Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (9)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (9) – Jan van der Watt

Waardes was groepwaardes 3

Nog ʼn belangrike waarde vir die Mediterreense mens was eer. Eer was iets wat jy in die oë van ander gehad het; dit is wat hulle van jou gedink het. Dit was veral jou eie groep se opinie van jou wat baie getel het. As die Fariseërs dus vir Jesus probeer vasvra en Hy wys hulle tereg, styg sy aansien in die oë van die mense; só styg sy eer dus. As die mense vir Jesus “hosanna” toejuig as Hy Jerusalem inry, is dit ʼn teken van erkenning van sy eer. Wanneer hulle egter skreeu: “Kruisig Hom,” is dit om Hom te onteer. ʼn Mens was dus destyds wat jy in die oë van ander was. Dit het egter ook afgehang van wie die “ander” is. As die koning baie van jou dink, was jou eer hoog, al het die gewone mense nie baie van jou gedink nie. Dit is dan ook die argument wat ons baie in die Bybel kry: mense dink nie baie van gelowiges nie en vervolg hulle, maar in die oë van God is die gelowiges Koningskinders. Hulle eer is dus hoog omdat hulle in die oë van God belangrik is, maak nie saak van die res nie.

Dit is dus te verstane dat groepe hulle eer hoog probeer hou het deur hulle goeie naam te beskerm. As een van die groeplede die naam van die groep skade aangedoen het, moes hy tereggewys word. As ʼn mens nie volgens die waardes van die groep geleef het nie, het die groep jou gewaarsku om terug te kom en weer soos ʼn egte lid van die groep te leef. Dit was ʼn liefdesaksie om die afgedwaalde persoon weer in pas met die groep te kry (Matteus 18:15-20). As ʼn persoon hom glad nie meer aan die waardes van die groep gesteur het nie, is hy uiteindelik deur die groep verstoot (Johannes 9:28-34; 1 Johannes 2:18-19).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (8)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (8) – Jan van der Watt

Waardes was groepwaardes

ʼn Groep wat verdeeld is, kan nie standhou nie (Markus 3:24). Daarom is twis, onmin en onvrede binne ʼn groep ʼn baie groter probleem in die Bybel as wat dit vir ons moderne mense is (Jakobus 4; 1 Korintiërs 1:10-17). Daarom was daar baie meganismes om vrede te maak. Jy moes jou fout aan die groep gaan bely en hulle om verskoning vra. Jy moes ook onderneem om nie weer dieselfde dinge te doen wat die groep skade aangedoen het nie. Johannes sê dat ons ook ons sondes voor God moet bely sodat ons verhouding met Hom weer sterk en suiwer kan wees (1 Johannes 1:9). Paulus praat van versoening wat in ernstige gevalle toegepas is. Daar was dan ʼn tussenganger om die kwaaivriendskap reg te maak. Die tussenganger moes dan reël dat die skade wat die een aan die ander gedoen het, ook reggestel word. As alles gereël is, was die twee weer vriende. Paulus sê dat Jesus die tussenganger tussen God en mens is. Hy betaal ook al die skade wat die mens aan God gedoen het en sorg so dat ons weer God se vriende kan wees (Kolossense 1:22-23; 2 Korintiërs 5:17).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (7)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (7) – Jan van der Watt

Waardes was groepwaardes

Die oproep in Jakobus 4:11 om nie vir jou broer kwaad te word nie, wil juis die groep beskerm, want as jy iemand in die groep skade aandoen, beskadig jy eintlik so die hele groep. In die lig hiervan moet ons ook die opsomming van die wet sien. Jy moet God met alles liefhê, maar wat daarmee gelyk staan, is dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself (Matteus 22:34-40). Binne hierdie raamwerk is dit verstaanbaar dat as jy ʼn kind van die Vader seermaak, jy die Vader seermaak en op dié manier benadeel jy eintlik die hele groep. Om die Vader lief te hê beteken juis ook om sy kinders lief te hê. Binne ʼn groep is almal aan mekaar verbonde. Benadeel jy die een, benadeel jy almal.

Paulus het hierdie groepsverbondenheid goed gebruik in sy sendingwerk. Ons lees dat wanneer hy by ʼn nuwe dorp aankom, hy dikwels eerste na die sinagoge toe is (Handelinge 13:5, 14-15; 14:1; 16:13). Hy het geweet die Joodse groepsgevoel sou hom daar laat welkom voel. Toe die Jode egter agterkom dat Paulus nie presies sê wat hulle groep wil hoor nie, het hulle hom verjaag en selfs vervolg (Handelinge13:50; 14:2, 5). So het hulle hom as buitestander gebrandmerk.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (6)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (6) – Jan van der Watt

Waardes was groepwaardes

Die groep het die waardes en gedrag van die individu bepaal. Die individu was absolute lojaliteit aan die groep verskuldig. Hulle moes hulle eie belange ondergeskik aan die belange van die groep stel en moes selfs bereid wees om die groep met hulle eie lewe te beskerm.

ʼn Basiese waarde wat die groep saamgebind het, was liefde. Liefde was nie in die eerste plek emosioneel nie. Jy het gewys jy het iemand lief deur jou lojaliteit teenoor daardie persoon en die verantwoordelikheid wat jy vir hom neem. As hy jou nodig kry, is jy daar en is jy selfs bereid om jou lewe vir die persoon te gee. Liefde is dus altyd aksie ter wille van iemand anders in die groep. Paulus se lyding saam met die Korintiërs is ʼn voorbeeld hiervan (2 Korintiërs 11:29). Kyk hoe gee God die Vader sy Seun ter wille van sy familie (Johannes 3:16).

Dit is interessant dat ons in die Bybel nie die opdrag kry om vir mekaar dankie te sê nie. Ons moet wel vir God dankie sê en so erkenning gee aan wat Hy vir ons gedoen het. Om nie dankie te sê nie was algemeen in die antieke wêreld. In ʼn groep help die lede mekaar. Vandag help ek jou en môre help jy my weer (byna soos rugbyspelers wat vir mekaar die bal gooi; hulle sê nie elke keer dankie as iemand vir hulle die bal gooi nie).  Die wedersydse hulp het beteken dat as jy iets van iemand gekry het, jy bereid moet wees om dit weer vir hom te gee. Jy moet dus dankie leef en nie sê nie. Mense was dus voortdurend by mekaar “in die skuld”, want as iemand vir jou iets gedoen het, moet jy dit weer vir daardie persoon terugdoen om so te wys dat jy regtig dankbaar is. Dit laat ons sekere eise van die Bybel beter verstaan. Daarom moet ons ons lewe vir die Here gee omdat Hy dit vir ons gegee het’ ons moet ons geld aan die Here toevertrou omdat Hy dit vir ons gegee het, want ons is slegs rentmeesters.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt