Saambly Verhoudings

Saambly Verhoudings – Kobus Kok

Frans vra:

Wat sê die Bybel oor saambly verhoudings?

Antwoord:

In die studentegemeente waar ek leraar is, is daar baie van die mees gelowige en volwasse studente (mans en vrouens) wat in ‘n huis (kommune) saambly. Ek kan nie sien dat saambly ‘n probleem opsigself is nie. Die probleem, en dit wat agter die vraag skuil, is in der waarheid eerder ‘n vraag na seksualiteit en hoe ons in ‘n verhouding dit moet bestuur. Myns insiens is die Bybel duidelik daaroor.

Indien ons wil weet wat die Bybel oor saambly en oor die bestuur van seksualiteit sê, is daar egter ‘n paar dinge wat ons duidelik moet stel. In die eerste plek is die Bybel geskryf in ‘n gans andere tyd en in ‘n gans andere kultuur wat radikaal verskil van die tyd en die kultuur waarin ons vandag leef.

Indien ons vir ‘n oomblik die Joodse wêreld van die Ou Testament neem, sien ons die volgende interessante elemente. Die Jode het ‘n patriargale sisteem gehad, wat beteken dat die pa die hoof van die huis was en dat hy verantwoordelik was om die gesin/familie te lei en te beskerm. Die Jode het op grond van die skeppingsorde geargumenteer dat elke ding sy plek het en dat enige iets wat uit plek uit is onrein is en buite God se orde val. Reinheid was nou gekoppel aan die orde-beginsel (vgl. Malina en Rohrbaugh – “Social World”). So is mense wat ontoelaatbare geslagsgemeenskap gehad het dikwels met die dood gestraf. Seksuele reinheid (Kyk Levitikus 18) was vir die Jode, veral by vrouens, ‘n baie belangrike saak. Maagdelikheid was ‘n groot vorm van eerbaarheid en indien ‘n meisie haar maagdelikheid verloor het, het dit haar in skaamte gelaat. In die proses sou haar pa ook eer verloor in ander se oë omdat hy nie daarin geslaag het om sy dogter op te pas nie. Dit was immers die hoof van die gesin se verantwoordelikheid om sy dogter se eer te beskerm. So het vrouens nie sommer in die publiek sonder ‘n sluier verskyn nie. ‘n Eervolle man sou die eer van sy gesin en die eer van sy vrou en dogters verseker deur om te sien dat hulle binne die regte grense bly. Die verwagting het bestaan dat meisies maagde moes wees as hulle trou. Op die eerste dag van hulle troue sou hulle geslagsgemeenskap hê, en indien die meisie nie ‘n maagd is nie, kon die man haar net daar skei en niemand sou hom kwalik neem nie. Die beginsel van eer en die verwagting van korrekte seksuele gedrag was so belangrik dat dit dikwels gebeur het dat ‘n seun sy eie suster sou doodmaak indien sy onvanpas opgetree het en die familie se eer geskend het. So ‘n moord is dan as ‘n eervolle moord beskou en almal was dan baie trots op die seun wat die eer van sy pa beskerm. Net so moes ‘n seun ook versigtig wees hoe hy teenoor ander meisies optree, want hy moes ook sy eie eer in stand hou. In kort, in die wêreldbeeld van die Ou Testament, met spesifieke verwysing na die Jode, was seksuele reinheid ‘n belangrike saak. Hiervolgens kan ons dus nie anders as om te sê dat voorhuwelikse seksuele verhoudings ten minste nie deur die Ou Testament geregverdig kan word nie.

In die Nuwe Testament, veral met die bekering van heidene wat dikwels in seksuele onreinheid geleef het sien ons dat die Nuwe Testament altyd weer die gelowiges oproep tot seksuele reinheid. In 1 Korintiërs 6:13 lees ons duidelik: “‘n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is.” Dit is met ander woorde duidelik, seksuele reinheid is vir die Nuwe Testament ook baie belangrik.

