Die Here sê vir my Here – Jan van der Watt

Vraag

‘n Leser vra

Waar in die Bybel staan die woorde: As die Here dan vir my Here gesê het…..

Antwoord
Prof Jan van der Watt antwoord:

Ps 110:1; Mat 22:44; Mk 12:36; Dit is dus ‘n Nuwe Testament aanhaling uit die Ou Testament

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Naam in Bybel – Francois Malan

Vraag

‘n Leser vra:

Iewers is n persoon in die Bybel ‘n naam gegee wat beteken “Ek het jou van God Gebid”

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Lees die hele 1 Samuel 1 vir die agtergrond van 1 Samuel 1:20: Hanna het haar seun Samuel genoem, ‘want,’ het sy gesê: ‘van die HERE het ek hom gevra.’ Die naam Samuel is in Hebreeus ’n samestelling van twee woorde: sjama ‘hoor’ en ‘verhoor;’ ‘el ‘God.’ Samuel ‘verhoorde van God’ wat beteken ‘deur goddelike verhoring geskenk.’

Skrywer:  Prof Francois Malan




Twee kinder die name van plunder en roof – Francois Malan

Vraag

‘n Leser vra

Waar staan dit dat twee kinder die name wat plunder en roof moet wees

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

Die 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel is nader aan die oorspronklike Hebreeuse teks en word hier gevolg.

In Jesaja 8:3-4 staan dat Jesaja by die profetes ingegaan het en sy het swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. Toe het die HERE vir my gesê: Noem hom ‘Vinnig-buit-spoedig-roof’ in Hebreeus maher-sjalal-gasj-baz. Want voor die seun weet om te sê: ‘Pa!’ en ‘Ma!’ sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaria voor die koning van Assirië uitdra..

Dit volg op Jesaja 7. Damaskus, die hoofstad van Sirië, en Samaria, die hoofstad van Israel se tien noordelike stamme, het ’n verbond gesluit om Juda se gebied in te val en oor te neem, waar Agas koning van Juda in Jerusalem regeer het. Agas het toe vir Assirië ’n klomp goud gestuur wat hy van die tempel en die paleis gestroop het, om hom te kom help teen sy twee bure wat besig was om Juda se gebied oor te neem.

Die HERE het vir Jesaja gestuur om vir Agas te sê die HERE sal hom help en hy kan ’n teken vra om dit te bevestig. Maar Agas het klaar sy hoop op Assirië geplaas en gesê hy gaan nie die HERE versoek nie. Toe gee Jesaja aan Agas ’n teken van die HERE: 7:14 en 16: Kyk, ’n jong vrou is swanger, en gaan ’n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel (‘God is by ons’) noem…voordat die kind weet om die kwaad te verwerp en die goeie te kies, sal die grondgebied van die twee konings oor wie jy verskrik is, verlate lê.

Jesaja het toe reeds by sy jong vrou ingegaan, wat swanger geword het en die seun in die wêreld gebring het. Die HERE het toe gesê hy moet die seun ‘Vinnig-buit-spoedig-roof’ noem. Dit is wat met Damaskus en Samaria gebeur het toe Salmaneser van Assirië hulle beleër het en Israel se tien stamme na Assirië in ballingskap weggevoer het (2 Konings 18:9-12). Dit het gebeur omdat die HERE by Juda was (Immanuel).

Die Griekse vertaling het die Hebreeuse ‘jong vrou’ (‘alamah) met ‘maagd’ (parthênos) vertaal en Matteus 1:23 het die Griekse vertaling se maagd op Maria toegepas oor die geboorte van Jesus as God met ons, ‘Immanuel.’

Skrywer: Prof Francois Malan




Die dimensies van God se koninkryk – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Kan julle vir die mense uiteensit wat God van praat of wat Hy bedoel met die vier dimensionaliteit van die koninkryk van God, volgens Efesiërs 3:18 en Markus 12:30. Dit is so ’n fenomenale openbaring. Die opsomming daarvan, wat die Vader my nou al gegee het, strek al oor 100 bladsye. Ek glo julle sal weet wat God alles bedoel het daarin.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek is ’n bietjie onseker oor wat ons vraagsteller presies bedoel met die “vier dimensionaliteit van die koninkryk van God” soos dit in Efesiërs 3:18 en Markus 12:30 na vore sou tree. Hy verwys waarskynlik na die feit dat in beide tekste vier dinge genoem word, maar die viertal wat in dié tekste voorkom verwys nie na dieselfde dinge nie. Die beste wat ek kan doen, is om gewoon ’n uitleg te gee van die twee tekste. Hopelik sal dit lig werp op die saak wat die vraagsteller graag aan die orde wil stel.

Efesiërs 3:18

Hierdie teks lui soos volg (volgens die 2020-Direkte Afrikaanse Vertaling van die Bybelgenootskap van SA): “… sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die heiliges tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte …”

Om dié teks na behore te verstaan, moet dit in sy onmiddellike verband geplaas word. Paulus is in 3:16-19 besig met ’n gebed. Hy bid vir drie dinge: 1. Dat die gelowiges innerlik versterk mag word (v16-17). Dit gebeur wanneer die Gees werksaam is in gelowiges en Christus in hulle harte woon; 2. Dat hulle kennis van die volle omvang van God se openbaring sal toeneem, veral wat die liefde van God behels (v18-19a); 3. Dat God se volle heil in hulle lewe ’n werklikheid sal word (v19b).

