God voorsien oorvloedig

A diffuse and vague guilt feeling kills the personality, whereas the conviction of sin gives life to it- Paul Tournier, Switserse psigiater

God voorsien oorvloedig

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

The myth of scarcity ends in despair.  It gives us a present tense of anxiety, fear, greed and brutality … It tells us not to care about anyone but oorselves – Walter Brueggemann

Ons kan duidelik God se oorvloed in die skepping sien. God is lief vir sy skepping en voorsien wat nodig is vir die onsderhoud daarvan. Tog is ons huidige ekonomiese stelsels op die fondament van skaars hulpbronne gebou – die mite dat daar nie genoeg is nie. Dit is in teenstelling met wat die Bybel vir ons vertel.

 

Ons vrees dat daar nie genoeg hulpronne sal wees om in ons behoeftes te voorsien nie. Daar is ook nog ons begeertes: ons wil altyd meer hê sonder om dit wat ons reeds het in ag te neem. Die probleem is dat ons begeertes meestal fokus op dinge wat ons nooit volledig sal bevredig nie. Jesus waarsku ons: Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal of die een minder ag en die ander hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie (Matteus 6:24). Hierdie begeertes van ons maak ons blind  vir die behoeftes van ander – mense wat werklik tekorte het.

Ook gemeentes, in belang van oorlewing, klou desperaat vas aan hulle hulpbronne. In ‘n ondersoek het Barna gekyk na wat gemeentes doen as hulle begrotings krimp. Sy bevindings: hulle verminder uitgawes; hulle verminder personeel en bedienings; hulle verminder uitgawes aan hulle fasiliteite. Almal redelik, maar almal fokus net op uitgawes en glad nie op die inkomstekant nie. Ons is heeltemal blind vir die oorvloedige hulpbronne wat God voorsien.

Hoe moet ons oor God se oorvloedige voorsiening in hierdie wêreld getuig? Dankbaarheid; vrygewigheid; gasvryheid. Lees net weer Handelinge 2: Die eerste gemeente. Hulle is nie gedryf deur vrees nie;  hierdie gemeente het nie opgegaar nie. Behoeftes was geleenthede vir mense met hulpbronne om na vore te tree en dit beskikbaar te stel.

Die probleem is dat hierdie kultuur van oorvloed soos ons dit in God se koninkryk kry heeltemal teenstrydig is met ons huidige kultuur gebou op skaarsheid. Ons is so vasgevang in hierdie skaarsheidmentaliteit dat ons nie die hulpbronne wat God voorsien kan raaksien nie.

God’s work done in God’s way will never lack God’s supply – Hudson Taylor

Volgende keer gaan ons na dankbaarheid kyk.




SABBAT: DIE RITME VAN VERSOENING

If you are drawn into a controversy, use very hard arguments and very soft words. –C.H. Spurgeon

Sabbat: Die ritme van versoening

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Sabbat is ‘n dag wat opsy gesit is wat vorm aan ons karakter en identiteit gee. Dit is ‘n plek en tyd waar ons weer met God die bron van ons lewenskrag verbind. Die bekende rabbi en filosoof, Abraham Joshua Heschel sê dat die sabbat eternity in disguise is.

Vandag werk ons nie meer om te leef nie – ons leef om te werk.  Ons is trots dat ons so hard werk; dat ons nie tyd het om die sabbat te onderhou nie. Nêrens lees ons egter in die Bybel dat ‘n rusdag nie meer nodig is nie.

Harde werk is ook ‘n probleem vir leraars. Dit gebeur dikwels tot nadeel van ons gesin, ons stiltetyd. Die sabbat/Sondag is teen ‘n kultuur wat trots is daarop dat hy altyd besig is; wat ontspanning as luiheid sien.

In Eksodus 16 lees ons van die volk wat teen sy leiers murmureer: As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.  God gebruik dit egter as ‘n geleentheid om sy voorsiening en oorvoed te demonstreer – Hy gee aan die volk kos uit die hemel – manna. Elke dag moes hulle ‘n porsie manna optel, maar op die sesde dag ‘n dubbele porsie, want op die sewende dag was daar geen manna nie.

Chad Myers (The Biblical Vision of Sabbath) sê dat ons drie belangrike lesse uit hierdie gedeelte moet leer:

Die les van genoeg

Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak (16:18). Hulle moes net genoeg vir een dag bymekaarmaak. Kyk ons vandag na die enorme verskille tussen ryk en arm in die wêreld kom die vraag onwillekeurig by ons op: Wanneer het ons genoeg? Hoeveel geld/klere/motors/ens het ons werklik nodig? Dieselfde geld ook vir die gemeente: Wanneer het die gemeente genoeg en moet hy arm gemeentes help? Hierdie les van genoeg is belangrik, want dit leer ons om nie die lewe en welstand van ander te bedreig deur te veel vir onsself te neem nie.

Die waarde van herverspreiding

Manna kon nie gestoor word nie – daar het miet ingekom en dit het gestink (16:20). Hulle kon nie die manna opstoor om later teen ‘n profyt te verkoop nie. Hulle kon dit ook nie opspoor as versekering vir toekomstige tekorte nie. Israel moes sy rykdom sirkuleer en nie konsentreer nie. God voorsien oorvloedig vir ons sodat ons oorvloedig met ander kan deel.

Sabbatsgeloof en –dissipline

Om die Sabbat/Sondag te onderhou is eintlik ‘n geloofsdaad – ons vertrou dat die wêreld sal voortgaan sonder die insette van mense. Ons sê daarmee: God is in staat en gewillig om te voorsien. Dit beteken in werklikheid sewe dae voorspoed vir ses dae se werk. Hierdie benadering is later uitgebou tot die sabbatsjaar (Eksodus 23:10 – 11) en die hersteljaar (Levitikus 25:35 – 42).

Volgende keer gaan ons na die oorvloed wat God voorsien kyk.




Werk: Werk saam met God se versoeningsending (1)

Unless there is an element of risk in our exploits for God, there is no need for faith. —Hudson Taylor

Werk: Werk saam met God se versoeningsending (1)

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Werk is ‘n ingewikkelde, belangrike, selfs intieme deel van wat dit beteken om mens te wees. Dit is verbasend hoe min die kerk oor werk te sê het. Die kerk kan mos nie relevant wees as dit niks hieroor sê nie. As ons vir gemak of doeltreffendheid kortpaaie neem, verwater ons die vreugde van die evangelie. In ‘n kultuur wat deur gemak gedefinieer word, moet die kerk weer die betekenis van goeie werk ontdek. Ons moet ‘n balans ontwikkel tussen werk te ernstig opneem en dit glad nie ernstig opneem nie. Deur goeie werk te doen is een manier om as volgelinge van Jesus te reageer op die werk wat God reeds besig is om om ons te doen.

 

Die beginpunt van die Stadige Kerk se benadering tot werk is dat ons nie in beheer is nie. Alles, hemel en aarde, is God se huishouding. Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here (Psalm 24:1). Hierdie begrip van die huishouding is ‘n belangrike een in die Skrif. Vir die vroeë Christus beweging was dit die beginpunt van alle sosiale, politieke, godsdienstige en ekonomiese aktiwiteit. Die wet van God se huishouding is nie op skaarste nie maar op oorvloed gebou; nie op dood nie maar op lewe; nie op opgaar maar vrygewigheid. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God (Efesiërs 4:19).

Goeie werk behoort fundamenteel te beteken samewerking met God. Dit is gewortel in die werk wat God reeds gedoen het en steeds besig is om te doen in ons samelewing en die wêreld en ook in die kerk. Die normale definisie vir werk sluit gewoonlik daardie dinge uit wat ons doen sonder om daarvoor betaal te word – ouerskap, vrywillige werk, versorging van die tuin, ens. As ons die woord werk beperk tot dit waarvoor ons betaal word, bepaal ons baie gou die waarde van werk volgens die salaris wat betaal word. Moet ons nie eerder die belang van die werk bepaal deur die mate waartoe dit die samelewing baat nie.

Mense is na die beeld van God gemaak. Hy het vir ses dae gewerk en op die sewende dag gerus. God se opdrag aan die eerste mense was om vrugbaar te wees, en die aarde te bewoon en bewerk. Hy moet ook oor die diere heers. Al hierdie dinge behels werk. In Genesis 2:15 lees ons dat God die mens in die tuin laat bly het om dit te bewerk en op te pas.

Dwarsdeur die Skrif lees ons dat God mense vir sy werk toerus.Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen … Aan elke vakman het Ek die vaardigheid gegee sodat hulle alles kan maak wat Ek jou beveel het (Eksodus 31:3 – 6). In 1 Korintiërs 12:4 – 7 lees ons van die verskeidenheid van geestelike gawes wat die Gees gee – tot voordeel van almal. Werk wat die hele persoon betrek, dikwels in samewerking met ander, tot voordeel van die hele gemeenskap is die ideaal.

Hoekom word werk dan dikwels as betekenisloos gesien? Adam Smith (1723 – 1790) plaas werk sentraal in die lewe van die individu en die samelewing. Hy beskou werk slegs in terme van bruikbaarheid – nie menswaardigheid nie. Die doel van werk is produksie; die doel van produksie is verbruik. Mense werk dus, want dit gee aan hulle die mag om dinge te koop en vir dienste te betaal. Die belangrikste bron van ‘n land se rykdom is menslike arbeid. Hierdie skep probleme op die vlak van die individu – werk is iets wat ons moet vermy as ons dit kan bekostig.

Smith het in die verdeling van arbeid geglo – sekere beperkte dele van die vervaardigingsproses word aan verskillende mense gegee om sodoende doeltreffendheid te verbeter en produktiwiteit te verhoog. Werkers word uitgebuit; hulle take is dikwels herhalend, vervelig en onbevredigend – dehumaniserend. Daar is geen ruimte vir kreatiwiteit nie.

Frederick W. Taylor (1856 – 1915) verdeel  die werkplek in komponente wat gestandardiseer, gekwantifiseer, evalueer en beheer kan word. Hy vertrou nie werkers om hulle eie inisiatief te neem nie. Absolure uniformiteit is die kern. Werkers is meer produktief as hulle soos robotte ‘n vaste roetine volg. Saam met Henry Ford ontwikkel Taylor die eerste monteerbaan. Hier het ons die voorloper van McDonaldifikasie.

McDonalds  het ‘n opleidingshandboek wat alles presies voorskryf en dikteer elke aspek van werk in die restaurant – dit weeg amper twee kilogram! Dit is net reëls en regulasies – dit is tegnologie wat mense beheer. “In die verlede was die mens eerste; in die toekoms moet die sisteem eerste wees” (Frederick Taylor). Daar is selfs ‘n gemeente in Florida in die VSA wat ‘n werkboek vir hulle aanbiddingspan het – almal moet swart dra, hulle mag nie oorgewig wees nie, moet op ‘n spesifieke plek op die verhoog staan en mag niks dra wat die aandag op hulle sal verstig nie. Hulle mag selfs nie hulle hande oplig nie. Dit is beheer.

Die McDonalds handboek sê vir werkers hoe om op te tree onder elke situasie. Benader ons nie soms die Bybel op dieselfde wyse nie? Ons sien die Bybel as ‘n omvattende kaart wat ons deur die lewe moet lei – seker en doeltreffend. Gebruik ons nie dan die Bybel op ‘n manier wat dit nie bedoel is om te gebruik nie? Vir die Jode in die tyd van die Ou Testament was die Skrif die beginpunt van ‘n lewenslange gesprek met God wat in die konteks van ‘n groter gemeenskap plaasgevind het. Die Skrif is ‘n kompas en nie ‘n padkaart nie. Die kompas wys na Jesus – die ware noord. Dit is waar die reis – die gesprek, die verhouding – begin.

Volgende keer gaan ons kyk na die implikasies hiervan vir die kerk.




Leef saam op ‘n meer holistiese wyse

The first great gift we can bestow on others is a good example Thomas Morell

Leef saam op ‘n meer holistiese wyse

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Ons moet praktyke wat God se versoeningswerk in gedagte hou, aanvaar. Dit beteken ons moet ons besluitnemingsprosesse verlangsaam. Ons moet oorweeg wat die gevolge van ons besluite sal wees. Het almal die geleentheid gehad om hulle insette te gee? Weet ons presies wat op die tafel is? As jy onseker is, vra. Het jy oor die saak gebid en ‘n duidelike antwoord gekry? Ons dink so dikwels dat ons weet wat die beste vir ‘n ander persoon is.

Ons glo aan die arrogante aanname dat ons verplig is om mekaar te red. Deur te luister skep ons die omstandighede wat die persoon toelaat om self sy eie heelheid te ontdek.

Christene moet voor loop op die pad na ‘n kultuur waar selfbelang en onmiddellike bevrediging nie aan die orde van die dag is nie. Baie skade is berokken aan ons kerke en gemeenskappe deurdat ons nie aandag gegee het aan God se versoening van alle dinge nie. Ons moet die ingewikkelde verbintenis van mense en plekke aanvaar as ons die gevolge van ons besluite oordink. Soos ons ‘n groter verskeidenheid na die tafel bring, sal die pas van ons lewe onvermydelik vertraag word. God is nie haastig nie en Hy het ons geroep na ‘n lewe wat aan sy versoeningswerk aandag gee. Ons ongeduld het ons aandag van ons roeping weggetrek.

Hoe kan ons saam met God se versoeningsending werk. Daarna kyk ons volgende keer.