Saamblyery is vandag niks vreemds nie. Inteendeel, nie minder nie as negentig persent van die paartjies wat ek trou, het voor die tyd saamgebly. Myns insiens leef ons in ‘n tyd waar seksualiteit egter fyn bestuur moet word omdat dit ons uiteindelik ook beskerm. God en die Bybel se oproep tot heiligheid is nie iets wat ons van plesier weerhou nie. Uiteindelik, as jy mooi daaroor dink, beskerm dit jou teen ‘n klomp dinge wat jou lewe kan verwoes. Daarvan kan ons almal getuig wat die vernietigende effekte daarvan beleef of gesien het. Ek en my vrou, wat albei nog jonk is en dus nie as die sogenaamde “ou” generasie praat nie, het besluit om nie saam te bly voor ons troue nie, en ook op seksuele vlak met mekaar met respek en heiligheid om te gaan. Dit het tot die gevolg gehad dat ons mekaar vandag geweldig baie kan vertrou omdat ons mekaar van die begin af met integriteit en respek hanteer het. Daarom sou ek ander ook wou aanmoedig om dit te probeer.

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 

 


 

Kommentaar – Chris Steyn

Na aanleiding van die artikel oor Saambly sal ek graag wil voorstel om die volgende punte mee te neem in die antwoord:

1. Die Bybelse beskrywing oor die huwelik wat mens eers in Genesis 2: 24 en later weer in die Nuwe Testament teëkom (Efesiërs 5: 31) maak duidelik dat geslagsgemeenskap (een vlees) gereserveer is vir binne die veilige grense van die huwelik.

2. Josef, die man van Maria, se gedrag soos beskryf in Mattheus 1 maak duidelik dat hy die Ou Testamentiese riglyne oor geslagsgemeenskap binne die huwelik gerespekteer het. Aangesien die Bybel saam een geheel vorm, moet mens oppas om dit nie kunsmatig in twee te deel veral wanneer dit oor etiese sake gaan nie. God se waardes en norme vir menslike gedrag in die algemeen het nie verander nie.

3. Die betekenisse van die Hebreeuse en Griekse woorde in die Bybel wat aangee wat die verskillende soorte seksuele sonde is, laat geen ruimte vir misverstand nie. Geslagsgemeenskap is gereserveer vir die huwelik.

4. Mense wat gesondig het op hierdie gebied sal vergewe word sodra hulle hulle verootmoedig en die Here om vergewing vra. Daarna sal Hy hulle deur Sy Heilige Gees in staat stel om hulle lewens rein in te rig. Dankie vir Sy genade!

In Christus verbonde Chris Steyn




Jesus en gebed

Jesus en gebed – Fanie Rudolph

Inleiding:

Wat het Jesus te sê gehad oor gebed?  Watter praktiese riglyne kan ons vanuit die lewe van Jesus uit die Bybel kry oor gebed?  Hoe kan ons gebed sinvol, en Bybels, inrig?

Jesus oor gebed:

Jesus het vir sy dissipels ‘n modelgebed gegee (Matteus. 6:9-13).  Volgens Lukas het sy dissipels hiervoor gevra nadat hulle Jesus self gesien bid het (Lukas 11:1).  In hierdie pragtige gebed kry ons die geleentheid om God aan te roep en te loof (Matteus 6:9), onsself onder sy beheer te stel terwyl ons erken dat Hy oor alles gesag het (Matteus 6:10), ons kan ons daaglikse behoeftes voor sy voete kom neerlê (Matteus 6:11), ons kan ons berou en belydenis oor sonde aan Hom doen (Matteus 6:12) en bid dat Hy ons bewaar daarteen om weer terug te val, dit is, sy beskerming oor ons lewe (Matteus 6:13).  Verder het Jesus sy dissipels daarop gewys dat gebed nie ‘n spogsessie is nie (Matteus 6:5-8).  God word nie beïndruk deur ons taalgebruik nie, maar deur ons opregtheid.  Hy word ook nie beïndruk deur ons goeie gebedstaal of -houding of ons vrymoedigheid om voor ander mense te bid nie (Lukas 18:9-13).  Gebed is binnekamertyd (Matteus 6:6).  Dit is tyd tussen my en God, die detail waarvan niemand hoef te weet nie.  God weet, en Hy ken my gesindheid (Matteus 6:6b).  Dit is wat die verskil maak. 

Jesus het ook by ‘n hele paar geleenthede dit duidelik gemaak dat ons mag (en moet) bid sonder ophou (Matteus 7:7-12; Lukas 11:5-13; 18:8).  Ander gebedsriglyne wat Jesus gee, is:

  •          Ons moet bid vir ons vyande, in plaas van om hulle dood te wens (Matteus 5:44; Markus 11:25).  Soos Jesus vir sy vyande aan die kruis gebid het, moet ons bid vir ons vyande (Lukas 23:34).  So vertoon ons onsself anders as die wêreld. 
  •          Wanneer ons gelowig bid, sal die Vader ook ons gebed verhoor (Matteus 21:22; Markus 11:22-24).  Dit lyk dalk of minder gelowige (ongelowige) gebede nie verhoor sal word nie.  Tog weet ons die man aan die kruis se (twyfelende) gebed is met groot sekerheid deur Jesus beantwoord (Lukas 23:42-43).
  •          Ons gebede moet nie selfsugtig wees nie, maar gerig wees op die verheerliking van die Naam van God (Johannes 14:13-14).  Ons kan nie net ons gerief-lysie voor die voete van God lê en dan antwoorde verwag nie.  Gelowig bid gaan oor sake van die geloof en verlossing. 
  •          Dit is ook belangrik dat gelowiges die eindtyd biddend ingaan.  Dit is slegs deur die krag van God (waarvoor gebid moet word) dat gelowiges die swaar tye sal kan hanteer (Lukas 21:36).

Jesus en gebed:

Die evangelies beskryf talle geleenthede waar Jesus self besig is om te bid.  Ons lees meestal dat Jesus Homself afgesonder het in gebed (Matteus 14:23; Markus 1:35; 6:46; Lukas 5:16).  Hierdie geleenthede bevestig dat stil tye in die binnekamer vir Jesus baie belangrik was.  Dit is ook insiggewend dat hierdie stil tye telkens kom na ‘n baie besige dag, asof Jesus weet sy energie is getap en Hy het die Vader se krag nodig.  Jesus bevestig ook hiermee hoe belangrik dit vir Hom is om sy taak op aarde in noue kontak met sy Vader aan te pak.  Met die verheerliking op die berg het Jesus vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om alleen te gaan bid (Lukas 9:28vv). 

Jesus het egter ook in die openbaar gebid.  Trouens, in Matteus 11:25-26 praat Hy in gebed met sy Vader terwyl Hy eintlik besig is om sy dissipels te leer.  Hierdie openbare gebede van Jesus was vol lof vir God, vir Wie Hy is en vir wat Hy gedoen het.  Die bekendste “openbare gebed” van Jesus is wanneer Hy hardop vir sy dissipels bid in Johannes 17.  Met hierdie pragtige gebed (bekend as die hoëpriesterlike gebed) dra Jesus sy dissipels en hulle toekoms in die Hand van God oor.  Hy bid vir hulle werk, hulle behoeftes, die bekeerlinge wat sou volg, en dat elkeen in sy heerlikheid mag deel.  Hierdie gebed begin ook met ‘n lofprysing wat God se grootheid en almagtige beskikking besing (Johannes 17:1-5).

Aangrypend is Jesus se gebede aan die kruis.  Hy het self die voorbeeld gestel deur self sy vyande te vergeef (Lukas 23:34).  En dan was daar die pynlike gebed van Godverlatenheid wat Hy uitgeroep het (Matteus 27:46).  Daarmee het Hy die Godverlatenheid van menige gelowige deur die eeue verwoord.

