Spreek in tale – Hermie van Zyl

Jan vra:

Op die Pinksterdag toe die Heilige Gees uitgestort is, sê Hand 2:5: “En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is.” Die getal is ongeveer 16 verskillende tale. En hulle het gehoor hoe die ontvangers van die Heilige Gees elkeen in sy “eie taal” spreek oor die groot dade van God. “Is almal wat daar spreek dan nie Galileërs nie” (vers 7).

As die toeskouers dan in Jerusalem gewoon het, hoekom sou hulle nie Hebreeus as taal gehad het nie en hoe het dit dan gebeur dat soveel tale betrokke kon wees as hulle hulself van die vreemdetaal-praters distansieer met die woorde: “Is hulle wat daar spreek dan nie nie Galileërs nie?”

Dan kom Paulus in 1 Kor 12 en hy noem allerhande tale en uitleg van tale as deel van die gawes van die Heilige Gees. In hoofstuk 14 moedig hy die mense aan om liewer te profeteer want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie want niemand verstaan dit nie maar deur die Gees spreek hy verborgenhede tot God. Iemand wat in ‘n taal spreek stighomself, behalwe as hy dit wat gesê is, kan uitlê.

Dan sê Paulus verder in vers 18: “Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal”.

By die uitstorting van die Heilige Gees praat die ontvangers in bekende tale, maar in Paulus se konteks praat hy ‘n taal wat net deur God verstaan kan word.

Was die hoorders destyds besoekers aan Jerusalem om daar te gaan aanbid of het hulle daar gebly soos aangedui? Hoe bring mens die verskil in tale bymekaar, met ander woorde bekende tale en ‘n taal wat net deur God verstaan kan word?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die sogenaamde spreek intale is een van die tekens of manifestasies van die uitstorting van die HeiligeGees op die Pinksterdag in Jerusalem. Die ander tekens was: Die skielike gedruis soos van ‘n sterk stormwind, en tonge soos van vuur wat bo elkeen sigbaar was. Al hierdie begeleidende tekens van die uitstorting van die Gees het ‘n ryk agtergrond vanuit die Ou Testament. Wat wind betref: Dit is meermale in die Ou Testament ‘n teken van die teenwoordigheid van God (vgl 2 Sam 5:24;  Ps 104:4). Die woord vir “wind” en vir “Gees” is in die oorspronklike Grieks dieselfde, naamlik pneuma. Dis daarom geen wonder dat Johannes 3:8 die werk van die Gees met die wind vergelyk nie. En vuur: Ook di­t is in die Ou Testament ‘n simbool van God se heerlikheid en teenwoordigheid(vgl Eks 3:2;  13:21). Reeds Johannes die Doper het voorspel dat die Messias met die Heilige Gees en vuur sal doop (Luk3:16-17), om daarmee die reinigende en bemagtigende werk van die Gees te verwoord.

Wat die spreek in tale betref, word dit meermale in die Nuwe Testament vermeld as teken van die bemagtiging deur die Gees. In die boek Handelinge kom dit naas hoofstuk 2:1-13 ook in 10:45-46 en 19:6 voor. Die interessante is egter dat daar ‘n verskil is tussen die talewonder van Handelinge 2, enersyds, en 10 en 19 andersyds. In Handelinge 2 het ons klaarblyklik met bestaande en verstaanbare tale te doen, want die omstanders sê hulle hoor die gelowiges in hulle “moedertaal” en “eie tale” praat. Hoe moet ons dit verstaan? Die volgende stukkie agtergrond sal dit duidelik maak.

Sedert die dae van die Babiloniese ballingskap in die sesde eeu vC, het die Jode oor die hele destyds bewoonde wêreld versprei.  Nie almal het na die ballingskap na Palestina teruggekeer nie. Hoewel hulle volledig ingeburger geraak het onder die volkewaar hulle gewoon het, het die meeste aan die lewende God getrou gebly. Sommige het hulle mettertyd weer in Jerusalem gevestig (veral teen die aand van hulle lewe), waarskynlik omdat hulle geglo het dat wanneer die Messias sy verskyningmaak, dit op die Olyfberg sal gebeur. Dit is van sulke vrome Jode dat ons in Handelinge 2:5 lees.

Aangetrek deur die geluid van wind, drom hulle op die plek saam.  En dan gebeur die wonder:  elkeen hoor hoe die gelowiges in die tale van die volke waaronder hulle oorspronklik grootgeword het, begin praat.  Hieroor is hulle uitermate verras.  As inwoners van Jerusalem was hulle bekend met die gebeure rondom Jesus en herken hulle sy dissipels uit Galilea.  En Galileërs kan tog nie al die tale praat nie. Vandaar hulle reaksie: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal?” (Hand 2:7-8).

Dit is ook ‘n vraag of ons hier met ‘n spreek- of hoorwonder te doen het. Het die dissipels werklik in die vreemde tale begin praat (spreekwonder) of het hulle gewoon hulle eie moedertaal, Aramees, gepraat maar die hoorders het dit as hulle onderskeie moedertale gehoor (hoorwonder). Handelinge 2:4 wil laat dink dat dit ‘n spreekwonder was, maar 2:10 neig weer in die rigting van ‘n hoorwonder. Uiteindelik maak dit nie regtig saak na watter kant toe ‘n mens die wonder interpreteer nie, punt is dit was bekende, verstaanbare tale van destyds wat gepraat of gehoor is.

Lukas berig verder uit watter volke en streke die Jode oorspronklik gekomhet.  Dit was destyds omtrent al die nasies onder die son (kyk die kaart by Hand 2 van die 1983-Afrikaanse Vertaling). En dis presies wat Lukas wil sê:  hierdie Jode verteenwoordig al daardie nasies.  In hulle is die hele wêreld teenwoordig wanneer oor die groot dade van God op die Pinksterdag vertel word.

Op ‘n voorlopige manier word op een dag die evangelie tot in die uithoeke van die wêreld verkondig (vgl Hand 1:8). Van nou af neem die wêreldsending ‘n aanvang; wat hier op een dagvoorlopig gebeur, is profeties van wat voortaan ‘n werklikheid sou word in die hele wêreld onder die geklank van God se Woord! Handelinge 2 se tale wonder beklemtoon dus veral die getuieniskarakter van die Heilige Gees se werk. Verder, die Gees bring hier diverse taalgroepe byeen wat lank tevore met die spraakverwarring by die toring van Babel verstrooid geraak het oor die aarde(Gen 11:1-9). Nou kan mense mekaar weer verstaan en kan hulle verenig onder dieverligtende werking van die Gees.

Teenoor die bekende tale van Handelinge 2 het ons in 10:45-46 en 19:6 egtermet ‘n ander soort spreek in tale te doen. Hier word gepraat van “ongewonetale of klanke” waarmee God geprys en sy boodskap verkondig word. Dit wil lyk of ons hier eerder met die spreek in tale-verskynsel te doen het waarvanook in 1 Korintiërs 12 en 14 sprake is. Dit word nie in Handelinge 10 en 19 insoveel woorde gesê dat die tale onverstaanbaar is nie, maar dit wil so voorkom.In 1 Korintiërs 14:4 word egter pertinent gesê dat die tale onverstaanbaar is vir gewone mense; daarom moet daar iemand wees wat dit uitlê (1 Kor 14:13-19). Hierdie tale of tongespraak is meer gemik op die opbou van die individu as wat dit bedoel is vir die gemeente se opbou, want die gemeente kan dit nie verstaannie, tensy iemand dit uitlê (14:4-5).

