Denke gebaseer op vrees teenoor denke gebaseer op geloof
To err is human; to forgive is divine – Alexander Pope.
Denke gebaseer op vrees teenoor denke gebaseer op geloof
Ons leef in vrees. In die proses vergeet ons soms hoe geloof lyk. Ons soek iets konkreet, iets seker, ‘n soort absolute sekerheid. Hierdie vrees-gebaseerde omgewing het selfs die kerk geïnfiltreer. Mense wil nie leef op grond van iets wat geloof nodig het nie
Ben Witherington sê dat hierdie kultuur van vrees veroorsaak het dat ons alles en almal wantrou. Daarom dat mense wat verkondig dat jy net moet glo en alles – rykdom en gesondheid – sal regkom, groot gehore trek. Ongelukkig werk dit nie so nie. Moderne Christene is soos Petrus wat uit die boot klim en op die water loop. In plaas daarvan dat hy sy oë op Jesus gevestig hou, kyk hy af en word bang. Vrees oorwin geloof.
Vandag soek mense ‘n evangelie wat nie te veel geloof van hulle verwag nie – hulle soek ‘n absolute waarborg van verlossing. Dit kry ons nie in die ware evangelie nie.
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Hebreërs 11:1). Geloof kyk na vore – versekering oor die toekoms en nie sekerheid oor hoe alles gaan gebeur nie. Ons weet wie die toekoms in sy hande hou, maar ons weet nie al die besonderhede wat die toekoms inhou nie. As ons dit geweet het, was geloof nie nodig nie.
Hierdie versekering is genoeg om vir ons ‘n sekere oortuiging van die toekoms te gee. Dit vereis vertroue – vertroue in ‘n betroubare God. God openbaar genoeg van die toekoms om ons te versterk, maar nie genoeg dat dit nie nodig is om elke dag in geloof te leef nie.
Los die vrees-gebaseerde lewe en keer terug na die evangelie – die goeie nuus dat God in beheer is.