Samevatting:

Ons sien dat gebed ‘n integrale deel van Jesus se lewe was.  Hy het hierdie kontak met sy Vader gekoester en gereeld opgesoek.  Hy het ook moeite gedoen om sy dissipels te leer waaroor gebed gaan.  Deur sy voorbeeld moet hulle (en ons) dieselfde passie vir gebed ontwikkel 

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph

 




Gebedstaal – Vraag

Gebedstaal

Vraag:

Is daar iets soos ‘n gebedstaal soortgelyk aan spreek in tale.

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Bybel ken nie iets soos ʼn spesiale gebedstaal nie. Gebed is om met God te praat. In die Joodse wêreld van Jesus se tyd was daar gewoonlik ook hardop gebid, al was dit soms fluisterend. In Romeine 8:26 lees ons egter dat ons soms sonder woorde kan raak, ja, dat ons nie weet wat om te sê nie. Dan sit die Heilige Gees ons gedagtes in woorde om vir God. Spreek in tale kan ook ʼn vorm van gebed wees, want as ʼn mens na 1 Korintiërs 14:2, 13-19 kyk, lyk dit of die spreek in tale plaasvind wanneer ʼn mens intense nabyheid aan God beleef. Die ervaring van die intieme verhouding mond dan in gebed by wyse van spreek in tale uit.   

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




“Huisskoonmaak”

“Huisskoonmaak”

Theo Visser vra:

Daar doen ‘n CD die rondte wat “huisskoonmaak” hanteer. Daarin word gelowiges aanbeveel om van sekere items wat moontlik in die huis kan voorkom, ontslae te raak –  byvoorbeeld beeldjies van feetjies of kabouters. Sulke items sou dan glo oop deure vir die bose wees . Ek glo nie ek onderskat die krag van die bose nie , maar maak hierdie mense afleidings wat nie gestaaf kan word deur behoorlike bestudering van die Woord nie? Ek glo so. (Ek het nog nie self die CD onder oë gehad nie so ek weet nie wie dit uitgee nie.)

Antwoord van Prof Jan van der Watt:

Theo Visser skryf dat daar ‘n CD die rondte doen wat aanbeveel dat gelowiges  met “huisskoonmaak” te doen het. Dit beteken dat daar by gelowiges aanbeveel word om van sekere items wat moontlik in die huis kan voorkom, ontslae geraak moet word, byvoorbeeld. beeldjies van feetjies, kabouters of ander vreemde beelde. Sulke items sou dan glo oop deure vir die bose wees.

Die vraag is: kan ʼn beeldjie of ʼn hangertjie duiwelse magte so oor my kan laat losbreek dat ek maar net magteloos kan toekyk hoe die duiwel my siek maak of dinge vir my en my huis kan laat skeefloop? Moet ʼn mens bang wees vir duiwels of demone wat in ʼn stukkie juweliersware of in een of ander beeldjie in jou huis rondlê? Beteken dit regtig dat die duiwel in die geheim hierin wegkruip om jou in oomblikke van swakheid te bekruip?

Ek moet sê dat ek regtig wens dat geestelike kragte in sulke hangertjies, beeldjies of tekens kon wegkruip. Dit sou beteken dat dit ook van kruisies of beeldjies van Jesus waar moes wees. Immers as geesteskragte in hangertjies kan wegkruip, kan dit mos nie net van die duiwel waar wees nie – dit moet ook van Christus waar wees. En nou die rede hoekom ek wens dat dit waar sou kon wees: Christus is mos baie sterker as die duiwels. As jy dus ‘n kruisie om jou nek hang, sou dit moes beteken dat Christus so besit neem van jou lewe, net soos mense beweer dat ‘n satanshangertjie of beeldjie die duiwel besit van jou laat neem. Maar ons weet dit werk nie so nie. Ons weet mos jy kom nie skielik jou eksamen deur deur ‘n kruisie om jou nek te hang nie of kom nooit in ‘n ongeluk omdat jy die Christelike vis-teken agter op jou kar plak nie.

Daar kruip nie bonatuurlike kragte in metaalhangertjies, vissies op ‘n kar of beeldjies in ‘n huis weg nie. ‘n Kruisie om jou nek is maar net ‘n stukkie metaal. Die krag lê nie daarin nie, maar in die Here wat aan die kruis vir ons gesterf het. Die kruisie is net belangrik omdat dit ons aan die Here Jesus herinner.

So ‘n Christelike of satansteken is maar net ‘n rigtingwyser, iets wat jou herinner aan die persoon waarvoor die kruisie of satansteken staan. ‘n Teken of simbool is maar net ‘n rigtingwyser. Veronderstel jy sien ‘n padteken met ‘n petrolpomp op. Daardie padteken het self niks petrol in hom nie. Om die waarheid te sê, hy het niks met ‘n pomp te doen nie. Maar wat daardie padteken wel doen is om vir jou in die rigting te wys van waar jy dit waarvoor die padteken staan kan kry, naamlik petrol. Die padteken vertel dus van iets anders. Die kruisie om jou nek is nie Jesus nie, maar net ‘n rigtingwyser na Hom toe. Dit herinner jou net aan die Een waarvoor die kruis staan. Volg jy die rigting wat die kruis op dui, kom jy by Jesus uit. Net so is ‘n satansteken of beeld nie die satan self nie. Volg jy egter die rigting wat die satansteken vir jou aandui sal jy by die satan uitkom.

Dit bring ons nou by die werklike gevaar van duiwelstekens uit. As die satansteken op jou hangertjie jou gedurig aan die duiwel laat dink moet die rooi ligte aangaan. Dan raak die satan gevaarlik omdat jy hom toelaat in jou gedagtes. As dit gebeur dat ek elke keer wat ek my hangertjie aansit of die beeldjie sien, onwillekeurig aan Satan dink, is dit die eerste tree in die verkeerde rigting. Dis soos ‘n mot wat in die eerste draadjie van ‘n spinnerak vasvlieg. As hy hard genoeg ruk, kan hy wegkom, maar as hy in nog en nog draadjies verstrengel raak, gaan dit vir hom te veel raak. As ek meer en meer plek vir die duiwel in my gedagtes gee sal die duiwel later ‘n goeie vastrapplek hê.

Die goue reël is dus: as jou hangertjie of beeldjie jou aan satan herinner raak dan dadelik daarvan ontslae.

Maar nou hoe presies lyk satanstekens? Daar is sekere bekende satanstekens soos ‘n bokkop in ‘n vyfpuntige ster. Tog kan ‘n mens die vraag eers regtig goed beantwoord as jy begryp wat ‘n  simbool is. ‘n Simbool soos die padteken wys na iets anders. Die simbool van die kruis wys byvoorbeeld na Jesus Christus. Ons maak dus in ons gedagtes ‘n koppeling tussen die kruis en die persoon van Jesus Christus. ‘n Satansteken weer sal enige iets wees wat jou ‘n koppeling of verbinding met die duiwel laat maak. Met ander woorde as iemand byvoorbeeld sê dat ‘n beeld in jou huis ‘n satansteken is en dit laat jou elke keer aan satan dink, word daardie beeld vir jou ‘n satansteken. As daardie selfde beeld ‘n ander persoon glad nie aan satan laat dink nie, is dit vir hom nie ‘n  satansteken nie, want dit laat hom nie aan Satan dink nie. Dit beteken dat ons as Christene dikwels vir Satan ‘n klomp wapens in sy hande sit, deur allerhande dinge satanstekens te noem. Op die manier maak ons lekker deure vir satan oop om nes te gaan maak in die gedagtes van ons jongmense. ‘Satansjagters’ doen satan soms meer gunste aan as wat hulle hom beveg. Hulle blaas satan so groot op dat hy groot dele van die denke en drome van ons jongmense vul. Ja-nee, dit is gevaarlik om die duiwel meer mag en publisiteit te gee as wat hy toekom.

‘n Beter opsie sou wees om jou liewer met die tekens waarop jy trots kan wees te assosieer. Dra liewer ‘n hangertjie, koop ʼn beeldjie of gebruik ‘n boekmerkie wat jou aan Jesus herinner. Laat Hy jou gedagtes vul. 

 

Outeur: Prof Jan van der Watt