Dit is duidelik dat 3:18 deel is van die tweede bede. Paulus bid dat die gelowiges tot die besef / die kennis sal kom wat “die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte” (van God se openbaring) is. Uitleggers het al baie verklarings aangebied vir wat hierdie viertal – die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte – presies sou beteken. Ek gaan hulle nie almal hier noem nie, maar slegs op die mees waarskynlike verklaring ingaan. Die agtergrond van hierdie uitdrukking lê waarskynlik in die Ou-Testamentiese wysheidsliteratuur, waar soortgelyke uitdrukkings voorkom. Vergelyk byvoorbeeld Job 11:7-9: “Kan jy die geheimenisse van God ontrafel …? Dit is hoër as die hemel … Dit is dieper as die doderyk … Langer as die aarde … en breër as die see.” Hier kry ons die gedagte dat die geheimenis van God se wese en werksaamheid onpeilbaar is. ’n Mens kan dit nie ontrafel nie; die omvang daarvan is ver bokant ’n mens se begrip. Job vergelyk dit met die onmeetbaarheid van die hemel, die doderyk, die aarde en die see. Met ’n soortgelyke viertal wil Paulus dan ook in Efesiërs 3:18 dui op die onpeilbare omvang van God se heilswerk in Christus. ’n Mens kan dit nie met jou verstand volledig begryp nie. Tog bid Paulus dat die gelowiges in staat mag wees om iets van hierdie omvang – die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte – te begryp. ’n Soortgelyk gedagte tref ons ook in Romeine 11:33-36 aan, waar Paulus wys op die diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God, dat sy oordele ondeurgrondelik en sy weë onnaspeurlik is.

Wat verder betekenisvol is in Efesiërs 3:18-19 is dat hierdie kennis van God se omvangryke heilswerk in Christus gekoppel word aan die korporatiewe kennis van die gelowiges en aan die liefde. Korporatief: Paulus sê dat hulle “saam met al die heiliges” tot die besef mag kom van God se omvangryke genade. Dit gaan dus nie soseer oor ’n individuele, mistieke ervaring van God nie, maar dat gelowiges mekaar nodig het om tot hierdie kennis te kom. Sáám moet hulle soek na God se omvangryke genade. Hoe meer ons mekaar opsoek, probeer agterkom hoe God in almal se lewe sy genadewerk uitvoer, hoe meer leer ons dit ken en hoe meer staan ons verwonderd daaroor. Maar daar is nog iets: Kennis is nie alles nie; daar is iets wat kennis te bowe gaan, en dis die liefde. Daarom dat Paulus in 3:19a bid dat die gelowiges Christus se liefde sal leer ken, wat alle begrip te bowe gaan. Kennis kan opgeblase maak, soos Paulus op ’n ander plek sê: “Kennis maak verwaand, maar liefde bou op” (1 Korintiërs 8:2). Ook die kennis van God se omvangryke genadewerk moet altyd staan in die teken van die liefde wat alles bedek (1 Korintiërs 13:7).

Om dus saam te vat: Die viertal van Efesiërs 3:19 verwys nie soseer na afsonderlike dimensies wat elkeen op sy eie geneem moet word nie, maar druk gesamentlik die totale omvang van God se genadewerk uit. Dis Paulus se gebed dat die gelowiges grondige kennis hiervan sal bekom.

Markus 12:30

Hierdie teks lui: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.” Weer eens het ons hier met ’n viertal te doen – hart, siel, verstand en krag – maar hierdie keer verwys dit nie na die totale omvang van God se genadewerk aan ons, soos by Efesiërs 3:18 nie, maar hoe ons as mense God moet liefhê. In kort beteken dit dat ons God met ons hele menswees sal liefhê; “hele menswees” word hier konkreet uitgedruk as hart, siel, verstand en krag. Markus 12:30 is natuurlik ’n aanhaling van Deuteronomium 6:5 waar Israel reeds die opdrag kry om God lief te hê met hart en siel, met al hulle krag. Markus (soos ook Lukas 10:27) voeg egter “verstand” by, hoewel by Matteus 22:37 daar net ’n drietal voorkom (“krag” word weggelaat).

Uit hierdie vier- of drietal moet ons nie die afleiding maak dat die mens uit drie of vier dele saamgestel is nie, asof die mens ’n samevoeging van afsonderlike “onderdele” is wat uiteindelik die hele mens uitmaak nie. Dit is eerder so dat elkeen van hierdie woorde die hele mens beskryf, vanuit ’n bepaalde perspektief gesien. So is die hart die bron van die menslike bestaan, van waaruit sy denke, gevoel en wil voortspruit; die siel is die menslike bestaan gesien vanuit sy vermoëns en begeertes; die verstand is die mens gesien as ’n redelike, denkende, verantwoordelike wese; en die krag is die mens gesien vanuit sy gerigtheid op ’n taak, sy toewyding. Wanneer al drie (of vier) saam genoem word, wil dit dus net sê dat die mens in sy totaliteit, in sy volle menswees, vanuit alle perspektiewe gesien, betrokke is. En so, sê Markus 12:30, moet ons God liefhê. Niks van wie jy as mens is mag uitgesluit word by jou gerigtheid op God nie. Hy eis jou as totale mens vir Hom op.

Ek vertrou dat bostaande oorsig ’n bydrae sal lewer tot ons vraagsteller se eie ondersoek.

SkrywerProf Hermie van Zyl