Hoe bring mens nou die twee soorte “spreek in tale” bymekaar “die een meer ‘n soort onverstaanbare tongespraak (ook glossolalie genoem) en die ander ‘n praat in verskillende bekende tale? Vanuit die oorspronklike Grieks is daar nie ‘n verskil in betekenis nie; albei word as spreek in ‘n(ander) tong of taal aangedui. (In Grieks is “tong” en”taal” dieselfde word “ glossa“.Engels behou nog hierdie verband deur van “mother tongue” te praat.) Albei is dus gawes van dieselfde Gees. Die verskil lê meer in die funksie vandie gawe. In die een geval gaan dit oor die getuienislewering van die Gees(Hand 2); in die ander gevalle gaan dit oor ‘n uiterlike teken van Geesvervulling en opbou van die individuele gelowige (Hand 10; 19; 1 Kor 12;14). Elkeen het sy plek en funksie, en dit is dieselfde Gees wat die gawes gee.

Verder moet ons ook byvoeg dat 1 Korintiërs 12 duidelik sê dat die een gawe nie teen die ander afgespeel mag word nie. Daar is nie net een gawe nie, maar’n verskeidenheid, en almal kom van dieselfde Gees. Daar mag dus nie ‘n wedywering onder gelowiges om die meer “skouspelagtige” gawes wees nie, soos wat blykbaar onder die Korintiërs voorgekom het. Elke gawe van die Gees is skouspelagtig, maak nie saak hoe “ordinêr” dit vir ander maglyk nie.

Prof Hermie van Zyl




Aäron

Mense in die Bybel: Aäron (1)

Wie was Aäron? Hy was die seun van Amram en Jogebed, die broer van Moses en Mirjam. Hy het met Eliseba getrou en het vier seuns gehad: Nadab, , Abihu, Eleasar en Itamar (Numeri 26:59 – 60). In 1 Kronieke 6:3 – 15 lees ons van Aäron se afstammelinge.

In Eksodus 3 lees ons van God wat Hom aan Moses in die doringbos openbaar en aan hom ‘n opdrag gee: Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry. Moses maak allerhande verskonings waarom hy nie die geskikte persoon vir hierdie taak is nie. Een van Moses se verskonings was dat hy nie goed kon praat nie. God antwoord hom: Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien … Wanneer hy namens jou met die volk praat, is hy jou segsman en jy die een wat hom sy opdragte gee (Eksodus 4:14 – 16). Toe God vir Moses na die farao toe stuur, maak hy weer beswaar, maar God antwoord: Ek gee aan jou gesag oor die farao, en jou broer Aäron sal jou woordvoerder wees (Eksodus 7:1). So word Aäron Moses se spreekbuis.

Moses en Aäron is saam na die farao en het met hom oor die vrylating van die Israeliete uit Egipte onderhandel. U het u volk soos ‘n kudde gelei deur die hand van Moses en Aäron (Psalm 77:21 – ook Psalm 105:26 en Miga 6:4). In hulle konfrontasie met die farao het Aäron se kierie ‘n belangrike rol gespeel: Vat jou kierie en gooi dit voor die farao neer dat dit ‘n groot slang word (Eksodus 7:9 – 10). Aäron moes ook met sy kierie oor al die waters van Egipte swaai en dit het bloed geword. Aäron en sy kierie speel ook ‘n belangrike rol in al die plae wat Egipte getref het.

In Eksodus 12:1 praat die Here met Moses en Aäron oor die instelling van die paasfees en die tiende plaag: die dood van die eersgeborenes. Aäron, saam met Moses, het ‘n belangrike rol gespeel in die bevryding van die Israeliete uit Egipte.

In Levitikus 10 lees ons van die tragiese dood van twee van Aäron se seuns. Hulle, Nadab en Abihu, het ongeoorloofde vuur gebruik om wierook aan God te offer. ‘n Vuur wat van die Here af gekom het, het hulle verteer en hulle het gesterf in die teenwoordigheid van die Here.

Die voorskrifte wat die Here aan die volk gegee het – oor onrein kos, onreinheid by mans en vrouens, die kamporde, ens – het Hy aan Moses en Aäron gegee. Ook by Sinai het Aäron ‘n belangrike rol gespeel. Moses word deur die Here beveel om die berg na Hom toe op te klim: Jy, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers van Israel (Eksodus 24:1). In vers 10 lees ons: Hulle het die God van Israel gesien: onder sy voete was ‘n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self.

