By Paulus se dood
“Since our goodness cannot reach the Lord…we must exercise it towards the saints who are on earth” ~ John Calvin
By Paulus se dood
Het jy al ooit gedink wat jy op jou grafsteen geskryf wil hê? Morbiede vraag? Ons moet periodiek stop en aan ons lewens dink. In Handelinge 20 gee Paulus ‘n afskeidspraatjie aan ‘n klompie vriende – die ouderlinge van Efese. Dit is eintlik ‘n opsomming van sy hele lewensfilosofie. Hy maak vyf stellings.
- Ek was getrou om te doen wat Jesus vir my gesê het om te doen
Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak (20:24) Dit is al wat saak maak. Daar is mense wat glo dat hulle taak is om die hele wêreld reg te kry; hulle dra die gewig van die wêreld op hulle skouers. Ongelukkig voel dit asof niks wat hulle doen ooit genoeg is nie. Dan is daar mense wat glo dat God geen verantwoordelikheid aan hulle gegee het nie. Ons is nie verantwoordelik om die wêreld te red nie, maar ons moet die lewenstaak wat Jesus vir ons gegee het, vervul. Sukses in die lewe is om te identifiseer waarvoor God jou geroep het en dit getrou te doen.
- Ek het die waarheid vertel
Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie (20:20); Want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie (20:27). Paulus was nie verantwoordelik vir die inhou van die boodskap nie – hy het dit net oorgedra. Natuurlik kan die waarheid van die evangelie vir sekere mense aanstoot gee. Mense hou nie daarvan om van sonde en die oordeel van God te hoor nie. Daarom verkondig ons nie die hele evangelie nie, want dit is ongemaklik. Charles Spurgeon sê: “If sinners be damned, at least let them leap to Hell over our dead bodies. And if they perish, let them perish with our arms wrapped about their knees, imploring them to stay. If Hell must be filled, let it be filled in the teeth of our exertions, and let not one go unwarned and unprayed for.”
- Ek het mense se aandag op Jesus en nie op myself gevestig nie
Paulus beskryf sy bediening as een gevul met nederigheid en droefheid (20:19). Dit is nie hoe meeste van ons ons lewens sou opsom nie. Ons verkies woorde soos oorwinning, mag en geluk. Nederigheid is nie in die Griekse samelewing as ‘n deug gesien nie. Hoekom is dit in die Christelike geloof ‘n deug? Want die Christelike geloof gaan nie oor mense met buitengewone karakters nie, maar oor ‘n groot Verlosser wat die swakste mense – gebroke en sondig – kan red.
- Ek het sterk geëindig
Baie mense wat Christus volg, begin baie sterk en met baie goeie bedoelings, maar hulle kan nie tot aan die einde volhou nie. Paulus het baie bereik, maar hy besef dat dit alles tevergeefs sou wees as hy nie sterk eindig nie (20:24). Ons probleem is dat ons graag die taak wat Jesus vir ons gegee het, wil voltooi, maar ander dinge trek ons in ‘n ander rigting. Ons liefde is verdeel.
- Ek het meer gegee as wat ek ontvang het
Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang (20:35). Dit is ‘n goeie perspektief om in al ons verhoudings te aanvaar – in jou huwelik, jou werk, jou vriendskappe en jou aftrede. Maar waar kry ons die krag om meer te gee as wat ons ontvang? Net by Christus. Paulus kon dit doen, want daar was een verhouding waar hy altyd meer gekry het as wat hy gegee het – sy verhouding met Jesus Christus. Ons kan nooit vir Jesus betaal vir wat Hy vir ons gedoen het nie. Omdat Hy Hom volledig aan ons gegee het, kan ons onsself aan ander gee sonder om ons te bekommer of hulle vir ons iets terug sal gee.