Die Drie-eenheid – Hermie van Zyl
Christo vra:
Ons dien nie ‘n Drie-enige God nie (Vader, Seun, Heilige Gees), maar ‘n Twee-enige God (Vader, die Skepper en sy Seun, Jesus). Die Heilige Gees is hulle Gees (Vader en Seun s’n) wat in dié woon wat God aanneem. So, daar is nie drie entiteite nie, maar slegs twee wat aanbid moet word, en dit is die Vader en die Seun. Die Heilige Gees word nie aanbid nie, en is nie ‘n entiteit op sy eie nie. Die Heilige Gees woon wel in ons wat Jesus as ons persoonlike Saligmaker aanneem en God die Vader aanbid deur sy Seun, Jesus Christus.
Die Drie-enige leerstelling kom van Babilon se tyd af (sonaanbidding; bietjie ander name), met die ondersteuning van die pous en daar klink dit darem net te reg om verkeerd te wees.
Ek hoop die openbaring is vir jou ook van groot waarde. Die doel is om die leuen te alle tye raak te sien en te verseker dat ons aanbidding na God toe gaan, en nie na die misleier toe nie.
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Die geïmpliseerde vraag in die bydraer se siening is of die Heilige Gees ook deel is van die Goddelike Drie-eenheid. Ek sal dus in my antwoord hoofsaaklik op die Heilige Gees konsentreer. Daar is genoeg ander artikels op Bybelkennis.co.za se webblad wat oor die Drie-eenheid in die algemeen handel. Lesers kan gerus “Drie-eenheid” insleutel en hierdie waardevolle artikels lees.
Die bydraer beweer dat die Heilige Gees wel in ons woon en ons met die Vader en Seun laat kommunikeer, en dat die Gees die heil wat God skenk in ons ‘n werklikheid maak, maar dat die Gees nie Self as God aanbid word nie en daarom nie deel van die Goddelike Drie-eenheid is nie. Uit sy verdere opmerking dat die Gees “nie ‘n entiteit op sy eie” is nie, lei ek af dat hy van mening is dat die Gees nie ‘n Persoon is nie, maar waarskynlik net ‘n krag, en daarom nie op gelyke voet met die Vader en die Seun deel van die Goddelike wese is nie.
Die standpunt van die bydraer is nie nuut nie en allermins ‘n “openbaring”. Trouens, dit was deel van die lang pad wat die kerk in die eerste vier eeue van sy bestaan geloop het om uiteindelik by ‘n formulering uit te kom wat reg laat geskied aan die gegewens in die Bybel omtrent die verhouding tussen Vader, Seun en Heilige Gees. Die rede hoekom dit so lank geneem het om by ‘n belydenis omtrent die wese van God uit te kom, is omdat daar nêrens ‘n teks in die Bybel is wat hierdie interne “wesensekonomie” van God eksplisiet omskryf nie, in elk geval nie dat God Een is en uit drie Persone bestaan nie – die klassieke formulering van die Drie-eenheid. In die Latyn lui dit: una substantia tres personae (“een wese, drie persone”). Hierdie formulering kom die eerste keer voor by kerkvader Tertullianus (155-240 nC) en is mettertyd deur die kerk as die “kortbegrip” vir die Drie-eenheidsleerstuk oorgeneem. Uiteraard is dit nie ‘n volmaakte of volledige formulering nie, maar ten minste is dit nie verkeerd nie.
Hoewel hierdie formule nêrens so in die Bybel voorkom nie, is daar duidelike aanduidings dat die Vader, Seun en Heilige Gees saam die één God vorm wat ons aanbid. So hoor ons dit in die sendingbevel van Matt 28:20: “… maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees … .” Hieruit blyk duidelik dat daar net één Goddelike wese is (mense word in één Naam gedoop, nie in die Name van drie Gode nie), maar dat hierdie een Naam uit drie “enititeite” of persone bestaan – Vader, Seun en Heilige Gees. En so sluit Paulus ook van sy briewe af in die Naam van hierdie God wat ‘n Drie-eenheid vorm, byvoorbeeld 2 Kor 13:13: “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God (die Vader) en die gemeenskap van die Heilige Gees.” Dieselfde gedagte kry ons ook in Ef 4:4-6 waar die Gees, God (Vader) en die Here (Jesus) in dieselfde asem genoem word. Eweneens praat Op 1:4-5 van die genade van Hom wat is en wat was en wat kom (God, die Vader), van die sewe Geeste voor sy troon (die Heilige Gees), en van Jesus Christus … . Weereens die Drie wat as die een God voorgestel word.
