20 Oktober: Christene hardloop nie weg nie. – Jan van der Watt

2 Tim 3:1-9 (fokus 3:1-5)

 Daar is Christene wat “spesialiste” is op die wederkoms. Eintlik moet ons almal so wees, want Christene is toekomsmense. Ons moet met verwagting en afwagting wag op die Here wat weer kom. In moeilike tye moet die verwagting van Jesus wat weer kom ons juis aan die gang hou. Ons het immers iets om na uit te sien.

Maar daar is Christene wat op ‘n ander manier “spesialiste” is. Hulle sal wel van die Here wat weer kom praat, MAAR hulle eintlike tema is hoe vreeslik die tekens van die tye gaan wees. Hulle fokus op al die verskriklike dinge wat voor die wederkoms voorspel word. Hulle praat jou so bang met al die vervolging, lelike dinge, swaarkry en so aan wat voor die wederkoms vir ons wag dat jy amper wens die wederkoms bly liewer maar weg.

Dit is reg… die Bybel sê dat voor die Here weer kom die duiwel ‘n laaste eindpoging gaan aanwend. Slegte en bose dinge gaan erger word omdat die duiwel in paniek nog vir oulaas die gelowiges gaan probeer seermaak (3:1-5). Maar dit beteken nie dat gelowiges nou moet weghardloop nie. Hoe erger dit rondom gelowiges gaan hoe meer sal hulle die kans kry om helder en duidelik terug te veg… met die swaard van die woord en die spies van hulle optrede. As alles rondom jou oneerlik raak, staan jou eerlikheid die duidelikste uit. As mense nie meer mooi oor God praat nie, sal jou mooi woorde oor hom soveel helderder klink. As mense doelloos begin lewe sal jou doelgerigtheid hulle koppe laat draai. Nee, Christene kannie, mag nie, terugdeins nie. Hoe boser dit word, hoe belangriker raak jou getuienis.

Christene hardloop nie weg nie, want met die boodskap oor Jesus op jou lippe en op jou hande hoef jy nooit weg te hardloop nie.




19 Oktober: Lees jou handboek. – Jan van der Watt

2 Tim 2:14-26 (fokus 2:14-19)

 Een ou jaag vreeslik met sy kar. Bang gery vra die ander een in die kar hom hoekom hy so jaag. “Ek het agtergekom die remme is stukkend. Nou moet ons so gou as moontlik by die huis kom”.

‘n Mens kan nie een fout met ‘n ander regmaak nie. Boonop kan onkunde jou ook nog duur te staan kom. Een van die groot gevare van godsdiens is juis dat daar so baie “kenners” is, mense wat kamma “weet” dat as jou remme stukkend is, jy vir die huis moet jaag. En dit help nie om met hulle te stry nie. As jy met hulle daaroor gesels, sal hulle vir jou sê: “Dis wat ek glo, uit en gedaan”. Plaas daarvan dat hulle die handboek uithaal en lees.

Dit klink miskien nie so belangrik nie, of miskien klink dit afgesaag, maar deel van ‘n mens se behoud as gelowige is om God se “handboek” te lees. Dit beskerm jou net om nie dom dinge te doen nie. Dit help jou om regte besluite op die regte tyd te maak. Ons moet onthou dat ons God nie uitgedink het nie. Nog minder kan ons vir Hom voorskryf hoe Hy moet wees. God het na ons toe gekom en vir ons kom vertel wie Hy is en hoe Hy wil hê ons moet leef. Die inligting suig ek nie sommer uit my duim uit nie. God het dit vir ons gegee (geopenbaar) om te lees… in sy Woord. En ons moet daardie Woord lees en bestudeer, anders jaag ons ook dalk met stukkende remme huis toe omdat ons dink dit is reg.

Doen jouself ‘n guns – lees God se handboek. Dan sal jou geestelike reis sommer baie veiliger wees.




18 Oktober: Leef doelgerig. – Jan van der Watt

2 Tim 1:13-2:13 (fokus 2:8-13)

 Toe ek nog by die Universiteit van Fort Hare gewerk het, het ek my swart studente op ‘n uitstappie in die pragtige Katberge in die Oos-Kaap geneem. Na ons die piekniekmandjies leeggemaak het, stel ek voor ons klim een van die hoër pieke uit. Die swart studente het so stadig maar seker streep-streep agter my aangesleep. Toe ons bo kom, was ek baie tevrede, want die beloning was groot. Die uitsig was asemrowend. Die studente was egter ‘n bietjie omgekrap en wou weet: “En nou? Wat moet nou gebeur? Vir wat het ons al die moeite gedoen?” Toe besef ek dat hulle uit hierdie berge kom en waarskynlik van kleins af elke dag die berge moes klim om water te gaan haal of te gaan speel. Hierdie “sommer net stap” maak vir hulle geen sin nie.

Die verskil tussen ons was dit: ek het ‘n doel gehad. Ek wou bo kom om die uitsig te sien. Hulle het nie geweet waarom ons dit doen nie. Ek het fluks gestap en was bly toe ek bo kom. Hulle het hulleself voortgesleep (omdat ek gesê het hulle moet) en was ongelukkig toe hulle bo kom. Ek het ‘n doel gehad, hulle nie.

Om die berg van godsdiens te klim sonder om te weet waarom jy dit doen, ja, sonder‘n doel, maak jou net gefrustreerd. Dit is dan dat jy jou geestelike voete begin sleep en dat die klim vir jou moeisaam en swaar raak. Daarom motiveer Paulus Timoteus hier om altyd doelgerig te wees (2:1-7) en hy is nie onseker oor wat daardie doel is nie: Dit is om saam met Jesus te wees… om sy opstandingskrag eendag te ervaar (2:8-13). Dit is waarheen ons klim. Daarom mag ons op die reis nie moedeloos raak of op afdraaipaadjies gaan sit nie. As ons voel ons knieë word lam moet ons mooi fokus op die doel, op Jesus wat met oop arms vir ons wag.

Hiermee het Paulus by die kern gekom van dit wat jou as gelowige moet motiveer om ‘n doelgerigte Christelike lewe te lei. Jesus het opgestaan en jy gaan ook. Laat dit jou krag en motivering wees om sonder om te kla die berg uit te klim. Jou beloning gaan groot wees.




17 Oktober: Jou kinders “lees” jou. Laat hulle die regte boodskap kry. – Jan van der Watt

2 Tim 1:1-12 (fokus 1:3-7)

 Ons onderskat dikwels die invloed wat ons as lede van ‘n huisgesin op mekaar het. Ons bly saam, stry saam, eet saam en slyp mekaar so. Veral pa en ma is belangrik. Hulle is die mense wat direk en onuitwisbaar op die hart en verstand van hulle kinders skryf. Kyk maar, dogters aard meestal na hulle ma’s. En die seuns wil graag soos hulle pa’s wees – luister maar net na hoe graad 3-8 oor hulle pa’s spog. Met sulke sterk en slim pa’s kan ‘n mens die hele wêreld aanpak en Mars nog vir ‘n bonus ingooi.

Timoteus was een van Paulus se heel getrouste vriende en helpers. Maar sy menswees is nie deur Paulus gevorm nie, maar deur sy ma en ouma (5). Op hulle knieë het hy die evangelie leer ken, die Here leer liefkry. Deur hulle dop te hou het hy geleer wat dit beteken om op die Here te vertrou. Uit hulle het hy die krag van die Here sien straal as dinge moeilik begin gaan.

Waar beter kan ons kinders die Here leer ken as by ons, hulle ouers, wat hulle vertrou. Die merke van wantroue of vertroue wat oor ons lewe geskryf staan sal op hulle lewens ook afdruk. Die krag van ons geloof, of die twyfel en onsekerheid sal op hulle gemoedere ook afvryf. In ‘n sekere sin is ons kinders dus aan ons uitgelewer – ons maak afdrukke op hulle lewens wat gaan bly.

Ons moet besef: ons lewe nie net vir onsself nie, maar vorm die lewens van ons kinders ook. Aan hulle is ons verskuldig om so te leef dat hulle nie geestelik gewond hulle lewens moet leef nie. Hulle moet weet wat dit is om in die Here te glo en dat dit die moeite werd is om op Hom te vertrou. Dit is dinge wat ons vir ons kinders kan en moet gee omdat dit ewigheidswaarde het.

Jou kinders “lees” jou – laat hulle die regte boodskap kry.