Onberispelik – Hermie van Zyl

Bertie vra:

Wat beteken die woord “onberispelik” regtig? Is dit moontlik om so te leef? Ek glo nie, tog word die woord baie gebruik. Byvoorbeeld, dis ’n voorwaarde om ouderling te kan/mag wees.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die woord “onberispelik” word ’n hele paar plekke in die 1983-Afrikaanse Vertaling (1983-AV) van die Bybel gebruik om die status van mense voor die aangesig van God, of hulle reputasie in die samelewing te beskryf. Dit is nodig om die bedoeling hiervan reg te verstaan sodat daar nie misverstande ontstaan nie. Want soos die vraagsteller tereg sê, wie van ons ís of lééf so dat niemand ’n vinger na ons kan wys nie.

Vooraf moet net eers genoem word dat hoewel die Afrikaanse woord “onberispelik” ’n hele paar keer as vertaalekwivalent in die 1983-AV gebruik word, dit nie altyd dieselfde Griekse woord in die grondteks is wat met “onberispelik” vertaal word nie. Ons moet dus hiermee rekening hou wanneer oor die verskillende tekste waar “onberispelik’ voorkom, gehandel word.

Kom ons begin met die gedagte dat “onberispelik” ’n persoon se sosiale reputasie beskryf. Dit word veral as vereiste gestel vir iemand wat graag ouderling wil wees (vgl 1 Timoteus 3:2; Titus 1:6-7). “Onberispelik” is die vertaalwoord in hierdie tekste vir twee verskillende Griekse woorde (onderskeidelik anepilēmptos en anengklētos), maar beide verwys na dieselfde gedagte, naamlik dat so ’n persoon se karakter en gedrag in die samelewing onbesproke, bo verdenking moet wees. Dit gaan glad nie daaroor dat die persoon sonder sonde is nie, maar dat hy so ’n onkreukbare karakter het dat niemand iets negatief of sleg oor hom kan sê, of ’n beskuldiging van een of ander aard teen hom kan inbring nie. Dis vergelykbaar met wat Jesus van Nikodemus gesê het, dat hy ’n Israeliet sonder bedrog is (Johannes 1:47); ’n man uit een stuk, sou ons vandag sê.

Wat die Skrifgedeeltes uit 1 Timoteus en Titus betref, moet ons die antieke agtergrond ook in aanmerking neem. In die tyd toe hierdie boeke tot stand gekom het (waarskynlik in die tagtiger jare van die eerste eeu nC), was dit belangrik om die karakter en optrede van Christene in die samelewing as bo verdenking te stel. Daar was naamlik beskuldigings uit die breë samelewing dat die Christene spelbrekers is; hulle hou hulle eenkant en voldoen nie aan die standaarde en norme van die samelewing nie. Daar is beweer dat die Christene ’n odium humani generis – letterlik: “ ’n haat vir die menslike geslag” – openbaar. Christene is deur die heiden-samelewing daarvan beskuldig dat hulle ander mense haat omdat hulle nie deelneem aan die afgodsfeeste of die keiserverering nie. Alle goeie burgers was veronderstel om dit by te woon. Maar, is gesê, Christene hou hulle eenkant, hulle meng nie met die gewone bevolking nie. Hierteenoor wil die skrywer van 1 Timoteus en Titus aantoon dat Christene alles behalwe haters van mense is; inteendeel, hulle leiers (ouderlinge/opsieners) is voortreflike en diensbare mense. Aan hierdie leiers word byvoorbeeld dieselfde vereistes gestel as wat aan die bekleërs van hoë poste in die destydse samelewing gestel is: hulle moet onbesproke van karakter en optrede wees; hulle moet hulle kant bring as geëerde lede van die samelewing; hulle moet aan dieselfde standaarde voldoen as wat van enige “sekulêre” openbare figuur vereis word. Die kerk en sy leiers is daarom nie mense wat die samelewing wil destabiliseer nie, maar is onkreukbaar van karakter en in hulle sosiale omgang. Niemand kan ’n vinger na hulle wys nie.

