Geld wat stom is, makie altyd reguit wat krom is nie. – Johann Voges

Lukas 16 19 – 31

‘OralOor’Kinders

Johann Voges 2021

Here, ek vergeet so maklik van al U ‘anderste’ kinders

dink altyd net aan die ou biekie wie ek ken of van hou

Oral op dese aarde versprei bly U ‘verskillende’ kinders

oppie platteland, innie wye vlak en ‘watter ookal’ gebou

ook daai wat in agterstrate bly, U ‘saamklonter’ kinders

en dies wat somma waar hul is ʼn eie ‘plakker’krot bou

Makie saak wie ons is of wa’ ons bly, u ‘oraloor’ kinders

elk sukkel om te wys hoe om U lief te hê en te vertrou

Ons probeer elkeen vir U gesê kry in ons eie ‘hart’taal

oor wat ons kommer, bangmaak en wat ons nodig het

ʼn onduidelike pratery vir mekaar in elk se eie war’taal’

U ken ons behoeftes en sien die swaarkry wat ons het

hulle s’n is vir U net so belangrik as die wat ek ophaal

Soms help U wa’ hul is en annerdag weer in my opset

nie dat ons saamstem oor hoe U elkeen se vra verhaal

Here, dankie hoe U vir elke ‘oral’kind sorg al kla ons net

Ek besef hoe beknop en erg benoud is my klein leefplek

ek vergeet hoe groot issie wêreld wa’in U sorg en liefhet

Ek praat maklik van ‘ons’ en ‘hulle’ sonder enige respek

Here, help my u ‘oral’kinders liefhê soos wat U my liefhet

hulle ook die onverskoonbare te kan vergewe oppie plek

soos wat U vir my die onvergeeflike lankal vergewe het

Here, mag da’ in my vir u ‘oral’kinders ook deernis wees

hul as ewe mense aanvaar hoe naby of ver hul ookal is

Dat ek vir elkeen ook ʼn onverwagse naaste kan wees

oral waar ons mekaar se raakloop- of ‘verby’lopers is

Mag u liefde ons tartende klaarkom makliker laat wees

U sorg vir my, my nabymense en wie vreemdelinge is

Dis gek dat die wie ek nie ken vreemdelinge sou wees

seker maar ook hoe hul voel hoe vreemd ek vir hulle is

Niemand is vanselfsprekend altyd gewillig om oral te wil help nie

            Sommer so met die intrapslag in hierdie Jesus storie oor die rykman en Lasarus in Lukas 16 struikel ʼn mens maklik oor al die verskillende en uiteenlopende goeters wat hier gesê word wat nie juis sin maak nie. Die enigste onverwagse opmerking, is dat die ryk man vers 20 – 21 en Abraham vers 24e.v. albei ewe onwillig is om mense wat sukkel te wil help. Dit pas glad nie by die Abraham prentjie, wat juis in die Joodse tradisie gerespekteer word, as dié beste voorbeeld van hoe gasvryheid en gewilligheid om ander te help behoort te lyk nie Genesis 13:5e.v., 14:20e.v. en 18:1 – 8.

            Heel vroeg in die kerkgeskiedenis bladsye is hierdie storie hoofsaaklik allegories verstaan, wat Jesus se vertel daarvan eintlik nog meer verduister. Die ou kerkvader Augustinus 354 – 430nC het gesê die ryk man verwys na die Jode en Lasarus na die heidene; die vyf broers na die vyf wetboeke en Lasarus se swere na gelowiges se belydenis. Gregorius die Grote 540 – 604nC het hieraan min of meer dieselfde betekenis gegee met so ʼn eie kinkel daarby. Vir hom verteenwoordig die ryk man die Jode, wat die wet misbruik het om hulleself te bevoordeel en te verryk ten koste van alle ander mense, terwyl Lasarus die heidene simboliseer, wat nie skaam was om hul sondes te bely nie (Lasarus se baie wonde en sere). Die krummels wat van die ryk man (die Jood) se tafel val, verteenwoordig die Joodse wet en die aflek van Lasarus se sere dui op genesing; dis die belydenis van sondes aan die heilige dokters (die pousdom). Omdat die heidene se sondes vergewe is, sal hulle hemel toe gaan, en die Jode sal ewige pyniging op hulle lippe ontvang (dors hê) as gevolg van die wet wat hulle baie goed geken het, maar verkies het om nie te doen nie.

            In die tyd van die hervorming het Luther 1483 – 1546 hierdie Jesus storie verstaan as ʼn waarskuwing dat christen-wees meer is as om net uit die moeilikheid te bly en dat dit eerder gaan oor hoe belangrik dit is dat jy ook hulpvaardig en goed vir ander mense moet wees. Vir Luther is hierdie gelykenis ook ʼn verbod om dooies te wil raadpleeg en dat ons eerder na antwoorde in die Bybel moet loop soek op enige vrae wat ons ookal daaroor mag hê. Calvyn 1509 – 1564 het enige vorm van allegorisering van Jesus se stories probeer vermy en altyd na ʼn sentrale tema daarin gesoek. Volgens hom verwys Jesus in Lukas 16 na wat met elkeen gebeur wat armes om hulle verwaarloos terwyl hulle hul verlustig in hulleself en eie plesier. Hy het ook gesê dat die betekenis van ‘Abraham se boesem’ ‘n metafoor is wat wys op die feit dat God se kinders vreemdelinge en pelgrims in die wêreld is, maar as hulle die geloof van hul vader Abraham volg, sal hulle ʼn geseënde rus beërwe die dag as hulle te sterwe kom. Dis daai sogenaamde ‘rus in vrede’ waarna ons steeds tot vandag toe nog verwys wanneer iemand te sterwe kom.

            Die eerste histories-kritiese verstaan van hierdie storie was toe verklaarders begin sê het dat dit uit twee losstaande dele bestaan, tw. vers 19 – 26 (die opponerende en heel verskillende lewens van die ryk mense en die arm Lasarusse in hierdie wêreld) en vers 27 – 31 (die algehele en permanente ommekeer van die lotgevalle van die ryk man en Lasarus in die hiernamaals). Sedertdien is baie verklaarders van mening dat die sentrale gedagte van Jesus se storie juis in die tweede deel van die gelykenis gesoek moet word. Dat Jesus juis hiermee wou waarsku teen die gevare wat voortspruit uit die liefde vir rykdom en hoe belangrik dit is om eerder vir die armes te sorg.

            As ʼn mens so deur die kerkgeskiedenis bladsye blaai oor hoe almal dié storie probeer verstaan het, is al wat tot op hierdie stadium daaroor duidelik is: “dat dit nie in hier gaan oor die hiernamaals en dan waarborg wat jou daaruit of daarin gaan laat kom nie”.

Die eintlike storie agter Jesus se storie

            In byna alle interpretasies van hierdie gelykenis is daar ʼn fokus op die ‘teenoorgesteldes’ wat daarin voorkom. Die eerste drie verse van die gelykenis stel die eerste twee karakters bekend: een binne-in die hek (die een aan wie die poort behoort) en een buite daardie poort. Die man binne die poort het geen naam nie, word beskryf as ryk, trek pers en fyn linne aan en smul elke dag weelderig (vrolik) aan die oorvloed kos tot sy beskikking. Die persoon buite die poort het ‘n naam – Lasarus – en word beskryf as arm, is oortrek met sere en het glad niks om te eet nie. ‘Lasarus’, beteken ‘God help’, (dis ‘n verkorte vorm van die naam Eliëser (of Eleasar), die naam van Abraham se slaaf Genesis 15:2). Die ryk man het kos en vriende in oorvloed, terwyl Lasarus honger is (verlang daarna om gevoed te word al is dit dan ook maar net van dit wat van die ryk man se tafel geval het) en hy het net honde vir geselskap. Die ryk man het die vermoë om te gee; Lasarus kan net bedel, vir sover hy dit wel nog kan doen. Aangesien die poort aan die ryk man behoort, kan hy daardeur gaan, terwyl Lasarus dit nie kan doen nie. Hierdie verskille tussen die ryk man en Lasarus word dan saamgevat in die woorde van Abraham aan die rykman in die hierna­maals: “Dink so ’n bietjie terug. Daar op die aarde het jy alles gehad wat jou hart begeer. Maar Lasarus het net swaargekry” Lukas 16:25a.

            Dan sterf beide die ryk man en Lasarus in die storie Lukas 16:22. ʼn Algehele ommekeer van hul vorige onderskeie lotgevalle vind dan hier plaas. Lasarus word deur die engele weggevoer na Abraham, waar hy vertroos word (aan Abraham se boesem), terwyl die ryk man begrawe word en hom in ‘n plek van pyniging en angs bevind. Lasarus lewe nou in oorvloed (water) en is in staat om te gee; terwyl die ryk man smag na ‘n blote druppel water. Net soos Lasarus voor sy dood begeer het om gevoed te word deur die krummels wat van die tafel van die ryk man geval het. Die situasies van die ryk man en Lasarus het dus drasties verander: Lasarus is nou ‘binne’, en die ryk man is ‘buite’. Tussen hulle is ‘n kloof wat nie oorgesteek kan word nie. In die woorde van Abraham in die storie: “Nou is die rolle omgekeer. Nou is Lasarus gelukkig, en jy ly baie. Weet jy, dis nou te laat om iets daaraan te doenLukas 16:25b.

            Dis duidelik dat die verstaan van Jesus se storie nie gaan oor teenoorgesteldes daarin nie, maar wel wat die een ooreenkoms daarin is tenspyte van al die verskille. Daar is baie verskille, maar net een ooreenkoms – hoewel die lotgevalle van die ryk man en Lasarus drasties verander, het een ding dieselfde gebly: diegene wat die vermoë het om te help, help nie. Beide die ryk man vers 20 – 21  en Abraham vers 24e.v. is onwillig om die een te help wat hul hulp nodig het.

            Die ryk man, hoewel hy in pyniging is en dors het, is nie bekommerd nie … want, volgens hom, is Abraham ook sy vader en, in ooreenstemming met wat bekend is van Abraham se gasvryheid, verwag hy dat Abraham hom ook sal help. Hy is nou die een wat in nood is, en net soos in die geval van Lasarus, word daar gunstig deur Abraham gekyk na diegene wat in nood is … so glo hy vanuit sy Joodse tradisie. Daarom dat hy hier vir water vra. Maar dan die verrassing in Jesus se gelykenis. Abraham is nie bereid om te help nie. Abraham bied nie eers een druppel water aan om van Lasarus se vinger af te lek nie. Dit lyk nou amper asof Lasarus, wie se sere die honde gelek het, beter daaraan toe was as die rykman waar hy nou hier aan die anderkant is. Dit is inderdaad ‘n ironie of teenstelling wat nie rêrig sin maak nie – Abraham wat veronderstel is om altyd gasvry te wees teenoor alle mense, weier om die ryk man te help. Die ondenkbare gebeur: Abraham toon geen gasvryheid nie. Dan die groot en laaste skok … die hek tussen hulle kan nie oopgemaak word nie. Niks kan hier deurgegee word nie … dis vir altyd gesluit.

            Dis juis in hierdie ‘onverwagse’ waarin die sentrale gedagte, van hierdie storie wat Jesus vertel het, gesoek moet word. Jesus wou met sy storie sê: “Wanneer enige beskermheer, wat in sy oorvloed van alles te mag hê, nie deur die poort na die armes toe gaan nie, word ‘n same­lewing geskep waarin ‘n kloof so groot tussen ryk (die elite) en arm (die boerestand) ontstaan dat dit nie oorgesteek kan word nie. Die wêrelde van die stedelike elite en die boerestand kan so ver van mekaar wegdryf dat die gaping tussen hulle uiteindelik nie meer oorbrug kan word nie”. Net so ondenkbaar as wat dit vir Abraham is om nie te doen wat hy kan nie, so is dit ondenkbaar vir diegene wat kan help om dit nie te doen nie. Abraham, synde die voorbeeld van gasvryheid, het geen rede om sy rug op die ryk man te draai nie. Dieselfde geld vir die ryk man … niks het hom in die pad gestaan om Lasarus te help nie, hy kon as hy wou.

            Wat is die probleem of gevaar waarna Jesus hier verwys wat tussen mense kan gebeur die dag as hulle so vervreemd van mekaar geraak het dat niemand meer bereid is om na mekaar uit te reik nie as gevolg van die onoorkombaarhede tussen hulle?

Jesus se storie in ons tyd.

