12 Oktober: Moenie weghardloop nie… jy’t werk. – Jan van der Watt

1 Tim 4:1-16 (fokus 4:1-5)

 Party Christene is super weghardlopers. Hulle is vir alles bang. Jy mag nie dit nie en jy mag nie dat nie en daarheen mag jy nie gaan nie, en so gaan hulle aan. Ons kry dit van vroeg af in die godsdiens al. Askete was sulke mense wat niks met niemand te doen wou hê nie, omdat hulle dalk iets verkeerd mag doen… Daarom het hulle eenkant in ‘n bos gaan sit of hulleself in ‘n afgeleë huis gaan toesluit. So ontneem hulle hulleself aan ten minste twee goeie dinge wat die Here aan ‘n mens gee: die geleentheid om in hierdie wêreld ‘n positiewe invloed uit te oefen en die reg om sy hele skepping voluit te geniet.

Christene hardloop nie weg nie, veral nie van dinge af weg wat God s’n is nie. Hierdie wêreld is deur God gemaak en Hy het ons daarin gesit om te lewe en dit moet ons voluit doen. Om te lewe beteken om alles met dankbaarheid te geniet wat die Here vir ons gegee het, of dit nou kos nie, musiek, die natuur, selfs rykdom en voorspoed. Ons moet dit geniet, want die duiwel het dit nie gemaak nie. Dis die Here s’n.

En die weghardlopers, aan wie laat hulle God se skepping oor? Dit is dan dat die sonde ook iewers ‘n houvas begin kry en dit wat God mooi gemaak het skeef draai. Ons moet keer dat dit nie met God se skepping gebeur nie. Daarom moet ons as gelowiges wakker wees vir die manier waarop die aarde gebruik word, ons omgewing besoedel word, ons wêreld bestuur word. As dinge skeefloop moet ons nie weghardloop en onsself iewers gaan toesluit asof dit ons nie aangaan nie. Nee, ons moet ons deel doen om te sorg dat God se skepping reg gebruik word. Dit is hoe ons ons dankbaarheid kan wys vir alles wat Hy ons gegee het.

 Moenie weghardloop nie, want jy’t werk in die skepping en jy’t baie om te geniet.




11 Oktober: Wat is jou naam?. – Jan van der Watt

1 Tim 3:1-16 (fokus 3:1-7)

 ʼn Winkelier van plaasbenodigdhede het ʼn vreeslike oulike hond gehad – hy kon net sê “houtpale” of “draad” en dan loop die hond fluks voor die kliënt uit na die pale of draad toe. Nie onvanpas nie, was die hond se naam Salesman. Die hond was so oulik dat die eienaar hom later Salesmanager begin noem het. Van toe af sit die hond net daar en blaf en swaai sy stert.

Paulus waarsku teen Christene wat aanvanklik met oorgawe vir die Here leef. Sodra hulle egter op “die raad” of “komitee” verkies word, begin die blaf en die stert swaai. Daarom sê Paulus dat ‘n leier in ‘n gemeente liefs iemand moet wees wat al ‘n rukkie Christen is (6). So iemand moet homself (of haarself) eers deeglik inoefen in die goeie kwaliteite van Christenskap… nederigheid, liefde, diens, opoffering, ywer vir die Here, en so aan. Dit is die kwaliteite wat hy of sy moet saamvat was hulle leiers in die gemeente word. Christelike leierskap laat jou nie voor in die ry staan nie, maar agter: jy moet nie vir mense wegstap nie, maar hulle dophou, ondersteun en versorg.

Ons kan maklik godsdiens verwar met “op die kerkraad dien” of “lid wees van een of ander komitee”, so asof dit al is wat die Here van ons verwag. Ons neem die besluite en ander voer dit uit. Nee, Salesmanagers het die Here nie nodig nie. Hy het wel mense nodig wat leiding neem, maar dan voor in die loopgrawe, op die markpleine, in huise waar daar hulp nodig is, besig om te dien, lief te hê en te help.

As jy nou vir jouself ‘n naam moet gee vir wat jy in die Here se diens doen, wat sou dit wees?




10 Oktober: Bid met oorgawe. – Jan van der Watt

1 Tim 2:1-15 (fokus 2:1-15)

 Ons moet vir mekaar bid, en dit met oorgawe doen. Ons moet dan ook verwag dat die Here na ons gaan luister. Ons moet sommer by die regering begin en dan almal deurwerk tot by die onbelangrikste persoon wat ons ken. Ja, gebed is allesomvattend omdat God allesomvattend is. Dit is die manier wat God ons gegee het om die hele wêreld te kan aanraak en ‘n beter plek te kan maak.

Maar voor ons te opgewonde raak… God beantwoord nie alle gebede onvoorwaardelik nie. Paulus sê God sal gebede beantwoord, mits ons nie kwaad is vir mekaar of stry of baklei nie (2:8). Dit is ‘n interessante opmerking, want ons kan soveel van gebed daaruit leer:

  • Gebed is nie ‘n meganiese posdiens waar ons versoeke by die Here aflewer en dan wegstap en Hy moet maar sorg dat dit gebeur nie.
  • Gebed is ‘n ding wat binne ‘n verhouding gebeur. Ons sit op God se skoot en praat met Hom as ons Vader. Daar op sy skoot sal ek nie soos ‘n stout kind tekere gaan of dink ek is die belangrikste nie. Daar is ek klein in sy grootheid. Daarom sal ek daar net vra wat ek dink Hy graag sal wil hoor. Ek sal my wil in pas bring met sy wil. Om te vra beteken dus nie om enigiets te vra nie, maar om te vra wat God gelukkig sal maak.
  • Eerste dinge moet eerste kom. As ek in onvrede met my mede-Christene leef, moet ek nie verwag die Here gaan my op sy skoot laat sit en oor koeikies en kalfies gesels nie. Nee, eerste dinge moet eerste kom. Hy sal met my gesels oor my slegte verhoudings. Die ander dinge moet eers wag. As die ernstige probleem opgelos is, kan ons aangaan en oor die ander dinge gesels.

Bid met oorgawe… vir jouself en vir ander.




09 Oktober: Gebruik jou gesonde oordeel as ander jou in dinge wil in boelie. – Jan van der Watt

1 Tim 1:12-20 (fokus 1:18-20)

Die lewe is soos ‘n kanovaart in ‘n sterk rivier. Jy moet jou roei ken, want die strome ruk en pluk jou gedurig rond. Dit druk jou in rigtings waar jy nie wil gaan nie. Dan moet jy róéi om in die regte rigting te bly.

So is druk in die alledaagse lewe ook. Ons dink ons maak ons eie besluite, maar dikwels maak ander dit namens ons, of liewer, druk hulle dit op ons af. Hulle doen dit op verskillende maniere. Hulle speel op ons gewetens, laat ons uit voel, prys ons soms, manipuleer en organiseer rondom ons sodat ons uiteindelik doen wat hulle wil hê. Ons maak dan nie keuses wat ons graag wil nie, maar word in ‘n rigting gedruk deur ander. Ons moet mooi kyk, in ons samelewing het dit ‘n fyn spel geword. Dit word subtiel en ongemerk gedoen deur jou te laat verstaan jy is nie nou meer “in” nie, en jou so bietjie skuldig te laat voel oor jy nie “ja” gesê het of doen wat “die mense” verwag nie.

Ons sal die manipulasie en druk op ons nooit kan keer nie, net so min as wat die kanovaarder die strome sal kan keer. Dis dáár. Natuurlik is nie alle druk sleg nie. ‘n Mens moet soms na ander luister en toegee. Maar gesonde oordeel is nodig. Wat ons dus wel kan en moet doen is om ons oog so vas op ons doel te hou en so doelgerig te roei dat die effek van die druk ons nie van koers af gooi nie. Doelgerigtheid en vastheid van karakter is nodig vir gesonde oordeel. Dit sê Paulus ook vir sy jong vriend Timoteus (1:18-19). Hy moenie dat mense hom in goed in boelie waaroor hy later jammer gaan wees nie. Hy en nie ander nie, is verantwoordelik vir sy eie lewe.

Paulus is nie onseker oor die rigting waarin geroei moet word nie… vertrou op Jesus, sê hy.