Hierdie vereistes het ook alles te make met die destydse sendingtaak van die kerk. As die kerk draers wil wees van die evangelie in die wêreld en mense na Christus toe wil trek, moet daar nie struikelblokke in die pad wees nie, allermins die sosiale reputasie van hulle leiers. En so is dit vandag ook: as die kerk werklik ’n impak op die omgewing en wêreld wil maak, word dit nog steeds van gelowiges en in die besonder van sy leiers verwag om mense van goeie inbors en hoë morele waardes te wees. Indien dit nie so is nie, verloor die kerk sy geloofwaardigheid en doen dit afbreuk aan die verkondiging van die evangelie in die wêreld. Anders gestel: die kerk moet “practise” wat hy “preach”. Natuurlik is en bly ook kerkleiers sondige mense; hulle is nie volmaak nie, hulle maak foute en moet steeds by God en mense om vergifnis vra. Maar sodra daar growwe morele slordigheid in gelowiges en kerkleiers se lewe na vore tree, werk dit nadelig in op die boodskap van die evangelie. Na alles word ons telkens in die Bybel opgeroep om inderdaad te wéés wat ons in Christus ís: geredde sondaars wat ons nie laat beheers deur sondige begeertes nie maar wat ons ganse lewens in diens van God stel om heilig (= aan God toegewy) te lewe (Romeine 6). Ons is nie meer slawe van die sonde nie, maar opgewek uit die dood om vir God te lewe. Dit is veral hierdie aspek wat ter sprake is wanneer die woord “onberispelik” as vereiste vir kerkleiers in 1 Timoteus en Titus gestel word.

Daar is nog ’n betekenis waarin die woord “onberispelik” in die Bybel voorkom, en dit is dat die gelowige se posisie voor God en ten opsigte die wet blaamloos is. In Lukas 1:6 word van Sagaria en Elisabet gesê dat hulle al die gebooie en voorskrifte van die wet van God onberispelik onderhou het. Efesiërs 1:4 bevat weer die gedagte dat God ons in Christus uitverkies het – voor die wêreld tot stand gekom het – om onberispelik voor Hom te wees (vir soortgelyke gedagtes kyk ook Efesiërs 5:27; Kolossense 1:22; 1 Tessalonisense 3:13 en 2 Petrus 3:14). Die Griekse woorde wat in hierdie gevalle deur “onberispelik” weergegee word, is amemptos, amōmētos en amōmos, en bevat almal die gedagte dat iemand vlekkeloos of blaamloos voor God is. Dit beskryf die gelowige se religieuse status en karakter voor God en sy wet as ten volle in ooreenstemming met God se vereistes. Ons moet egter mooi verstaan wat hiermee bedoel word. Weer eens het dit niks te make met die inherente sondeloosheid van die gelowige nie. Nee, dit gaan daaroor dat die gelowige in die regte verhouding tot God staan. In al hierdie verse is die uitgesproke of onuitgesproke veronderstelling telkens dat die gelowige in Christus in verhouding tot God staan. En omdat Christus se vlekkelose status as die Seun van God en verlossingswerk die gelowige toegereken word (vgl 1 Petrus 1:19-21), kan die gelowige ook aanspraak maak op ’n onberispelike status voor God. Nog meer, die gelowige se status voor God is nie net in Christus blaamloos nie, maar hy/sy is ook ten volle geskik vir diens aan God en die wêreld. Net soos die offerdiere in die Ou Testament sonder gebrek moes wees (blaamloos), so is die kinders van God sonder gebrek en blaamloos voor God om as offers en priesters sy werk in die wêreld uit te voer. Dit beteken ons is volledig geskik vir diens in God se koninkryk; ons kan die diens verrig waartoe Hy ons in Christus gereinig, afgesonder en geroep het.

Bostaande uiteensetting behoort duidelik te maak dat ’n mens nooit op die klank af betekenisse aan woorde moet toedig nie, maar altyd moet seker maak wat die betekenis en bedoeling daarvan in die Bybelteks self is. ’n Mens sou daarom die betekenis van “onberispelik” vir vandag kortliks so kon opsom: Om deur Christus in die regte verhouding te staan tot God, en om toegewyd te lewe teenoor God en mense, ooreenkoms God se wil.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Uitverkiesing – Hermie van Zyl

Willem vra:

Hoe verduidelik mens die Bybelse uitsprake oor uitverkiesing (bv Rom 8:28-30) aan iemand wat dit as ’n onderdrukking van die mens se vryheid van keuse beskou. Die persoon verklaar dat hy nie aan so ’n onregverdige God kan glo nie. Ek het die emeritaatrede van prof Dirkie Smit oor die goeie boodskap van die uitverkiesing gelees.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In my antwoord gaan ek nie op alle aspekte van die uitverkiesing in nie, maar slegs op die vraag of uitverkiesing teenoor persoonlike keuse staan – die kwessie wat ons vraagsteller aanroer. (Daar is reeds uitstekende bydraes op die Bybelkennis-webblad oor die uitverkiesing; die vraagsteller kan net “uitverkiesing” by die soekfunksie intik en so al die artikels vind.)

Wanneer uitverkiesing as ’n teoretiese konsep hanteer word, los van hoe die saak in die bladsye van die Bybel voorkom, word dit inderdaad ’n probleemkwessie en word allerlei besware daarteen opgewerp, soos wat ons vraagsteller aan die orde stel. Dit word dan maklik so voorgestel asof uitverkiesing alle menslike keuse en verantwoordelikheid by voorbaat uitskakel, asof God ons soos pionne op ’n skaakbord rondstoot sonder dat ons enige sê het. Maar laat ek dit onomwonde stel: Goddelike uitverkiesing onderdruk nie menslike vryheid van keuse nie, maar roep dit juis op. Laat ek verduidelik.

Een van die klassieke tekste in die Nuwe Testament wat oor die uitverkiesing handel, is Efesiërs 1:3-14. In v4 word gesê dat God voordat die wêreld geskep is, ons uitverkies het. Hierdie woorde word soms so verstaan asof God eensydig besluit het wie Hy uitkies om aan Hom te behoort en dat die mens nie ’n keuse daarin het nie. So voorgestel, maak dit inderdaad van die uitverkiesing ’n saak van Goddelike willekeur en menslike onmag. Die mens moet maar eenvoudig aanvaar wat God in sy almag besluit het: is jy uitverkies, is jy een van die gelukkiges; is jy nie uitverkies nie, het jy dit ongelukkig sleg getref. Maar as mens so redeneer, gebeur presies waarteen ek hierbo gewaarsku het, dat van die uitverkiesing ’n teoretiese konsep gemaak word, los van die uitleg en bedoeling van die Bybelteks. En met Bybelteks word altyd bedoel dat mens nie woorde en uitdrukkings op die klank af uit hulle verband haal en dan ’n hele teorie daar rondom bou nie. Nee, mens moet noukeurig lees om die bedoeling van die teks self te peil en te verstaan. Kom ons pas dit toe op Efesiërs 1. Dan ontvou ’n heel ander verstaan van die uitverkiesing. Ons kyk na drie sake.

1   Daar word telkens in hierdie verse gesê dat God ons in Christus uitverkies het. Soos ’n refrein loop dit deur v3-14: in Christus het God ons uitverkies (v4), God skenk sy genade vrylik in die Geliefde (v6), deur die bloed van sy Seun is ons verlos (v7), God het die geheimenis van sy wil deur Christus tot uitvoering gebring (v10), dit was God se doel om alles op aarde onder een hoof, Christus, te verenig (v10), deur Christus het ons deel geword van die volk van God (v11,13), in Christus het die Heilige Gees ons tot God se eiendom beseël (v13), en ons het ons hoop op Christus gestel (v12). Die punt is: die uitverkiesing is nie ’n onbekende besluit van God wat in groot duisternis gehul is en waaroor mense maar net in onsekerheid kan wonder nie. Nee, God se ewige uitverkiesing van mense vind in en deur Christus plaas. God het voor die grondlegging van die wêreld reeds besluit dat Hy mense in Christus na Hom toe sal trek. En hierdie besluit het God in die geskiedenis van Israel waar gemaak. Hy het sy redding, wat vir die hele wêreld beskikbaar is, deur die kruis en opstanding van Christus kant en klaar voorberei. Wanneer jy nou in Christus glo en deur die Heilige Gees beseël is, is die doel van God se uitverkiesing voltrek en weet jy vir seker dat jy deel van sy volk, sy gemeenskap van gelowiges op aarde is. Daar is dus nie ’n uitverkiesing wat skuilgaan agter en buite Christus om en wat ons in groot onsekerheid laat oor ons ewige heil nie. Die heil wat deur die bloed van Christus beskikbaar is, is die onteenseglik sigbare bewys van God se ewige verkiesing. Niemand hoef dus te wonder hoe God se uitverkiesing werk nie; dit werk wanneer jy in Christus glo. Dan is jy deel van die heil wat God beskikbaar stel op aarde. En wáár is dit beskikbaar? Dit bring ons by die volgende punt.

2.   Wat treffend is in Efesiërs 1:3-14 is die “ons” en “julle” wat deurgaans voorkom. Dit is telkens ons wat in Christus uitverkies is en julle wat deel geword het van die volk van God. Hierdie meervoude is nie om dowe neute daar nie. Ons wil dikwels van die uitverkiesing ’n individualistiese saak maak, maar hierdie “ons” en “julle” verwys na Israel en die kerk wat as heilsinstansies uitverkies is om God se redding op aarde te verwesenlik, instansies waardeur God sy genade na almal op aarde laat vloei. Elkeen wat glo, word deel van hierdie uitverkore gelowige volk van God. Die uitverkiesing werk dus eintlik via die volk van God na elke individu toe; ’n mens kry deel aan die uitverkiesing wanneer jy ingelyf word by daardie instansie wat God uitverkies het om sy heil op aarde te vergestalt. Hierdie siening verlig ook die druk wat ons laat opbou rondom die uitverkiesing dat elke individu voor die grondlegging van die wêreld persoonlik deur God uitverkies is. In ’n sekere sin ís dit so, maar dis eintlik indirek so: jou uitverkiesing word in die geskiedenis ’n werklikheid wanneer jy die heil wat beskikbaar is in God se uitverkore voertuie – die volk Israel in die Ou Testament en die kerk in die Nuwe Testament – in die geloof aangryp en jou eie maak. Dan word jy opgeneem in hierdie stroom van genade wat God uitgekies het om sy heil op aarde te versprei.

3.  Hierbo het ons telkens van geloof gepraat. Dis nou nodig om dit duideliker uit te spel in terme van die uitverkiesing. Die uitverkiesing in Christus en die inskakeling by die kerk hou in dat dit mense se geloofskeuses oproep en insluit. Efesiërs 1:13 sê duidelik dat ons die uitverkiesing in Christus ’n werklikheid gemaak het deur die evangelie te hoor en tot geloof te kom. Verre sy dit dus daarvan dat die uitverkiesing ’n mens sonder die vryheid van keuse laat of menslike verantwoordelikheid uitskakel. God maak nie van ons stokke en blokke wat Hy na willekeur manipuleer nie. Die mens het nog steeds die verantwoordelikheid om gehoor te gee aan die heil wat God beskikbaar stel. Natuurlik, presies hoe Goddelike verkiesing en menslike geloof in mekaar pas, is nie deursigtig nie. As ’n mens kies om in Christus te glo, kan jy nie sê dis jou eie prestasie nie, want dan word geloof ’n goeie werk op grond waarvan God jou beloon. Nee, ook jou geloof is deel van God se misterievolle werking wat ons deur sy Gees van binne-af nuut maak deur die wedergeboorte (Joh 3:3-8). Daarom word die werk van die Heilige Gees ook spesifiek genoem in Efesiërs 1:13-14: Die Gees beseël ons as God se eiendom en is die waarborg dat ons alles sal ontvang wat God belowe het. Menslike keuses het egter ook ’n slegte keersy: ’n Mens kan ook nee sê vir God se heil; jy het die keuse om God se verkiesing in Christus te verwerp. Maar as jy hierdie heil verwerp, kan jy nie Gód die skuld gee daarvoor nie. Dit staan volledig op jóú rekening; dis jou keuse. God verwerp niemand van alle ewigheid af nie; Hy verwerp alleen dié wat Hóm volhardend verwerp, wat eintlik daarop neerkom dat God jou oorlaat aan jou keuse. God neem ons besluite dus baie ernstig – hetsy ons keuse van geloof, hetsy die keuse wanneer ons sy heil verwerp. Die verkiesing in Christus staan van alle ewigheid af vas. Wie dit in die geloof aangryp, maak daarmee God se verkiesing in Christus effektief en is seker van God wat red. Maar wie dit in eiesinnigheid verwerp, het slegs homself te blameer.

Uit bostaande oorsig oor Efesiërs 1:3-14 behoort dit duidelik te wees dat die uitverkiesing allermins beteken dat menslike keuses uitgeskakel word.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




My identiteit as christen – Jan van der Watt

Kobie vra:

Ek wil graag meer verstaan rondom my identiteit as Christen en waar ek vandaan kom.

 Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Daar is nie ‘n enkele antwoord op die vraag na die Christelike identiteit en waar ons daardie identiteit gekry het nie. Ons het egter wel ‘n paar kern beelde wat alles vir ons verduidelik. Hier gaan ‘n paar genoem word.

1)      ‘n Baie algemene beeld wat in omtrent al die Briewe voorkom is die beeld van gelowiges as die familie van God, met ander woorde, kinders van God, broers en susters. Ons identiteit is dus die van kinders van ‘n familie met God as Pa. Daarom word gepraat van geboorte uit God (= geboorte van bo of wedergeboorte) wat uitloop op ons wat lewe (ewig). Die beeld wat dus op ons geestelike lewe toegepas word om vir ons te verduidelik wie ons is, is die van ‘n gewone gesin waar daar gebore word, gelewe word, die pa die kinders liefhet, versorg en beskerm, waar die kinders aan die pa gehoorsaam is. Op die manier wil die Bybel dit vir ons  makliker maar om te verstaan wie ons as gelowiges is – dink maar aan die ideale gesin en jou posisie en voorregte binne die gesin – plaas dit op jou geestelike verhouding met God oor en jy sal weet wie jy is en wat God vir jou doen – onthou net dat die Bybel God as ideale Pa sien en sy gesin as ideale gesin. (Dit beteken dat ons nie ons negatiewe ervarings uit ons aardse gesinne hier kan toepas nie).

2)      Die beeld van versoening word ook baie gebruik, veral deur Paulus. Die volgende tipiese voorbeeld uit die ou tyd beskryf die agtergrond van die beeld is: twee persone (groepe) is kwaaivriende, want die een het 20 skape van die ander een gesteel. Nou wil hulle niks met mekaar te doen hê nie. ‘n Tussenganger moet dan kom help. Hy gaan na beide persone toe en hoor wat die probleem is en wat elkeen verwag gedoen moet word om die probleem op te los. Hy onderhandel dan – byvoorbeeld, die persoon wie se skape gesteel is, sê hy wil die skape terughê met twee ekstra vir die moeite. Dit word dan onderhandel tot almal tevrede is. Dan word die skape teruggegee en die twee kwaaivriende word dan versoen. Nou is alles weer reg. Dit is die beeld wat Paulus gebruik. Mense het teen God gesondig en is dus onder die toorn van God. Jesus is mens en God en kan dus namens altwee groepe optree. God stel sy eise en nie die sondaars nie, maar Jesus betaal die prys aan die kruis. Hy tree vir hulle in maar betaal ook wat nodig is om weer die vrede te maak. Op die manier word die mense weer met God versoen en heers daar vrede. As gelowige is jy dus iemand wat met God versoen is, in vrede en vrymoedigheid na hom kan gaan.

3)      Loskoping is nog so beeld. Met omtrent die helfte van die mense wat slawe op party plekke was, is dit geen wonder dat daar iets soos loskoping was  nie. ‘n Slaaf, wat die eiendom van sy of haar eienaar was, kon deur iemand anders losgekoop word (vir ‘n prys) en dat was die slaaf vry, hoewel hy of sy dan wel verpligtinge teenoor die een wat hom losgekoop het, gehad het, met ander woorde, dankbaarheid moes gewys word. Net so het Jesus mense, wat slawe van die sonde was, met sy bloed losgekoop. Nou is ons vry mense wat God kan dien. Dis ons identiteit.

So is daar nog heelwat ander beelde wat gebruik word, soos oorwinnaars, uitverkorenes, nuut geskapenes, mense wat deur Jesus se offer bevry is, wat deur sy bloed rein gewas is, en so meer.

Een ding wat  ons  moet onthou: Gelowiges is nie meer sondaars in die oë van God nie – nee, ons is koningskinders, vrygekooptes en versoendes met God. Dis wie ons is en so moet ons lewe.

Skrywer Prof Jan van der Watt




Die korona-virus – Jan van der Watt

Jan vra:

Hoe behoort die Christen te reageer op aspekte waar die virus mense se gemeenskap van gelowiges bv deur eredienste en gebedsbyeenkomste inperk.

Antwoord

Prof Jan van die Watt antwoord:

Die vraag van inperking is ’n moeilik en gevarieerde probleem, soos ons ook internasionaal sien – nie alle lande volg dieselfde beleid nie. Dit is nie die fokus van die webblad om op politieke standpunte te reageer nie. Die wyer probleem van die gemeenskap van die gelowiges raak egter alle Christene.

Die Christendom is in sy diepste wese in verhoudings gewortel. Gelowiges is geestelik een liggaam wat mekaar moet versorg, versterk, in liefde dra en so kan ons voortgaan. As 1 Johannes (2:5; 4:12) sê dat God se liefde in gelowiges volmaak word, beteken dit nie dat God se liefde eers onvolmaak was nie. Die Griekse woord (teleioō) dui daarop dat ’n doel bereik is, met ander woorde, God se liefde vir mense op aarde het sy doel bereik as daardie liefde deur mense na ander mense vloei (1 Jn 4:7, 12). Dan bereik en raak God se liefde almal. Dit gebeur deurdat ons onder andere mekaar help en bystaan as kinders in die familie van God (1 Jn 3:16-17). Gelowiges is en bly ’n gemeenskap, ’n geestelike familie wat na mekaar moet omsien en afhanklik is van mekaar. ’n Kool wat uit ’n vuur val en eenkant lê gaan gou dood. Ons het mekaar nodig om die warmte van God se liefde te ervaar. Dit is en bly een van die hoekstene van die Christelike geloof. Om die gemeenskap van die gelowiges weg te neem is inderdaad om een van die pilare van die Christendom weg te neem.

Sonder om enige uitspraak oor inperking tydens ’n pandemie te maak, kan wel gesê word dat as mense die gemeenskap verbied word, daar ’n baie ernstige en goeie rede voor moet wees en dit absoluut net ’n tydelike maatreël moet wees.

Daar is’n verdere aspek, naamlik die persoonlike verantwoordelikheid van die gelowige om ook na jou eie verhouding met God om te sien en die naaste aan jou Christelik te ondersteun. Onthou, die vroeë gemeentes was maar baie klein, soms net ’n gesin of twee wat in ’n huis kerk gehou het. Die gemeenskap van die gelowiges was ook daar aanwesig – ’n groot kerk of baie mense was nie nodig nie. Dit beteken dat mens in so ‘n uitsonderlike geval as pandemie baie nader aan ‘jou eie’ moet leef. Daar in jou vrou of man, jou kinders moet jy ook die teenwoordigheid van die liefde van God laat geld en dit daar ervaar. Dit is baie moeiliker as om in ’n kerk met baie mense te sit en die Here te dien.

’n Laaste aspek, die Bybel lê besonder baie klem op kennis van God en sy Woord. Om die waarheid te sê kan ’n Christen ook nie sonder die kennis nie, want God is ’n God wat Hom aan ons openbaar het – ons het Hom nie uitgedink nie. As ons dus nie uit sy Openbaringswoord leer wie Hy is nie, beteken dit dat ons nie weet wie Hy is nie. Dan dink ons ons weet, maar maak eintlik net ons eie storie oor God op. In ’n situasie waar inperking of gebrek aan ander gelowiges geld, is dit logies dat die fokus effens van byeenkomste na die uitbreiding van mens se kennis skuif. Dit is dus ’n goeie idee om die tyd te gebruik om God se Woord te ondersoek. Daarin wil ’n webblad soos Bybelkennis.co.za ook help.

Skrywer : Jan van der Watt