Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (5)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (5) – Jan van der Watt

Destydse families was ook uitgebreide families. Die werksmense en slawe is as deel van die familie gesien. Die familie moes ook vir hulle sorg en hulle moes lojaal teenoor die familie bly. Daarom word slawe of werkers wat nie goeie werk doen nie, kwaai veroordeel (Matteus 24:45-50). As hulle verkeerd werk, laat hulle die hele groep in die steek.

Slawerny was algemeen in die antieke wêreld. ‘n Mens kon op verskillende maniere ‘n slaaf word: deur geboorte as jou ouers slawe was; jy kon verkoop word om jou skuld te betaal: jy kon in ‘n oorlog wat julle verloor het as slaaf deur die vyand weggevoer word; jy kon as baba deur jou ouers weggegooi gewees het en deur iemand anders opgetel word en as slaaf grootgemaak word.

Slawe het nie persoonlike regte gehad nie en moes hulle eienaars gehoorsaam. Hulle was soos meubels in die huis; die eienaar kon met hulle doen wat hy wou.

Tog was alles nie net sleg vir die slawe. Dikwels was diegene wat in ‘n oorlog as slawe weggevoer is, gesiene en geleerde mense van die groep wat die oorlog verloor het. Hulle is dan in verantwoordelike posisies geplaas, byvoorbeeld om kinders te onderrig of plase te bestuur. Sulke slawe was gewoonlik vir die baas baie werd en die baas het dan mooi na sy belegging gekyk. Slawe kon ook vrygekoop word, of as hulle genoeg geld bymekaar kon maak, kon hulle hulleself vrykoop.  In gevalle waar slawe baie goeie en getroue diens gelewer het, het die eienaar die slaaf vrygemaak. In baie gevalle het die vry slaaf dan nog maar saam met die eienaar gewerk, gewoonlik omdat hy nêrens anders gehad het om na toe te gaan nie.

Vriende was ook altyd welkom en is as deel van hierdie uitgebreide familie gesien. Die basiese eienskap van ‘n vriend was om openlik, eerlik en vrymoedig met jou vriend te wees (Johannes 16:25-30).

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (4)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (4) – Jan van der Watt

Kinders was die krag van ʼn gesin, veral seuns. Kinders is gesien as “ontluikende persoonlikhede”. Dit beteken dat hulle soos ʼn leë glas is: die basiese karaktertrekke is daar, maar deur onderrig in die familie moes die glas volgemaak word. Die kinders het gewoonlik tot hulle sesde lewensjaar onder hulle ma se vlerk gebly. Daarna het die pa’s stelselmatig die verantwoordelikheid vir die opleiding van seuns begin oorneem. Vir die Jode was veral godsdienstige opleiding in die Tora (eerste vyf boeke van die Bybel) belangrik. Die seuns moes die Tora leer lees en selfs leer uitlê. Dele is uit die kop geleer. Dan moes die pa ook die seuns ʼn ambag leer. Josef was ʼn timmerman (anders gestel: in die boubedryf) en Jesus het dus sy ambag by sy pa geleer (Markus 6:3).

Hoe het ʼn mens deel van die familie geword? – Daar was ʼn paar maniere:

(a)    Jy kon in die familie in gebore word (wedergeboorte sê dat gelowiges in die familie van God in gebore word, Johannes 3:3, 5).

(b)   Dan kon jy as kind aangeneem word met dieselfde regte as ʼn kind wat in die familie in gebore is. (In Romeine 8:23 sê Paulus ons is as kinders in God se familie aangeneem.)

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (3)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (3) – Jan van der Watt

Die ma se rol was om kinders in die lewe te bring en hulle dan te versorg. Dit klink eenvoudiger as wat dit is. Huisvrouwees was nog nooit maklik nie. Baie druk was op die vroue om water te gaan haal in putte en riviere, om te sorg dat daar kos is – hulle moes selfs boer (Spreuke 31) – en dan nog die kos gereed te kry en bedien. Petrus se skoonmoeder was skaars gesond of sy moes al weer kos maak. (Markus 1:31; Johannes 12:2). Die dogters het ook fluks saamgewerk. In die aftydjies moes die vroue vir klere sorg op die harde manier. Hulle moes dit self vir die familie maak, want geld om klere te koop was daar nie eintlik nie.

Vroue se plek was in die huis en vir die moderne mens voel dit half verslawend, veral ook as ʼn mens na die klere en kopdoeke kyk wat hulle moes dra. Dit het die vroue egter nie gepla nie. In die huis en huislike bedrywighede was hulle baas. Soos die mans die openbare gesig van die familie was, was die vroue die private gesig.

Daar was egter ʼn baie goeie rede waarom die vroue so in die private beskerming van die huis gehou is en as hulle buite gekom het, hulle so moes toemaak. Dit hang saam met die karakter en suiwerheid van die familie. Destyds is geredeneer dat die karaktertrekke van ʼn kind deur die saad van die pa oorgedra word. As die vrou van ʼn familie dus gemeenskap gehad het met iemand buite die familie, het vreemde karaktertrekke in die familie ingekom. Dan was hulle karakter nie meer so suiwer soos hulle moes wees nie.

Daarom was verkragting iets heeltemal anders in die ou dae. Dit was om op die wese van nie net die vrou nie, maar ook die familie in te gryp. . In sulke gevalle kon die familie wraak neem en selfs al die mans van die ander familie gaan doodmaak. Die groot kuns was egter om die vroue weg te hou van ander mans. Daarom het hulle in die huise gebly en as hulle uitgegaan het, het hulle hulle heeltemal met klere bedek.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Het jy geweet? Wat word van “beendere”?

Het jy geweet? Wat word van “beendere”? – Jan van der Watt

Daar was destyds eerbare en oneerbare begrafnisse. ’n Eerbare begrafnis het beteken dat mense rou oor die gestorwene (vir sewe dae intensief en vir die direkte nabye familie tot ’n jaar lank) en dat die gestorwene in ’n familiegraf begrawe moes word.

Grafte was gewoonlik in Jesus se tyd uit rots uitgekap en het soos ’n tipe “grotjie” gelyk. Van die “grafte” is opgegrawe en in van hulle is daar “hope” mensbene iewers in die “grotjie” gekry. Waar kom die bene vandaan?

Die gebruik was dat die lyk in die graf gelê is en na ’n jaar of so, as net die bene oorgebly het, is die bene bymekaar gemaak en op die hoop bene, wat reeds in die graf gelê het, gegooi. So is die persoon se beendere by die beendere van sy “vaders” versamel (dit was mos ’n familiegraf).

In ander gevalle is die beendere deur die familie saamgeneem en in die huis gebêre. Veral toe gedagtes oor God wat in die toekoms weer sal kom, lewendig begin word het, is daar geglo dat hierdie bene weer in die opstandingsliggaam opgeneem gaan word. Daarom moes dit naby die familie bly. Dit was egter nie sonder probleme nie. Ons weet van gevalle waar die vyande van die Jode na ’n oorlogsoorwinning of aanval die beendere sou gevat en weggegooi het (dikwels in ’n rivier of in die see, wat beteken dat die beendere na die “onderwêreld” sou “afsak”). Die implikasie was dan dat die “beendere” nie sou kon “opstaan” as God weer kom nie, want dit is weg, die onderwêreld in. So is die familielid van die res “geskei”. Gelukkig weet ons as Christene beter – ons God is ook in beheer van wat in die onderwêreld gebeur. Hoe anders sou Jesus immers uit die mag van die dood (graf) kon uitstap as God se  mag nie ook daar die botoon gevoer het nie?

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt