Die Evangelie volgens Lukas: Die aankondiging aan die herders (Luk 2:8-20) – Francois Malan

image_pdfimage_print

2:8 Nie aan die hoëpriester of die skrifgeleerdes, en nie aan die magtiges van hierdie wêreld word die geboorte van die wêreld se Verlosser aangekondig nie, maar aan skaapwagters. Moses en Dawid was skaapwagters. Maria het reeds gesing dat die Here geringes verhoog het (1:51-52). So het Dawid ook gesing: ‘Hy het die denke verwar van diegene wat te veel van hulleself dink (2 Sam 22:28; en Job 12:19: magtiges het Hy van hulle trone afgeruk, Job 5:11: geringes het Hy verhoog. Hier gebruik die Here egter herders wat verag is as bedrieërs wat ook nie in die hof as getuies mag optree nie. Hulle het in die nag hulle skaaptroppe saam in die oop veld naby Betlehem opgepas, soos Dawid 1,000 jaar tevore (1 Sam 16:11; 17:34-35).

2:9 Plotseling en onverwags verskyn ‘n engel aan die herders, en rondom die herders skyn die ligglans (doksa) van die Here uit die ewige wêreld van God (Gen 1:3; Eks 22:21-22; Ps 104:2; Hand 9:3; 1 Tim 6:16; Openb 21:23). Die herders het geweldig geskrik en hulle bedrog is deur die ligglans uit hulle verban met die oog op hulle getuienistaak, soos die gloeiende kool die mond en lewe van Jesaja gereinig het vir sy taak (Jes 6:6-7).

2:10 Soos die engel Gabriël by Sagaria (1:19) neem die engel eers hulle vrees weg, ‘Moenie vrees nie! want kyk! (let op) ek bring vir julle die evangelie, die “goeie boodskap,” wat vir die hele volk ’n bron van groot blydskap sal wees.’ Dit is die vreugde- en oorwinningsboodskap van Johannes  die Doper (3:18), van Jesus (4:18,43; 8:1; 20:1) en van die apostels (Hand 5:42; 8:12,35; ens.). Die boodskap het met die engele (‘boodskappers’) begin en is deur die herders met vreugde verkondig (2:17,20). Die vreugde begin reeds by die voorbereiding vir sy koms (1:14,46-47,48,68). Dit is ’n vreugde wat vir die hele wêreld bedoel is (‘die hele volk’). Die herders ontvang wel eerste die groot vreugde, maar nie net vir hulleself nie; dit is vir die hele wêreld bedoel (2:14). Lukas se Griekse lesers is gewoond om die aankondiging van die geboorte van ’n koningskind met vreugde te begroet. Vir Israel en vir alle mense is dié aankondiging deur God self, bedoel as ’n oproep tot groot vreugde.

2:11 Die inhoud van die vreugdeboodskap oor die geboorte van dié Kind word met drie beskrywings van Hom aangekondig: Hy is die Verlosser (soter), Christus (die gesalfde koning, priester, profeet, Israel se verwagte Messias), die Here (kurios die goddelike Here). Maria het reeds oor haar Verlosser gejubel (1:47) en Sagaria het gepraat van verlossing uit sonde (1:18-77). Dit het ‘vandag’ gebeur. Die Here het sy beloftes vervul: aan Moses dat ’n profeet soos hy sal kom (Deutr 18:18), aan Dawid van ’n koning uit sy nageslag (2 Sam 7:16), in Psalm 110:1,4 lê die HERE ’n eed af dat sy heer vir altyd priester sal wees volgens die orde van Melgisedek. Die Here (kurios) is die Griekse vertaling van die Hebreeuse Jahweh, die ‘Ek is’ van Eks 3:14-15, die persoonlike aktiewe teenwoordige God. ‘Vandag’ is ’n verklaring soos die Here in Deutr. 26:18 verklaar het, en is soos die Psalmis se versugting in Ps 95:7 (vgl. Luk 4:21; 19:5,9; 23:43). Die beloofde heil het eindelik gekom. Teenoor die Romeine se heiland (soter) keiser Augustus, staan die Heiland van God. Dit gaan om die bevryding, wat Sagaria besing het (Luk 1:68). Vandag het God die Here die mensdom kom besoek (vgl. 1:32-33,43,76).

2:12 Die teken wat aan die herders gegee word is ’n alledaagse gebeure vir arm mense: ’n kind wat in doeke toegedraai is in ‘n krip/voerbak.  Dit is egter die teken dat die beloofde Verlosser en goddelike Here waarlik mens geword het en die heerlikheid van sy Godheid prysgegee het (Flp 2:6-7). Die teken wys ook die ware wese van ons nederige Here se liefde vir die mensdom (Mat 11:29).

2:13 En skielik was daar saam met die engel ’n hemelse leër, ’n skare engele. God se koorleier het by die mense kom staan met die boodskap dat die verwagte Messias gekom het, en die magtige hemelse koor antwoord met die hemelse himne wat die heerlikheid van die hemel aan die mensdom kom verbind.

2:14 Die hemelse leër kondig nie oorlog aan nie, maar vrede. Hulle besing eers die heerlikheid van God, wat die noodsaaklike voorwaarde vir die ware vrede op aarde is, aangesien dit begin met die vrede wat God tussen Hom en die mens bring, ‘op aarde vrede onder mense van welbehae’ (die Griekse epi gês eirênê en anthropois eudokias). Dit staan teenoor die Romeinse Pax Romana se tydelike staking van oorloë tussen mense wat met mag onderdruk is, en teenoor die heerlikheid wat dit aan Augustus gegee het (vgl. Jes 52:7 se goeie tyding). Die vrede op aarde kan nie verwag word waar die goddelike eer aan mense gebring word nie, maar waar die eer aan God in die Hoogste gebring word. Vrede kom waar mense, bewus van hulle eie onmag, aan die God in die Hoogste die eer gee. Dit is ’n vrede te midde van aardse onvrede, ‘die vrede van God wat alle begrip oortref, wat in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak (Filp 4:7).

Dit is ’n vrede vir dié mense in wie God ’n welbehae het, wat aan Hom die eer gee, nie om jouself te verseker of te verheerlik nie, maar wat aan God in alles die eer gee. Die Latynse Vulgaat vertaal die Griekse teks foutief as ‘en op aarde vrede aan die mense van goeie wil (et in terra pax hominibus bonae voluntatis). Dit maak die vrede afhanklik van die mens se welbehae. Lukas gebruik eudokia in 10:21 van God se welbehae; in 12:32 gebruik hy die werkwoord eudokeo dat God dit goedgevind het.

Die heerlikheid van die Here word kenbaar in sy werke op aarde, en omdat Hy onophoudelik op aarde werk, is Hy ook die Here van heerlikheid (doksa eer,glans, mag, grootheid, lofwaardig). Die Verlosser wat gebore is, is die toppunt van God se self-openbaring. Waar daar vrede met God is, skep dit ook vrede in die mens se gemoed en tussen mense.

2:15 Die herders wat die woord (rhêma woord, boodskap, gebeurtenis) van die engele gehoor, aanvaar en geglo het, toon daarmee dat hulle van die mense is in wie God ’n welbehae het. Hulle gaan dadelik om die teken wat die engel vir hulle gegee het, op te volg, en gaan om te sien wat gebeur het. Die eerste getuies van die woord oor die koms van die Bringer van Vrede, gaan om ooggetuies te word wat dit verder bekendmaak (2:17). Die engele wat skielik verskyn het, vertrek sodat die herders hulle sien terugkeer na die hemel om seker te wees dat hulle die hemelse boodskappers gesien en gehoor het.

2:16 Die herders gaan met haas en vind alles net soos dit aan hulle verkondig is. Ná die wonderlike gesig van die engele en die hemelse klank van die engelesang, beleef hulle die kontras daarvan in die nederige stal met die jong moeder, die vader en ’n kindjie in ’n krip, wat die toppunt van God se neerbuigende liefde vir die mens is.

2:17-18 Die herders word God se boodskappers soos die engele (die Hebreeuse woord vir engel, mal’ak, verwys na ’n boodskapper; so ook die Griekse woord angelos). Hulle vertel vir Maria en Josef en vir die mense van Betlehem wat God aan hulle bekendgemaak het deur sy hemelse boodskappers, van wat hulle gesien en gehoor het oor die Kindjie. Die skape van Betlehem was veral gebruik by die offers in die tempel. So sou die mense en die priesters in Jerusalem ook iets van die blye boodskap deur hulle skaapwagters op wie hulle neergesien het,  kon hoor. Almal wat dit gehoor het was verwonderd dat die Kindjie in die krip hulle Verlosser, die verwagte Messias en die Here van hulle lewe is (2:11), wat vrede op aarde bring aan die mense in wie God ’n welbehae het (2:14). Die woord ‘verwonder’ (thaumadzo) kan gunstig of ongunstig wees; van verwonderring oor iets praat of dink, of van twyfel daaroor wonder, wat albei in die res van Lukas sal blyk (bv. 23:39-43).

2:19 ‘Maar Maria het al hierdie woorde (rhêmata) in haar hart bewaar en daaroor bly nadink (vgl. Gen 37:11). Vandat die engel aan haar verskyn het, het sy in verwondering geleef dat die Kindjie wat sy dra die Seun van die Allerhoogste is, wat vir ewig sal heers (1:32-33), en nou ook Verlosser, Messias (Christus in Grieks), Here, wat vrede op aarde bring (as sy alles so goed onthou het, was sy waarskynlik die bron van hierdie uitvoerige berig van Lukas).

2:20 Die herders keer sing-sing terug na hulle skape, hulle werkplek, met hulle lofprysing aan God wat dit alles aan hulle geopenbaar het. Soos Maria oorborrel van verwondering dat die Here die nederigheid van sy slavin raakgesien het en geringes verhoog (1:48,52), prys die veragte herders die Here, wat hulle sy getuies gemaak het oor alles wat Hy aan hulle gesê en laat sien het (herders was destyds ongeloofwaardig om in ’n hof te getuig, en beskou as skelms wat nie mooi onderskei tussen jou en sy besititings nie, en juis van hulle maak God sy getuies!) .

So word die wonder van die koms van die Verlossr vir elke gelowige ’n saak van verwondering, oordenking, bewaring en ’n rede om die Here met hulle stem te prys en met  hulle lewens te verheerlik.

image_pdfimage_print

You may also like...