22 Februarie – Jou goud kan jy nie saamdra hemel toe nie. – Jan van der Watt

Mark 10:13-32 (fokus 10:17-32)

‘Jesus sê vir die jongman: “Daar is een ding wat jy nie reg doen nie. Gaan verkoop alles wat jy het en gee dan die geld vir die mense wat niks het nie. Op dié manier sal jy ryk wees in die oë van God. Nadat jy dit gedoen het, kom jy terug en word een van my volgelinge.”’ (10:21)

 

Daar was eendag ‘n verskriklike ryk man wat elke dag die Here gesmeek het om sy goud met hom saam te vat hemel toe. Uiteindelik het die Here ja gesê. Toe hy by die hemelpoort kom, is Petrus nogal verbaas toe hy met die vrag goud daar aankom. “Die Here het gesê ek kan my goud saambring”, verduidelik die man. “Wel”, sê Petrus toe, “ek is nie seker hoekom jy soveel moeite gedoen het om nog ‘n stuk sypaadjie saam te bring nie”.

Dinge is so anders by God as by ons. Wat vir ons baie keer so belangrik is dat ons al ons energie en tyd daaraan spandeer is dikwels vir God totaal onbelangrik. Kan jy jou voorstel dat God vreeslik opgewonde sou raak oor goud, of ‘n sak geld, of miskien ‘n groot huis? Ek dink nie so nie. Hy het dit in alle geval alles gemaak. Daarom is dit tog die moeite werd om jouself te vra waarom ons soms onsself, ons gesin, ons vreugde en geluk daarvoor opoffer. Wat maak dit vir ons so belangrik en hoekom?

Die ryk jongman het nie mooi hieroor nagedink nie – daarom was Jesus se antwoord vir hom ‘n skok. Hy moes weer nadink wat vir hom in sy lewe die belangrikste is. Is hy bereid om nie meer goud en geld en huise te dink nie, maar God en Jesus en mense wat swaarkry? Dit gaan nie help om by die hemelpoort met sakke goud aan te kom nie, daarvan kan ons seker wees. Maar as ons met ‘n sak vol liefde, of ‘n siek man wat op ons skouer leuen of ‘n honger kind wat van die kos uit ons bord eet daar aankom, gaan ons ‘n klomp bly gesigte sien wat vir ons wag. Ja, ons kan sê die ryk jongman het Jesus nie gevolg nie, want sy goud was te swaar om saam te dra. Toe laat hy Jesus maar gaan en bly by sy goud. Wat ‘n fout!

Waaraan spandeer jy die meeste tyd as die Here verbystap? Om jou goud in te pak of uit te pak?




21 Februarie – Moenie monsters voer nie!. – Jan van der Watt

Mark 9:33-10:12 (fokus 9:33-37)

‘Jesus gaan sit toe en roep sy twaalf getrouste volgelinge nader. “Die een wat die belangrikste wil wees, moet die minste van almal word. Hy moet bereid wees om ander mense te dien.”’ (9:35)

 

‘n Etiopiese spreuk sê dat sonde soos ‘n naald is wat jy plant met ‘n eik wat groei. Dit gebeur te veel dat iets baie klein en onskuldig begin, maar in ‘n monster eindig wat alles verslind. So is dit met ambisie ook.

Dit is nie verkeerd om ideale en drome te hê en selfs alles in te sit om dit te bereik nie. Sonder ideale en drome sou ons nêrens kom nie. Nog minder hoef jy sleg te voel as jy sukses behaal of die hoogste sport bereik waar ander eenvoudig nie kan nie. Die Here wil hê dat ons ons talente moet gebruik – daarvoor het Hy dit vir ons gegee.

Tog staan die woorde van 9:35 ook in die Bybel: “Die een wat die belangrikste wil wees, moet die minste van almal word. Hy moet bereid wees om mense te dien”. Die woorde pleit dat daar balans in ons lewens moet wees – balans wat ander mense as mense raaksien en respekteer. Balans wat nooit sukses sal bou deur op ander te trap of ander seer te maak nie. Sodra jy op ander begin trap om bo te kom, begin die Here vrae oor jou drome en ideale vra. Nee, ons moet dit anders sê, Hy begin vrae oor jou vra! Oppas dat wat vir jou lyk soos naalde wat jy plant nie eike word wat alles wat mooi is in jou dooddruk nie.

Ons is gemaak vir mekaar, nie net vir onssself nie. Daarom kan en mag jou ideale nooit ten koste van ander wees nie; dit moet altyd tot voordeel van ander wees. Die Here wil hê ons moet dien, met ander woorde, ons moet na mekaar kyk en mekaar ondersteun.

Droom om die hoogste sport te bereik en jou beste ideale te vervul, sonder om ander moedswillig seer te maak. Dan droom jy op God se styl.




20 Februarie – Die beste vir jou kind is jou goeie voorbeeld . – Jan van der Watt

Mark 9:2-32 (fokus 9:14-29)

‘Die seun se pa sê toe vir Jesus: “Ek vertrou; en as ek hier en daar nie vertrou soos ek moet nie, help my asseblief daarmee ook.”’ (9:24)

 

Dit is nogal opvallend hoeveel ouers in die Bybel hulle kinders na Jesus toe vat, soos die man met sy seun waarvan ons hier lees (9:17). Ouers wil die beste vir hulle kinders hê en daarvoor sal hulle gewoonlik berge versit. Dit is wat liefde doen.

Tog het iemand nou die dag gesê: “Dit gee my slapelose nagte om te dink my kind leer die meeste van wat sy weet van my af”. Dit het my diep laat nadink. Watter spore trap ons waarin ons kinders kan volg? Hoe gaan hulle eendag uitdraai as hulle ons voorbeeld getrou volg?

As jou kind siek word, is jy vinnig om hom dokter toe te vat. Maar maak ons hulle nie soms juis op ‘n ander manier ‘siek’ deur ons voorbeeld wat ons stel nie. Is ons ongeduldig of onvriendelik, of selfs die hoë verwagtings wat ons aan hulle stel nie juis die die dinge wat hulle soms tot in hulle siel siek maak nie? Druk ons nie oneerlikheid of ‘n kwaai humeur vir altyd op hulle persoonlikhede af deur ons so kwaai of oneerlik te gedra nie? Immers, jou kind is maar ‘n na-aper van die mense wat vir hom of haar saak maak, en dit is jy.

Wat presies leer jy jou kind, of jy nou die ma of die ouma of oupa is? As ons vir hulle die beste wil hê, sal ons by onsself moet begin. Ons moet vir hulle die beste wees wat ons kan. Ons sal na onsself moet kyk.

Uiteindelik is die beste ding om te doen, wat al daardie ouers jare gelede gedoen het: hulle het hulle kinders na Jesus toe gevat. Sy voorbeeld is altyd ‘n goeie voorbeeld.




19 Februarie – Die belangrikste dinge in die lewe weeg niks nie… want dit is nie van silwer of goud gemaak nie. – Jan van der Watt

Mark 8:22-9:1 (fokus 8:34-9:1)

As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy hele lewe vir My gee. Ek sal met niks minder tevrede wees nie.’ (8:34)

 

Het jy al agtergekom… die belangrikste dinge in die lewe weeg niks nie. Neem nou maar liefde: As die liefde vir daai nuwe outjie by die skool jou dogter soos ‘n aansteeklike siekte tref, verander baie dinge, maar nie haar gewig nie – behalwe as sy natuurlik saam met die liefde op ‘n streng dieët ook gaan. Belangrike dinge, soos die liefde, kan ons nie op gewone skale soos silwer of goud weeg nie. Dit is miskien ook waarom ons regte liefde nie met silwer of goud kan koop nie. Liefde kom gewoonlik verniet…

Maar al weeg liefde niks vra dit baie; ja, eintlik vra dit alles (8:34). Neem nou maar liefde vir Jesus. Dit is die onsigbare band wat jou, ja, die hele jy, aan Hom vasbind. Dit vra dat wat vir Hom belangrik was vir jou ook belangrik sal wees; dat jy sal wees waar Hy is en sal stap waar Hy stap. So gee jy eintlik baie van jouself ‘weg’ – jou eiewilligheid, jou pad wat jy op jou eie beplan het om te stap. Soms vra dit meer as wat ons verwag het. Onthou, Jesus was soms alleen in die woestyn en sy pad het ook deur ‘n kruis geloop. Miskien kan jou pad ook daarlangs verby loop as jy by Jesus wil bly. Dan sal dit liefde wees wat jou aan die gang sal hou. Juis daarom is liefde so kosbaar.

Die lewe as Christen is nie altyd maklik nie. Maar dit is ook nie so moeilik nie. Hoewel jy alles moet gee, kry jy baie meer… jy kry Jesus. Dit is waaroor liefde gaan: om jou aan Iemand te bind, ja, om syne te wees. En as jy Syne is, is Hy ook joune. Al mag jou situasie moeilik wees, is jy daarin nooit alleen nie. En dit maak die moeilike maklik.

Liefde vir Jesus mag niks weeg nie, maar dit vra alles… en dit gee jou ook baie meer terug.