Kom ons kyk na ‘n paar gebeurtenisse uit die lewe van Aäron:

(1)         Die volk het gedurig gekla oor Moses en Aäron. Dit was hulle skuld dat die farao sy slawedrywers opdrag gegee het om die Israelse slawe nog meer te dryf (Eksodus 5:20 – 21); dit was hulle skuld dat die volk nie genoeg gehad het om in die woestyn te eet nie (Eksodus 16:2 – 12); dit was hulle skuld dat die verkenners ‘n negatiewe verslag oor Kanaän gelewer het (Numeri 14); daar was selfs ‘n opstand teen Moses en Aäron (Numeri 16); dit was hulle skuld dat daar geen drinkwater was nie (Numeri 20). Soos die psalmis dit stel: Langs die trekpad het hulle hulle in afguns teen Moses verset en teen Aäron wat aan die Here gewy was (106:16).

(2)         Tydens die oorlog teen die Amelekiete moes Moses sy arms omhoog hou om te verseker dat die Israeliete die sterkste is. Naderhand word Moses se  arms moeg. Dit was Aäron en Hur wat sy hande omhoog gehou het en so die oorwinning verseker het (Eksodus 17).

(3)         Aäron het ook twee liter manna in die ark geplaas sodat dit vir die nageslag veilig bewaar kan word (Eksodus 16:33).

(4)         Toe Moses en Josua teen Sinai-berg opgeklim het, bly Aäron en Hur as leiers in die kamp agter (Eksodus 24:13 – 14).

(5)         Die laagtepunt in die lewe van Aäron was sekerlik die oprigting van die goue kalf (Eksodus 32). Hy laat hom deur die volk oorreed om hierdie afgodsbeeld te maak. Toe Moses hom hieroor konfronteer, pak hy al die skuld op die volk. In Stefanus se toespraak net voor sy steniging verwys hy ook na hierdie episode (Handelinge 7:40 – 41).

(6)         Aäron en sy suster, Mirjam,  was jaloers op Moses: Het die Here dan net deur Moses gepraat … en nie ook deur ons nie? Numeri 12). Mirjam is deur die Here gestraf – sy het melaats geword. Aäron is blykbaar nie gestraf nie.

(7)         Die volk was opstandig en die Here beveel Moses om twaalf kieries, een vir elke stam, met die leiers se naam daarop, in die tent van ontmoeting te sit. Die man wat die Here uitkies se kierie sal bot. Aäron se kierie het gebot en selfs bloeisels gehad (Numeri 17).

(8)         Toe die volk kla omdat hulle geen drinkwater gehad het nie, kry Moses en Aäron opdrag om Aäron se kierie te neem en met die rots te praat. Die Here sou dan water uit die rots voorsien (Numeri 20). Moses was egter ontsteld en slaan die rots twee maal met die kierie. Daarna volg die Here se oordeel:  Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan julle gee nie.

Die dood van Aäron word in Numeri 20:22 – 29 beskryf. Moses, Aäron en sy seun Eleasar het voor die volk Horberg uitgeklim. Moses het Aäron se klere uitgetrek en vir Eleasar aangetrek … Aäron is daar op die top van die berg dood.

Die een aspek van Aäron se lewe wat ek nie bespreek het nie, was Aäron se rol as priester.

 




Die seënuitsprake van Jesus (25)

Die seënuitsprake van Jesus (25)

In die begin van die bergrede lees ons dat Jesus teen die berg opgegaan het, gaan sit het en Hy het hulle geleer:

Geseënd is dié wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Geseënd is dié mense wat treur, want hulle sal die aarde erf.

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

 Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Geseënd is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang..

Geseënd is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Geseënd is die mense wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Matteus 5:3 – 10 (Nuwe Testament en Psalms , Direkte Vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. (2014).

Colin S. Smith het ‘n baie interessante boek geskryf oor die seënuitsprake van Jesus: Momentum -Pursuing God’s Blessings Trough the Beatitudes (2016).  Die boek sê wat ons kan doen om die momentum in die Christelike lewe wat ons almal soek, te kan kry. Ek gaan ‘n hele paar blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Groot seen en groot beloning

Geseënd is die mense wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Probleemareas

Groot seën en groot belonings word dikwels in die grootste probleemareas gekry. Jesus sê dat diegene wat vervolg word se beloning sal groot wees. Hierdie belofte van seën in gevalle van spot, skinder en fisiese vervolging kry ons dwarsdeur die Bybel. Paulus praat van om deel te hê aan sy lyding (Filippense 3:10). Toe Sadrag. Mesag, en Abednego in die brandende oond gegooi is, was ‘n engel van die Here by hulle (Daniël 3). Vanuit die tronk skryf John Bunyan: I have never in all my life had so much of the Word of God opened up so plainly  to me before … Also, Jesus Christ was never more real to me than now; here I have seen and felt him indeed , Hy het nooit vantevore die liefde van God ondervind en nooit meer krag ontvang as tydens die tyd van sy beproewing nie. Ons sal ook seen in die moeilikste plekke van ons lewens ondervind.

 

Die uitkoms: Die groot belonging in die hemel

Afgesien van die seëninge belowe God ook ‘n groot beloning vir gelowiges wat ter wille van geregtigheid vervolg word. Wees bly en verheug, want julle loon is goot in die hemel (Matteus 5:12). In sy genade beloon God sy kinders. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaaar (Matteus 6:20). Dit beteken dat ons meer daar en minder hier kan hê en omgekeerd. Wat ons hier doen maak ‘n verskil aan wat ons daar het.

 

Hiermee kom ons aan die einde van die seënuitsprake. Volgende keer gaan ons kyk na hoe ons hierdie momentum kan gebruik.

 




Die seënuitsprake van Jesus (26)

Die seënuitsprake van Jesus (26)

In die begin van die bergrede lees ons dat Jesus teen die berg opgegaan het, gaan sit het en Hy het hulle geleer:

Geseënd is dié wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Geseënd is dié mense wat treur, want hulle sal die aarde erf.

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

 Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Geseënd is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang..

Geseënd is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Geseënd is die mense wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Matteus 5:3 – 10 (Nuwe Testament en Psalms , Direkte Vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. (2014).

Colin S. Smith het ‘n baie interessante boek geskryf oor die seënuitsprake van Jesus: Momentum -Pursuing God’s Blessings Trough the Beatitudes (2016).  Die boek sê wat ons kan doen om die momentum in die Christelike lewe wat ons almal soek, te kan kry. Ek gaan ‘n hele paar blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Ons verwag ‘n gemaklike lewe. ‘n Gemaklike lewe lei tot geestelike futloosheid wat mettertyd tot vrees en lafhartigheid lei. Die afgod van gemak moet afgebreek word.. Dit gebeur deur te vas, te gee, te dien en te waag. Hierdie is nie aanloklik vir gelowiges wie se primêre doel gemak is nie. As iemand agter My aan wil kom, moet hy himself verloën, sy kruis opneem en My volg (Markus 8;34). As iemand sluit alle gelowiges in – geen uitsonderings nie. Elkeen moet sy/haar eie kruis opneem. As God ons in voorspoed, vrede en vryheid laat lewe, moet ons hierie gawes gebruik om aan Hom gehoorsaam te wees. Ons is dikwels traag en daarom is ons nie wat God ons roep om te wees nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak en ons beste bedoelings misluk onder al ons verskonings.

Nou is jy by die eerste ring – jy is arm van gees. Jy onderwerp jou met sagmoedigheid aan die wil van God. Uit hierdie wortels groei die stam – die honger en dors na gregtigheid. Uit hierdie begeerte bring God die vrugte voort – ‘n hart vol deernis, barmhartigheid en vergifnis. Dit is ‘n hart wat heiligheid nastreef. Dit is ‘n hart wat vrede natreef en van jou ‘n vredemaker maak In ‘n verdeelde wêreld

Di eerste ring is binne jou bereik. Reik uit daarna, gryp dit vas en swaai.

Hiermee die einde van hierdie reeks oor die seënuitsprake van Jesus.