Die Groot Geloofswoordeboek: Baptiste
Die Groot Geloofswoordeboek: Baptiste
In Suid-Afrika is daar verskillende Baptistekerke, maar dit is almal klein groepies. Dit geld ook van die res van Afrika.
In Engeland en veral in Noord-Amerika is daar egter baie groot Baptistekerke. Die grootste een is die Southern Baptist Convention (SBC) in die VSA wat ongeveer veertien miljoen lidmate het en naas die *Katolieke Kerk (wat wêreldwyd ‘n eenheid is) waarskynlik die grootste denominasie in die wêreld is en ook die grootste sendinguitreik het.
Die Baptiste kom uit die Gereformeerde wêreld van die Engelse Presbiteriane. Hulle bekendste belydenis is The Baptist Confession van 1688. Hulle is dié voorbeeld van *Evangelicalism (die *Evangeliese tradisie), maar daar is sterk Calvinistiese groepe onder hulle. Hulle verskil wel van die gangbare Calvinisme in minstens twee opsigte: wat die stelsel van kerkregering betref en die doop. Wat kerkregering betref, is hulle gemeentes baie onafhankliker as in die *Gereformeerde tradisie. Hulle ken nie ‘n *sinode wat bindende besluite vir alle gemeentes kan neem nie. Hulle het wel kerkvergaderings waar algemene sake bespreek word en aanbevelings vir gemeentes gemaak kan word. Die meeste Baptistedenominasies het selfs nie eens ‘n geskrewe belydenis waaraan al die gemeentes gebonde is nie. Wat die doop betref, verwerp hulle die *kinderdoop.
Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek.
Outeur: Prof Adrio König