Die Handelinge van die Apostels: Festus praat met koning Agrippa oor Paulus (Hand 25:13-22) – Francois Malan
25:13 Agrippa II was die seun van Agrippa I wat die apostel Jakobus met die swaard laat doodmaak het (Hand 12:1-2) en deur die wurms verteer is (Hand 12:23). Agrippa II, gebore in 27 n.C., word in 50 n.C. koning van Chalkis, kry in 53 n.C. sy oom Filippus se gebied by en onder Nero ook dele van Galilea. Sy drie susters is jonger as hy: Bernice, Mariamne en Drusilla (Feliks se vrou). Hy is oorlede in 100 n.C. Sy suster Bernice (28-81 n.C., in Latyn Veronica), beroemd vir haar skoonheid, het ná ’n paar mislukte huwelike, o.a. met haar oom by wie sy twee seuns gehad het, by haar broer ingetrek en broer en suster het as man en vrou saamgeleef. Tydens die eerste Romeinse oorlog teen Palestina (67-73 n.C.) het sy ’n verhouding met die Romeinse aanvoerder generaal Vespasianus gehad en toe hy keiser word, met sy seun generaal Titus, maar toe Titus in 79-81n.C. sy pa as keiser opvolg, het hy haar ook gelos.
’n Paar dae ná Paulus se appél na die keiser het Agrippa en Bernice gekom om Festus te verwelkom as die nuwe goewerneur wat deur Nero gestuur is. Al Agrippa se aanstellings is deur Nero gemaak, o.a. ook dat hy die hoëpriester van die Jode kon aanstel. Agrippa moes in Nero se goeie boekies bly. Daarom word Nero se goewerneur verwelkom.
25:14 Tydens hulle besoek van ’n hele paar dae, het Festus die saak teen Paulus aan die koning voorgelê vir advies. ‘Hier is ’n man wat deur Feliks as gevangene agtergelaat is.’ Hierop volg ’n kort oorsig oor die verloop van Paulus se saak soos die Romeinse goewerneur dit beskou het. Deur die herhaling van die geskiedenis word die beweegredes van die persone se optrede in ’n mindere of meerdere mate weergegee. Wat in ’n vorige berig verswyg is, word in ’n volgende uitgelig.
25:15 Festus vertel vir Agrippa en Bernice dat die leiers van die Jode op sy eerste besoek aan Jerusalem aanklagte by hom ingedien het, en voeg by dat hulle gevra het Festus hom moet veroordeel – katadokázō beteken beslis skuldig bevind en sy straf aankondig.
25:16 In dié gesprek laat Festus die lig op homself val en vertel van sy optrede volgens die Romeinse gebruik en wet. Daarby word die Jode in ’n slegte lig gestel met hulle versoek om veroordeling sonder verhoor. Hy moes aan hulle die Romeinse regsgebruik leer, wat aan ‘n aangeklaagde die geleentheid gee om homself van aangesig tot aangesig met sy aanklaers teen hulle klag te verdedig. Die feit is dat Paulus in Feliks se tyd twee maal die geleentheid gehad het om van aangesig tot aangesig met die Jode op hulle klagtes te antwoord, eers van die trappe van die burg Antonia af (22:1-21) en daarna voor die Sanhedrin (23:6). Festus was seker nie daarvan bewus nie. Hy vertel egter net van sy eie optrede in Sesarea (25:7-8).
25:17 Festus spog met sy flinke aandag aan die saak. Hy vertel vir Agrippa-hulle dat, toe die afvaardiging van die Sanhedrin hier by hom in Sesarea saamgekom het, hy sonder uitstel die volgende dag op die regbank op die plein gaan sit het, en opdrag gegee het dat Paulus laat haal word – soos Feliks ook vir Paulus laat haal het (24:24). Anders as Feliks, wat die saak twee jaar lank laat draai het (24:22,27), het hy Festus dadelik opgetree as bewys van sy doeltreffendheid as regeerder.
25:18 Nadat die Joodse leiers so dringend by Festus aangedring het om Paulus in Jerusalem te verhoor tydens sy eerste kennismaking met hulle, was hy onder die indruk dat Paulus ernstige misdade gepleeg het wat deur ’n Romeinse goewerneur aangehoor moes word (25:2-3). Toe sy aanklaers vyandig rondom Paulus gaan staan het om hom aan te kla, het hulle egter geen klag van oortredings van Romeinse wette gebring, soos wat Festus verwag het nie.
25:19 Festus vat die Jode se aanklag saam as twisvrae (zêtêmata ernstige verskille van opinie wat nie noodwendig opgelos word nie) met Paulus oor hulle eie godsdiens (die woord deisidaimonía kan ook die negatiewe betekenis hê van bygeloof, vrees of ontsag vir die demone, maar voor die Jood Agrippa sou Festus dit seker in die positiewe sin gebruik het). Ook oor ’n sekere Jesus wat dood is, wat Paulus verklaar dat hy lewe. Dit is duidelik dat Paulus met die verhoor voor Festus openlik oor Jesus en sy opstanding getuig het, en die naam van Jesus genoem het. Voor die woedende skare Jode in Jerusalem het Paulus na Jesus verwys as ‘die Regverdige’ die waardige naam vir die Jode se verwagte Messias (22:14).
25:20 Festus vertel van sy voorstel om die hofproses na Jerusalem toe te verskuif, maar om ’n ander rede as in 25:9 waar Lukas gesê het dat dit was om aan die Jode ’n guns te bewys. Dit vertel Festus nie vir Agrippa nie, maar van sy verleentheid omdat hy onseker was wat om met die klagtes te maak. Dit is dan die rede waarom hy Agrippa se raad wil vra en het hy die saak aan Agrippa voorgelê (anatíthemai 25:14 verduidelik). Hy noem ook nie dat hy vir Paulus gesê het dat hy in Jerusalem voor hom, Festus, moet verskyn nie (25:9). Dit lyk dus of hy tog die saak voor die Joodse Raad wou gaan lê om hom daaroor te adviseer. Lisias het reeds in sy brief aan Feliks die sake waaroor die klagtes gaan, verduidelik en dat daar niks is wat die doodstraf of gevangenisstraf verdien nie (23:29). Uit dit alles blyk dat Festus nie in die Jode se slegte boekies wou kom deur Paulus onskuldig te verklaar nie, al het hy reeds besluit dat Paulus onskuldig is aan die oortreding van ’n Romeinse wet.
25:21 Om homself te verontskuldig dat hy Paulus onskuldig in bewaring hou, verwys Festus tweemaal in die teks dat Paulus self gevra het om in aanhouding te bly vir ’n beslissing deur die keiser (waarskynlik om homself teen die Jode te beskerm). Die woord wat hier vir ‘die Keiser’ gebruik word, Sebastós Sy Majesteit, Augustus in Latyn, verwys na die keiser (kaisar) se semi-goddelike status, vandaar Festus en later (26:32) ook Agrippa se ontsag vir die keiser om aan Paulus se appél te voldoen. Daarom het Festus opdrag gegee dat die onskuldige Paulus in bewaring gehou word totdat hy hom kan opstuur (anapémpō) na die hoër gesag van die semi-goddelike keiser wat moontlik oor die godsdienstige klagtes uitspraak sou kon lewer. Die titel Augustus is in 27 v.C. deur die Senaat aan Octavianus, die eerste keiser van Rome, toegeken (Luk 2:1). Sy opvolger Tiberius van Lukas 3:1 wou nie die titel van die gode aanvaar nie, maar al die keisers na hom het dit aanvaar.
25:22 Festus se verhaal oor Paulus wek in Agrippa die verlange om self vir Paulus te hoor. Vir Festus is dit ’n groot uitkoms uit sy verleentheid oor wat hy as rede vir die appél aan die keiser moet skryf (25:26). Daarom gryp hy die geleentheid aan en reël dat Agrippa die volgende dag vir Paulus hoor, want hy weet nie wanneer ’n skip sou opdaag wat op pad is Rome toe nie.
Skrywer: Prof Francois Malan