God made people because God loves stories – Talmoed
Bonhoeffer (33)
Ek wil enkele gedeeltes uit 40-Day Journey with Dietrich Bonhoeffer (Augsburg Books) hanteer.
As ‘n ander Christen ooglopend sondig, moet hy tereggewys word, want God se Woord vereis dit. Dissipline in die geloofsgemeenskap begin by vriende wat na aan mekaar is.
Vermaning is nodig as daar ‘n afwyking in die leer of optrede van ‘n lid van die geloofsgemeenskap is – dit stel die gemeenskap wat saam lewe in gevaar.
Niks is erger as toegeeflikheid wat ander aan hulle sonde oorlaat nie. ‘n Ernstige teregwysing wat ‘n Christen in die gemeenskap terugroep van die sondige pad wat hy loop, is deernis. As ons niks anders as God se Woord toelaat om tussen ons te staan nie, is dit ‘n teken van ware gemeenskap. Soms moet ons oordeel, maar altyd moet ons help. Dit is nie ons wat oordeel nie – God alleen oordeel en sy oordeel genees ons.
Bonhoeffer gee weer twee Bybelgedeeltes om ons te help:
- Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n Gees van sagmoedigheid reghelp (Galasiërs 6:1).
- Ontferm U weer oor ons, o God, ons Verlosser, moet tog nie langer op ons toornig wees nie (Psalm 85:5).
Beskou ons nog sonde as iets ernstig? Hoe kan ons iemand teregwys sonder dat ons hoor dat Christene altyd besig is om te oordeel?
Here, maak my ore oop dat ek u woorde van teregwysing hoor. Ek moet dit hoor sodat ek in liefde en trou kan groei. Amen.