Die Evangelie volgens Lukas: Jesus genees en verkondig (Luk 4:31-44) – Francois Malan
In hierdie en die volgende twee gedeeltes maak Lukas redelik baie van Markus as bron gebruik, meer as Matteus. Dit is die eerste van vyf genesings deur Jesus op die Sabbat in Lukas (ook 4:38; 6:6; 13:10; 14:1 en volgende verse).
4:31 Jesus gaan af van Nasaret (in die heuwels 396 meter bo seespieël) na Kapernaum (aan die see van Galilea 208 meter onder seespieël). Dit word sy nuwe tuisdorp nadat sy geboortedorp Hom verwerp het en Hom wou doodmaak (Matteus 4:13-16 sê Hy het hier gaan woon in die gebied van Sebulon en Naftali, Galilea van die heidene, volgens Jesaja 8:23-9:1; Johannes 2:12 sê Hy en sy moeder en sy broers en dissipels is saam daarheen, maar hulle het nie lank daar gebly nie). Lukas sê Hy het die mense op die Sabbatte geleer.
4:32 Die gemeente is verbaas oor Jesus se leer, want sy woord (logos) was met gesag (Mark 1:22 sê: want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die Skrifgeleerdes nie). Opgeleide leraars haal gewoonlik ‘n lang ry geleerdes se menings oor ’n teks aan. Rabbi Eliëser het bv. vroom alle nuwighede verwerp: ‘Ek het nooit in my lewe iets gesê wat ek nie van my leermeesters gehoor het nie.’ Maar hier is iemand wie se woord met gesag kom weens sy intieme kennis van God, sy Sender. In Joh 14:10-11 sê Jesus: Ek is in die Vader en die Vader in My. Sy woord vervang die Skrifgeleerdes se wysheid. Dit gaan vir Lukas om Jesus se woord. Dit het die mense beïndruk. Dieselfde gesag blyk ook uit sy behandeling van die duiwelbesetene.
4:33-34 Van sy leer af gaan dit nou oor na Jesus se daad. In Nasaret het Hy Jesaja 61:1 op Homself toegepas: Die Here het My gestuur om vir gevangenes te verkondig dat hulle vrygelaat sal word. Hier in die sinagoge was daar ’n man wat deur ’n onrein demoon (daimon ’n bose bonatuurlike wese/gees) beset was, en vrygelaat moes word. In die antieke tyd is baie siektes en ongevalle toegeskryf aan die werking van demone, veral enige siekte wat die verlies van jou beheer inhou, soos met vallende siekte, ylhoofdigheid, stuiptrekkings, sielkundige afwykings, geestesversteurings. Dit is beskou as tekens van die teenwoordigheid van ’n mag wat in die mens ingevaar het om hom oor te neem. Dit was nie in die eerste plek ‘n mediese diagnose nie, maar ’n godsdienstige diagnose.
4:34 Net Lukas het die demoon se skreeuende smarte-uitroep van afwysing ‘Ag (tog nie dit nie)! Los ons uit, Jesus van Nasaret…’’ Lukas teken die kontras tussen die demoon se onreinheid en sy herkenning van Jesus se heiligheid. Hy noem Hom ‘die Heilige van God.’ Dit staan teenoor die demoon se onreinheid. Jesus is heilig omdat Hy aan God toegewy is; demone is onrein omdat hulle slinks en slu juis teen God werk. Jesus het gekom om mense vry te maak, ook uit die mag van die Bose, vandaar hierdie demoon se vrees dat Jesus hulle gaan uitwis (Jak 2:19 sê, demone glo dat God Een is en hulle sidder). Hy kom hulle egter nie vernietig nie, maar om te oorwin met sy sterwe vir die sonde van die wêreld (Joh 1:29). Nou kan die duiwel (diabolos) niemand meer by God aankla nie. Tydens die optrede van Jesus lees ons egter nog van verskeie konfrontasies van Jesus met die demone.
4:35 Jesus lê die demone die swye op. Met hulle bonatuurlike kennis oor die mens Jesus van Nasaret word hulle nie toegelaat om Hom as die verwagte Messias van Israel aan te kondig nie, en Jesus wil nie daardeur valse verwagtinge oor ’n aardse koning onder die volk laat posvat nie. Jesus het gekom om mense uit die mag van die Bose te verlos. Die Herskepper genees die besetene deur ’n enkele herskeppende woord. Hy laat hierdie gevangene vry uitgaan (4:18; Jes 61:1). Die bose gees laat die besetene op die grond neerslaan as ’n laaste teken van sy mag, maar waag dit nie in die teenwoordigheid van Jesus om die man te beseer nie.
4:36 Die mense vra verbaas ‘wat is hierdie woord, dat Hy met gesag en krag die onreine geeste beveel, en hulle gaan uit?’ Jesus se toerusting met die Gees van God vir sy ampswerk (4:14) blyk nou uit sy optrede. Sy gesag is kenbaar uit sowel sy woorde as sy dade. Dit bewys dat God se heerskappy in Hom werksaam is. Die mense se verbasing is egter nog nie geloof nie.
4:37 Die hele omgewing van Kapernaum (Mark 1:28 van Galilea) hoor die nuus (êchos soos in eggo) van die wonder wat hier gebeur het, terwyl die mense van Nasaret Hom reeds met jaloesie in hulle gedagtes verwyt het dat dit nie by hulle geskied nie (4:23).
Jesus genees baie mense (Luk 4:38-41)
4:38-39 In aansluiting by Markus 1:29-31 vertel Lukas dat Jesus die Sabbat van die sinagoge na Petrus se huis toe is Dit volg waarskynlik die Palestynse gebruik om die leraar uit te nooi na die feestelike Sabbatsmaaltyd (vgl. 14:1; die opgrawings plaas die huis van Petrus regoor die sinagoge, met ’n Roomse Kerk kapel tans bo-oor die uitgrawings). Lukas het nog nie vertel van die roeping van Petrus nie, en hierdie berig dien as voorbereiding vir Luk 5:1-11 (Markus 1:16-20 vertel van die roeping van Simon, Andreas, Johannes en Jakobus, wat in 1:29-31 saam met Jesus na Petrus en Andreas se huis toe is). Lukas meld dat Petrus se skoonmoeder ’n hoë (groot) koors gehad het, en dat hulle versoek het dat Jesus iets vir haar sal doen. Lukas vertel die verhaal meer dramaties as Markus, met Jesus wat oor haar buk en die koors bestraf, wat haar verlaat, dat sy opstaan en hulle onmiddellik bedien – wat die volmaaktheid van die genesing aantoon. Die bestraffing van die koors skep die indruk dat die koors die werk van ’n bose gees is (vgl. 13:11,16). Die grootheid van die wonder word beklemtoon met die graad van die koors en die vinnige genesing (soos in 5:25; 8:44,47; 13:13). Dat Jesus haar bedien het en sy hulle dadelik daarna bedien het, dien ook as voorbeeld vir elke gelowige om bereid te wees om te dien.
4:40-41 Hier gebruik Lukas vir Markus 3:32-34. Met sononder is die Sabbat verby, ook die verbod om iets op die Sabbat te dra (Jer 17:21-22), en kan die siekes aangedra word. Die mense bring al hulle siekes met ’n verskeidenheid van siektes na Jesus. Lukas skilder Jesus as die Geneser van die siekes vir wie Hy elkeen persoonlik behandel deur sy hande op hulle te lê, en hulle te genees. Markus 1:33 sê die hele dorp het voor die deur saamgedrom. Markus en Lukas verwys na die uitwerping van die demone uit baie. Lukas voeg by dat hulle geskreeu het: Jy is die Seun van God. Die swygverbod op die demone kom in beide voor, maar Lukas voeg by dat die demone geweet het dat Jesus die Christus is. Die Jode wag op ‘n Christus/Messias/Gesalfde, ‘n Leier en Koning om hulle uit die Romeinse oorheersing te bevry. Maar Israel was traag en onwillig om Jesus as hulle Messias te erken. Jesus wil egter nie deur demone bekendgestel word as die heerser oor die koninkryke van die wêreld nie (Luk 4:5,6).
Jesus preek in baie dorpe (Luk 4:42-44; vgl. Mark 1:35-38)
4:42-43 Jesus vertrek teen dagbreek na ’n eensame plek (Markus sê: om te bid). Die skares wat hulle siekes gebring het, soek Hom tot hulle Hom opspoor en vra dat Hy tog nie van hulle af moet weggaan nie. Maar Jesus verklaar aan hulle dat Hy onder ’n verpligting staan, die moet (dei) van sy Sending. Hy moet ook in die ander dorpe die evangelie gaan verkondig (2:10 dit is bedoel vir die hele volk). Vir die eerste keer word verwys na die ‘verkondiging van die goeie nuus’ (euangellomai) van die koninkryk (basileia koningskap) van God, dat God juis deur die teenwoordigheid van Jesus sy oorwinnende koningskap uitoefen (Luk 4:18-21). Daarvoor is Hy deur God gestuur.
4:44 Die preek-toer van Jesus deur Judea lewer probleme vir die verklaring. Moontlik is Judea hier ’n aanduiding vir die hele Palestina, wat die provinsies Galilea en Judea insluit, soos in 1:5; 6:17; 7:17; 23:5 Hand 10:37.