Benewens hierdie tekste wat Vader, Seun en Gees op een vlak stel, is daar ook gegewens wat die Gees spesifiek as ‘n Goddelike persoon, en nie bloot ‘n krag nie, uitbeeld. Eerstens is daar die interessante verskynsel dat in die Grieks die woord vir Gees (pneuma) taalkundig gesproke onsydig is (Griekse naamwoorde is manlik, vroulik of onsydig). Maar ten spyte hiervan word na die Gees as “hy” (letterlik: “daardie een”) verwys. So lees ons in Joh 16:13-14 van die Gees van waarheid en dat Hy die dissipels in alle waarheid sal lei, en dat Hy Christus sal verheerlik. Hier word dus baie duidelik van die Gees van God as ‘n handelende Persoon gepraat. Verder, in Joh 16:7 word die Heilige Gees die Parakleet of Helper genoem, ‘n manlike naamwoord. Tweedens, die werk wat die Heilige Gees doen, is ook dié van ‘n Persoon, nie net van ‘n krag nie. So is Hy die Een wat die wêreld van sonde oortuig (Joh 16:8), wat alle dinge deursoek (1 Kor 2:10), wat besluite neem (Hand 15:28), wat mense verhinder om iets te doen (Hand 16:7), wat praat (Hand 13:2), wat die dissipels onderrig en herinner aan alles wat Jesus gesê het (Joh 14:26), wat getuig (Joh 15:26), en wat selfs bedroef en belaster kan word (Ef 4:30; Matt 12:31-32). Derdens, die Heilige Gees deel in dieselfde eienskappe as God: ewigheid (Heb 9:14), alomteenwoordigheid (Ps 139:7), alwetendheid (1 Kor 2:10-11) en almag (1 Kor 12:4-6). Uit hierdie gegewens (nie naastenby alles is genoem nie) kan daar net een afleiding gemaak word: Die Heilige Gees is ‘n Persoon en is God, en daarom deel van die Goddelike Drie-eenheid.
Die rede waarom die kerk so lank geneem het om die verhouding van die Heilige Gees tot die ander twee Goddelike Persone helder te omskryf (let wel: daar was ook ‘n lang stryd in die kerk van die eerste drie eeue om Christus as ten volle God naas die Vader te erken), is waarskynlik omdat dit “makliker” is om die Vader en die Seun as “objektiewe entiteite” buite die mens te erken. Hulle werk word vir en buite die mens gedoen (skepping, verlossing). Maar in die geval van die Heilige Gees is dit ietwat anders. Die naam “Heilige Gees” druk die Goddelike persoonlikheid nie so sterk uit soos dié van Vader en Seun nie. Verder, in die Goddelike heilsekonomie vind die werk van die Gees binne die gelowige plaas. Daarom rig ons ons gebede minder tot die Gees as tot die Vader en die Seun. Die Gees is veel eerder die bewerker as die voorwerp van gebed (vgl Rom 8:15,26). Toe die vroeë kerk ter gelegener tyd wel tot groter insig gekom het oor hoe die verlossing in die gelowige werk – synde die werk van God Self, deur sy Gees – is die Heilige Gees in die kerklike belydenisse eweneens as God bely, en wel as die derde Persoon in die Godheid, van dieselfde wese as God, gelyk met die Vader en die Seun, maar ‘n afsonderlike Persoon. Daarom het reeds die belydenis van Nicea (325 nC) hierdie duidelike formulering omtrent die Heilige Gees, wat die Christelike kerk dwarsdeur die wêreld steeds nasê: “Ons glo … in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun* uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.”
Die leerstuk van die Drie-eenheid – spesifiek ook die belydenis oor die Heilige Gees as die derde Persoon in die Drie-eenheid – is dus nie iets wat die Bybel ingedra word van buite-af nie, maar is eerder andersom: dit is die Bybelse getuienis self wat die kerk mettertyd daartoe gedring het om die verhouding tussen Vader, Seun en Heilige Gees nader te omskryf. En desnieteenstaande die onvolkome manier waarop die kerk dit geformuleer het, en dat ons steeds nie die misterie daarvan kan peil nie, bely ons dit gelowig op grond van die getuienis in die Skrif.
*Die woorde “en die Seun” (Latyn: filioque) is eers omtrent in die 6e eeu nC bygevoeg, m a w, dat die Heilige Gees van die Vader en die Seun uitgaan. Hierdie vorm van die belydenis van Nicea (mét die byvoeging) is die een wat vandag deur die kerke in die Weste aanvaar word en is steeds ‘n twispunt tussen die Ortodokse Kerke (oorspronklik die Oosterse kerk: Griekeland, Klein-Asië, Palestina) en die kerke in die Weste (oorspronklik Italië en Noord-Afrika). (In teologiese taal word dit die filioque-kwessie genoem.) Dit kom daarop neer dat die destydse Oosterse Kerk (hoofsaaklik Griekssprekend) nie hierdie latere byvoeging tot die Nicea-belydenis aanvaar het nie. (Die oorspronklike teks het dit nie bevat nie.) Dit was een van die bydraende faktore wat gelei het tot die kerkskeuring in 1054 tussen die Westerse en Oosterse Kerk. Dit bring nie wesenlik die Drie-eenheidsleerstuk in die gedrang nie, maar dui wel op ‘n interpretasieverskil tussen die twee Christelike groeperings.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl