Die Groot Geloofswoordeboek: Metodis
Die Groot Geloofswoordeboek: Metodis
Metodis • Metodistekerk
‘n Metodis is óf lid van die Metodistekerk (Methodist Church), of iemand met dieselfde oortuigings as die Metodiste. Daar is ‘n groot verskeidenheid Metodistekerke veral in Engeland en Amerika. Daar is selfs ‘n paar wat nog as Wesleyaanse Kerke bekend staan.
John Wesley was ‘n toegewyde prediker in die Church of England wat sterk beswaar gehad het teen die lae vlak van geestelikheid en toewyding in Engeland. Hy het veral op ‘n heilige lewe klem gelê, en gaandeweg ook ‘n besondere leer oor *heiligmaking ontwikkel. Hy het dit beskou as ‘n tweede ervaring ná bekering waardeur ‘n mens geheilig word. Dit is later die *tweede genadewerk genoem (Second Blessing). Sy leer het ‘n bepaalde vorm van *Perfeksionisme ingesluit waarop daar van baie kante af kritiek gekom het.
Hy het later van die Church of England weggebreek en die Metodistekerk gestig. Sy leer oor heiligmaking het ‘n groot invloed uitgeoefen op die Keswickbeweging, en in die algemeen op die *Heiligheidsbeweging in Engeland en Amerika. In Suid-Afrika is iets daarvan ingedra deur Andrew Murray en die *AEB, die Afrika Evangeliese Bond.
Alhoewel hierdie leer nog voortleef, is daar baie Metodistekerke wat nie meer daarvoor bekend staan nie.
Skrywer: Prof Adrio König