DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (4)

image_pdfimage_print

DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (4)

Galasiërs 3:1-5: Hoe die Galasiërs die Heilige Gees ontvang het

Paulus baseer sy eerste argument op dit wat die gelowiges in Galasië self ervaar het – iets waarteen hulle glad nie sou kon stry nie. Hy herinner hulle aan wat destyds gebeur het toe hy daar sendingwerk gedoen het.

Hy het die evangelie aan hulle verkondig, hulle het tot bekering gekom en het toe die Heilige Gees ontvang. Hieruit kan ‘n mens aflei dat die werk van die Heilige Gees op ‘n baie duidelike manier in hulle lewens gesien kon word na hulle bekering. Dit is nie presies seker waarna Paulus hier verwys nie. Dit kan moontlik die vrug van die Gees wees waarna hy in 5:22-23 verwys of dalk gebeure soos spreek in tale. Die belangrike punt is egter dat God aan elkeen van hulle die Heilige Gees gegee het nadat hulle Paulus se weergawe van die evangelie gehoor het en tot geloof gekom het. Volgens Paulus bewys dit inderdaad dat sy weergawe van die evangelie korrek is. Daarom vra hy herhaaldelik vir hulle hoe dit gebeur het dat hulle die Heilige Gees ontvang het. Die Galasiërs sou nie anders kan as om toe te gee dit gebeur het toe hulle Paulus se weergawe van die evangelie gehoor het nie. Die dwaalleraars het in elk geval eers ‘n hele ruk later daar aangekom en hulle verdraaide evangelie begin verkondig.

Vir moderne Christene is dit belangrik om raak te sien watter geweldige verandering die Christelike godsdiens destyds in mense se lewens gehad het- soveel so dat Paulus dit selfs ‘n baie sterk argument daarop kon bou. Dit is beskamend dat dit dikwels nie waar is van moderne gelowiges nie.

Galasiërs 3:6-14: Abraham as bewys

Paulus kom nou by sy tweede argument. Hy is nog steeds besig met dieselfde vraag: Aan watter vereistes moet mense voldoen voordat God hulle van hulle sonde vryspreek? Hy herinner die Galasiërs nou aan Abraham, een van die groot helde uit die Joodse geskiedenis. Tien teen een het die dwaalleraars juis vir Abraham as ‘n voorbeeld voorgehou toe hulle probeer het om die gelowiges in Galasië te oortuig dat hulle ook die wet moes onderhou. Paulus neem hulle egter terug na die Ou Testament en herinner hulle aan wat in Genesis 15:6 staan. Daar staan dit in soveel woorde dat Abraham vrygespreek is omdat hy in God geglo het. Hieruit kan daar maar net een gevolgtrekking wees: As ‘n mens glo, is jy ‘n kind van God. Daar is niks anders wat nodig is nie; geen besnydenis of wetsonderhouding of nakom van enige reëls of regulasies nie. Dit is die hart van die ware evangelie waaroor Paulus so opgewonde raak.

In 3:8-9 neem Paulus sy argument nog verder: Hy herinner hulle aan God se woorde in Genesis 12:3 (In jou sal al die nasies geseën word). Dit was dus van die begin af God se bedoeling dat nie-Jode ook sou deel in die seën wat Hy aan Abraham beloof het. Dus: Toe die mense daar in Galasië tot bekering gekom het (hulle was nie Jode nie) was dit in lyn met God se plan. Dit was nie vir hulle nodig om die wet te onderhou nie. Net soos in die geval van Abraham was die enigste vereiste dat hulle moes glo.

In 3:10-12 beklemtoon Paulus dat daar geen ander manier is om vryspraak van ‘n mens se sondes te kry nie. Om te dink dat ‘n mens deur jou goeie werke vryspraak vir jou sonde kan kry, is totaal verkeerd. Om die waarheid te sê: Daardeur verkry ‘n mens nie God se seën nie, maar eerder sy vloek! In 3:10 haal Paulus ‘n vers uit die Ou Testament aan om dit te bewys (Deuteronomium 27:6). Daar staan dat enigiemand wat nie in staat is om stiptelik alles volgens die wet van God te doen nie, aan God se vloek onderhewig is.

Gelukkig is dit ook nie nodig dat ‘n mens dit self doen nie. In 3:13 vat Paulus op ‘n aangrypende manier die ruiltransaksie wat op Golgota plaasgevind het, saam: In plaas daarvan dat God die mensdom vervloek, het Hy sy eie Seun aan die kruis vervloek. Volgens die Joodse siening was enigiemand wat aan ‘n kruis gesterf het, in God se oë ‘n vervloekte. (Paulus haal in 3:13c ‘n teksvers uit Deuteronomium 21:23 aan om dit te bevestig). Toe Jesus aan die kruis gehang het, is Hy deur God vervloek. Op dié manier het Hy mense losgekoop van die vloek wat die wet meebring. In plaas van vloek kry almal wat in Hom glo, nou God se seën, byvoorbeeld die Heilige Gees (vgl. 3:13-14).

Galasiërs 3:15-18: ‘n Testament as voorbeeld

Vir sy derde argument kies Paulus ‘n baie goeie voorbeeld uit die alledaagse lewe, naamlik die geldigheid van ‘n testament nadat dit opgestel is. Destyds was daar, net soos deesdae die geval is, sekere regsreëls wat gegeld het wanneer testamente opgestel is. Een van die basiese regsreëls was dat ‘n ander persoon nie enige veranderinge aan jou testament kon aanbring nie. Vir Paulus is die belangrike gedagte in hierdie voorbeeld dat niks wat later bykom, die oorspronklike testament kan verander nie. In 3:17-18 pas hy hierdie gedagte dan op die verbond en die wet toe: God het sy genadeverbond met Abraham gesluit lank voor Hy die wet gegee het. (Volgens Eksodus 12:40 het daar min of meer 430 jaar tussen die twee gebeure verloop.) Die gevolgtrekking wat hy hieruit maak, is dat die gee van die wet nie God se oorspronklike bedoeling met sy verbond met Abraham verander het nie.

Hierdie gedagte is baie belangrik – ook vir die manier waarop ‘n mens jou eie verhouding met God en ‘n mens se eie godsdienstige lewe verstaan. Die uitstaande kenmerk van God se verbond met Abraham was immers dat dit gebaseer was op God se genade (vgl. 3:18). Dit het nie verander toe God later die wet gegee het nie. Om die waarheid te sê, God se genadeverbond met Abraham was juis gemik op die koms van Jesus Christus (vgl. 3:16) omdat sy koms die beste bewys van God se genade sou word. Daarom hoef die diepste fondament van ‘n mens se verhouding met God nie ‘n mens se eie goeie hoedanighede te wees nie. maar God se genade.

Galasiërs 3:19-25: Het die wet dan énige doel?

As ‘n mens Paulus se argumente vanaf 3:1 mooi aandagtig deurgelees het, behoort een saak nou reeds baie duidelik te wees: Mense kan nie self deur die wet vryspraak van hulle sonde kry nie. Dit laat egter dadelik ‘n ander vraag ontstaan: As dit dan so is, hoekom het God dan hoegenaamd die wet gegee? Omdat Paulus besef dat sy lesers nou presies met hierdie vraag in hulle gemoed sal sit, onderbreek hy eers sy argumente en beantwoord hy eers hierdie vraag.

In 3:19-20 sê hy dat die wet net ‘n beperkte funksie gehad het: God het dit gegee met die oog op die sonde; dit het net ‘n funksie gehad totdat die “nakomeling” (d.w.s. Christus) sou kom; en, anders as in die geval met Jesus se koms, was daar by die gee van die wet ‘n klomp tussengangers betrokke (naamlik engele – vgl. ook Handelinge 7:38, 53 en Hebreërs 2:2 – en Moses).

In 3:21-25 sê Paulus verder dat dit nooit God se bedoeling was dat die wet geestelike lewe in mense se harte tot stand moes bring nie. Daarvoor was die houvas wat die sonde op mense se lewens gehad het te sterk. Al wat die wet moes doen, was om toesig oor die mense te hou totdat Jesus sou kom. In 3:24-25 gebruik hy dan ‘n pragtige beeld om dit te verduidelik. Destyds was dit die ryk mense se gewoonte om ‘n slaaf aan te stel om kinders op te pas, hulle skool toe te neem en die hele dag oor hulle toesig te hou (min of meer dieselfde ding wat babawagters in ons tyd doen). Paulus sê dat die wet die Jode se “babawagter” was totdat Christus sou kom. Vir die Galasiërs was daardie tyd dus lankal verby. Hulle het nie meer ‘n geestelike “babawagter” in die vorm van die wet nodig gehad nie.

Galasiërs 3:19-26: Herinnering aan die doop as bewys

Ná die onderbreking in 3:21-25 begin Paulus nou met ‘n volgende (d.w.s. sy vierde) argument. Hy herinner die Galasiërs aan dit wat by hulle doop gebeur het. Die sleutelwoorde kom in vers 27 voor: … want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is… Deur die doop word ‘n mens ingelyf in ‘n geestelike eenheid met Christus – amper soos wanneer ‘n mens ‘n takkie uit een boom op ‘n ander boom inent en die twee dan uiteindelik aan mekaar vasgroei om een boom te word. Dit gebeur telkens wanneer iemand gedoop word. In 3:28 neem Paulus die gedagte ‘n entjie verder: Omdat alle gelowiges deur die doop in Christus “ingeënt” word, is daar geen onderskeid meer tussen hulle nie. Almal is deel van Christus en daarom is niemand in God se oë meer of minder belangrik nie. In die destydse samelewing het die Jode gedink hulle is in God se oë belangriker as die Grieke. Slawe is beskou asof hulle op ‘n laer sosiale vlak as vry mense is. Net so is vrouens as minder belangrik as mans beskou. In die kerk van Christus mag sulke soort onderskeidings egter nooit deurslaggewend wees nie. Die dwaalleraars in Galasië was juis besig om weer sulke onderskeidinge in die kerk in te voer, byvoorbeeld deur ‘n onderskeid te tref tussen die gelowiges wat besny en nie besny was nie. Vir Paulus tas dit die hart van die evangelie aan. Al wat deurslaggewend is, is of iemand in Christus glo of nie.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 

image_pdfimage_print

You may also like...