            Ek het hierdie storie[1] van ʼn Jodin raakgelees, wat besluit het om op haar manier ʼn verskil te probeer maak aan die pyn wat daar by mense is as gevolg van hulle oor en weer wanpersepsies van mekaar. Sy gaan bied toe haar dienste aan by die “Facing History and Ourselves’ organisasie wat poog om as deel van skoolkinders se leerplan te probeer help met hoe ʼn mens enige vooroordele teenoor ander mense uitgeroei kan kry. Sy het as gids opgetree waar skoolgroepe die ‘Anne Frank in the world’ foto-uitstallings kom besigtig het. Daarin word uitgebeeld hoe Anne Frank tydens die Holocoaust in die tweede wêreldoorlog oorleef het (‘holocoast’ is die algemene benaming vir die uitwissingspogings van Jode deur die Nazi’s tydens die tweede wêreld oorlog). Om ʼn groep tiener skoolmeisies te laat ervaar waaroor die uitstalling eintlik gaan, het dié Jodin-gids die meisiesgroep verdeel in kinders met blou oë en die met ander kleur oë. Sy het toe die blou-oog kinders saam met haar geneem terwyl sy die ander oogkleur dogters gelos het om daar op hul eie rond te staan. ʼn Entjie verder het sy omgedraai en teruggeloop na die ander oogkleur kinders en gevra hoe hulle voel oor wat pas gebeur het? Een van die dogters waag dit toe om te sê hoe onregverdig en vernederend hierdie verdeling van hulle groep was. Wat die toergids die dogters hiermee wou laat ervaar het, was die vernedering wat die Jode in die tweede wêreldoorlog moes ervaar het oor hulle komvandaan. Niemand het geweet wie Jode was of nie omdat hulle soos enige ander mens gelyk het. Daarom het die Nazi’s al die Jode verplig om ʼn groot geel ster aan hul klere vas te werk sodat hulle deur almal uitgeken kon word. Een van die kinders in die groep sê toe dat sy nog nooit ʼn Jood ontmoet het om te kan weet hoe hulle lyk nie, waarop die gids antwoord: “nou kan jy sê jy het, want ek is een”. Al die dogters het verleë daar rondgestaan oor hulle eie vooroordele oor mense wat hulle nie ken nie.

            Hierdie storie is maar net een van vele van hoe ‘xenofobie’ (vreemdelinge vrees of haat) tussen mense lyk. Dis nie net iets wat tydens die tweede wêreldoorlog gebeur het nie, maar tot hede vandag toe nog steeds oral tussen mense gebeur. Dis daai neiging onder mense om ander mense, wat anders as hulle is, te vrees en uiteindelik te haat of te probeer vermy of agteraf te probeer slegmaak.

            Dis waarteen hierdie preekstorie van Jesus in Lukas 16 waarsku: ‘oppas dat daai kloof tussen jou en ander mense so groot raak as gevolg van julle vooroordele teenoor mekaar dat niemand meer weet of kans sien hoe om oor daai vooroordele na mekaar toe uit te reik nie’. Anders gesê: ‘die koninkryk van God word juis sigbaar waar mense mekaar kan aanvaar en liefhê en bereid is om ʼn onverwagse naaste vir mekaar te wees ongeag die verskille of andersheid wat daar tussen hulle ookal mag wees. Wat kan ek wat Lasarus is (die ene wat deur God gehelp is) doen om ʼn verskil te maak aan die onklaarkomstigheid, om watter rede ookal, van die mense om my elke dag?

            In hierdie storie wat vertel word deur ene Andrew Harvey in sy boek ‘The hope, a guide to sacred activism[2] word vertel hoe mense ook van xenofobie genees kan raak. Hy vertel daarin van hierdie ou swart vrou, toe al byna blind, wat voor die waarheids-en-versoeningskommissie verskyn het saam met ʼn  wit man, meneer van de Broek, wat daar bely het hoe hy haar man en seun voor haar gemartel en doodgemaak het. Een van die kommissie lede vra toe vir haar: “hoe dink jy sal ons reg kan laat geskied aan jou wat jou familie op hierdie aaklige manier verloor het”? Die ou vrou antwoord toe: “ek wil drie dinge laat sien gebeur. Die eerste is iemand moet my vat na daar waar hul my man aan die brand gesteek het … ek wil sy as loop bymekaarmaak en hom ordentlik gaan begrawe. Die tweede ding wat ek vra … my man en seun was die enigste familie wat ek gehad het, daarom wil ek meneer van de Broek as my seun aanneem. Hy moet tweemaal ʼn maand vir my by my huis kom kuier sodat ek met hom die liefde kan deel wat daar nog in my oorgebly het. Die derde ding wat ek wil vra, is dat iemand my nou moet kom help om na meneer van de Broek toe te kan loop sodat ek my arms om hom kan sit en hom vashou sodat hy kan weet dat ek hom vergewe het”. Hulle kom help haar toe om by meneer van de Broek uit te kom. Oppad soontoe staan al daai hofsaal se mense op en begin ‘amazing grace’ te sing. Van de Boek, oorweldig oor wat hy hoor en sien, val net daar flou neer. Harvey sê daar het iets die dag in daai hofsaal gebeur wat van de Broek nooit gedink het ooit met hom sou gebeur nie. Dit was oor die stupidste fout wat hy ooit in sy lewe kon gemaak het, en dit as gevolg van sy xenofobie. Dat ʼn ou swart vrou hom ʼn stuk onvoorwaardelike liefde wou gee wat hy nie kon verdien nie. En toe neem sy hom boonop nog as haar eie familie ook aan. So het ʼn onsigbare weerligstraal van liefde hom in daai hofsaal onderstebo geslaan toe hy aan sy lyf ervaar het hoe rêrige genade en onverdiende vergifnis voel ten spyte van daai amper onoorkombare xenofobiese kloof tussen mense.             Piet Naude[3] vertel dat met ’n besoek aan vriende op ’n plaas in die Wes-Kaap hulle eendag ’n ietwat gehawende vreemdeling in die woonkamer aantref. ‘Is hy dalk ’n oom of ’n neef? Of nuwe aangetroude familie?’ wou hulle van die gasvrou weet. “Nee, dis sommer ʼn padloper. Ons hou altyd die stoepkamer oop vir vreemdelinge.” Om ander mense so te kan aanvaar en ontvang, is die hart van gasvryheid


[1] Die Groot Stories-boek. Estelle Steenkamp (red) 2008. Lux Verbi. Bl 401 – 404

[2] The hope: a guide to sacred activism. Andrew Harvey. 2009. Hay House INC

[3] Stories vir die lewe – omnibus ʼn Boek oor lewenswaardes. Piet Naude. 2003. Lux Verbi. Bl 32.

Skrywer: Dr Johann Voges

ʼn hoofstuk aanhaling uit: Jesus se preekstories.. Johann Voges 2023. Groep 7 drukkers




Hoop is om God raak te loop waar jy nie verwag het Hy sou wees nie – Johann Voges

 

Rut 116 – 19a, 22, 21, 10-14, 39-13, 411-17

Hoekom Sou Iemand my ʼn Christen Wou Noem

Dat iemand my ʼn christen sou wou noem…

het niks te doen met watter gladdebek oortuiging ek myself dit noem

… dis eerder of die mense om my dit wil sê as hulle sien wat ek doen

vra nie hoeveel siele ek gewen het met die hellevrees wat ek oral opskop

…eerder ʼn belydenis van verlore – gekry – vergewe – my hele ougatgeit omgedop

maak my nie ʼn ‘kruitjie-roer-my nie’ onaangeraak deur gewone mense se wanhoop

…ek huil, is bang, kry seer soos enige gewone skepsel, met ʼn effe annersgeit hoop

vra nie hoe ek regkry om die wat anders glo met my beterweteriggeit te bemoerbei

…maar eerder hoe mense wat verskillend glo ook my manier van glo kan bearbei

is nie omdat ek meer suksesvol, ryker of gesonder is oor wat vroomgeit veroorsaak

…maar omdat hulle steeds kan raaksien hoe die Here se werk in my nooit opraak

het niks uit te waai met ʼn kamma eksieperfeksiegeit wat ek met vroomgeit bykry

…dis eerder ʼn wete dat die Here, ten spyte van wat Hy weet, vir my steeds liefbly

is nie oor my ‘alleman’getroos wat alewig weet hoekom alger onnodig seerkry

… dis eerder omdat ek die Here bly vertrou ook in dit wat my sonder rede onderkry

het niks uit te waai met hoe ek soos ʼn engel met vlerke oral rondloop

…dis eerder hoe ek tenspyt van afval en geskroeide vlerke steeds kan bly hoop

is nie oorlat ek ʼn Jesus’freak’ raak wat allerhande frats goeters sê en doen

…maar om stomgeslaan te kan hoor dat Jesus sonder skaam my sy ‘vriend’ noem

kan tog nie omdat hulle my Sondae gestyf en gestryk ewe vroom in ʼn kerkbank sien sit

…miskien eerder om my elke dag te ervaar as ene wat in eenvoud leef wat hy glo…net dit.

is nie oor my Bybelteksie ekspertgeit wat ongevraag almal wat verskil probeer seermaak

…om met my verwonderd te bly oor die misterie van Bybelstories wat lewens aanraak

staan nêrens in die Bybelbladsye geskrywe dat mense ooit hulleself christene noem

… dis diegene tussen wie hul elke dag lewe wat sien wat hulle doen wat hul so noem

 

Liefde verander mense… die wat die ontvang maar ook weggegee kry

In ons Bybels kry ʼn mens die boek Rut tussen Rigters en 1 Samuel … dis destyds in 200vC met die Griekse vertalingSeptuaginta van die Ou Testa­ment hiernatoe geskuif omdat Rut 11 begin met die woorde ‘In die dae toe die rigters regeer het…’ en dit eindig in die laaste hoofstuk Rut 4:18-22 met die ge­slags­register van koning Dawid. Daarom het die vertalers gevoel dat die Rut­storie meer logiese tussen die Rigters- en Koningstories inpas.

Maar die Hebreeuse Bybel volg ‘n ander logika… daarin kry ʼn mens die boek Rut nader aan die einde van hul Bybel in daai ge­deelte be­kend as die megillot of feesrolle. Daar is altesaam vyf van dié fees­rolle wat elke keer tydens een van die groot Joodse feeste gelees word: Hooglied met Pasga; Prediker tydens die Loofhuttefees ter herinnering aan die woestyntyd met die uittog uit Egipte; Klaagliedere ter herdenking van die eerste en tweede tempel se vernietiging; Ester met die Purim fees waar haar storie herdenk is en Rut met die ‘fees van die weke’ of ‘oesfees’ of ‘pinkster’, dis ʼn fees ge­vier met die by­mekaar­maak van die graan­oes. Vir die Jode hoort Rut se storie hier om­dat Rut en Naomi in Betlehem aan­ge­kom het aan die begin van die gars-oes Rut 1:22c.

Natuurlik het waar wieookal vir Rut in die Bybel loop neersit het niks te doen met wan­neer dit gelees of hoe dit verstaan behoort te word nie, dit kry jy eerder in hoe en hoekom hierdie storie vertel en geskrywe geraak het. Die Rutboek is taamlik laat in Ou Testament geskiedenis geskrywe, waarskynlik in die tyd van die Twee­­de Tempel hier om en by 450 – 400vC, dis net na die ballinskap terwyl die Rut­storie 600 jaar of wat ouer is… uit die rigterstyd. Na die ballingskap was ʼn baie span­nings­volle tyd in die geskiede­nis van die Judese gemeen­skap wat toe ge­dreig het om uitmekaar uit te wou skeur. Jerusalem is verwoes, die tempel is afge­breek en mense sukkel om hul armoede en ellende oorleef te kry. Die sedelike en morele verval onder die mees­te mense het net al erger geraak en so ook die ver­waar­­losing van hul gods­diens. Dis in hier­die tyd wat die priester Esra en sy tyd­ge­noot Nehemia pro­beer om die gods­diens­tige situasie in die land weer reggeruk te kry. Hulle het begin om die mure van Jerusa­lem en die tempel te herbou en dit ook reg­ge­kry dat mense weer die paasfees en ander Joodse godsdienstige feeste begin vier asook die Sabbatdag vir wat dit veronderstel is om te wees. Maar ongelukkig het Esra en Nehemia se letterlike ver­staan en toe­passing van hul Ou Testa­men­t Bybeltekste baie verwarring en seer onder daaitydse ge­lowiges veroor­saak… hiermee is nou eweskileik ʼn taboe-sonde bordjie om ge­mengde huwelike gehangEsra 10 & Neh 13:23-29 wat tydens die balling­skap ontstaan het. Daar was van Joodse mans in sulke huwelike verwag om van hul so­ge­naamde ‘sonde’-vrouens en kinders ont­slae te raak. Dis wat gebeur as jy in jou Bybel lees wat Moses in sy tyd skryf oor hoekom die Jode met sekere volke nie kon klaarkom nieDt 23:3-4 en jy vat daai teksverse, sonder om eers uit te vind wat Moses daar­mee bedoel het en loop wurg dit woord vir woord in jou tyd se probleme in omdat dit klink soos ʼn oplossing vir dit waarvoor jy nie antwoorde het nie…

Jy sal weet hoeveel pyn dit al in die kerk veroorsaak het waar mense Bybeltekste uit verband uit ruk om hul eie politieke sieninge te pro­beer reg­verdig of om aan hul eie vroom­­geit geloof­waardigheid te probeer gee. As iemand sê ‘dit staan mos in die Bybel’ kry hul dit reg om enige iets daar­mee bewys te kry of ʼn streep deur te trek en niemand waag dit om te vra… ‘sê die Bybel rêrig so!’ Dis in sulke omstandighede wat die Rut­storie geskrywe raak as ʼn protesgeskrif juis oor hoe mense hul Bybellees en -verstaan gebruik om die vrae van hul tyd geantwoord te kry.

Die Rutskrywer gebruik ʼn storie wat in die Rigterstyd gebeur en projek­teer dit dan na sy tyd om sy lesers aan die praat te kry oor hul eietydse Bybelver­staan. Die rede hier­voor is dat enige storie se inpak op lesers veel groter is as daar af­stand geskep kan word tussen hul nou’se tyd en die storie se tyd. In 200vC toe die Romeine as nuwe wêreldmoont­heid hul Romeinse manier van dink en doen op almal probeer afdruk het, skryf iemand oor Daniël wat in 600vC in Nebukadneser se tyd in soortge­lyke omstandighede as gelowige kon oor­leef om met die Daniël­storie te vra wat moet ons by hom loop leer van wat bly glo beteken al kos dit watookal. Presies wat die Rutskrywer doen deur te vertel hoe ʼn vreemde Moabie­tiese vrou met haar liefde en deernis die Jode in die Rigterstyd se onver­­draag­same gesind­heid teenoor ander mense kon verander. Dan kan ons mos by haar loop leer hoe ons klomp nou beter met mekaar oor die weg kan kom na die balling­skap… Jode en vermengde Jode. Om juis in doerie tyd se Rutstorie lte kan raaklees hoedat… liefde mense verander, die wat dit ont­vang maar ook hulle wat dit onvoor­waardelik wegge­gee kan kry.

Die Rutstorie vertel van die verskil wat hoop in mense se lewens bring

In die Rutboekie gaan dit oor meer as net Rut se lewensstorie of hoe­kom sy Dawid se oumagrootjie was. Hierdie storie word gebruik om daaitydse mense aan die praat te kry oor hul Bybelverstaan en wie hulle gedink het God rêrig is. Maar dan word met hierdie Rutstorie gevra… nie watter tekswoorde daar in ons Bybels geskrywe staan nie, maar hoe leef ek as gelowige dit wat ek daarin gelees kry… kan die mense om my elke dag iets ervaar van God se liefde en deernis vir alle mense in hoe ek my Bybellees geleef kry. Dat ek soms die meeste met hoop by mense te doen kry van wie ek dit die minste verwag

Daar is so ongeveer vyf Bybelse verstaanstaaitoffies wat baie verwarring onder daaitydse ‘net na ballingskap’ mense veroorsaak het waarvan die ver­staan daarvan hier in die Rutstorie herskryf raak.

1Israel se wet op ekslusiwiteit…in ons tyd so 60 of wat jaar gelede, het ons dit hier in Suid Afrika die wet op afsonderlike ontwikkeling genoem wat later in ʼn apartheid chaos verander het. Dit begin by die mense in Moses se tyd se kwaad­geit vir die Moabiete. Jode en Moabiete het hoe­genaamd glad­nie met mekaar klaar­ge­kom nie, ʼn on­klaar­kom­stigheid wat al van Genesis se toen­ter­tyd af kom. Die Moabiete was Noag se oud­ste dogter se na­geslag uit bloed­skande tussen ʼn dogter en haar paGen 19;37. Maar die eintlike kwaad­geit was omdat die Moa­bie­te nie vir die Israeliete brood en water wou gee vir hul woestyn­tog nie, daar­om het die Jode in hul wetboeke laat ­skrywe dat gn Moabiet ooit as ‘n Israeliet aan­­vaar sal word nie… selfs nie iemand van die tiende ge­slag na die uittog nieDt 23;3-4. Die Rutstorie herskryf hierdie onklaar­komstigheid omdat die liefde en deernis van Dawid se oumagrootjie, Rut, mense se respek en waardering vir mekaar verander het. In haar onvoor­waardelike liefde het mense weer God se naby­wees ervaar.

2Esra en Nehemia het die Moses’wet’ wat verbied dat Moa­biete en Ammoniete Israeliete kon word, toe sommer verander in ʼn wet teen enige gemengde huwelike. Dit het gesinne opgebreek en oor en weer onhoudbare sondeverwyte veroorsaak. In die Rutstorie word hongersnood ʼn rede waarom ʼn Joodse gesin Moab toe emigreer om te kon oorleef en van daar af kom later terug wat oorgebly het uit ʼn Joodse gemengde familie … ʼn Jodin en Moabiet weduwee wat opgeneem raak in die groter Israel familie stamboom waaruit later koning Dawid gebore raak. Liefde en deernis tussen mense genees in die Rutverhaal oeroue onklaar­komstig­heid tussen mense… ook daar waar mense van mekaar verskil oor kultuur of taal of komvandaan.

3In die ou Israel is baie van deernis en omgee gemaak vir mense wat swaar­kry. Daar­voor was daar selfs ʼn soort ‘armmens reg Deuteronomium 24:19 geskrywe om vir arm mense te sorg wat sê… as jy jou lande afoes en jy vergeet ʼn gerf op die land, moet jy nie omdraai om dit te loop haal nie. Dit moet bly vir die Joodse vreemdelinge of ʼn weeskind of ʼn weduwee. Boas radikaliseer hierdie wet deur vir ʼn Moabietiese vreemdeling, wat eintlik met die wet uitgesluit is, doelbewus meer gerwe te los as daai toevalliges wat agterbly. Hier­mee ignoreer Boas die wet van liefdelose onverdraagsaamgeit teenoor nie Joodse  vreemdelinge en neem die wet van deernis en omgee vir mense wat swaar­kry so ernstig op dat hy meer gee as wat die wet vra. Hy doen dit ten koste van homself as ʼn manier om vir Rut te sê… ek respekteer die liefde en deer­nis wat ek by jou as Moabiet raaksien wat jy vir jou Joodse skoonma het. Hiermee het die Rutlesers raak­gesien dat dit in verhoudinge nie gaan oor die foute wat ons oor en weer maak of oor wat ons kon of anders moes ge­doen het nie, maar of ons in ons verhouding geleer het om mekaar te kan respekteer en waardeer vir ons andersgeit.

4Die verstaan en gebruik van die Jode se ‘LeviraatshuwelikDeuteronomium 25:5 word in die Rut storie ook op sy kop staangemaak… daai wet wat bepaal dat die bloedbroer van enige man wat kinderloos sterf met sy weduwee moet trou, nie soseer om vir haar te sorg nie, maar sodat sy bloedbroer se geslags­lyn voortgesit kan word. Rut en Boas raak getroud onder die voorwensel van hierdie wet wat eintlik nie op een van hulle van toe­pas­sing is nie. As hul seuntjie Obed in die laaste hoofstuk in koning Dawid se geslags­register inge­skryf raak, word hy nie vernoem na Rut se eerste man Maglon, soos die levriaats­wet bepaal nie, maar word gesê Obed is Boas se seun. Die manier hoe dit alles gebeur tenspyte van al die Joodse wette wat mense se Joodse identiteit en nalatenskap moes beskerm, het nogal allerhande vrae laat vra oor die kodes en sedes van die patriar­gale samelewing van daai tyd.

5Naomi het iewers êrens nog ʼn stukkie grond in Israel gehad wat sy sou kon ver­koop as sy wou deur aanspraak te maak op die sg ‘go’el wet’  of  ‘wet van lossingLevitikus 25:25. Dis daai wet wat sê dat as ʼn Israeliet weens armoede sy grond moet verkoop, moet dit deur die naaste manlike familielid terug­ge­koop word sodat dit later weer na die oorspronk­like eienaar kan teruggaan. Daai nag op die dorsvloer vra Rut as’t ware vir Boas om met haar te trou en so as haar go’el of losser op te tree. Hiermee gebruik sy, op advies van haar skoon­ma, ʼn wet wat bedoel is om mans te bevoordeel, om vir haar en haar skoon­ma ʼn toekoms te kan verseker. Rut knoop as’t ware die levri­aat en losserswet aan­mekaar en waag dit om hulle anders ge-inter­preteer te kry… nie meer as wette bedoel om net sekere mense te bevoordeel nie, maar waar hul lees en verstaan deur liefde en deernis bepaal word… word dit wette wat omgee vir mense wat swaarkry en vir die­gene wat om watter rede ookal uitgestoot geraak het. Waar godsdienstige wette of Bybel­lees so verstaan word, raak God se liefde en deernis vir alle mense sigbaar.

 

Wie is ek waar in God se wêreld…!

In die Rutstorie is daar twee storielyne waarin vertel word van hoe mense op hul manier worstel om God se daarwees in hul lewens raakgesien te kry…

1die een is van Naomi, die vroulike weer­gawe van die Job­storie. ʼn Judese vrou wat in die kwessie van ʼn paar Bybelteksverse alles verloor van wie sy is en het. Haar hele komvandaan as Jodin stort in duie as al haar ‘naby’familie daar in Moab te sterwe kom. Later as sy na haar geboorteland terug­drentel wil sy liewer ‘Mara’ die bitter ene ge­noem word wat daar wil kom doodgaan as wat sy ’Naomi’ die lieflike ene is wat vroeër jare daar weg is. Haar storie­lyn wil vra… waar gaan jy die dag heen as dit vir jou voel asof God in jou lewe weggeraak het. Jy sou ook kon vra… watter verskil maak my bly glo die dag as alles wat my in die lewe oorkom my laat wegraakhoe bly ek hoop as my wêreld in wanhoop vasgeval raak…?

2Die ander storielyn… is die een van Rut, ʼn Moabiet wat teen alle logika en verwagting dit waag om die Here te vertrou waar niemand gedink het dat sy sou weet hoe nie. Sy die vreemdeling wat uitgestoot word oor mense se verkeerde Bybelverstaan, waag dit om hierdie mense met liefde en deernis te aanvaar ten spyte van hoe hulle hul Bybel­lees verstaan het… sy waag dit om alles wat sy is en het prys te gee omdat God se liefde mense gesond­maak, die wat hul Bybvels verkeerd gelees het, maar ook vir Rut wat hierdie liefde wat sy by die Here ervaar het te kon weggee vir almal wat oor haar pad gekom het. So word Rut ʼn voorbeeld van iemand wat hoop gee vir ander mense.

In beide vroue se stories word eintlik gevra, wat maak my lewe die moeite werd as ek elke dag moet wonder – waar pas ek dan in of as niks werk soos dit moet nie. In die Rutboek gebeur wat Phillip Yancey in ons tyd geskryf het in sy boek finding God in unex­pec­ted places… dat ons weet mos dat God oral is, maar mense kom allerhande goeters in die lewe oor wat maak dat hulle dit nie meer raakgesien kry nie en as daar in daai mense se moedeloosgeit iemand met liefdevolle deernis na hul uitreik, is dit asof mense se oë weer oopgaan vir God se nog altyd naby­wees… dis wat dit beteken om vir ander mense hoop te gee in die hoop wat jy uitleef tenspyte van wat wieookal oorgekom het. 

Wat maak jou lewe ‘n moeite werd lewe om te wil leef in ‘n wêreld waarin mense al meer onseker raak oor wat oral aan die gebeur is… in ‘n wêreld waarin mense sukkel om werk te kry… in ‘n wêreld waarin mense al meer bang en moede­loos raak oor die verskil wat ek nie meer gemaak kry nie… in ‘n wêreld waarin kinders tou opgooi omdat hulle nie meer hoop het in vandag se deur­mekaar nie… in ‘n wêreld waarin jy verwerp word vir wie jy is, omdat jou grootjies of eweknieë kwansuis gewees het wat hulle nie moes wees nie? In so ‘n wêreld, het die Here Jesus destyds, ‘n mens soos een van ons ge­word  om te kom wys watter verskil God se liefde vir alle mense in so ʼn wêreld maak… hoe daai liefde mense verander, die wat dit ontvang, maar veral hulle wat dit ook weggegee kan kry aan almal om hulle elke dag. Dis ook die goue draad in Rut se lewenstorie. Daar in Moab al begin, toe sy ge­kies het om saam met Naomi te gaan1:16… daar al het Rut se lewenstorie, ‘n geloof­- en hoopstorie geraak waar­deur die Here besig is om sy stukkend wêreld so stukkie vir stukkie heel te maak… deur die verskil wat ‘n gewone entjie mens soos Rut vir die mense om haar elke dag beteken het.

 

Hoe die hoopstories van gewone mense ʼn samelewing kan verander

Ja, maar hoe weet jy dit, hoor ek jou vra. Van Abraham se tyd af al, weet ons dat God wat die wêreld gemaak het ook oral met die heel­maak daarvan besig is. Hoe gebeur dit … deur die geloof- en hoopstories van gewone elke dag mense. Wel, in terugskoue ge­sien, was die Here nog altyd by ons, ook toe ons maar net so aange­karring het en alles doodgewoon en deur­mekaar gelyk het … toe ook was Hy op sy manier besig om in die gewone lewe van elke dag sy legkaart met ons stukkie vir stukkie klaar te bou. Dis hoe­kom die Rutboek skrywer Rut se geloofstorie vir die mense van sy tyd wou oorvertel … want jy kan nie anders as om juis dit daarin raakgelees te kry nie. Om daar­mee te vertel hoedat God deur gewone mense soos sy op ‘n be­sondere manier gebruik om sy heel­maak van hierdie wêreld klaargemaak te kry en dit terwyl die meeste van ons dink dat ons eintlik nikswerd is of nie goed ­ge­noeg daar­voor sou wees nie.

Dis juis die onge­loof­like manier waarop God in ons flenter wêreld werk… deur ge­wone mense soos ek en jy te gebruik om in ons eie omgewing dinge te help heelmaak. Hy ge­bruik nie mense oor hul bekwaamgeit of oulikgeit nie, maar mense wat tussen al die krom en skeef van elke dag steeds ‘n geloof- en hoopstorie het om te lewe. Hy gebruik hulle om die stukkend te help heelmaak tussen mense wat nie dieselfde taal praat nie… tussen mense wie se komvandaan verskil… tussen mense wat elke dag saam­gewoon en ge­werk moet kry. Die vraag met die heelmakery van ons wêreld is nie soseer waar God is waar dit moet gebeur nie, maar waar is ek en jy waar God besig is daarmee. Dis waaroor die werd­geit van christen­wees gaan… nie oor al die moont­like by­voordele wat ons dink daar­mee moet saam­gaan nie, maar om elke dag te weet dat God ook deel van my lewen­­storie kom raak het. Hy was deel van Dawid se deurmekaar koningstorie en ook Abraham se vér trekstorie daar tussen al die bang en onseker vreemde in. Hy was ook deel van baie se lewenstorie daar in balling­skap toe alles wat sin gemaak het uitmekaar geval het en deel van ‘n moede­lose Naomi en ‘n bang Rut se lewenstories in ‘n tyd toe almal gewonder het waar hulle hoort. In al hierdie mense se geloof- en hoopstories het die Here juis hierdie mense gebruik om sy heelmaak klaargemaak te kon kry.

Deur my en jou manier van lewe kry die Here in ons tyd ook ʼn verskil gemaak. Esra en Nehemia het na die ballinskap gesê… ons kan net ʼn verskil maak as ek en jy dit regkry om presies dit te doen wat in ons Bybels ge­skrywe staan dat ons moet. Die Rutboek­skrywer stem saam, maar wou met die oorvertel van die storie van Dawid se ouma­grootjie se komvan­daan sê… as jy dit wat jy in jou Bybel lees nie met deernis en liefde geleef kry nie, gaan daar meer mense in jou lewe seerkry en teleurgesteld en verward raak as die wat God se nabywees gaan ervaar in hoe goed jy jou Bybeltekste ken.

In ons tyd lees baie min mense nog eintlik meer die Bybel, maar hulle kry dit tog wel gelees, nie in die teksverse wat daarin geskrywe staan nie, maar in die manier hoe ek en jy dit elke dag uitgeleef kry … in hoe ek wat ek glo en hoop geleef kry!

Skrywer: Dr Johann Voges




ChatGPT en ons Geloof – Kobus Kok

Rondom November-Desember in 2022 het die wêreld gegons oor ChatGPT en begin om met kunsmatige intelligensie te speel. Probeer dit gerus hier. Jy kan dit byna enige vraag vra. Selfs om vir jou ‘n dieet program te ontwikkel of ‘n oefenprogram. Idees vir ‘n ete. Vir nagereg. Selfs ‘n Bybelstudie waarin sommige skrywers se insigte verwerk is.

Ek sien nou die dag ’n berig van ’n dominee in Duitsland wat die eerste erediens gehou het waarin hy ChatGPT gebruik het om hom te help om die materiaal vir sy erediens te skryf. Sy kerk was stampvol om te sien wat gebeur. En mense was nogal baie positief oor hierdie belewenis. Ek het self daarmee begin werk en gevind dat dit ’n verbysterende vermoë het om onder meer gedigte te skryf, narratiewe te skryf en selfs ook moeilike konsepte te integreer en te verduidelik. Soms maak dit nog vreeslike foute. As mens die foute uitwys vra dit so ewe om verskoning.

Hierdie afgelope naweek het ek juis ’n gemeente retraite in België vir ‘n Evangelische Gereformeerde gemeente aangebied oor die uitdagings wat 2023 en kunsmatige intelligensie aan ons stel. Daar is onder meer in Kyoto in Japan’n kunsmatige intelligensie priester uit aluminium en silikon geskep met die naam “Mindar” (sien hier). Hierdie K.I. priester word gekodeer met die bepaalde religie se tekste en denke, en dit is noemenswaardig om te sien hoe goed die “priester” kan antwoord en ons besef dit gaan al meer gesofistikeerd raak in die toekoms. Veral as mens professor Michio Kaku se insigte in gedagte neem. Kaku verwys na die nabye toekoms en wat vir ons mag voorlê wanneer ons met quantum computing gaan werk. In ’n onlangse toespraak wat hy by Google gehou het, het hy gewys op die reuse implikasie wanneer K.I. mense gaan verbygaan (sien hier). So praat ons hierdie naweek in België oor hoe ons voel oor Kunsmatige Intelligensie Priesters. Sou ons ’n K.I. dominee wou hê? Die blote gedagte van die moontlike realiteit van ’n chatbot middelganger is soos ’n spieël vir ons wat ons help om te reflekteer op ons diepe waardes en ons grense. Deur die bank het die antwoord gekom dat daar iets belangrik ontbreek as dit by die gedagte van, of keuse tussen ’n K.I. entiteit, en ’n regte mens kom. Mense verkies eerder ’n dominee, met “issues” en persoonlike krake, selfs bó ’n K.I. entiteit wat bo-menslike kennis mag hê. Mense glo dat dit juis die gebrokenheid en krake van die mens is wat die ruimte is waar God se krag sigbaar word. Mense glo vas dat K.I. entiteite nie outentiek met genade en barmhartigheid sal kan omgaan nie. Al word dit kunsmatig geprogrammeer daarmee. Met alles wat Covey in sy boek “The Speed of Trust” noem. Gebrokenheid is vir ons ’n belangrike dimensie waarin ons glo dat iets extra nos – buite ons – moet deurbreek. Gelowiges glo dat die mensdom se masjiene, hoe slim ookal, selfs slimmer as ’n mens, nie die somtotaal kan wees van openbaring nie. Ons Bybelse wêreldbeeld laat ons glo dat God vanuit die geestelike of goddelike werklikheid inbreek in ons bestaan. Dat die Gees se krag nie in taal-algoritmes vasgevang kan word nie. Dat mense, in hulle gebrokenheid, juis die plek is waar God se Gees werk. Ons glo dat K.I. ons baie kan help met inligting. Selfs uitstekende nuwe inligting en perspektiewe, maar dat dit uiteindelik vir ons as mens ten diepste in die ruimte van gebed plaasvind dat ons God se stem hoor. Dat ware menslike resonansie in en deur ons kwesbaarheid juis gebeur. Mense voel dat die K.I. revolusie ons nie verder gaan wegvat van die behoefte om God se stem in gemeenskap met gelowiges en ons persoonlike verhouding met God te beleef nie, maar ons juis gaan laat terugbeweeg na verwondering en outentiekheid. Menslike, gebroke outentiekheid. Dit is eintlik met selfs meer verwondering dat ons dink aan Filippense 2:5-11 en Kolossense 1:15-20 en aan Jesus wat geïnkarneer het in ‘n die vorm van ‘n mens. ‘n Mens wat sy tent kom opslaan het onder ons en onder ons kom woon het (Joh 1:14). 

