvoldoende om enige sekere verbinding tussen hulle te bevestig.

qumrangrotte

Die Dooie See rolle is ontdek in hierdie grotte naby Qumran.

Toe die Romeine ‘n rebellie in 66 n.C. in Palestina onderdruk het, is die klooster by Qumran ook verwoes. Die Esseners het egter hulle waardevolle manuskripte in byna ontoeganklike grotte versteek waar dit vir eeue bewaar gebly het tot dit (of ten minste dele daarvan) in 1947 ontdek is.

Skrywer:  Prof JP Louw