Category: DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES:
Jesus se afskeidsrede aan sy dissipels (13:1-17:26) – Francois Malan
Soos Jakob aan sy seuns in Genesis 49, Josua aan die volk in Josua 22-24, Dawid aan Salomo in 1 Kronieke 28-29 en Moses aan die volk Israel in die hele boek Deuteronomium, plaas Johannes Jesus se afskeidsrede aan sy dissipels tydens die laaste paasmaal/eerste nagmaal, net voor sy verhoor, kruisiging, opstanding en verskynings.
Naskrif oor Jesus se bediening (vervolg) – Die oordeel deur Jesus se woord (12:44-50) – Francois Malan
12:44 Die een wat in Jesus glo, glo in God. Die Jode gee voor dat hulle in God glo, maar weier om in Jesus te glo. Dit beteken hulle geloof is nie eg nie. Ware geloof in God begin by geloof in Jesus, wat die Vader aan ons kom openbaar het. Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekendgemaak (1:18).
Naskrif oor Jesus se bediening – die Jode se ongeloof (12:37-43) – Francois Malan
12:37-38 Die skrywer kyk terug op Jesus se hele bediening. Ten spyte van die baie wondertekens wat Hy voor sy eie mense, die Jode, gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie (1:11) . Hulle reaksie op Hom was volgehoue ongeloof. Johannes sien hierin ‘n vervulling van Jes 53:1 wat hy uit die Griekse vertaling aanhaal: ‘Here, wie het ons boodskap geglo (Jesus se woorde wat Hy van die Vader gekry het, 3:34; 7:16-17; 8:26,28; 12:49-50 ), en aan wie is die arm van die Here (Jesus se wondertekens) geopenbaar?’ Die klag in Jes. 53 oor die Jode se ongeloof in die dienaar van die Here wat verag en deur mense verstoot is, gaan voort tot by die Jode se ongeloof teenoor Jesus en sy boodskappers – en tot vandag toe onder mense.
Jesus se kruisdood is sy verheerliking (12:32-36) – Francois Malan
12:32 ‘En Ek, as Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.’ Die Satan word onttroon en die Seun van die Mens gekroon oor die wêreld waarvoor Hy gesterf het. Sy verhoging is nie slegs aan die kruis nie, maar via die kruis na die troon in die hemel. Hy sal alle mense na Homself toe trek as die gekruisigde en opgestane Verlosser. Alle mense verwys na die universele trefwydte van sy reddende heerskappy (1 Kor 15:25), dit word aan alle mense aangebied, en die liefde van God vir die wêreld wat in Jesus se selfoffering weerspieël word, trek almal wat die Vader aan Hom gegee het na Hom toe (vgl. 6:37; 10:29; vgl. 2 Kor 5:14).