Skrywer: Prof. dr. Jacobus (Kobus) Kok

Professor and Head of Department New Testament Studies

Co-Director Research Centre for Early Christianity 

Professor Extraordinarius, University of Pretoria 

 

Evangelische Theologische Faculteit, Leuven

Sint-Jansbergsesteenweg 97 | 3001 Leuven | Belgium

+32 483753568

Kobus.kok@etf.edu  

www.etf.edu 

https://www.etf.edu/en/staff/kobus-kok/




Onvergeeflike Sonde – Hermie van Zyl

Van: Shaun Reed

Onderwerp: Die onvergeeflike sonde

Boodskapteks: Ek het na verskillende mense geluister in verband met die onvergeeflike sonde. Ek wil net by julle hoor of ek korrek verstaan. Wat ek verstaan, is: God vergewe ’n persoon alles, alle sondes, behalwe as iemand sy rug op Jesus Christus draai, dit wil sê, as iemand Jesus Christus verwerp. As iemand geloof in Jesus Christus weier, kan God dit nie vergewe nie. Met ander woorde, God vergewe die Christen (die gelowige in Jesus Christus ) alles, al sy sondes, want hy het Jesus Christus aanvaar en glo in Jesus Christus.

 

Prof Hermie van Zyl Antwoord

Die onvergeeflike sonde (Matteus 12:31-32) of “sonde tot die dood” (1 Johannes 5:16-17) word ook die sonde teen die Heilige Gees genoem. Hulle handel almal oor een en dieselfde saak. In my behandeling hieronder hanteer ek hulle dus saam.

Baie gelowiges is bekommerd daaroor dat hulle dalk die sonde teen die Heilige Gees begaan het. Maar die blote feit dat iemand bekommerd is daaroor wys al klaar dat hy/sy nie die sonde teen die Heilige Gees begaan het nie. Hierdie sonde gebeur net wanneer iemand volhardend die Gees se werking in sy lewe uitblus (Efesiërs 4:30; 1 Tessalonisense 5:19), of wanneer iemand die Here verwerp en totaal afvallig word (Hebreërs 4:4-6; 10:26-31). Maar ons moet die kontekste waar hierdie uitsprake voorkom, deeglik in ag neem. Hierdie uitsprake is in die eerste plek waarskuwings aan gelowiges om nie ligtelik met God se genade in Christus om te gaan nie. Dis nie beskuldigings dat hierdie sonde reeds tot stand gekom het by die lesers nie. ’n Ander geval van die sonde teen die Heilige Gees is waar veral ongelowiges moedswillig die werk van die Gees aan die werk van die duiwel toeskryf (Matteus 12:22-32). Maar in al bogenoemde gevalle moet ons net besef dat dit nie vir ons is om te bepaal wanneer iemand die sonde teen die Heilige Gees begaan het nie. Niemand van ons weet wanneer iemand in sy of haar lewe daardie punt van verharding of van geen-omdraai-meer bereik het waar jy nie eens meer omgee of jy gered is of nie. (Laasgenoemde is presies die gevolg van die sonde teen die Gees.) Die punt is, dis nie vir ons om daaroor te oordeel nie. Net God, die hartekenner, kan dit doen. Daarom moet ons ons daarvan weerhou om uitsprake oor ander se geestelike gesteldheid te maak, selfs dié van ongelowiges. Oënskynlik geharde Godloënaars het al verras deur tot bekering te kom. Ons taak as gelowiges is maar net om die evangelie te verkondig en te waarsku teen afvalligheid. Die finale oordeel kan ons rustig in God se hande laat.

Om dit nog eens te beklemtoon: Die onvergeeflike sonde, of die sonde teen die Heilige Gees, gaan oor ‘n besondere soort sonde. Alle sonde bevat ‘n element van opsetlikheid en moedswilligheid, maar hierdie sonde gaan daaroor dat mens die enigste manier waarop God kan red, verwerp, of dat jy die offer van die Seun van God openlik tot ’n bespotting maak asof dit nooit vir jou iets beteken het nie (Hebreërs 6:6), of die werk van die Gees aan die werk van die duiwel toeskryf (Matteus 12:24,31-32), of die Gees hardvogtig oor ‘n lank tyd weerstaan, op so ’n manier dat God nie toegang tot jou hart kry nie. Want onthou, die enigste manier waarop God jou hart kan sag maak, is deur die werking van sy Gees. Verder, daar is geen ander offer vir redding as die een wat Jesus gebring het nie. As hierdie heilsmiddele verwerp word, dan kan selfs God jou nie vergewe nie, nie omdat Hy nie wil nie of omdat jou sonde te groot is nie, maar omdat jy Hom nie toelaat om dit te doen nie. Jy wil nie sy “medisyne” vir jou sonde aanvaar nie. En God dwing niemand teen sy of haar wil nie. Hy kom altyd met die sagte aanslag van die liefde. Wie hierdie liefdesaanslag volhardend verwerp, word dan later immuun teen God se liefde en wil dan ook geen genesing meer hê nie. En dan láát God jou in jou keuse, die keuse wat jy uitoefen om Hom volhardend te bly verwerp. Maar solank mens nog God se vergifnis wil hê, is jou hart ontvanklik vir sy redding en kan jy sy vergifnis in die geloof omhels en aanvaar, en vergewe word.

Dus, dit is inderdaad soos die vraagsteller sê: daar is geen sonde wat God nie kan vergewe nie, behalwe wanneer jy volhardend weier om vergewe te word.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl