Bewegings teenoor Instellings
If we could change ourselves, the tendencies in the world would also change. As a man changes his own nature, so does the attitude of the world change towards him. … We need not wait to see what others do. – Mahatma Gandhi
Bewegings teenoor Instellings
Organisasies moet beide kenmerke van instellings en die dinamika van bewegings hê. Instellings bevorder stabiele gedragspatrone deur reëls en beleid wat stadig verander. Mense se keuses word beperk. Instellings vertrou op die onderwerping aan ‘n gevestigde gesag wat waardes en doelwitte van die verlede bewaar.
Hulle is noodsaaklik want hulle verskaf betroubare sisteme vir wat gedoen moet word.. Die instelling is eintlik die skelet van die liggaam. Instellings bring orde in die lewe.
Bewegings het meer te doen met die uitoefening van persoonlike voorkeure – dit vorm die toekoms. ‘n Beweging het vier sleutel kenmerke: visie, opoffering, buigsaamheid met eenheid. En spontaneïteit.
- Visie. Dit is ‘n duidelike, aantreklike beeld van die toekoms wat die beweging en sy leiers probeer bereik – as dit is waar jy wil wees, kom saam met ons. Dit gaan saam met ‘n stel waardes waaraan die beweging toegewyd is. Die inhoud van die visie moet so gekommunikeer word dat ander dit maklik kan verstaan; die inhoud moet so oortuigend wees dat ander dit kan leer en uitvoer sonder veel sentrale beheer of bystand. Instellings het gewoonlik ‘n doel wat iewers neergeskryf is, maar wat die instelling bymekaar hou, is nie sy visie nie, maar sy reëls, regulasies en prosedures.
- Hierdie saambindende visie lei tot ‘n kultuur van opofferende toewyding en intrinsieke belonings. Individue plaas die visie voor hulle eie belange en gemak. Die bereiking van hulle doelwitte is hulle grootste beloning – interne, persoonlike vervulling. In ‘n instelling het elke posisie duidelik gedefinieerde regte en voorregte sowel as duidelike vergoeding en voordele. Die insentief is hierdie belonings. Hulle werksuitsette word versigtig met hierdie belonings gebalanseer. As net die leiers in jou gemeente opofferings maak, het jy nie ‘n bewegingskultuur in jou gemeente nie.
- Bewegings word gekenmerk deur vrygewige buigsaamheid teenoor ander organisasies en mense buite – nie lede nie. Vir bewegings is die wat (die bereiking van die visie) belangriker as die hoe en die wie. Hulle werk saam met almal wat hulle belangstelling in die visie deel. Instellings stel meer belang in oorgeërfde tradisies, die regte prosedures en geakkrediteerde mense. Omdat ‘n gees van buigsaamheid deel is van bewegings is daar ‘n hoë mate van eenheid. Instellings, daarenteen, hou daarvan om terreine af te baken. Sy eie welstand is dikwels belangriker as die welstand van die geheel. Daar is gewoonlik nie eenheid binne die instelling nie.
- Bewegings genereer nuwe idees en leiers van binne af. Instellings is op langtermyn oorlewing en stabiliteit ingestel. Hulle waag nie sommer nie. Bewegings gee nie om om te waag nie – hulle lede maak in ieder geval reeds opofferings. Bewegings trek en beloon leiers wat resultate lewer. Instellings, weens hulle klem op stabiliteit en oorlewing, beloon leiers vir jare diens en die verkryging van aanvaarde kwalifikasies – jou CV is belangrik.
‘n Beweging kan nuwe idees genereer, want dit moedig mense aan om te debatteer en te bespreek. Hulle is meer geneig om te eksperimenteer en nuwe idees te probeer. Hulle is minder hiërargies en afgesonder in silo’s. Nuwe idees kry vinniger vastrapplek. Bewegings trek ambisieuse en kreatiewe mense. Omdat hulle op resultate fokus, sien hulle ontluikende leiers vinniger raak. Bewegings groei vinniger, want hulle toets van nuwe idees veroorsaak dat hulle vinniger by veranderinge in die omgewing kan aanpas.
Die probleem is dat bewegings instellings kan word: visie word strategie; rolle word take; spanne word strukture; netwerke word organisasies; erkenning word kompensasie. Ons moet versigtig wees om ‘n skerp lyn tussen die twee te trek. Daar is natuurlik goeie redes om die kerk as instelling te kritiseer, maar die indruk dat alle gesag, gesentraliseerde beheer en formele prosesse sleg is, is verkeerd. Die werklikheid is baie meer ingewikkeld.
- Nuwe gemeentes en bedienings probeer hard om informeel en nie-gesentraliseerd te wees, maar dit kan nie 100% so wees nie. As ons ‘n keuse maak – ‘n nuwe beleid, administratiewe struktuur of konsensus oor waardes en geloof – begin ons mense se roetines, verwagtings en voorkeure vorm – die begin van ‘n instelling.
- ‘n Mate van instelling is verkieslik. Die visie staan sentraal in ‘n beweging, maar hierdie visie kan nie elke jaar verander nie. Dit beteken die visie vereis ‘n mate van kodifisering en beheer. Om ‘n verenigde visie daar te stel vereis sekere aspekte van ‘n instelling.
- Bewegings maak staat op die opofferings van hulle lede – veral aan die begin. Dit is nie volhoubaar nie. Groot visies vereis ‘n langtermyn poging. Hulle moet genoeg inkomste genereer om hulle uitgawes te dek. Anders word al die beste persone uitgebrand.
‘n Sterk dinamiese beweging beklee ‘n plek van spanning en balans – tussen ‘n vry organisme en ‘n gedissiplineerde organisasie. ‘n Beweging wat weier om sekere organisatoriese eienskappe – gesag, tradisie, eenheid van wat ons glo en kwaliteitsbeheer – te aanvaar, sal uiteindelik fragmenteer en verdwyn. Bewegings wat nie totale institusionalisering weerstaan nie, sal hulle lewenskragtigheid en doeltreffendheid verloor. Die leier van ‘n beweging moet sy skip veilig tussen hierdie twee gevare stuur.